Vreemd hoe ‘n mens se gedagtes met jou kan loop! Die
heerlike, milde reen wat nou al dae so val, laat my telkens dink aan ‘n kraan
wat iemand oop vergeet het. Dit val so egalig en sonder ander bygeluide uit die
hemel – so sonder om van klank te verander, sonder donderslae en blitse.
En meteens onthou ek ‘n geselsie van baie, baie jare gelede
met my oudste, wat toe nog sommer baie klein was.
Sy het vir die eerste keer reën gesien en was eers heel
verskrik oor die water wat so op haar koppie val. Toe die grootste skok verby
is, het sy hierdie slim redenasie gehad.
“Mamma, ek weet waar kom die reën vandaan!”
“Regtig, Ma se kind, waar kom dit vandaan?”
“Dis liewe Jesus wat ‘n kraan oopgedraai het en toe vergeet
het om dit weer toe te draai.”
Ek het haar nie probeer reghelp nie, want hoe verduidelik ‘n
mens aan so ‘n klein mensie van water en kondensasie en wat alles?
Vandag, nou hier waar ek sit, besef ek dat sy ‘n punt beet
gehad het. Dit is weliswaar liewe Jesus wat die krane van oorvloed oopgedraai
het, ja. Dit kan ons nie mee stry nie, kan ons?
Die enigste verskil is dat Hy nie die kraan met lopende
water oop vergeet het nie, dink ek. Hy het dit oopgedraai oor ‘n aarde wat, amper
soos voor die skepping, woes en leeg is – geen weiding, niks groen en geen rede
om oor bly te wees nie.
Hy het dit oopgedraai uit die goedheid van sy genade, sodat
ek en jy kan weet dat Hy ons nie vergeet het nie.
Stem jy saam?
Die ou Halleluja liedjie, Strome van seën van bowe kom spontaan by my op en ek is diep dankbaar oor krane wat oopgedraai is.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking