Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie!
ALLEEN
[Een aand by ‘n
geselligheid van die skool toe die verwerping en eensaamheid hoogty gevier
het.]
My hart is rooi soos die
rooi-rooi servet op my skoot. Hy skree
die skelskree van ‘n pou wat roep na ‘n maat – die bloedgil om aandag. Kom vat my hart, my lewe, wring die
ellendepyn daarbinne na die son. Sy
ongenadige strale skroei die are tot bloedgeklotte massas.
Dis okay om se te lyk, man.
Wie gee om? Wie traak? Wie sal kla, jou gek. Strompel voort in jou stofpad – val en rol in
jou eie gemors. Ek gee nie om waar jy
eindig nie.
Jy laat my pyn, my hart.
Steek daai dolk diep in.
Draai hom. Om en om. Pyn dit genoeg? Nog ‘n keer.
Soja, genoeg van selfbejammering.
Tel op jou kop. Smile vir die
wêreld. Jou simpele nar. Gek.
Stupid wese. Sot.
ONGENOOIDE GAS
rooi
bliksempyne
snaar
ongenooid,
onverhoeds
aan
pantserhart
wat snak en skram teen etterpyn en huis-uit vlug
GEVAARTEKENS
Depressie is ongelukkig een van die siektes van die dag wat
jou bekruip soos ‘n dief in die nag.
Wanneer jy agterna daaroor dink of jouself ontleed, besef jy dat dit al
ver gevorder het voordat jy uiteindelik besef het jy is in die
moeilikheid. As dit maar iets soos griep
was wat met ‘n hoofpyn of loopneus sy kop uitsteek, sou dit soveel makliker
wees om te gaan aanklop vir hulp. En wat
meer is, ander mense sou dalk meer begrip gehad het vir die feit dat jy nie
jouself is nie.
Ek noem ‘n paar
van daardie “simptome” wat voor die tyd te voorskyn gekom het, maar waaraan ek
my nie gesteur het nie bloot omdat ek nie die nodige insig gehad het nie.
Ek het nog altyd
gesukkel met ‘n groot ongeduld en, as resultaat hiervan, hewige woedebuie. Ek met dit vir jou vertel, sodat ek dit
duidelik kan maak dat hierdie nuwe woede totaal iets anders was.
Ek het iets diep
binne my ervaar. Iets wat ek vir myself
nie kon identifiseer nie. Dit het vir my
gevoel asof ek met ‘n ding in my binneste rondloop. Die ding het van dag tot dag, ja selfs soms
van oomblik tot oomblik gegroei. Ek het
geweet daarvan, maar ek het nie besef dat dit ‘n groot stuk woede was nie. Ek het dit so erg ervaar dat ek geweet het
dit sou op ‘n dag my liggaam laat oopbars.
Ken jy daardie gevoel?
Soms het dit vir
my gevoel asof die ding my totaal en al lamlê.
Ander tye was dit weer asof ek ‘n lewe binne-in my ronddra. Wanneer ek dan so kwaad word, het hierdie
aaklike ding hier van binne af gedruk en gedruk totdat ek letterlik nie asem
kon kry nie. As ek nou daaraan dink,
weet ek dit was soos ‘n baba wat sukkel om gebore to word – daar is lankal nie
meer genoeg plek in jou liggaam vir hom nie, maar jy is nog nie gereed om
geboorte te skenk nie.
Ek het gehyg en
gesnak na asem, want ek was gedurigdeur kortasem. Tog snaaks dat ek nooit daarmee na ‘n dokter
toe is nie. Miskien het ek onbewustelik
geweet dit sou nie help nie; ek weet ook nie.
Die nietigste
gebeurtenis [“Juffrou, my boek is by die huis” of “Mamma, my potlood is weg”]
sou hierdie ding laat groei en groei.
Nee, ek praat nie van raas en baklei nie, hoor. Ek praat van ‘n fisiese ervaring. Ek het dikwels die wens uitgespreek dat ek
tog net my lyf kon oopsny om vir ander mense te kon wys hoe dit in my lyk. Ek was oortuig daarvan dat hulle die ding sou
kon sien en dan begrip sou hê vir dit wat aan die gang was in my hart, my lyf,
my kop!
Hoe verduidelik
‘n mens so iets aan iemand wat dit nog nooit ervaar het nie? Jy gaan mos nie dokter toe en sê vir hom daar
groei ‘n ding in jou nie. Jy verstaan
dit self nie, hoe moet hy dit dan verstaan?
Hoe kon ek aan iemand verduidelik van hierdie monster wat teer op
frustrasie, teleurstelling en irritasie?
Hy vreet en vreet en word net groter en groter.
Ek wil hê jy moet
vir ‘n oomblik die boek neersit en dink aan jouself. Deel jy hierdie gewaarwordinge? Is iets hiervan vir jou bekend?
Sê dit dan op
hierdie oomblik vir Jesus. Hy is ons
groot Geneesheer en Hy wil jou help.
Moet asseblief nie verder lees as jy dit nie eers vir Hom vertel het
nie.
Ek dank U,
Jesus, dat U juis aarde toe gekom het vir ons wat siek en moedeloos is. Binne-in my is ‘n monster wat ek glad nie kan
hanteer nie. Dit is besig om my te
vernietig. Ek weet nou dat net U dit kan
wegneem. Maak my kalm en rustig sodat ek
U stem kan hoor. Ek dank U dat daar geen
veroordeling is vir die gebrokenes van hart nie. Ek bely dat die enigste oordeel wat ek
ervaar, die oordeel in my eie hart is.
Wis dit asseblief op hierdie oomblik uit my hart, siel en verstand.
Weet jy dat satan
soms God se Woord gebruik om Sy kinders aan te kla? Ja, jy het reg gelees. Soos wat satan Jesus in die woestyn versoek
het met aanhalings uit die Woord, so kla hy ons ook aan uit die Woord. Probeer gerus hierdie een:
Esegiël 7:4 “Ek gaan jou nie verskoon nie, jou nie
jammer kry nie. Ek gaan die straf vir
wat jy gedoen het, oor jou laat kom; jou afskuwelike dade sal jou tref. Dan sal jy besef dat Ek die Here is.”
Skrifgedeeltes
soos hierdie het my so skuldig, so onwaardig, so sondig voor God laat
voel. Maar nou moet ons onthou dat die
Heilige Gees ons nooit aankla nie. Hy
beweeg en praat baie saggies en maak ons bewus van ons sondes sodat ons dit
voor God kan bring en vergifnis daarvoor kan vra. Satan is die groot aanklaer en hy gebruik ons
om onsself aan te kla.
Ek gebruik baie
selde ‘n dagboek met uitgewerkte dagstukkies vir my persoonlike Bybelstudie. Ek besef nou dat dit juis dit was wat satan
die gaping gegee het in my lewe. Ek
begin met ‘n boek in die Bybel en werk dit dan deur. Dit neem my soms baie lank om so ‘n boek deur
te werk, omdat ek al wat ‘n kruisverwysing is lees en bestudeer. So kan dit gebeur dat ek byvoorbeeld met
Markus besig is, maar die kruisverwysing lei my na drie, vier ander
Bybelboeke. Ek werk dit dan eers deur
voordat ek weer by Markus uitkom en verder kan aangaan.
Kan jy glo dat ek
op hierdie manier vir etlike maande net veroordeling en verdoeming gelees
het? Ek was later so desperaat, ek het
paniekerig heen en weer begin blaai en lees in die Bybel. Dit was natuurlik ‘n groot fout, want satan
saai en geniet verwarring – dis sy speelplek.
Ek het hulp en
raad gevra in verband met my twyfel oor God se genade vir my, maar ek kon en
wou dit nie aanvaar nie. Ek het geglo
dat God sy rug vir altyd op my gedraai het.
Het ek dit dan nie in sy Woord gelees nie? Ai, ek kon myself soveel ontsettende ellende
en verdriet gespaar het as ek dit net aan my hemelse Vader vertel het. Hy antwoord altyd ons gebede, want Hy is
getrou en regverdig. As ek maar net
kon/wou glo!
Ek dink dit het
ook baie te doen gehad met die feit dat ek myself nie kon of wou aanvaar
nie. Hoe op aarde kan jy van ander
verwag om jou lief te hê en te aanvaar as jy nie vrede met jouself het
nie? Ek was vir myself regtig nie iemand
om lief te hê nie. Die oorsprong van
hierdie selfhaat kom natuurlik tot so ver as uit jou jongste kinderdae. Die mens se verstand glo eenvoudig alles wat
hy hoor en dit vorm uiteindelik die verwysingsraamwerk waarvolgens ons lewe.
Het jy al jou
twyfel met God gedeel? Hoekom sit jy nie
die boek neer en doen dit dadelik nie?
God wag vir jou – Hy het jou oneindig lief.
Johannes 3:16 sê
dat God jou so lief gehad het, dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat jy
wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Dankie, my
Koning, dat U nie my aanklaer is nie. U
is dan juis my Trooster en Redder. Ek
loof U vir die openbaring van U goedheid en liefde vir my.
Die gevolg van
die monster van woede en die twyfel oor my redding was ‘n moedeloosheid so
groot soos die heelal. Jy kan maar sê ek
het boedel oorgegee – ek het geen hoop of raad vir myself gehad nie. Ek kon byvoorbeeld eindeloos loop en kla omdat
niemand in die huis self kan besef dat die tafel gedek moes word nie. Dan sou ek vrae vra soos: “Wie vertel vir my om kos te kook?” of
“Wie sê vir my jou klere is stukkend?”
of “Hoe weet ek wanneer jy dokter
toe moet gaan?” Ek kon sommer begin huil
as ‘n kind nie dadelik ‘n opdrag uitvoer nie.
