Die dag toe ek besluit het om my gedagtes neer te skryf en te deel met ander, daardie dag het my hele lewe verander. Ek skryf omdat ek nie anders kan nie - atlete oefen, ander hardloop, ens. Ek skryf en geniet elke oomblik daarvan. Dankie dat jy dit met my deel.
Vrydag 10 September 2021
ONS HOU BASAAR
Maandag 04 Januarie 2021
STROME VAN SEËN VAN BOWE
Vreemd hoe ‘n mens se gedagtes met jou kan loop! Die
heerlike, milde reen wat nou al dae so val, laat my telkens dink aan ‘n kraan
wat iemand oop vergeet het. Dit val so egalig en sonder ander bygeluide uit die
hemel – so sonder om van klank te verander, sonder donderslae en blitse.
En meteens onthou ek ‘n geselsie van baie, baie jare gelede
met my oudste, wat toe nog sommer baie klein was.
Sy het vir die eerste keer reën gesien en was eers heel
verskrik oor die water wat so op haar koppie val. Toe die grootste skok verby
is, het sy hierdie slim redenasie gehad.
“Mamma, ek weet waar kom die reën vandaan!”
“Regtig, Ma se kind, waar kom dit vandaan?”
“Dis liewe Jesus wat ‘n kraan oopgedraai het en toe vergeet
het om dit weer toe te draai.”
Ek het haar nie probeer reghelp nie, want hoe verduidelik ‘n
mens aan so ‘n klein mensie van water en kondensasie en wat alles?
Vandag, nou hier waar ek sit, besef ek dat sy ‘n punt beet
gehad het. Dit is weliswaar liewe Jesus wat die krane van oorvloed oopgedraai
het, ja. Dit kan ons nie mee stry nie, kan ons?
Die enigste verskil is dat Hy nie die kraan met lopende
water oop vergeet het nie, dink ek. Hy het dit oopgedraai oor ‘n aarde wat, amper
soos voor die skepping, woes en leeg is – geen weiding, niks groen en geen rede
om oor bly te wees nie.
Hy het dit oopgedraai uit die goedheid van sy genade, sodat
ek en jy kan weet dat Hy ons nie vergeet het nie.
Stem jy saam?
Die ou Halleluja liedjie, Strome van seën van bowe kom spontaan by my op en ek is diep dankbaar oor krane wat oopgedraai is.
Sondag 03 Januarie 2021
AS PA PRAAT, ANTWOORD JY NOOIT TERUG NIE
Ma het ons klere alles self gemaak. Met drie dogters in die koshuis – een in die laerskool, een in die hoërskool en een op Universiteit, het dit haar ‘n hele Desember vakansie gevat om elkeen se boude toe te kry.
Hoe vervelig dit vir haar moes wees om daardie skoolrokke
te maak, wil ek nie weet nie. Dink jou dit in: vier rokke wat presies dieselfde
patroon en kleur het! Dit moes ‘n sieldodende werk gewees het, man.
My klerekas het min of meer so gelyk: ‘n Wit rok (vasgestelde
patroon) vir kerk in die somer, ‘n bou rok (vasgestelde patroon) vir kerk in
die winter, vier skoolrokke en agt ‘drarokke’ vir deur die week. Ja, dit moes agt
wees, want vier is hierdie week in die was en die volgende vier dan volgende
week.
Ma het, soos dit vir my voel, vir ewig voor daardie
naaimasjien gesit. Met die voetjies wat daardie masjien hier onder trap-trap-trap
en die handjies wat die materiaal behendig voer onderdeur die naald. Ek het daarvan
gehou om kos op die tafel te kry – solank ek kon maak soos ek wil, natuurlik. Vandag
besef ek dat my arme pa baie dae disse moes eet waarvan hy glad nie gehou het
nie, maar hy het nooit gekla nie.
Ek het dit verpes as Ma my roep om te kom aanpas. (Weet jy
dat ek nooit die behoefte gehad het om in die spieël te gaan kyk hoe lyk die
rok aan my nie? Kan ‘n mens so sonder belangstelling wees?) Jy moes min of meer
soos ‘n houtpop staan met die arms wyd van die lyf af sodat Ma kon steek en knip.
Ag genade tog, en dis warm! Onthou, ons het in die hartjie van die Namib gebly
en daardie somers is nie speletjies nie.
Twee of drie van hierdie aanpas-sessies, en die rok is
klaar. Nou nog net vir die afsteek van die soom. En dis waar die ellendes begin
het! Twiggy was die mode-ikoon en haar rokkies se some was nie baie ver van
haar panty se rek of nie. En ek het presies geweet waar Ma die soom moet
afsteek ... as my hande langs my sye hang, moes die soom presies in die eerste
lid van my middelvinger wees.
Ma steek die soom en ek is dood in my noppies. Sy werk hom
vas en stryk hom mooi glad. Ek het ‘n nuwe rok!
Maar moenie glo nie, hoor. As Pa vanaand van die veld af
kom, is dit tyd vir die laaste episode van die nuwe rok. Om een of ander rede
was alles nie afgehandel as Pa nie die rok inspekteer het nie. Trek die rok
aan. Stryk hom plat teen jou lyf af met die hande – dis nou dat hy so ‘n
bietjie langer moet lyk, want jy weet!
Jy loop stokkerig tot voor Pa. Hy sit en betrag jou met ‘n emosielose
gesig. “Draai om,” kom die bevel. Jy draai om en jy weet!
“Hy’s te kort!” kom die doodstyding.
Jou hart sink in jou skoene. Die opstand is soos die golwe
van ‘n woedende see, maar jou mond is gesnoer.
Ma maak die rok langer – so lank dat dit vir jou voel of jy jou winter-japon aan het. Maar jou mond is gesnoer. Want, jy sien, as Pa praat, antwoord jy nie terug nie - nooit nie!
Jy sweer by jouself jy sal
in jou hele lewe nie hierdie rok dra nie.
By die koshuis besef jy dat jy nie ‘n keuse het nie, want
hierdie rok sal gedra moet word. Wat anders moet jy dra? Goed, dan moet daar ‘n
plan gemaak word voordat rok aangetrek word.
Jy vou doodeenvoudig die soom ‘n slag om en werk hom vas.
Nou is rok se soom regtig nader aan jou panty se rek as wat Twiggy s’n ooit kon wees, maar dra sal hierdie rok gedra word.
Donderdag 10 Desember 2020
VERLORE VLINDER
Hoe lank is dit al?
Woensdag 11 November 2020
DIE KLEIN ONTHOU-OOMBLIKKE
Maar ja, daar is ook, deesdae meer as vroeër, daardie
oomblikke wat jy onthou, maar met niemand kan deel nie. Hartseer, maar waar!
Kry ek anderdag so ‘n lekker giggeltjie toe ek aan my dae as
verliefde jong vrou dink. Daardie tyd was Carike Keuzenkamp hoog op elke
trefferlys. Een van haar liedjies was ‘Lang maer blonde man’. Mense, dit was
vir my die allerlieflikste liedjie en was op ‘n stadium 24 uur van die dag in
my kop. Hoekom? Heheheee! Ek was verlief, man! Die liedjie het begin met: “Ek
is verlief op die lang, maer blonde man ...”
Was hy lank? Nee, nie regtig nie. Was hy maer? Nee, ook nie.
Was hy darem blond? Hmmm, so ampertjies, dink ek.
Maar dit is nie wat saak gemaak het nie, man. Die feit is
dat ek oor en oor kon sing dat ek VERLIEF IS!
Wie onthou vir Francois von Heyningen? Google reken hy was ‘n
akteur, maar ek onthou hom net omdat my ouers dol was oor sy sang.
So is ons almal die aand op pad bed toe in ons piepklein
huisie daar doer in die Namib. Francois sing luidkeels op die radio in die oues
se kamer. “Jy is vir my ‘n melodie van rus ...” en onse pa sing teatraal saam
en hou sy arms oop vir Moeder. Sy was nogal nie een om openlik drukkies en
soentjies uit te deel nie, dus was sy seker maar ‘n bietjie verleë by die
uiterlike vertoon van liefde. En haar antwoord: “Ag, dit lieg jy tog!” voordat
sy glimlaggend haar rug op hom draai.
Hoe maak jy as jy iets skelm doen en die noodlot ry jou? Kom
ek vertel jou. Ons kry een Kersfees elkeen ‘n fiets – Ousus ‘n grote, myne so ‘n
bietjie kleiner en die babasussie s’n ‘n kleintjie. Nou kyk, op daardie stadium
kon ek nog glad nie fiets ry nie, dus was dit ‘n hele gedoente om net bo-op te
kan bly. Ek het soveel keer geval, dat my ma haar byna morsdood geskrik het toe
sy ‘n slag my agterstewe te siene kry. Dit was blykbaar geheel en al potblou
van al die harde landings tussen die klippe. Maar as jy wil ry, moet jy seker
val ook?
Ek raak toe mettertyd so ‘n bietjie meer tuis op die fiets
en ek begin sien kans vir Ousus s’n. Die probleem is net dat Ousus g’n stuk wou
toelaat dat ek op haar fiets ry nie ... ek het mos my eie! Nouja, dan maak ‘n
mens mos maar ‘n plan.
Sy slaap een middag baie lekker en ek vat vir fiets klippe
toe. Waarom ek in my klein koppie kans gesien het vir die rivier, weet ek tot
vandag toe nog nie. Moontlik het ek gedink ek sou makliker op die fiets bly as
dit self afdraand ry en ek nie hoef te trap nie. In elk geval, dis ‘n redelike
diep rivier, dus is die afdraand tot onder nogal nie ‘n grap nie. Om dit erger
te maak, is die hele pad so van de klippe, dat ‘n bobbejaan met ‘n kierie sal
moet loop daar. Maar Martha sien kans om met die te groot fiets daardie
afdraand aan te vat.
Ek dink nie ek was halfpad met die afdraand af nie, toe tref
ek (natuurlik!) ‘n klip skeef en daar trek ek en fiets in twee rigtings. Die stomme
fiets se wiel is heel skeef geval, maar dis die minste van my ellende op
daardie oomblik. My kleintoontjie staan heel in die verkeerde rigting en hy pyn
dat ek sterretjies sien. Ek sluip huis toe met skewe fiets en skewe toon en
gaan lê maar op my bed en probeer vergeet van die seer toon ... die fiets heel
vergete op daardie stadium!
Ek kan nie onthou wat die uiteinde van die storie was oor
die fiets en my sus nie, maar wat ek wel onthou, is dat daardie gebreekte
kleintoontjie my weke se ellende besorg het ... ellende wat ek uit vrees vir ‘n
loesing, nie by Ma of Pa kon of wou gaan bekla nie!
My droom om ‘n beroemde aktrise te word, is in die laerskool
in Maltahöhe gebore en het ook min of meer daar gesneuwel. Dit was groot
opwinding in onse skooltjie – ons sou ‘n operette hou. Mensig man, dit was nie
bietjie groot nie, dit was grooooot! Ons is dan ook vir oudisies geroep in die
aande nadat ‘die grotes’ klaar studie gehad het.
Eintlik was dit meer die ‘groot kinders’ wat daarin opgetree
het, maar daar was twee klein dogtertjies in die storie en so is ek toe ook een
aand geroep om my beste voetjie voor te sit. Wat ons moes doen, kan ek glad nie
onthou nie, maar dat ek die rol verower het, is ‘n feit.
Og, dit was heerlik om elke aand te gaan konsert hou, man.
Tannie Muriel (ek hoop ek spel haar naam reg) het daardie klavier gemoker en
ons het gesing dat hoor en sien vergaan.
“Soetkoek” was nie sommerse storietjie nie, hoor. Die hele
plaas se diere was daar ... hoenders wat eiers lê en koeie wat melk gee en wat
nog alles. Ek onthou van die een aand wat die koei my moes jaag en ek moes
skree van skrik. Ai man, hoe skree ‘n mens nou vir twee seuns wat nou ‘n koei
is? Jy weet mos, die een buk agter die ander en hou die voorste een om die lyf
vas. Die voorste een het ewe sy vingers hier langs sy kop soos die horings
staan. En skree kan ek nie skree nie, want ek lag te veel.
Dis toe dat Meneer Otto besluit daardie koei sal my op
daardie verhoog jaag totdat ek skree! Ek kan net onthou van hoe ons al in die
rondte gehardloop het totdat ek toe later regtig bang is hierdie twee groot
seuns hardloop bo-oor my en daar los ek toe ‘n bloedstollende gil ... tot groot
plesier van die grootmense.
Maar helaas, soos reeds genoem – my loopbaan op die planke
het nie baie lank geduur nie en het ook geen roem en/of groot koerantopskrifte
gebring nie.
Maar ‘n mens weet nooit wat volgende om die draai vir jou
wag nie, weet jy?
Saterdag 07 November 2020
MY PENNE IS WEG!
“Ek soek na my penne, man!” kerm ek.
“Watter penne? Kyk, hier op jou tafel lê handevol penne. As
jy wil skryf, skryf met hierdie een of daardie een, of vat sommer die potlood.
Wat makeer hulle dat jy nie met hulle wil skryf nie?”
Ek sug lank en hard. Kan niemand dan verstaan dat ek nie
sommer enige ding kan gryp om mee te skryf nie? Kyk, elke tweede een se ink is
op, of die punt is gebreek, of die ding is pleinweg net nie meer bruikbaar nie.
Ek weet ook nie waarom ek nog nie elkeen van hulle gevat
en weggegooi het nie. Wat maak ‘n mens in elk geval met goed wat jy nie meer (kan)
gebruik nie?
Dalk is dit pure sentiment, of dalk ‘n soort van ‘n selfsugtigheid
wat my daarvan weerhou om die penne in die drom te gooi. Want, jy sien, die
klein bietjie twyfel is tog mos nog daar agter in my kop: wat van as een van
hulle net dalkies nog kan skryf? Wat van as ‘n wonderwerk gebeur en ek staan
een oggend op en almal van hulle is splinternuut en ek kan weer met hulle skryf
dat die spoeg so spat? Wat van? Wat van AS?
Nou los ek hulle eers doodstil daar op die tafel en ek loop so nou en dan daar verby en bekyk hulle en belowe hulle ...!
Maandag 21 September 2020
DAARDIE TYD VAN DIE JAAR!
“Baie geluk met jou verjaardag, my maat!” of “Alles wat mooi is vir die toekoms.” Of “Mag daar nog vele wees.”
Dit begin vroeg-oggend, nog so deur die slaapnewels en hou
nie op voordat jy vanaand – helaas! – jou kop in die kussing verberg nie.
Nee, kyk, ons almal hou mos daarvan om aandag te kry, nie
waar nie? Jy voel so high and mighty vir die enkele paar ure en jou
skouers is sommer ‘n bietjie meer regop en jou smile dreig om die son te
oortref.
Maar ...!
En dis ‘n baie groot maar daardie.
Jy het gisteraand al gaan slaap met hierdie ding wat jou
nie wil los nie. En ja, hoe ouer jy word, hoe knaender is daardie treitering in
jou binneste.
Dis ‘n ding wat jou ál terug in die verlede in wil laat
neuk. Hoe jy ookal probeer vorentoe kyk, bly jou kop (en hart) terug dwing na
gister en eergister en dae en dinge wat was.
Vir wat?
Wil ek mos ook weet, man. Vir blerriewil wat!
Tot jy maar toegee en stil gaan staan en omdraai.
Ja, kom ons kry dit maar oor en verby, dit help
tog nie om dit te wil ontken nie, ek is ‘n sentimentele skepsel en eintlik wil
ek ook nie anders wees nie.
Die pad lê op hierdie stadium al redelik lank agter jou. Jy
kan dit ook maar erken – terug is baie langer as wat vorentoe is. G’n mens weet
hoe lank nog vorentoe nie, maar dit kan regtig nie meer so baie wees soos dies
wat agter is nie.
Bakens. Versperrings. Triomfe. Neerlae. Vuurwerke. Vloede en
brande. Noem dit, en dit was daar.
Nou hoekom is dit dan dat die neerlae en vloede en brande
en alles wat duister is, altyd vorentoe dring, terwyl die mooi en lekker so
half sku in die donker bly staan? Vir wat is dit dat ‘n mens altyd die
negatiewe loop uitgrawe en vergrotings daarvan wil maak? Hoekom is dit dat jy
die mooi en die lekker so half soos ‘n klein toffietjie in die kies sit en net
so terloops suig-suig daaraan?
En toe tref dit my soos ‘n voorhamer voor die kop! Dis so
selfsugtig soos ‘n mens (of is dit net ek?) gebore is, man. Jy glo die goeie
moet mos maar altyd daar wees, maar eintlik verdien jy nie die swaarkry wat
soms soos doringdraad oor jou pad gespan lê nie. Dit maak dat ek die lekker en
die mooi baie maal nie eens raaksien nie, want wees moet dit mos daar wees! Die
swaarkry voel allesoorheersend, want ek verdien dit g’n om so te moet ly nie.
Stry?
Net daar neem ek ‘n besluit ... ‘n besluit waarby ek, kom
wat wil, gaan hou in die toekoms. Ek sal daardie klein toffietjies suinig in my
kies koester. Ek sal hulle suig en rondrol op my tong, totdat die volle smaak
vir altyd en altyd in my mond en hart en siel gevestig sal wees. Ek sal hulle
een-een uithaal en met groot eerbied, maar ook groot lekkerte, hulle suig en
proe en geniet.
En die doringdraad?
Wat daarvan? Ek kan oor ‘n rol doringdraad klouter en klim
... met my toffietjie in my mond!
“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"
“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...






