Ek is seker jy het dit ook al ervaar dat ten spyte van, of te midde van ‘n groot krisis, gebeur iets waaroor jy jou agterna dood kan lag. Op daardie oomblik is dit dalk glad nie snaaks nie, maar as die stof gaan lê het, sien jy die aardigheid daarin.
Augustus 2024 beland ek in Windhoek in die ICU
met ‘n bug wat my deur ‘n tand binnegedring het en groot moeilikheid
maak. En so wrintiewaar! Einde Februarie, begin Maart hierdie jaar, is daar
weer ‘n skarminkel wat die longblasies aanval!
Ek is siek. Ek is ellendig siek, hoor. Hondsiek!
Tot so ‘n mate dat ek heeltemal deurmekaar is by tye. (Ken jy vir delirium?
Dis nou hy daai!) Die dokter glo dit is my kroniese medikasie wat my so
deurmekaar maak en hulle cold turkey my - nie ‘n enkele pil sal ek drink in hierdie
plek nie, is die uitspraak.
Ek is baie deurmekaar, maar nie so erg dat ek
nie dadelik besef dat ek ‘n groot probleem het nie. As jy weet van rustelose
bene, sal jy ook weet dat jy daardie pilletjies saans moet sluk, anders slaap jy
nooit daardie nag nie.
Maar moenie dink die dokter luister na my nie!
Hy dreig my: “As ek dit vir jou gee en hier kom moeilikheid, is dit op jou, nie
op my nie!”
Ek skrik vir die ou se houding en laat vaar my
pleidooi ... met die besef dat daar ‘n paar slapelose nagte voor my lê,
natuurlik.
My geliefde is eers huis toe met die belofte om
later weer te kom kuier.
Opeens het ek ‘n pilletjie in my hand. Ja, jy
het reg geraai! Dis een van dáárdie pilletjies! Opgewonde probeer ek dit in die
ander hand sit, maar ek is so onhandig! My vingers bewe so dat ek dit laat val.
Nou besef ek, Martha, jy is in
groot moeilikheid! As hulle vanaand vir jou vang met hierdie pil, is daar
oorlog. Ek probeer versigtig so oor my borskas voel, maar ek kry hom nie. Die
drip is in een arm en die monitor aan die ander hand – beweeg ek, gaan alles
rondom my aan die skree.
Ek probeer langs die bed op
die vloer kyk, maar kan nie daar sien nie. Dan voel-voel ek weer ooral op die
bed rond ... sonder enige sukses. Oor en oor en oor voel ek en soek ek na
daardie pil.
My man kom later en ek order
hom om vir pilletjie te soek. Kan jy my glo, hy doen regtig nie eens ‘n ou
bietjie moeite nie. Hy sit net daar en kyk vir my.
Opeens onthou ek waar die pilletjie
is! Ek gryp my selfoon en kondig trots aan: “Ek weet waar hy is. Ek het hom
hier agter by die foon gebêre.” Met groot bravade maak ek dit oop ... en daar’s
niks!
Shit!
Toe Wolf weg is, ontdek ek by hernuwing ‘n plek waar die pil is. Om my een vinger is ‘n pleister met die rooi liggie van die monitor. Ek voel-voel so met my tong en ek besef die pil is sowaar binne-in hierdie pleister! Hoe kon ek dit nie geweet het nie?
Ek begin eers versigtig en toe
harder en harder aan hierdie pleister byt en trek met my tande. As hulle daai
pil hier kry vanaand ...!
Toe die verpleegster weer by
my kom, hang die pleister nog aan so ‘n hoekie aan my vinger. Ek wys vir haar
die pleister is stukkend, want ek het hom so gebyt.
“Hoe kan jy dit doen?” raas
sy. “Jy weet mos dit is die hospitaal se eiendom!” En sy draai ‘n nuwe pleister
om my vinger, sónder om die pil te kry!
Toe ek beter en terug by die
huis is, wil ek by Wolf weet wat het daardie aand van my pil geword. Hy
antwoord my nie. Hy kyk net so half afwesig na my kant toe.
‘n Paar oomblikke se stilte
hang tussen ons.
“Pa, wás daar ooit ‘n pil?”
“Nee, my vrou, daar was nooit ‘n
pil nie.”
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking