Ek kry die volgende storietjie by ‘Chicken Soup for the
Soul’ en ek wil dit baie graag met jou deel.
Klein Samantha is in Graad 1 en is so ontsettend selfbewus
en minderwaardig. Sy weier om pouses met haar maatjies te gaan speel, ‘Want,’
reken sy, ‘niemand wil in elk geval met my speel nie.
Die juffrou sien daar is groot fout en hou haar ‘n oomblik
terug terwyl die ander maatjies gaan pouse hou.
“Sammy, wat gaan aan? Hoekom wil jy dan nie met die
maatjies gaan speel nie?” vra sy belangstellend.
Sammy is dadelik onder trane. Sy antwoord hartseer: “Ek kan
nie touspring nie, Juffrou. Al my maatjies kan, maar ek kan glad nie. Ek het al
baie probeer, maar dit werk nie.”
Juffrou dink ‘n oomblik voordat sy antwoord: “Hoor nou mooi
vir my, Sammy. As jy nou by daardie deur uit loop, dan loop jy asof die hele
plek aan jou behoort.”
Sammy glo nie werklik dat dit sal help nie, maar sy het in
elk geval niks om te verloor nie. Sy trek haar skouertjies regop, hou haar kop
hoog en stap buitentoe.
En wat gebeur? Die coolste
seuntjie in die klas keer haar voor: “Ons is seerowers. Wil jy saam met ons kom
speel?”
Sammy was die beste seerower op die speelgrond, al kon sy
nie touspring nie. Van daardie dag af het dit haar glad nie meer gepla dat dit
die een ding is wat sy nie kon doen nie.
Hoeveel maal loop ek en jy met ‘n minderwaardigheid rond
waarvan niemand anders bewus is nie? En hoeveel maal weerhou dit ons van die mooi dinge rondom ons?
En weet jy, hierdie minderwaardigheid maak dat ons ‘n muur
om onsself bou en niemand anders binne toelaat nie. Jy is die eensaamste wese,
maar jy weet nie waarom nie. Reg?
Nou daag ek jou uit – stap by jou huis uit asof die hele
dorp aan jou behoort en kyk wat gebeur.
Ja, dit is so, daar is seker nie ‘n seerower wat jou gaan saam
nooi op hulle reis oor die woeste oseaan nie, maar aan die anderkant, wie sal
ooit weet?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking