RAGAB DIE HOER KRY GENADE (Joshua 6)
Eers is
daar niks nie. Niks anders as die stilte nie. So stil dat jy elke asemteug in
die nagdonker kamer hoor. Die rooi tou hang by die enigste venster uit na buite,
maar Ragab het ‘n dik mat voor die venster gehang.
Hier en
daar verskuif iemand ‘n voet krapperig op die vloer. Iewers probeer iemand so
sag as moontlik keel skoonmaaak, maar dit werk nie. Elke geluid klink of dit uittrompetter
tot in die heelal.
Toe – van buite af, deur die dik mure van
Jerigo – kom daar weer die eentonige gekerm van ramshorings. Oehoe-oehoeeeee!
Dit klink of die wind deur die aardkors hyg – harder, sagter, harder, sagter,
soos dit deur die ligte oggendwindjie aangedra word.
Dit is net die ramshorings en die duisende
voetstappe. Verder niks. Geen stemme wat opdragte skree nie, geen dreunsang van
die priesters nie, geen klein geselsies en giggeltjies van kinders nie. Niks
nie. Net die ramshorings en die duisende voetstappe.
Hulle ken dit by hierdie tyd al. Die vorige
ses dae was dit ook so. In die oggendstilte kon jy die voetval die duisendes van
ver af hoor aankom. Harder en harder. Doelbewus. Met ‘n plan! Totdat hulle een
maal rondom die stad was. Dan weer sagter en sagter totdat alles doodstil was.
Hulle het
dit al ses dae lank gehoor, maar vandag is anders. Vandag hou dit nie op ná die
eerste keer nie.
In plaas van dat dit sagter raak en wegraak,
kom die stamp-stamp, stamp-stamp van die krygers se
voetstappe weereens verby. Dan die ramshorings en daarna die sagter voetstappe
van die duisende Israeliete.
Dit is soos die golwe van die see wat groei en
daal, groei en daal. Vir sewe maal hou dit aan. Hier en daar sal jy ‘n priester
‘n opdrag hoor skree of ‘n kind hoor huil, maar die krygers is doodstil in
hulle verbymars – doodstil en vasberade.
Stamp-stamp, stamp-stamp ... Sewe maal!
In die donker kamer bereik die spanning
breekpunt. Die vrees is voelbaar. ‘n Kind begin huil, maar die ma druk verskrik
haar hand oor die kind se mond en fluister saggies in haar oor.
Elke asemteug is ‘n vreesbevange ruk-ruk in
die bors. Kinders klou hulle ma’s vas en die mans op hulle beurt probeer sy
gesin met sy arms toemaak. Wat is aan die gang? Wat gaan van hulle word?
En dan ... ‘n skielike stilte.
‘n Groot, swaar stilte. So asof die aarde haar
asem ophou vir wat nou gaan volg. ’n stilte wat alles verswelg. ’n Stilte wat
sag klop in die ore, soos voor ‘n donderstorm.
Alles wag.
In die kamer weet hulle dat iets nou gaan
gebeur, maar wat?
‘n Magtige stem bulder die opdrag: “Skreeu!
want die Here gee die stad aan julle oor.”
’n Geskreeu bars los. ’n Enorme gedreun van
stemme, duisende wat gelyk roep ... skree ... jubel. Dit is soos ’n golf van
geraas wat teen die stad se mure op spoel. ‘n Tsunami van klank wat die hemele
gaan oopskeur.
Ragab ruk regop. Dit voel vir ‘n oomblik of
hulle vloer skud en bewe. Sy vra saggies genade van die God van wie sy nog net
vaagweg gehoor het.
En dan kom dit:
Dit kraak en knal van klip en klei wat
verkrummel. Die grond onder hulle voete skud verwoestend. Die geraas van mure
wat val en vergruis neerstort. Die gegrom van torings wat tuimel en stof wat in
golwe deur die strate trek. Mense se gille wat meng met die chaos.
Hulle klou mekaar vas. Angssweet tap van die
gesigte. Niemand is nou meer seker of hulle lewend uit hierdie verskriklikheid
gaan kom nie.
Hulle hoor dit oral om hulle. Die verkrummel
van messelwerk, die gekreun van antieke balke wat buig en breek, die
oorverdowende val van hoë torings ... 'n Nuwe geluid: 'n paniekbevange
gekletter, soos perde of waens wat omval. Die skerp, kort skreeu-huil van
iemand wat val.
Maar hulle is in hulle kamer – hulle voel die
skud en bewe van die aarde, maar die kamer bly staan. Die stof kom van oral af
op hulle neer, maar hulle is veilig.
Die vrees is ruikbaar in die stilte van die
kamer.
Buite skreeu dit en dreun dit van almal wat
hardloop, almal wat doodmaak. Maar binne is dit stil. Die asemhalings is vinnig
en vlak. Arms is gespanne om mekaar gespan.
En dan, net so skielik, is alles weer
doodstil. Dit is net die geluid van die wind deur die ruïnes van die eens
magtige Jerigo. Geen skree meer nie. Geen ramshoring meer nie.
Dit is net die wêreld wat geheel en al
verander het.
Voetstappe oor rommel en stene ...
Nader en nader.
Hulle hardloop nie. Hulle stap doelbewus op
pad iewers heen, dit kan jy hoor.
‘n Bekende stem sê: “Ragab, maak oop, ons is hier.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking