Saterdag 04 Augustus 2018

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (1)

Ek het besluit om hierdie klein getuienis van my tyd en stryd met depressie met jou te deel. Dalk,net dalk, is daar iets in wat vir jou van waarde kan wees. Ek is baie bly om nou te kan  dat die swart hond nie meer deel van my lewe is nie. Die Here is goed vir my! 


Hierdie getuienis van God se genade dra ek op aan my ouers.  Dit is by hulle wat ek Jesus Christus leer ken het as my Saligmaker en Vriend.  Ek dank God vir ouers soos myne.

                         
                     Die skemering begin te daal.
                     ‘Word tyd dat Hy my sal kom haal.
                     En ek, sal Hy my waardig vind –
                     ‘n welkomsgroet: “Kom tuis my kind”?
                                                              [Attie van Lill]


                    [11.8.1999]
                    en toe die oggend kom
                    het hy stil bly lê
                    en wag…
                    oorgegee
                    gereed
                    om voort te spoed deur lig en tyd en ewigheid
                    En God?
                    Kom in, My kind
                    Ek het vir jou gewag.

SPLINTERS IN ‘N SPIEëL

Jy hou dit in jou hand en sien daardie lieflike, blinkgladde weerkaatsde beeld.  Deur hierdie spieël kyk jy na jouself, na jou naaste, maar ook na God.  Daar is geen ekstra vlek, plooi of verwronge gelaatstrekke nie.  Die beeld is volmaak.  Skoon.  Die liefde is volmaak en skoon.
     Jy twyfel nie aan dit wat jy sien nie, want dit is tog waarvoor ‘n spieël daar is, dan nie?  Buitendien, God self het hierdie spieël vir jou gegee en God lieg nooit.
     Maar dan!  In ‘n onbewaakte oomblik kom ‘n hand met ‘n vlymskerp dolk en tref die beeld voor jou.  Die punt ontplof teen die spieël met ‘n web van krake wat uitspruit na buite.  ‘n Enkele slag verwoes daardie volmaakte beeld vir altyd.
     Jy probeer vervaard die krake keer.  Jy wonder angstig hoe jy daardie splinters weer kan heg en saamvoeg tot ‘n volmaakte eenheid.  Jou asem jaag.  Jy snak na vars lug.  Dit is die spieël wat God die Vader persoonlik aan jou kom gee het die dag toe jy jou hart vir Hom gegee het.  Dit kan nie waar wees nie.  Dit kan nie, dit mag nie stukkend wees nie.  Nie nou nie.  Nooit nie.
     Maar dit is reeds te laat.  In ‘n onbewaakte oomblik het jy toegelaat dat jou kosbaarste besitting verwoes is.  Die hand met die dolk is reeds voort na meer en meer spieëls – hy honger daarna om gebrokenheid te veroorsaak.  Sy grootste werk is om verhoudings te verwoes – met jouself, jou naaste, en met God.
     Jy kyk na die eens volmaakte beeld en skrik.  Kan dit wees dat jy nog altyd blind was vir dit wat jy nou daar sien?  Kan dit wees dat jy dit nog altyd gesien het, maar ontken het dat dit bestaan?  Nee, Here, hoe is dit dan moontlik dat ek so lyk?  Ek ken myself mos nie so nie, Here.  Soveel vlekke, soveel swere!  Ek dink ek haat hierdie beeld voor my.
     Jy stap saam met vriende deur die mooiste blomtuin, die spieël steeds in jou hand.  Dalk moet jy net weer kyk, net seker maak dat alles nie so verlore is soos jy dink dit is nie.  Jy hou die spieël voor jou en oor jou skouer loer ‘n getroue vriend.  Nee!  Dit is nie waar nie.  Nie hy ook nie, Here.  Hy kan nie so lyk nie.  Jy ken hom mos anders as dit wat jy nou hier voor jou sien.  Hy is mos foutloos, Here.  Hierdie man wat nou hier terugstaar na jou toe is glad nie die mens wat jy ken nie.  Jy meng mos nie met sulke lelike mense nie.  Jy is verhef bo sulke banalitiet – mos baie lank al.  Jy glo dit nie.  Dit is onmoonlik dat juis hy so kan lyk.  Hy glimlag vir jou, maar die glimlag vertrek in ‘n aaklige verwronge gesig.  Gillend gooi jy die spieël in die blomme neer.  Jou vriend lag kliphard, onverstoord.
     Jy staan verskrik eenkant toe, te bang om op te kyk na jou dierbare vriende.  Hulle het seker lankal gesien hoe lelik jy is.  Jy skaam jou morsdood vir jouself, maar nog groter is die skok oor jou vriend wat toe nooit so mooi is as wat jy nog altyd geglo het nie.
     Jy stap stadig nader na waar jy die voorwerp van skok gegooi het.  Dit blink in die son.  Aaklig!  Dit sny die son se strale op in verskillende deeltjies – elkeen skyn in ‘n ander rigting.  Die heerlike sonstrale is nie meer ‘n eenheid nie.  Dit is ‘n chaos van son en skadu wat grubeelde oor die aarde gooi.  Die natuur ook, Here?
     Ek weet as ek daardie spieël gerig hou na U toe, sal alles reg wees, Here.  Ek tel dit op en hou my oë styf toe totdat dit reg voor my gesig is.  Nou net my oë stadig oopmaak, dan sal alles weer reg wees.  Ek glo dit.  Ek weet dit.  Dit sal nie U beeld ook verbrokkel nie.  Niks kan dit mos doen nie.  U is in my hart en ek is U kind.  En U is volmaak.
     Ek draai met my rug na die son toe.  Die lig behoort nou vol in die spieël te skyn.  Ek maak my oë stadig oop.  Nee!  ‘n Duisend maal nee.  Alles is versplinter.  U ook, Here.
     Ek val op my knieë neer en gil my wanhoop tot God uit.  Hoe moet ek maak met hierdie spieël?  Dit is my enigste oë na myself, my naaste en na U.  Ek is blind, Here.  Ek is afgesny van die mens en my Maker.  Here, help my!  Red my!
     Dit is al wat God van my wou hê.  Ek kan dit nooit self probeer heelmaak of wegwens nie.  Wanneer hierdie verhouding met myself, my naaste of met God versplinter is, kan NET Hy dit herstel.
     Versigtig neem Hy hierdie splinterspieël uit my hande en plaas ‘n blinkgladde nuwe een daarin terug.
     Net maar U genade, my Here en my God.

MY STILTE

[en die verlies daaraan wanneer depressie oorneem]

En dan kom hy mos op ‘n tyd wat jy dit die minste verwag.  Jy is salig onbewus van wat buite jou blou hemel van saligheid broei.  Dis windstil en pragtig in die lugborrel om jou.  Niks kan jou vredigheid wegneem nie, want jy’s geanker in jou eie selftevredenheid.
     Maar een oggend staan jy op.  O Vader van liefde en stilte, wat het dan van U geword?  Waar is my stilte?  Waar is my vrede?  ‘n Monster het kom oorneem en inneem alles wat ek is.  Ag Here, wie is ek dan tog?  Die allesvernietigende vrees wat met bloednaels in my grawe.  Vat my tog weg uit die moeras van menswees.
     En op ‘n dag…  God glimlag weer.  Die stilte is sag.

MEER OOR MYSELF
Vroeg in 1994 is ek gediagnoseer met depressie.  Na ‘n lang en hewige stryd is ek genees daarvan.  Laat my asseblief toe om dit met jou te deel.  As jy self ‘n depressielyer is, mag dit vir jou van onskatbare waarde wees wanneer jy lees van ander wat dieselfde pad as jy geloop het.  Aan die ander kant, as jy ‘n liefmens het wat in hierdie toestand is, kan dit openbarend wees net om te kan verstaan watter groot stryd hierdie persoon stry.  Die Here kan jou as instrument tot hierdie persoon se genesing gebruik.
     Ek is, om mee te begin, geen sielkundige, leraar, of dokter nie.  Jy het dus alle reg om vir my te vra met watter outoriteit ek dan oor depressie kan skryf.  Die antwoord is baie eenvoudig:  Ek is, soos jy, gered deur die bloed van Jesus Christus.  Daarbenewens is ek deur Hom uit hierdie helse ellende van depressie teruggebring na die lewe toe.  Om depressief te wees, is om net te bestaan.  Om daarvan genees te wees, is om te lewe.
     Ek wil dit beklemtoon dat ek geen bronne nageslaan het nie.  Dit wat ek met jou deel, is wat ek persoonlik ondervind het en van God gekry het.  Daarvoor het Hy baie male sy kinders hier op aarde gebruik, maar male sonder tal was dit openbaringe uit die Woord en/of in my gees.
     Ek is ma van drie kinders en die vrou van ‘n wonderlike man.  Ek is ‘n afgetrede onderwyseres en, die belangrikste van alles, die Here het my in 1984 nuut gemaak deur my aan te neem as sy kind.
     Meer as een dierbare kind van God glo dat jy in die hande van Satan verval het as jy depressie het.  Hulle glo en verkondig dat jy nie meer ‘n kind van God is onder sulke omstandighede nie.  Want, sê hulle, by God sal jy nie in soveel ellende verval nie.  Ek weier om saam te praat.  Jy is en bly ‘n kind van God, met of sonder depressie.  Maar, en dit is uiters belangrik, sonder ‘n besondere ingryping van God sal/kan jy nooit gesond word nie.
     Ek wil vir jou vertel hoe Satan alles van my gesteel het, maar hoe God dit omgekeer het in ‘n grootse wonderwerk.  God gebruik die negatiewe in ons lewens en keer dit om in die positiewe.  Hy laat Satan nooit, vir niks, die eer kry nie.  In Johannes 10:10 lees ons: “’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
     Ek wil met jou deel hoe ek myself veroordeel en verdoem het tot binne-in die hel.  Ek kon vir geen oomblik glo dat God en mens nog vir my omgee nie.
     Voel jy op hierdie oomblik so?  Onthou jy die kinderlose Hanna wat voor God gehuil het oor haar pyn?  Is jy vandag Hanna?  Of is jy Ragab in die woestyn met net haar kind en haar ellende?  God het haar gehoor huil en haar verseker Hy sien haar.  Kom ons sê sommer nou vir God hoe jy voel.  Hy is uiters besorg oor jou en Hy begeer dat jy met Hom daaroor moet praat.
     Here, my Koning, ek voel so ontsettend verlore en alleen.  Ek voel ook asof U my verstoot het.  My verstand sê vir my dat dit nie so is nie, maar my hele wese skreeu dit uit.  Dankie, o Heer, dat ek dit maar vir U mag vertel.  Dankie dat U my nie uitlag nie, dat U my liefhet ten spyte van…


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...