Vrydag 10 September 2021

ONS HOU BASAAR

Petrina en Gesina is twee susters van die plaaslike gemeentetjie van so kort by die honderd. Almal ken vir almal en almal is lief vir almal ... of so lyk dit gewoonlik. Hulle woon almal elke nagmaal, elke kerkbasaar, elke debat van die kinders, elke wat ookal van wie ookal by.
‘n Regte gesellige ou lotjie, hierdie gemeentetjie!
Maar die gemeente nou daar gelaat. My kop staan na Petrina en Gesina en hulle dingetjies met/agter/sonder/by mekaar. Want, jy sien, die twee verskil soos dag by nag ... of wit en swart ... of chocolate en suurklontjies. Elkeen is goed op sy eie, maar saam kan dit nie altyd werk nie.
Om vir Petrina te ken en te WEET jy ken haar, is ‘n wens wat in baie se koppe is, maar net nooit bewaarheid sal word nie. Petrina is ‘n eiesoortige, half steeks, half moedswillige skepsel. Haar vriende is lief vir haar, maar (so reken ek) ook maar redelik ligvoet vir haar. ‘n Mens weet nooit wat om volgende van haar te verwag nie. ‘n Regte opsternaat mens, sou my oorlede oupa gesê het.
Want, jy sien, Petrina lewe in boksies. Vir elke oomblik van elke dag bou sy haar eie boksies. Sy vat die stukkie karton, meet hom tydsaam en presies af, trek lyntjies waar die voue moet wees, knip mooi op die lyntjies, vou hom dan versigtig toe, smeer die lym en plak baie mooi vas. Maar nee, nou is sy nog glad nie klaar met boksie nie, hoor. Sy moet hom eers mooi sit en betrag en besluit dan wat presies moet in hom kom. Sy pak alles mooi langs die boksie en begin dan meet en pas om alles mooi presies in te kry. Eers as sy tevrede is dat haar berekeninge reg is, sal sy die dit en dat vat en in die boksie pak. En moet net nie dink sy gaan haar steur as jy vir haar wil vertel dat dit en dat nie hoort in die boksie nie, hoor. Dit is HAAR boksie en sy sal vir hom pak soos SY wil.
By die tyd wat boksie nommer een gepak en toegeplak en weggebêre is, is dit al lankal tyd vir boksie nommer twee en drie en vier, en, en, en!
As Petrina die slag haar sê wil sê, moet jy luister en gou luister. Sy hou g’n niks daarvan om ‘n ding oor en oor en oor te moet sê nie. As jy nie mooi gehoor het die eerste keer nie, sal sy ‘n tweede keer probeer en dan maar los. Vir ewig en altyd sal jy nie weet wat presies sy jou wys wou maak nie. Een groot sonde wat sy sukkel om te vergewe, is as jy haar woord in twyfel trek, hoor. Sy reken sy het nou nie juis geld en goete nie, maar sy het ‘n naam wat sy hoog hou en jy moenie kom skuins neuk en haar verdink dat sy nie die waarheid praat nie.
Gesina, aan die ander kant, is ‘n mens wat hou van die oopte. Sy is min of meer soos ‘n ... soos ‘n WAT? Ek weet nie, maar iewers moet daar ietsie wees wat ook soos sy lewe.
Sy steur haar nie aan ruimtes en beperkings en wat alles nie. Waar Gesina is, kan jy weet dit is so ‘n klein bietjie soos ‘n orkaan. Hoe meer ek dink, hoe minder kan ek dink wat in die natuur skarrel so rond soos onse Gesina. Dit vat hier, pik daar, hol dan waarheen en vat weer en pik weer en hol weer. Nooit is daar ‘n stopteken of ‘n punt aan die einde van die sin nie. Nee, Gesina storm voort en word nie moeg of deurmekaar of bang vir haar eie spoed nie.
Wanneer Gesina aan’t gesels gaan, klink dit min of meer so: “Ek moet nog vir Kleinkoos dokter toe vat met die toon wat hy so nerwe af geval het. Hy wil mos nie hoor as ek vir hom ... net die anderdag hoor ek mos dat Willemina van annerkant die spoor glo ‘n kleintjie anie kom het. Genade, mens! Hoeveel is genoeg vir die twee arme ... ek moet nog die kool op die stoof kry – Egbertus hou nie van rou kool nie, maar gee hom koolbredie ... wanneer laas het ek ‘n baba so hoor skree soos daai een wat nou daar op die hoek sit ... og, hierdie somer gaan ons weer dood brand in hierie son!”
Nou vra ek jou: Wat om dese aarde is dit wat vir Gesina en Petrina so onlosmaaklik van mekaar gemaak het? Om hulle saam te sien, is om van moeg te word!
So hou die gemeentetjie toe laasjaar kerkbasaar. En, soos jy seker nou ook al kon raai, staan die twee se tafels langs mekaar ... nee, teen mekaar ... nee, amper OP mekaar! Petrina se tafel is vol boksies – boksies met lekkers, boksies met koekies, boksies met biltong, boksies met alles onder die son. Die tafel is oorlaai met boksies van alle kleure onder die son. Dis net dat niemand weet wat in die boksies is nie, want Petrina het alles mooi netjies toegeplak!
Gesina se tafel is ‘n fees vir die oog! Dit kreun onder die koeke, lekkers, biltong, koeldrank, chips en wat nog als. Kort-kort moet sy keer, of ‘n bondel val van die tafel af. Die mense is mal oor haar tafel en koop dat dit klap.
Na ‘n tydjie kan Gesina dit nie meer hou dat haar vriendin se tafel so stil is nie. Sy vra iemand om ‘n bietjie haar tafel dop te hou en skuif langs Petrina in. So met die gaan staan slag gryp sy die eerste boksie en ruk hom oop. Dis net kraletjies wat spat oor die aarde.
Petrina gil in ontsteltenis: “Kyk wat het jy aangevang!”
Sonder om verder aan Gesina aandag te gee, begin sy die krale optel en terug in die boks te sit. Die aarde vergaan om haar, maar hierdie boksie moet heel kom en mooi kom en toe kom ...
Dis eers toe sy vir boksie terug op die tafel sit, dat sy sien Gesina het al die ander boksies ook verwoes, sodat die inhoud nou alles op die tafel lê. Die hele gemeente staan asemloos en wonder wat nou gaan gebeur. Gaan sy Gesina te lyf gaan? Gaan sy histeries aan die gil gaan? Wat gaan sy doen?
Petrina het een kyk na die chaos op haar tafel gegee en met ‘n sug in ‘n floute verval – natuurlik plat op die stowwerige vloer. ‘n Groot gehyg gaan deur die gemeente, want wat nou?
Die dokter kom. Oom Kerneels met sy klein bakkie met die kappie op en die matras agterin – die plaaslike ambulans. Die brandweer. Die suster van die kliniek. Die enigste ‘speedcop’ van die dorp. Ja, almal staan om Petrina en elkeen probeer om haar uit haar floute te kry, maar verniet.
Opeens klink die geweldige stem van Gesina tussen die skare op: “Petrina Petoors, laat staan jou twak en staan op! Jy het ‘n tafel vol goed wat die mense wil koop!”
En ja?
Petrina vlieg orent en vee die stof van haar rok af. “En wat soek julle almal hier? Het julle nie werk om te doen nie?” snou sy al die barmhartige Samaritane toe.
Nodeloos om te noem dat haar goed toe ook verkoop het – amper beter as Gesina s’n. Dit het haar ‘n week of twee geneem om Gesina te vergewe, maar daaraan het ou Gesie haar min gesteur.
Nou staan die gemeentetjie weereens voor ‘n basaar en almal wonder: Waar gaan Gesina en Petrina se tafels hierdie jaar staan?

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

EK IS 'N MANGOBOOM

  Het jy al na ‘n mangoboom, oorlaai met blomme, gekyk? Nee, ek bedoel nou nie of jy so in die verbygaan gesien het hoe oorlaai die boom is ...