So kuier ons by Oupa en Ouma vir die aand. Dis nou my ouers en ek en my twee susters en ‘n klomp tannies en ooms met hulle kinders. Dit gaan vrolik, al is dit Sondagaand. Die grootmense gesels en lag en kuier baie gesellig, terwyl ons klomp niggies in die sitkamer skinder en giggel (wat anders?)
Ons groot niggie is ook
daar. Sy het in Suid Afrika studeer en is nou regtig wêreldwys. Sy sit ‘n seven
single op die platespeler en vra ons moet almal in ‘n kring op die mat kom
staan.
“Ek wil vir julle leer BIRD,”
verduidelik sy opgewonde.
(As jy so oud of ouer
as ek is, het jy dalk ‘n vae idee wat hierdie Bird nou eintlik is. Jy staan
teenoor jou dansmaat met elkeen een van julle voete voor julle. Daardie voet is
gepunt en jy raak net so met die toon aan die vloer terwyl die hak ritmies op
en af. Dis nou hierdie voetjie wat die ritme hou en die lyf wikkel saam. Met
jou hande doen jy allerhande dinge – jy maak of jy visvang, of jy met ‘n
verkyker vir wie ookal kyk ... ag, eintlik enige lawwe ding. Intussen wip die
voetjie so op die toon en lyfie wikkel saam.)
“Wat is bird?”
wil een weet.
“Man, dis ‘n soort dans.
Kom net, dan wys ek julle. Dit is nogal maklik en dis baie lekker.”
Toe ek hoor dis dans,
gaan sit ek weer op my stoel. Ek het nog nooit daarvan gehou om te dans dat
ander mense vir my kyk nie. Ek glo ek kan nie dans nie en almal sal vir my lag.
Maar nee! Hulle wil niks daarvan hoor dat ek nie ook kom bird nie.
Het ek maar liewer daar
bly sit!
Hoe later, hoe kwater.
Die platespeler word harder en harder gedraai en dieselfde lied word oor en oor
gespeel. Ons bird dat hoor en sien vergaan. Die een wil snaakser wees as
die ander.
Oupa sit al reg met die
Bybel toe die grootmense ons kom roep. My pa vra onderlangs wat het ons gedoen
en ek antwoord hom giggelend: “Ons het gebird, Pappa.”
Ons is terug plaas toe
en het salig gaan slaap. Maandagoggend was ‘n ander oggend. Net na ontbyt roep
my pa ons drie kamer toe.
Ek weet, hier kom nou
groot moeilikheid. Sondag is nie ‘n dag vir goetertjies nie. Ons weet dit baie
goed. Jy was nie jou hare nie ... jy swem nie ... jy brei nie ... jy werk nie ‘n
af knoop aan nie ... jy polish nie jou skoene nie en so voor die wragtag
sal jy ook nie dans nie!
Hy begin by die oudste:
“Wat het julle gisteraand gedoen?”
Voor sy nog lekker kan
antwoord, lê sy oor sy skoot en val die plathandhoue. Dieselfde gebeur met my. Die
kleintjie het nie gedans nie, maar sy was saam met ons daar in die sitkamer.
“Wat het jou susters gisteraand
gedoen?” vra hy streng.
“Ek weet nie, Pappa,”
antwoord sy beangs.
“En dan jok jy ook nog
vir my!” Hy trek haar oor sy skoot en die plathand doen sy werk.
Hierdie pak slae van my
pa was een van net twee wat ek in my lewe by hom gekry het. Maar ek belowe jou,
op ‘n Sondag dans ek nooit weer nie. Of dit nou bird, of twist of
wals of die riel is, jy sal my nie weer daarmee betrap nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking