Jy woon ‘n byeenkoms by en word saam met vreemdelinge
ingedeel by ‘n tafel. Jy maak, soos almal maar doen, geselsies.
“Hallo, ek is Martha.”
“Aangename kennis. Ek is Drien.”
“O? Hallo, Drien.”
“Snaaks dat ons mekaar nog nie raakgeloop het nie. Ons ou
dorpie is mos darem nie so groot nie.”
“Ja, ek hou skool by die ABC Skool.”
“Ek is Die en Daai se sekretaresse.”
“O, en jou man?”
“My man is Prokureur Smit.”
****
Ek het voorheen dit nie eens agtergekom dat ons onsself so
met etikette beplak nie. Drien hou skool en sy is die vrou van ‘n prokureur.
Indrukwekkend! Inderdaad ‘n prestasie wat sy behaal het, of wat?
Toe ek ‘n bietjie meer as ‘n jaar gelede moes aftree, het
dit my baie sleg getref. Ek het geglo ek is tuis in my vel en weet presies wie
ek is, maar moenie glo nie! Die oomblik toe ek by daardie voordeur uitstap, het
my identiteit ook daar agtergebly saam met die werksklere wat ek daar gelos het
vir ander om te gebruik.
Opeens was ek so half rigtingloos en, glo my, baie besluiteloos.
Ek het nie ‘n plan vir môre of oormôre gehad nie. Waar ek voorheen presies
geweet het wat ek gedurende ‘n vakansie sou doen, het ek nou huis toe gekom en
hier kom sit soos ‘n mens sonder rigting. Skielik was my dae my eie en
heeltemal te lank. Almal het aangemoedig: “Skryf!” maar ek het niks gehad om
oor te skryf nie.
Saans het ek gaan slaap met ‘n matelose gevoel van
mislukking omdat ek (weereens) die dag vermors het met my niksdoenery en
rondsittery. Soggens het ek opgestaan met ‘n uitsiglose dag voor my en heeldag
gewag vir die son om onder te gaan.
Hoekom dan so? Waar was die vrou wat so presies geweet het
wie sy is en dan nog baie trots ook was daarop? Wat het van haar geword?
Dit het my ‘n lang tyd gevat voordat ek tot die kern van
hierdie aaklige probleem van my gekom het.
Ons word van dag een af gemeet en geweeg. Ons word geleer
om te presteer en altyd beter te moet doen, anders is daar ‘n paar fronse op ‘n
paar gesigte.
“Kyk, Pa, ons kind kan al van daardie trappie af klim! Is
dit nie te pragtig nie? En reken, sy het nie eens geval nie.”
Pa kyk van sy koerant af op. “Hmm, ja, maar ek wag vir die
dag wat sy hulle twee-twee afspring soos ons altyd gemaak het.”
En net daar voel Sussie sy moet begin oefen om daardie
trappies te spring, anders gaan Pappa nooit dink sy is oulik genoeg nie. Sy val
haar des dinges, maar spring sal sy daardie trappies spring!
Dan kom ons in die skool. Ek was byvoorbeeld in my Sub A-klas
in die Hasies-ry. Ek weet nie wat die eerste ry was nie, maar die laaste ry was
die Skilpaaie. Is dit nie verskriklik om so ‘n etiket om ‘n kind se nek te hang
nie? Jy is net ses jaartjies oud, maar jy weet reeds dat jy nie goed genoeg is
nie.
So gaan dit aan en aan sonder dat dit ooit ophou. Ek verpes
‘n rapport met alles wat in my is! Waarom moet jy punte kry vir iets wat jy
glad nie aan kan verander nie? Kan daar
nie maar net op die rapport staan Martha slaag hierdie eksamen nie? Wat
maak dit saak met hoeveel?
Nog steeds is dit het einde niet. Nou gaan studeer Sannie
en sy behaal haar graad en slaan ‘n wonderlike werk los. Maar na ‘n jaar of
twee ontmoet sy hierdie outjie en die liefde is allesoorheersend. Nou kom die
probleem!
“Haai, Marie, ek hoor jou Sannie is toe verloof?”
Marie word rooi om die kiewe en sy kug ‘n slag of twee
voordat sy antwoord: “Ja, dis net jammer die mannetjie het g’n geleerdheid nie
... maak karre reg of iets.”
Liewe hemel, Marie! wil
ek gil. Kan jy ‘n kar regmaak? Weet jy ooit waar die ding se enjin sit?
Standaarde, standaarde, VALSE standaarde wat ons onsself
mee opsaal en die lewe vir onsself so onaangenaam maak. As jy nie perform
nie, is jy nie in tel nie. As jy nie kan wys nie, is jy ‘n nul op ‘n kontrak.
Is dit dan nie maar die rede waarom daar soveel depressiewe
en ongelukkige mense op hierdie aardbodem rondval nie? Ek sal gelukkig wees AS
dit of dat gebeur. Ek sal gelukkig wees WANNEER ek dit of dat onder die knie
het. Ek sal tevrede wees WANNEER ek ...
So gaan die storie aan en aan. En weet jy wat? Wanneer of
as jy dan uiteindelik daardie ding kry of behaal, het jy lankal vergeet dat dit
jou so gelukkig sou maak. Want, jy sien, jy het jou etiket op jou voorkop al
lankal weer verander na die volgende ding wat jy moet baasraak, anders het jy
nie jou brood vir die dag verdien nie.
Thich Nhat Hanh skryf die
volgende baie waar woorde: “Peace can exist only in the present moment. It
is ridiculous to say “Wait until I finish this, then I will be free to live in
peace.” What is “this”? A diploma, a job, a house, the payment of a debt? If
you think that way, peace will never come. There is always another “this” that
will follow the present one. If you are not living in peace at this moment, you
will never be able to. If you truly want to be at peace, you must be at peace
right now. Otherwise, there is only “the hope of peace some day.”
En ek weet ... ek wil my lewe leef sonder daardie etikette.
Ek wil vrede en liefde en geluk en tevredenheid smaak in die klein dingetjies
rondom my. Ek wil net EK wees en vanaand die dag afsluit met ‘n glimlag in my
siel ... want niemand kan meer enige etiket op my voorkop plak nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking