Vrydag 27 Junie 2025

DIE TROU-MOVIE


Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ou foto’tjie daarvan het nie! Maar toemaar, ek sal probeer vertel dat jy die prentjie kan sien. Dis ‘n lang storie – jy moenie moeg word en halfpad ophou lees nie, hoor!

Jy sien, dit was nie baie lank voordat my ouers van Hentiesbaai af Windhoek toe getrek het nie. My pa het kanker gehad en hulle moes naby die dokters kom. Ons kinders het almal daar vir die vakansie gekuier. Dis nou Lida en Gerhard en Karien; ek, Wolfgang, Riana, Wolfie en Maryke en Belia en Johannes met Enéz en Marike. Ons is so baie dat party in ‘n familielid se huis moet slaap.

Kan jy jou indink hoe gaan dit met so ‘n lotjie as hulle begin gesels en grappe maak? My arme ma en pa wat aan stilte gewoond was het seker soms gevoel om te vlug.

So word daar toe besluit dat daar darem ‘n ou ietsie moet gebeur op die dag wat Oupa en Ouma 50 jaar getroud is. En ons ou lotjie ken van konsert hou, hoor! Ons is nie bang mense nie ... ook nie skaam mense nie.

Lida kom toe met die idee dat ons ‘n movie moet maak. Nie ‘n regte movie nie, maar die konsert sal in die vorm van ‘n movie wat geskiet word, verloop. Dit sal handel oor ‘n troue wat nie lekker wou uitwerk nie.

Kom ek gee jou die rolverdeling sodat jy lekker kan verstaan en volg wat ek vertel.

Lida, die oudste, maar die fynste van ons lotjie, is getroud met Gerhard, oftewel Broer. Hy is die grootste en langste man in ons familie.

Ek en Wolf; en Johannes en Belia is ... wel ... so iewers tussen-in gebou. Maar dit speel nie regtig ‘n rol nie.

Jare gelede, toe ek nog in die laerskool was, het die gemeente daar in Maltahöhe ‘n wonderlike orreliste gehad – tannie Grietjie Loubser. Belia wou van baie klein af baie graag klavier speel en wanneer sy by ‘n gladde oppervlak gekom het, was die handjies altyd besig om ‘klavier te speel’ en het sy vir ons gesê: “Ek is Grietjie Loubser.”

Rolverdeling:

Regisseur: Lida

Dominee: Riana (ek onthou sy het so ‘n lekker weglêkuif gehad.)

Bruid: Gerhard (die grootste persoon in die hele familie)

Bruid se vader: Wolfgang

Bruid se moeder: Belia

Bruidegom: Johannes, wat meer as ‘n kop korter as die bruid is!

Fotograaf: Karien

Grietjie Loubser: Ek

KleinWolf en Pieter: Hofknapies

Maryke, Enéz en Marike: Blommemeisies

Almal is so na as moontlik aangetrek om by hulle rol te pas. Die bruid is ‘n treffer. Sy het ‘n tee-net oor die kop en ‘n bossie verlepte gras in haar hande. Sy lyk te lieflik! Die moeder van die bruid moet ook gemeld word. Sy is tog te statig opgetof, tot met die outydse handsak so oor die arm.

En natuurlik was my ouers dan nou die enigste twee gaste in die gehoor! En, wel, bygesê, gaste wat nie eens vir die konsert betaal het nie!

Storielyn van die movie:

‘n Doodeenvoudige troue.

Oupa en Ouma sit gereed. Die regisseur staan astrant regop en wag vir die “regte” oomblik. Die fotograaf hang lui teen die muur.

“And ... action!” bulder die regisseur.

Grietjie Loubser is nie vandag baie lus om te speel nie. Die orrel begin sag en traag. Die bruid kom aan die arm van haar vader ingestap, met haar moeder aan haar regterkant. Net agter hulle volg die res van die groep.

Niemand van hulle is lus vir trou vandag nie. Daar is geen glimlag, geen emosie, g’n niks op hulle gesigte te lees nie.

Die orrel raak stil en die dominee begin in ‘n verveelde stem wat erg brei: “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal ruk tot stilstand en dalk lyk hulle nou ‘n klein bietjie wakkerder ook sommer nog.

“Mense,” gaan die regisseur voort, “hierdie is ‘n troue! ‘n Mens het emosies wat jy wys. Jou gesig kan nie lyk soos ‘n standbeeld nie, ha? Kom asseblief net ‘n bietjie by, toe?”

Hy kyk stip na die moeder van die bruid. “Jy, Mevrou, is jy nie ‘n bietjie hartseer omdat jou jongste dogter vandag in die huwelik tree nie? A-nee-a! Wys dit vir ons, man!”

Almal draai om en verdwyn by die deur uit.

Die stel is gereed. Die kameraman staan sowaar en ... wat maak hy daar? Hy blaas sy neus en vee trane uit sy oë. Grietjie Loubser lyk ook nie te goed nie. Haar gesig is vertrek van smart. ‘n Mens sou kon wonder wat het dan nou skielik met hulle twee gebeur.

“And ... ACTION!” bulder die regisseur met ‘n traan in die oog.

Die orrel begin speel, maar dit klink liewer soos iets wat die Briels sou sing as die troumars – iets soos “Een aand op die trein na Pretoria”. Die trane drup op die orrel! Toe sy die bruidspaar sien, moet Grietjie alle wilskrag beskikbaar inspan om nie bo-oor die orrel op haar arms te gaan lê en huil nie.

Die bruid verskyn by die deur met haar ouers weerskante van haar. Dit is ‘n smartlike gesig! Almal huil so dat hulle nie voor hulle kan sien nie. Die orrel se laaste temerige klanke raak stil. Die moeder van die bruid is in so ‘n toestand dat sy  flou op die grond neerslaan.

Dit is toe op daardie oomblik dat die bruid, Gerhard, vergeet waar hy is. Toe sy moeder grond toe gaan hier langs hom, skree hy bokant die geklank van uiterste hartseer: “My suster, waar gaan jy heen?”

Sy skree dit uit van die lag: “Ek is mos jou ma, nie jou suster nie, my dierbare mooiste bruid van ‘n kind.”

Sy staan verwese van die grond af op, vee ‘n slag oor haar gesig en probeer die snikke  (of was dit nog die lagbui?) onderdruk.

Hulle gaan staan voor die dominee. Hý staan met die sakdoek voor die gesig en kan nie die bruidspaar in die oë kyk nie. Die smart is net eenvoudig te veel om te verduur.

Hy snik ‘n slag of twee voordat hy die sakdoek versigtig opvou en in sy broeksak druk. Hy sug kliphard en dan begin hy: : “Liewe familie en vggriende ...”

Die regisseur bulder dit uit: “Cut!”

Almal gaap hom oopmond aan. Die trane en smart is vergete! Wat is dan nou verkeerd? Is dit nie wat hy gesê het hulle moet doen nie? Elkeen het sy bes gedoen en gekyk/geluister of hy beter as die een naaste aan hom kan huil.

Die regisseur is so opgepluk, hy klim sommer op die tafel om die lotjie behoorlik in die oë te kan kyk. Hande op die heupe staan en betrag hy hulle ... elkeen kry sy beurt om stip in die oë gekyk te word.

“Wat op aarde was dit hierdie? Was daar ‘n begrafnis waarvan ek nie weet nie? Wie is oorlede? As ek so kyk, is julle almal nog hier. Liewe aardetjie, mense! So ‘n drama het ek nog nooit beleef nie. Nou kyk, ek gee julle nog een kans, dan kry ek ‘n ander spannetjie om hierdie eenvoudige video mee te maak.”

Die trougroep staar mekaar verwese aan. Kan die man nie asseblief maar sy “mind” opmaak nie? Hy het dan gevrá hulle moet huil ...!

“’n Huwelik is ‘n vrolike geleentheid. Mense is bly om saam te wees en fees te vier. Mense wil hê die bruidspaar moet hierdie dag vir altyd en altyd onthou as die gelukkigste dag in hulle lewens ...”

Hy sug dramaties. “Gaan nou en begin voor. Onthou, julle het nog net hierdie een kans om reg te maak wat julle verbrou het.”

Almal draai sleepvoet om en verdwyn by die deur uit. Die regisseur vee ‘n slag sweet af en hy en die kameraman kyk mekaar aan. Hulle wonder of hierdie spulletjie dit ooit sal kan regkry om die movie gemaak te kry.

“En action!” kom dit weer hard en beslis.

Grietjie Loubser trek weg met die troumars. Maar opeens klink die troumars meer soos ‘n masurka of ‘n polka. Sy trap daardie pedale van die orrel dat sy haar sit moet ken om nie van die stoel af te val nie. Die dominee staan en skater dit uit van die lag.

En opeens is daar chaos! Die bruidsgroep kom binne met ‘n gejubel en ‘n huppel in die stap. Dit skree soos dit lag en hulself geniet. Die blommemeisies en hofknapies trippel rond van plesier. Die bruid se ma se maag is so seer van die lag, sy moet eers ‘n slag stop en haar maag vashou. Die trane rol soos hulle hierdie troue geniet.

En Oupa en Ouma, vra jy my? Jy kan hulle lag bó almal s’n hoor. As jy gedink het hulle het gelag toe die ou lot so geween het, moet jy hulle nou kom hoor.

Die dominee probeer so deur die lagbui sy ding doen: “Liewe familie en vggriende ...” maar niemand hoor hom nie.

Ag, maar wat ‘n jammerte vir die goor ou regisseur. Hy bulder dit bo alles en almal uit: “Cut!” Hy gooi sy hande in die lug en wys vir die kameraman hulle moet liewer maar loop, dit gaan nie werk nie.

Oupa en Ouma is óp van die lag. Oupa vra vir Ouma: “Kry ‘n mens dan nie ‘n ou koffietjie in hierdie huis nie?”

 

 

 

Maandag 09 Junie 2025

RAGAB DIE HOER


 RAGAB DIE HOER KRY GENADE (Joshua 6)

Eers is daar niks nie. Niks anders as die stilte nie. So stil dat jy elke asemteug in die nagdonker kamer hoor. Die rooi tou hang by die enigste venster uit na buite, maar Ragab het ‘n dik mat voor die venster gehang.

Hier en daar verskuif iemand ‘n voet krapperig op die vloer. Iewers probeer iemand so sag as moontlik keel skoonmaaak, maar dit werk nie. Elke geluid klink of dit uittrompetter tot in die heelal.

Toe – van buite af, deur die dik mure van Jerigo – kom daar weer die eentonige gekerm van ramshorings. Oehoe-oehoeeeee! Dit klink of die wind deur die aardkors hyg – harder, sagter, harder, sagter, soos dit deur die ligte oggendwindjie aangedra word.

Dit is net die ramshorings en die duisende voetstappe. Verder niks. Geen stemme wat opdragte skree nie, geen dreunsang van die priesters nie, geen klein geselsies en giggeltjies van kinders nie. Niks nie. Net die ramshorings en die duisende voetstappe.

Hulle ken dit by hierdie tyd al. Die vorige ses dae was dit ook so. In die oggendstilte kon jy die voetval die duisendes van ver af hoor aankom. Harder en harder. Doelbewus. Met ‘n plan! Totdat hulle een maal rondom die stad was. Dan weer sagter en sagter totdat alles doodstil was.

Hulle het dit al ses dae lank gehoor, maar vandag is anders. Vandag hou dit nie op ná die eerste keer nie.

In plaas van dat dit sagter raak en wegraak, kom die stamp-stamp, stamp-stamp van die krygers se voetstappe weereens verby. Dan die ramshorings en daarna die sagter voetstappe van die duisende Israeliete.

Dit is soos die golwe van die see wat groei en daal, groei en daal. Vir sewe maal hou dit aan. Hier en daar sal jy ‘n priester ‘n opdrag hoor skree of ‘n kind hoor huil, maar die krygers is doodstil in hulle verbymars – doodstil en vasberade.

Stamp-stamp, stamp-stamp ... Sewe maal!

In die donker kamer bereik die spanning breekpunt. Die vrees is voelbaar. ‘n Kind begin huil, maar die ma druk verskrik haar hand oor die kind se mond en fluister saggies in haar oor.

Elke asemteug is ‘n vreesbevange ruk-ruk in die bors. Kinders klou hulle ma’s vas en die mans op hulle beurt probeer sy gesin met sy arms toemaak. Wat is aan die gang? Wat gaan van hulle word?

En dan ... ‘n skielike stilte.

‘n Groot, swaar stilte. So asof die aarde haar asem ophou vir wat nou gaan volg. ’n stilte wat alles verswelg. ’n Stilte wat sag klop in die ore, soos voor ‘n donderstorm.
Alles wag.

In die kamer weet hulle dat iets nou gaan gebeur, maar wat?

‘n Magtige stem bulder die opdrag: “Skreeu! want die Here gee die stad aan julle oor.”

’n Geskreeu bars los. ’n Enorme gedreun van stemme, duisende wat gelyk roep ... skree ... jubel. Dit is soos ’n golf van geraas wat teen die stad se mure op spoel. ‘n Tsunami van klank wat die hemele gaan oopskeur.

Ragab ruk regop. Dit voel vir ‘n oomblik of hulle vloer skud en bewe. Sy vra saggies genade van die God van wie sy nog net vaagweg gehoor het.

En dan kom dit:

Dit kraak en knal van klip en klei wat verkrummel. Die grond onder hulle voete skud verwoestend. Die geraas van mure wat val en vergruis neerstort. Die gegrom van torings wat tuimel en stof wat in golwe deur die strate trek. Mense se gille wat meng met die chaos.

Hulle klou mekaar vas. Angssweet tap van die gesigte. Niemand is nou meer seker of hulle lewend uit hierdie verskriklikheid gaan kom nie.

Hulle hoor dit oral om hulle. Die verkrummel van messelwerk, die gekreun van antieke balke wat buig en breek, die oorverdowende val van hoë torings ... 'n Nuwe geluid: 'n paniekbevange gekletter, soos perde of waens wat omval. Die skerp, kort skreeu-huil van iemand wat val.

Maar hulle is in hulle kamer – hulle voel die skud en bewe van die aarde, maar die kamer bly staan. Die stof kom van oral af op hulle neer, maar hulle is veilig.

Die vrees is ruikbaar in die stilte van die kamer.

Buite skreeu dit en dreun dit van almal wat hardloop, almal wat doodmaak. Maar binne is dit stil. Die asemhalings is vinnig en vlak. Arms is gespanne om mekaar gespan.

En dan, net so skielik, is alles weer doodstil. Dit is net die geluid van die wind deur die ruïnes van die eens magtige Jerigo. Geen skree meer nie. Geen ramshoring meer nie.

Dit is net die wêreld wat geheel en al verander het.

Voetstappe oor rommel en stene ...

Nader en nader.

Hulle hardloop nie. Hulle stap doelbewus op pad iewers heen, dit kan jy hoor.

‘n Bekende stem sê: “Ragab, maak oop, ons is hier.”

 

Donderdag 05 Junie 2025

DIE PLEK WAAR EK WEER BEGIN VOEL HET ...

 


Na aanleiding van my vorige blog oor die sepsis en wat daarop gevolg het, vra iemand my anderdag waar was die plek waar ek weer begin voel het ... die plek waar ek begin besef het dat ek nog ek is.

Was daar regtig so ‘n plek, of tyd, of oomblik, of wat ookal? Ek weet nie. Ek sit nou baie hard en dink daaroor, maar dit is alles vaag.

Ek weet dat ek so ‘distant’ van myself gevoel het. Distant van myself, van my gesin, van die mense, van die hele aarde. Ek het iewers gesweef en nie geweet of ek nog lewe of dalk al dood is nie. Alles was net te ver en te onduidelik. Of dalk nie onduidelik nie, maar vaag. Vaag soos wanneer jy in ‘n stofstorm in die Namib is en jy kan nie die hek van die werf sien nie. Jy weet dit is daar. Jy het hom al baie oop- en toegemaak. Honderde kere al. Hy was gister nog daar, dit weet jy vir seker. Dis net dat jy hom nou nie kan sien nie en daarom twyfel jy of hy nog daar is.

Ek was te onseker van myself om enigiets aan te pak. Ek hou nie daarvan om te sit en niks doen nie. Daardie tyd het ek dae lank gesit. Gesit en slaap. Gesit en ... en wat? Ek weet nie, maar sit het ek gesit.

Nou is dit al so ‘n bietjie anders, maar daar kom soveel dinge kort nog.

Ek onthou nie die eenvoudigste daaglikse goedjies nie. Dis nie my langtermyngeheue wat gegaan het nie. Van laasjaar en die vorige eeu kan ek jou nog baie vertel, maar moenie vir my vra wanneer was ek by die winkel nie. Moenie vir my vra watter kroniese medikasie gebruik ek nie. Ag, demmit, daar is so baie waarmee ek sukkel!

Ek dink ek is weer terug in my lyf, maar dalk ook nie. Die een wat nou in my lyf is, dink anders en doen anders as wat ek gewoonlik gedink en gedoen het. Dis asof ek ‘n brein by iemand gekry het  en wat ek nou myne moet maak.

Intussen koes ek nog vir die mense daar buite. Vir wat? Ek weet nie, man. Ek koes maar net ... dalk omdat ek so half onseker is oor myself? Oor my kop nou nie meer so flink dink nie? Ek weet regtig nie.

Donderdag 29 Mei 2025

WANT IETS HET GEBEUR!

 

Nee, kyk, nou is dit tyd dat ek ‘n slag uitkom met die waarheid. My kop is so vol los drade en gedagtes ... gedagtes wat net meer en meer word en oral kleintjies kry.

Is jy ook soos ek? Dis nou veral deesdae wat die jare op die gesig en die lyf begin wys. Ek borsel my tande soggens en sien myself in die spieël. Die een dag kan ek nogal vir myself glimlag en opmerk dat ons darem nog nie só verweer lyk nie. Maar net die volgende dag! O genadetjie tog!

Maar kom ons los nou maar daardie gedeelte uit. Dit is glad nie my bedoeling of begeerte dat ons op mekaar se skouers ween oor die verganklikheid van die lewe nie. Daarvoor is daar nog altyd genoeg tyd, reken ek.

Die spreekwoord lui dat jou keuses jou toekoms bepaal. Of dan, overgesetsynde, dit bepaal die gang van jou lewe ... wie en wat jy is en gaan word.

Net nou die anderdag lees ek dat elkeen van ons geskape is met ‘n spesifieke doel. Jy is gebore met ‘n gawe wat jy moet uitleef. En, reken die persoon, as jy dit nie uitleef nie, sal daardie ding jou haunt tot aan die einde van jou dae.

Sjoe!

Ek kyk terug: Laerskool. Hoërskool. Kollege. Alles loop maar soos dit moet loop, sonder dat ek ooit iewers hierdie groot dringende klop aan my hart gekry het dat ek sonder twyfel dit of dat met my lewe moes maak. Trou. Begin ‘n gesin. Die lewe loop met ‘n mens en niks buitengewoons word gebore nie.

Wat my laat wonder: Is ek toe sonder so ‘n besondere gawe gebore of het ek dit bloot doodgeleef?

Maar hoe sê hulle nou weer? ‘n Mens mis nie ‘n ding voordat jy dit nie meer het nie. En sowaar, dit is nou een waarheid waaroor niemand kan redeneer nie. Ek het glad nie besef wat ek het voordat dit nou besig is om soos sand deur my vingers te glip nie.

Ek begin voor:

WANNEER GEHEUE BEGIN GLIP ...

My naam is Martha, en tot nie te lank gelede nie was ek ’n ywerige blogger. Ek was altyd opgewonde wanneer ek ‘n idee vir ‘n blog gekry het. Ek moes dit dadelik skryf en my gedagtes vaspen voordat hulle kans het om te verdamp. Dit voel soos om by ‘n bekende vriendin te sit en jy moet nou dadelik vir haar alles vertel.

Ek het vertel, geskryf, gedeel – soos ’n mens maar doen as jy die lewe wil verstaan en onthou deur dit op papier vas te lê.

Ek het my skrywery nie as iets besonders beskou nie. Want jy sien, jy hardloop dalk marathons, die ander een doen naaldwerk, en ek skryf ... geen verskil nie!

Twee jaar gelede het ek en my man, Wolfgang, aan die kus kom woon. Net ons twee, onafhanklik en vry, met die see wat in die verte sug soos 'n kalm ou vriendin. Ons dae en weke bestaan uit klein goedjies: ek doen soms decoupage, kleur in, hekel 'n spul onnodige nonsies goedjies (maar dis mos die geselskap wat tel), en ek probeer deesdae stadigaan om weer te skryf. (Hierdie stukkie skryfwerk het my ongeveer tien dae geneem, maar ek dink ons moet hom nou in die oopte daar op die muur gaan plak vir almal om te lees.)

WANT IETS HET GEBEUR ...

Twee kere ICU. Twee kere sepsis. Twee keer deur die skerp rand van die lewe gesny en tog teruggekeer. Dis nie iets wat mens net so agterlaat nie. En die nagevolge het bly klou soos ‘n haak-en-steek-bos se dorings aan jou mooi rok: veral die gevolge daarvan wat my my geheue en konsentrasie betref.

Ek begin dikwels iets doen – soos om my medisyne te neem – en 'n paar minute later gaan ek terug, hand op die pilhouer, en wonder: Het ek dit nou geneem, of dink ek ek het? Dis nou nie eintlik ‘n grap nie, want ‘n mens wil mos nie jouself bedwelm met te veel van ‘n ding nie. Ek stel die alarm, ek tel die pille uit, ek doen alles moontlik om dit reg te kry, maar telkens is daar saans nog ‘n ekstra pil of twee wat toe nooit gedrink is nie.

Dis snaaks en tragies tegelyk.

Ek sukkel ook met die klein goedjies: resepte is soos raaisels. Ek lees die instruksies, draai om om die meel te kry, en moet dan drie keer teruggaan om seker te maak ek het reg gelees. Gelukkig bak ek nie meer gereeld nie, anders weet ek nie hoeveel skade sou ek myself al aangedoen het nie.

Dis daardie klein sprongetjies van aandag wat my laat voel of ek in 'n ander ritme leef as die res van die wêreld.

Lees is ook ’n stryd. Ek sien die woorde, ek verstaan dit terwyl ek lees, en dan – tjoeps! – weg. Ek sal soms drie keer dieselfde paragraaf lees en tog bly dit soos 'n stukkie seep wat uit my hand glip. Ek het begin om hardop vir myself te lees – asof ek 'n storie vir ’n kind voorlees, net met ek as luisteraar en verteller gelyk.

My rug is nie meer wat dit was nie. Die kussinkies tussen my werwels daar onderlangs het lankal gegroet. Ek kan nie meer lank staan of loop nie. Ek moet lê, dan staan, dan weer sit ...

Maar hier’s die ding: ek’s nog hier. En ek’s nog ek, al voel dit soms of die “ek” bietjie los in my sit.

Ek het begin leer dat dit nie noodwendig die groot goed is wat jou menswees uitmaak nie, maar die klein aanhoudende gewoontetjies. ’n Gekleurde blommetjie op ’n gehekelde uil se kop. ’n Mooi bak slaai. Die geur van ‘n ribbetjie op die vuur. Ek en Wolfgang lag nog. Ons gesels nog. Ons geniet mekaar nog. Ons lewe nog!

Ons lewe is rustiger, stadiger, meer bewus. Ek skryf nie meer lang blogposts nie – maar ek hou my foon byderhand en daarop skryf ek gedagtes neer, een op ’n slag. Sommige is net sinnetjies, ander is flenters van herinneringe. Dit hoef nie perfek te wees nie. Dis myne.

Ek leer ook dat ek mág verander. Ek mág vergeet. Maar ek is steeds Martha. Ek is steeds lief vir woorde, vir mense, vir die see en vir my man. Ek is iemand wat geleef het, so effens suffer, en steeds leef.

En dalk, een van die dae, sal ek weer ’n storie skryf wat volledig is. Of dalk net een wat met liefde gebreek is – soos ’n stukkie porselein met goud in die krake.

Maandag 12 Mei 2025

Die pil is weg!

 


Ek is seker jy het dit ook al ervaar dat ten spyte van, of te midde van ‘n groot krisis, gebeur iets waaroor jy jou agterna dood kan lag. Op daardie oomblik is dit dalk glad nie snaaks nie, maar as die stof gaan lê het, sien jy die aardigheid daarin.

Augustus 2024 beland ek in Windhoek in die ICU met ‘n bug wat my deur ‘n tand binnegedring het en groot moeilikheid maak. En so wrintiewaar! Einde Februarie, begin Maart hierdie jaar, is daar weer ‘n skarminkel wat die longblasies aanval!

Ek is siek. Ek is ellendig siek, hoor. Hondsiek! Tot so ‘n mate dat ek heeltemal deurmekaar is by tye. (Ken jy vir delirium? Dis nou hy daai!) Die dokter glo dit is my kroniese medikasie wat my so deurmekaar maak en hulle cold turkey my -  nie ‘n enkele pil sal ek drink in hierdie plek nie, is die uitspraak.

Ek is baie deurmekaar, maar nie so erg dat ek nie dadelik besef dat ek ‘n groot probleem het nie. As jy weet van rustelose bene, sal jy ook weet dat jy daardie pilletjies saans moet sluk, anders slaap jy nooit daardie nag nie.

Maar moenie dink die dokter luister na my nie! Hy dreig my: “As ek dit vir jou gee en hier kom moeilikheid, is dit op jou, nie op my nie!”

Ek skrik vir die ou se houding en laat vaar my pleidooi ... met die besef dat daar ‘n paar slapelose nagte voor my lê, natuurlik.

My geliefde is eers huis toe met die belofte om later weer te kom kuier.

Opeens het ek ‘n pilletjie in my hand. Ja, jy het reg geraai! Dis een van dáárdie pilletjies! Opgewonde probeer ek dit in die ander hand sit, maar ek is so onhandig! My vingers bewe so dat ek dit laat val.

Nou besef ek, Martha, jy is in groot moeilikheid! As hulle vanaand vir jou vang met hierdie pil, is daar oorlog. Ek probeer versigtig so oor my borskas voel, maar ek kry hom nie. Die drip is in een arm en die monitor aan die ander hand – beweeg ek, gaan alles rondom my aan die skree.

Ek probeer langs die bed op die vloer kyk, maar kan nie daar sien nie. Dan voel-voel ek weer ooral op die bed rond ... sonder enige sukses. Oor en oor en oor voel ek en soek ek na daardie pil.

My man kom later en ek order hom om vir pilletjie te soek. Kan jy my glo, hy doen regtig nie eens ‘n ou bietjie moeite nie. Hy sit net daar en kyk vir my.

Opeens onthou ek waar die pilletjie is! Ek gryp my selfoon en kondig trots aan: “Ek weet waar hy is. Ek het hom hier agter by die foon gebêre.” Met groot bravade maak ek dit oop ... en daar’s niks!

Shit!

Toe Wolf weg is, ontdek ek by hernuwing ‘n plek waar die pil is. Om my een vinger is ‘n pleister met die rooi liggie van die monitor. Ek voel-voel so met my tong en ek besef die pil is sowaar binne-in hierdie pleister! Hoe kon ek dit nie geweet het nie?


Ek begin eers versigtig en toe harder en harder aan hierdie pleister byt en trek met my tande. As hulle daai pil hier kry vanaand ...!

Toe die verpleegster weer by my kom, hang die pleister nog aan so ‘n hoekie aan my vinger. Ek wys vir haar die pleister is stukkend, want ek het hom so gebyt.

“Hoe kan jy dit doen?” raas sy. “Jy weet mos dit is die hospitaal se eiendom!” En sy draai ‘n nuwe pleister om my vinger, sónder om die pil te kry!

Toe ek beter en terug by die huis is, wil ek by Wolf weet wat het daardie aand van my pil geword. Hy antwoord my nie. Hy kyk net so half afwesig na my kant toe.

‘n Paar oomblikke se stilte hang tussen ons.

“Pa, wás daar ooit ‘n pil?”

“Nee, my vrou, daar was nooit ‘n pil nie.”

Vrydag 09 Mei 2025

SONDAG IS 'N HEILIGE DAG, MY KIND


 So kuier ons by Oupa en Ouma vir die aand. Dis nou my ouers en ek en my twee susters en ‘n klomp tannies en ooms met hulle kinders. Dit gaan vrolik, al is dit Sondagaand. Die grootmense gesels en lag en kuier baie gesellig, terwyl ons klomp niggies in die sitkamer skinder en giggel (wat anders?)

Ons groot niggie is ook daar. Sy het in Suid Afrika studeer en is nou regtig wêreldwys. Sy sit ‘n seven single op die platespeler en vra ons moet almal in ‘n kring op die mat kom staan.  

“Ek wil vir julle leer BIRD,” verduidelik sy opgewonde.

(As jy so oud of ouer as ek is, het jy dalk ‘n vae idee wat hierdie Bird nou eintlik is. Jy staan teenoor jou dansmaat met elkeen een van julle voete voor julle. Daardie voet is gepunt en jy raak net so met die toon aan die vloer terwyl die hak ritmies op en af. Dis nou hierdie voetjie wat die ritme hou en die lyf wikkel saam. Met jou hande doen jy allerhande dinge – jy maak of jy visvang, of jy met ‘n verkyker vir wie ookal kyk ... ag, eintlik enige lawwe ding. Intussen wip die voetjie so op die toon en lyfie wikkel saam.)

“Wat is bird?” wil een weet.

“Man, dis ‘n soort dans. Kom net, dan wys ek julle. Dit is nogal maklik en dis baie lekker.”

Toe ek hoor dis dans, gaan sit ek weer op my stoel. Ek het nog nooit daarvan gehou om te dans dat ander mense vir my kyk nie. Ek glo ek kan nie dans nie en almal sal vir my lag. Maar nee! Hulle wil niks daarvan hoor dat ek nie ook kom bird nie.

Het ek maar liewer daar bly sit!

Hoe later, hoe kwater. Die platespeler word harder en harder gedraai en dieselfde lied word oor en oor gespeel. Ons bird dat hoor en sien vergaan. Die een wil snaakser wees as die ander.

Oupa sit al reg met die Bybel toe die grootmense ons kom roep. My pa vra onderlangs wat het ons gedoen en ek antwoord hom giggelend: “Ons het gebird, Pappa.”

Ons is terug plaas toe en het salig gaan slaap. Maandagoggend was ‘n ander oggend. Net na ontbyt roep my pa ons drie kamer toe.

Ek weet, hier kom nou groot moeilikheid. Sondag is nie ‘n dag vir goetertjies nie. Ons weet dit baie goed. Jy was nie jou hare nie ... jy swem nie ... jy brei nie ... jy werk nie ‘n af knoop aan nie ... jy polish nie jou skoene nie en so voor die wragtag sal jy ook nie dans nie!

Hy begin by die oudste: “Wat het julle gisteraand gedoen?”

Voor sy nog lekker kan antwoord, lê sy oor sy skoot en val die plathandhoue. Dieselfde gebeur met my. Die kleintjie het nie gedans nie, maar sy was saam met ons daar in die sitkamer.

“Wat het jou susters gisteraand gedoen?” vra hy streng.

“Ek weet nie, Pappa,” antwoord sy beangs.

“En dan jok jy ook nog vir my!” Hy trek haar oor sy skoot en die plathand doen sy werk.

Hierdie pak slae van my pa was een van net twee wat ek in my lewe by hom gekry het. Maar ek belowe jou, op ‘n Sondag dans ek nooit weer nie. Of dit nou bird, of twist of wals of die riel is, jy sal my nie weer daarmee betrap nie.

DIE TROU-MOVIE

Ek weet nie waarom ek julle nie laaaaankal hierdie lekker storie vertel het nie. Ek moet net verskoning maak dat ek ongelukkig nie eens een ...