Sulke tye sou ek dan ‘n stil plek soek en sit, en sit, en sit.
Ag ek ken ritse
en ritse van hierdie selfbejammerende vrae; ek sou boeke vol daarvan kon
skryf. Gelukkig het my arme gesin sulke
tye liewer geswyg as om eens te probeer antwoord. Vandag dank ek die Here dat hulle nie almal
hulle tasse gepak en geloop het nie.
Op ‘n dag [ons
was besig om tee te drink in die personeelkamer by die skool] het ek kliphard
gewens ek kon huis toe gaan. Om wat daar te gaan doen? Ek wou onder die wasbak in my badkamer
gaan sit. Op daardie stadium was dit
vir my die enigste plek waar daar geen, maar geen konflik sou kon plaasvind
nie. Ek was oorweldig deur die begeerte
na stilte en vrede.
Ek wens jy kon my
kollegas se gesigte gesien het. Een of
twee het senuagtig begin giggel, sommige was geskok en een wou my met geweld
letterlik onder die naaste wasbak laat sit – sodat ek kon voel of dit lekker is
daar. Laasgenoemde het haarself bewys as
‘n steunpilaar en vertroueling deur die hele tyd wat ek onder die wasbak was. Ek was toe al baie siek, maar ek het dit nie
besef nie.
Voel jy ook so op
hierdie oomblik? Of is jy reeds verby
hierdie gevoel van los-my-net-onder-my-wasbak? Dalk het jy lus om daar te sit met ‘n masker
op jou gesig, in geval iemand jou daar sou opmerk en jou vrede wou versteur.
‘n Kostelike vers
waarmee ek kon identifiseer, is Psalm 10:27.
“Ek voel so verlate soos ‘n pelikaan in ‘n woestyn, soos ‘n uil
tussen murasies.”
Maar lees dan nou vers 18 van dieselfde Psalm. “Hy luister na die gebed van die wat
alles verloor het, Hy sal hulle gebed nie verag nie.”
Uiteindelik het
ek ‘n stadium bereik waar niks meer saak gemaak het nie. Ons sou dit die toedeur-stadium kon
noem. Ek het totaal en al afgeskakel en
my onttrek van alles en almal. En weet
jy wat? Ek het gedink dit was tog te
wonderlik vir woorde en ek het gedink ek het ‘n geweldige oorwinning behaal oor
myself en my emosies. Kan ‘n mens jou so
laat mislei?
As die kinders in
die klas raas, steur ek my net nie daaraan nie.
Ek stap in, ignoreer hulle, gaan sit op my stoel en doen my eie
dinge. Ek hoor hulle nie, ek sien hulle
nie, ek weet ook nie van hulle nie.
Kortom: geen rasende skoolkind het meer vir my bestaan nie. Dit het my goed laat voel dat ek nie meer
toegegee het aan die begeerte om te skree en te skel nie. Ek het so in beheer gevoel. Enige probleem by die huis het my laat
slaap. Ek het dae aaneen geslaap, want
dan het ek nie tyd gehad om te dink nie.
My emosies het
ook nie meer wipplank gery met my nie.
Ek het ‘n punt bereik waar daardie monster my totale liggaam beset
het. Ek was ‘n wandelende niks, want
alle lewe is uit my liggaam en siel gesteel deur satan. Lees asseblief weer Johannes 10:10.
Sien jy wat doen
hy? Hy sus ons aan die slaap en dan vat
hy alles wat vir ons kosbaar is. Ek kon
nie verstaan waarom my man en kinders nie meer aandag aan my gee nie, maar intussen
was dit ek wat alle deure van my emosies gesluit het. Ek het so ontsettend gesmag na liefde en
nabyheid, maar ek kon dit nie aanvaar as ek dit gekry het nie.
Kan jou deure nog
oopmaak? Of is hulle al vasgeroes? Soek dadelik hulp! God wil dat jy gesond word.
Jesaja 41:17-19
sê vir ons: “Die hulpeloses en die
armes soek water, maar daar is nie.
Hulle versmag van dors. Maar Ek,
die Here, sal hulle gebede verhoor. Ek,
die God van Israel, sal hulle nie verlaat nie.
Ek sal op die kaal bergtoppe riviere laat ontspring, en in die laagtes fonteine
laat uitborrel. Ek sal woestyngebied in
rietvlei verander, dor land in fonteinwêreld.
Ek sal in die woestyn seders laat groei, doringbome, mirte en
olyfbome. Ek sal in die barre wêreld
sipresse laat groei saam met platane en denne.”
In jou dorre,
droë siel wil en kan en sal Hy nuwe lewe bring.
Glo jy dit? Dank God dan
daarvoor. Nou dadelik. As jy egter moeilik sluk daaraan, moenie moed
opgee nie – ek het dit ook nie geglo of aanvaar nie.
DRENKELING
Branders
so hoog soos huise
skuimend
donderend
malend
ek is klein, ek
vergaan
o God my God
waar is U dan
dit gooi my neer
maal my, rol my, moor my
bloed en hart en siel
verlore in brute krag
moeg Here
help my
‘seblief
DIE GROOT VAL
Dit was ‘n dag soos elke ander dag. Ek het opgestaan en nie geweet [of omgegee]
hoe ek deur die dag sou kom nie. Dit was
soos een lang eindeloosheid voor my.
Ek glo jy sal
verstaan as ek vir jou vertel hoe ek ‘n dag in my lewe ervaar het. Met die opstaanslag in die oggend het ek
gewonder hoe op aarde ek daardie dag verby sou kry, want ek was so bitter
moeg. Vanaand weer wou ek nie kamer toe
gaan nie, want ek het my bed gehaat met alles binne my. Die nagte was eindelose leë ure met baie
gedagtes en onrustige drome. Van rustig
slaap was daar geen sprake ooit nie.
Vandag weet ek
dat dit satan se manier is om jou liggaam af te breek totdat daar van hom niks
oor is nie. Hy val ons liggaam en
verstand aan in ‘n poging om by ons gees uit te kom, maar loof God, satan is
reeds oorwin.
Johannes 6:33 sê
vir ons: “In die wêreld sal julle dit
moeilik hê, maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin.”
Hierop kan ons
maar net sê: Halleluja, loof die Here, want Hy is groot.
Ek wil nie
uitbrei oor wat presies alles gebeur het daardie dag nie. Ek kan ook nie, want dit sal nooit ‘n getroue
weergawe wees daarvan nie. Ek was by die
skool en die kinders is by my klas in nadat die klok gelui het. Ek was buite op die stoep en moes ingaan vir
die periode. Daar by die deur, toe ek
die klas so sien, het ‘n ontsettende vrees van my besit geneem. Met geen wil op aarde kon ek terug in my klas
in nie; dit was net nie moontlik vir my nie.
Ek was te bang! Vir wat? Vir wie?
Ek weet nie. Geen mens kan so ‘n
vrees korrek beskryf nie, daarom gaan ek nie probeer om verder te vertel van
daardie dag nie. Wie sal my tog
glo? Net God weet.
Ek dank ons Vader
vir ‘n vriendin wat die insig gehad het om my dadelik dokter toe te stuur. Ek dank Hom vir die dokter wat besluit het ek
moet vir ses weke lank gaan rus. Ek dank
my Vader vir sy groot ontferming en genade.
Loof Hom, prys sy heilige Naam.
Uiteindelik is ek huis toe, maar dit was maar nog net die
begin van ‘n baie moeilike en alleen pad wat ek moes loop. Ja, om depressief te wees is om alleen op die
aarde rond te dwaal. Al is jy tussen
duisende ander mense, is jy afgesper van alles en almal. Ek sou liewer op die Noordpool gaan bly tussen
niks en ys, as om ooit weer so eensaam te moet voel soos daardie tyd.
En tog, wanneer
iemand wel die slag probeer indring in jou eensaamheid, ervaar jy dit as
ongevraagd en onwelkom. Jy sal later
luister, net tog nie nou nie. Nou is jy
moeg en wil jy eers bietjie alleen wees.
please explain
Was daar al ‘n dag op aarde toe niemand niks wou uitrafel
nie? ‘n Dag wat stil en vredig verloop het met geen klop aan daai deur nie? ‘n
Dag met geen vingers wat na jou wys en wys en wys nie – ook nie jou eie nie?
‘n Dag wat jou maag kon ontspan en daai deur nie oop of toe
ge-rem is nie? Ag Here, sal daar dan ooit so ‘n dag kom?
Ek’s bang, Here. Ek’s bang vir die bang en ek hou nie van
fronte voorhou en verduidelik nie. Kan ek tog nie maar ‘n slag net èk wees nie?
Kom staan tog in daai deur…
gooi almal uit wat wil rafel en krap
ek’s rêrig moeg
van self probeer
Ek het amper nie woorde nie, slegs trane wat oor my wange rol. Dit bring soveel van my verlede terug. Die eindelose stryd. Elke woord wat jy hier neergepen het is asof dit uit my eie hart kom.
AntwoordVee uitEk is ook nie meer daar nie, Dank die Here daarvoor, al is ek afhanklik van medikasie.
Baie dankie vir die deel, mag Hy jou seen en dat hierdie by al die regte mense uitkom.