Ek ken nie ‘n mens wat nie van visvang hou nie. Hetsy dit
ernstige hengel is, of bloot visvang omdat jy langs die see is en dit is mos
wat ‘n mens langs die see doen. Ons Namibiërs is maar so, jong. Jy glo jy moet
Desember see toe gaan en jy glo jy moet huis toe kom met ‘n rits foto’s
van die vis wat jy uit getrek het.
So van vis uit die water uit trek gepraat! Gaan ek, my liefie
en ons klein snip des jare gelede ook see toe vir ‘n paar dae. Kom ons terug,
vra die vriende vir snipkind: “En het jou pa baie vis gevang?”
Sy antwoord eerlik en opreg: “Nee, hy steek elke keer die
stok in die water, maar hy haal niks uit nie.”
Dis dalk juis met hierdie storietjie in gedagte dat ek nie
heeltemal so skaam is om my visvang-ervarings met jou te deel nie.
Ons is ‘n hele spul langs die see – Pa, Ma, elkeen van my en
my susters se manne en nog die spruite ook. Ouma het soos maar die gewoonte
was, gesorg vir alles wat geëet en gedrink kan word. Almal hou almal se kinders
in die oog en die manne vang vis. Let net daarop dat ek nie sê
hulle het gehengel nie, hoor. Hengel is wanneer jy nie net die stok in die
water steek en met niks opeindig nie.
Ek bekyk die manne so op ‘n afstand en ek dink by myself: Ek
het al ‘n duisend maal probeer om ‘n vis gevang te kry, maar vandag is sowaar
die dag! Ek kan nie eendag hierdie ondermaanse verlaat met geen vis op my
kerfstok nie. Wat moet my kinders van my dink? Maar meer nog: hoe moet ek oor
myself voel? ‘n Mens het mos ook ‘n hart, ha?
Ek stap doelbewus water toe en kommandeer vir liefie op om
vir my ‘n stok reg te kry. Het hy dalk onderlangs gesug? Ek kon sweer dit klink
so, maar die water raas ook so dat ek nie met sekerheid kan sê
dit is so nie. Dalk het hy my rekord van ‘niks uit die water uitgehaal nie’
onthou? Ek maak maar net of ek niks hoor nie en wag angstig vir die stok.
Nou moet jy net weet, terwyl ek gaan vis, moet een van die
manne geduldig by die Ouma en kleingoed gaan sit. Daar is nie stokke wat rondlê
nie, dus moet die ongelukkige een maar net wag totdat ek met my fonds van die
water af kom.
Liefie is baie geduldig ... behalwe mos nou vir daardie lang
sug! Hy beduie mooi vir my hoe ek moet maak. En ja, die eerste gooi doen hy ook
sommer vir my. Ek staan en wag en wag, maar daar gebeur niks nie. Ek staan so
halfbeen in die water en die branders spoel soms redelik gevaarlik hoog teen my
op.
Ek sien die manne wag ook net so ‘n rukkie, dan katrol hulle
die lyn in en gooi weer in. Nou maar hoekom nie? Ek skrik mos nie vir koue
pampoen nie, man. Ek probeer ‘n paar keer, maar dit werp geen vrugte, of is dit
nou visse, af nie. Ek moet net weer probeer, dit moet net werk!
Ek stap weer ‘n entjie in die water in, maar dit voel darem
vir my so half vlakkerig. Moet ek nie maar nog dieper ingaan nie? Dit sal mos
darem help dat die lyn dieper en verder kan gaan? Want sien, vandag is die dag
wat ek hulle almal gaan wys hoe hengel ‘n mens!
Ek kry my staan en ek bring die stok lekker hoog bo my kop en
nog so ‘n bietjie na agter toe. Hierdie gaan ‘n gooi wees wat gaan trek tot halfpad
oor die wye oseaan. Ek voel hoe my hele lyf saamtrek van inspanning toe ek
daardie lyn gooi ... sowaar as vet is dit ‘n mooi gooi!
Ek wag om die klein plonsie te sien waar hy op die water land,
maar niks gebeur nie. Dit kan nie wees nie! Hoe lank trek so ‘n hoek en aas
voordat hy op die water land? Ek buk so half vorentoe, met die hand oor die oë
om die son te keer. Ek wag in groot afwagting. Ek kyk ook nie hier vlak voor my
nie, hoor. Ek kyk doer oor die water, want dis waar hy gaan land.
Die volgende oomblik tref iets my op my stuitjie. Wat op
aarde?
Nee, jy is nie verkeerd nie, my maat. Jy het reg geraai.
Daardie hoek en sinker wat vir die diepwaters bedoel was, het hemel toe en
terug getrek en op my behind kom land.
En ek?
Ek het met wroeging in my hart die visstok gaan afgee. Ek moes
vrede maak met die feit dat my kinders en kleinkinders vir altyd en altyd sal
lag oor hulle ma wat toe nooit ‘n vis uit die water uit kon trek nie.
My ego is vir ewig en altyd geknou deur daardie slag op my
agterkwart, glo my maar. En as iemand my nou sou vra of ek al ooit ‘n vis
gevang het, is my stroewe antwoord: “Ek verpes visvang!”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking