Na aanleiding van my vorige blog oor die sepsis en wat daarop gevolg het, vra iemand my anderdag waar was die plek waar ek weer begin voel het ... die plek waar ek begin besef het dat ek nog ek is.
Was daar regtig so ‘n plek, of tyd, of oomblik,
of wat ookal? Ek weet nie. Ek sit nou baie hard en dink daaroor, maar dit is
alles vaag.
Ek weet dat ek so ‘distant’ van myself gevoel
het. Distant van myself, van my gesin, van die mense, van die hele aarde. Ek
het iewers gesweef en nie geweet of ek nog lewe of dalk al dood is nie. Alles
was net te ver en te onduidelik. Of dalk nie onduidelik nie, maar vaag. Vaag
soos wanneer jy in ‘n stofstorm in die Namib is en jy kan nie die hek van die werf
sien nie. Jy weet dit is daar. Jy het hom al baie oop- en toegemaak. Honderde
kere al. Hy was gister nog daar, dit weet jy vir seker. Dis net dat jy hom nou
nie kan sien nie en daarom twyfel jy of hy nog daar is.
Ek was te onseker van myself om enigiets aan te
pak. Ek hou nie daarvan om te sit en niks doen nie. Daardie tyd het ek dae lank
gesit. Gesit en slaap. Gesit en ... en wat? Ek weet nie, maar sit het ek gesit.
Nou is dit al so ‘n bietjie anders, maar daar
kom soveel dinge kort nog.
Ek onthou nie die eenvoudigste daaglikse
goedjies nie. Dis nie my langtermyngeheue wat gegaan het nie. Van laasjaar en
die vorige eeu kan ek jou nog baie vertel, maar moenie vir my vra wanneer was
ek by die winkel nie. Moenie vir my vra watter kroniese medikasie gebruik ek
nie. Ag, demmit, daar is so baie waarmee ek sukkel!
Ek dink ek is weer terug in my lyf, maar dalk
ook nie. Die een wat nou in my lyf is, dink anders en doen anders as wat ek
gewoonlik gedink en gedoen het. Dis asof ek ‘n brein by iemand gekry het en wat ek nou myne moet maak.
Intussen koes ek nog vir die mense daar buite.
Vir wat? Ek weet nie, man. Ek koes maar net ... dalk omdat ek so half onseker
is oor myself? Oor my kop nou nie meer so flink dink nie? Ek weet regtig nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking