Ek lees die volgende opmerking: “I was
made to feel very common.”
O, en toe?
Jy sien, as iemand maak dat jy eenvoudig (eintlik is
kommin, met ‘n groot K, ‘n baie lekkerder woord as eenvoudig!) voel, sit ek
onmiddellik ‘n vraagteken neer.
Kom ek vertel jou wat jy nou eintlik sê
moet bogenoemde stelling: Jou deurklokkie lui. Jy is besig om kos op die stoof
te sit, so nou spoel jy gou jou hande af en so met die nat hande draf jy
voordeur toe. Jy sluit oop en maak vir jou besoeker die deur oop. Jy groet nie,
jy vra nie ‘Nou wat nou’ nie, jy maak eenvoudig net oop vir die vreemdeling wat
jou deur die traliehek staan en beskou.
Wat meer is, jy laat nou hierdie persoon
binne en jy draf terug kombuis toe. Ja, is! As jy uiteindelik die kos op die
stoof het, kom jy terug sitkamer toe. Intussen het hierdie vreemdeling chaos
gesaai dwarsdeur jou huis – jou sitkamer is leeg, jou kamer het darem nog ‘n
prent of twee teen die mure en in die badkamer hang jou verslete japon ... als
is weggedra terwyl jy besig in die kombuis was.
Nou is jy erg moerig, hoor! Hoe durf
die dit-en-datse-dit-en-dat dit aan jou doen? Wie het hom die reg gegee om jou
goed uit te dra en weg te ry?
Jy het, suster! Jy het oopgemaak en
hom vrypas in jou huis gegee. Wil jy met my stry?
Nou kom ek terug by die stelling dat ‘hulle’
gemaak het dat jy so kommin voel ...
Weet jy, daardie ‘hulle’ in jou lewe
kan dit slegs regkry indien jy hulle die toestemming daarvoor gee om jou so te
laat voel. Slegs as jy jou mag aan hulle oorgee, kan jy so kommin voel, kan jy
so kwaad word, kan jy so uitgebuit voel.
Jy is die koningin van jou huis, my
ding. Moenie jou mag oorgee aan elke janrap en sy maat nie, want hulle is dit
nie werd nie. Dit is so eenvoudig soos dit: hou jou deur gesluit vir elkeen wat
jou kommin laat voel, vir elkeen wat jou beroof van jou vrede, vir elkeen wat
jou siel omkrap.
Hierdie paleis behoort aan jou ... aan
niemand anders nie. Vir wie jy die deur oopsluit, is net jou keuse, niemand
anders s’n nie. Binne die mure van jou paleis is jy die koningin en is jy
veronderstel om jou kroon te dra.
Nou wonder ek net – kan jy nog onthou
waar jou kroon is?
Pragtig geskryf.
AntwoordVee uit