Saterdag 07 Desember 2019

OOR 'LEGACIES' EN ANDER DINGE


Ons gesels oor dinge wat saak maak en dit pla hom dat hy niks gaan nalaat wat saak maak wanneer hy die dag heengaan nie. Jy sien, dis mos maar hoe die samelewing ons gebreinspoel het – as jy dit nie kan sien en daaraan kan vat en bewonder nie, is dit mos eintlik maar ‘niks’ nie.
Ek is seker jy het ook al gewonder oor die feit dat jy niks gaan nalaat vir jou kinders nie. Reg? Hmm, ja, dis nou ‘n gemors, jong. Dit sal net ‘n dag of twee wees, dan het jou voetspore toegewaai en niemand weet meer dat jy ooit bestaan het nie.
Wanneer iemand sterf en, tot almal se ontsteltenis, vind sy geliefdes uit dat hy net ‘n powere bankbalans en geen skatte en besittings nagelaat het nie. En dit nogal terwyl almal gedink het hierdie ou is ‘n geldmagnaat! Kan ons dan aflei dat hy geen legacy agtergelaat het nie? (Dis seker by hierdie persoon wat die gesegde Brandarm, maar windgat ontstaan het.)
Een verklaring wat die woordeboek gee van ‘legacy’, is: an amount of money or property left to someone in a will. (My grandmother died and unexpectedly left me a small legacy)

Ja, en my ouma was nog nie ses maande onder die grond nie, toe is daardie legacy ook in sy maai. Vandag kan ek niks wys wat Ouma vir my nagelaat het nie, want haar legacy is in die plaaslike supermark se kasregisters opgeneem.
Aaklig! Het Ouma dan verniet gelewe?
Kom ons draai dit nou om. Gestel alles wat jy vandag kan sien en bewonder en gebruik, raak weg en jy sien dit nooit weer nie. Maar! Alles wat jy vandag nie kan sien nie, kry lyf en jy kan dit op die rak sit, of gebruik (sonder dat dit opraak, natuurlik), of jy kan dit bloot saam met jou dra van dag tot dag.
Ek wil my pa as voorbeeld gebruik. Almal weet dat hy nie ‘n welgestelde man was nie. Almal weet dat dit broekskeur gegaan het om sy drie dogters te laat leer. Almal weet dat hy nooit die voorreg gehad het om wild en wakker met vakansie te gaan en sy vrou en kinders bederf nie. En tog is hy dood as die rykste man op aarde en het ek dus skat-, skatryk geërf.
Hoe dan nou so? As jy nie geld geërf het nie, het hy mos niks nagelaat nie, ha? Dan was sy lewe ook so half sonder doel, nie waar nie?
Glad nie! Kom ek vertel jou van Adriaan Pieter se legacy.
Ek het geweet dat hy my lief het met die diepste liefde wat bestaan. Niks, maar niks kon of sou my beroof van daardie liefde wat hy uitgestraal het wanneer ons mekaar gesien het nie. Hy het die diepste dieptes van my diep hart verstaan sonder dat dit vir my nodig was om te please explain waarom ek so of so optree. Ek het dit geweet, al het hy dit weinig male so uitgedruk. By hom het ek veilig gevoel – veilig soos ‘n klein kindjie wat slaap in haar mamma se arms.
Hy het my vertrou. Hy was trots op my. Hy het geweet wat in my steek, al het ek dit eers baie jare na sy dood self ontdek. Hy het geglo dat ek in staat is tot baie, baie hoogtes. Male sonder tal het hy my aangepor: “Martha, jy KAN!”
Hy het my blindelings vergewe vir alles wat ek aangevang het in my jong dae. Toe ek op sy siekbed hom vra om my asseblief te vergewe vir al daardie dinge, weet jy wat sy reaksie was? “Pa weet glad nie van dinge wat jy gedoen het wat my hartseer gemaak het nie!”
Ha? Is dit nie allesoortreffende liefde en vergifnis nie? Daarmee het hy my selfrespek herstel en my bevry van skuldgevoelens wat hemelhoog op my skouers gerus het.
Hy het, deur sy voorbeeld, vir my geleer om nooit moed op te gee nie. As jy sukkel en handdoek wil ingooi, kyk net ‘n slag op en hoor “Martha, jy kan!” en probeer weer ‘n keer ... iewers sal jy dit regkry en met genoegdoening terug kan staan.
Ek kan boeke vol skryf oor hierdie mooi pa van my, maar ek volstaan hiermee. Sy legacy, wat my aan betref, is wat hy in my wese ingebou het. As ek dit sou mos uitpak, sou dit te veel wees om in een plek te huisves, glo my. Maar ja, ek dra dit in my hart. Om die waarheid te sê, ek is ek as gevolg van hierdie nalatenskap van my liefste, liefste pappa.
Nou vra ek jou, moet tog nooit weer sê jy het niks om agter te laat nie, toe?

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...