Sit
ek nou, so op die oujaar, en bedink dinge. Ek en die liefie is alleen tuis en
niks, maar heeltemal niks is anders as enige ander aand die afgelope maande
nie. Ek hou myself die tyd van die namiddag besig met wat ookal, terwyl liefie
die African Grey vermaak.
Want,
jy sien, Gracie hou nie van vroumense nie. Miskien het sy darem iewers ‘n sagte
plekkie vir my, maar weet nie hoe om dit te wys nie? My ydele hart wil maar so
hoop! Sy was ‘n geskenk, met baie liefde, aan my ... na ek jare en jare lank
gesmag het om ook ene te hê. Nou het sy vir Liefie aanvaar en ek kry so nou en
dan ‘n pik op die kop as ek nie gou genoeg koes nie.
Maar
eintlik wil ek jou vertel van oujaar in die Namib. Die lewe was mos anders
daardie jare – stadiger en met minder komplikasies, dink ek. Kinders was nog gesien
en nie gehoor nie en grootmense se woord was so wragtag as wragtag die begin en
die amen. Maar ek dwaal alweer af. My kop is propvol gedagtes en verlangens en
smagtings en what ever there may be!
Ek
weet dat daar altyd in die dorp groot makietie gehou is op oujaar, maar by ons
op die plaas was dit maar stillerig, glo vir my.
En
tog het die dag altyd so half anders as die ander dae gevoel. Jy het nog altyd
opgestaan en jou dagtakies in die huis gedoen, maar daar was net daardie gevoel
wat sluimerend was die hele dag. Teen sononder het ons, opgetof en grênt
toegedraai, almal in Pa se plaaskar gebeur. Ons het gaan braai by tannie
Magdalena en oom Andy, oftewel Leentjie en Monie.
Wat
my laat wonder – het jy ook ooms en tannies vir wie jy nie ‘tannie’ en ‘oom’
nie? So het niemand geweet wie is tannie Dina nie, maar almal het vir Nana
geken. Dan nog was tannie Annette ‘n vreemde benaming vir ons liewe Netta. So
kan ek nie een na die ander noem – almal met ‘n liefnaampie.
Somersaande
in die Namib is magies! Die gekriek en krits van insekte, met die grote hemel
vol sterre wat lyk of jy hulle kan pluk, so naby lyk hulle vir jou. Almal,
grootmense en kinders, daar om die vuur, met die geblaas van die gaslamp skuins
agter ons. Gaslamp? Dis eintlik ‘n vreemde benaming vir ‘n lamp wat met paraffien
gewerk het, maar jy moes hom mos so oppomp om hom aan die gang te kry.
Leentjie
het geweet van uithaal en wys! Die bykosse by die braai was met groot moeite en
baaaaaie kalorieë gemaak. Baie maal was die poeding pannekoek wat so geblink
het van die botter en die kaneelsuiker. Hemels!
Ek
voel te arm in woorde om myself uit te kan druk hoe om daardie samesyn te omskryf.
Liefde. Vrede. Welbehae. Warmte om die hart. En die stilte, ten spyte van die
geselskap van die grootmense.
Dit
is na daardie stilte in die hart wat ek soms verlang. Kry ‘n mens dit iewers
anders soos daar in die Namib met jou geliefdes? Waarom, o waarom kon ‘n mens
dit nie maar in ‘n botteltjie sit en saamdra vir die res van die hele ewigheid
nie?
Wanneer
die kleintjies al slaperig begin raak, het Ma traag aangekondig dat ons huis
moet kry. Pa het vir sussie kar toe gedra en op Ma se skoot neergesit. Ek of
Ousus het hek oopgemaak. Snaaks dat ek nooit bang was om in daardie donkernag
hek oop te maak nie, ha?
Nuwejaar
het altyd gevoel soos lekker soet poeding met vla oor. Is regtig so! Ma was altyd
op ‘n merkbare stadiger spoed ingestel en Pa het ook net gou die lammers gaan
haal en dan by ons kom sit in die kombuis. En dan die lekkerte van alle
lekkertes so in die middel van die week! Leetjie-hulle het kom tee drink. Ma
het altyd gesorg vir koek so saam met die tee in die middel van die week.
Vervelig?
Allermins!
My
hart verlang na die vrede en stilte en warmte en allesoorheersende gevoel van
geborgenheid ... so in die middel van die week.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking