Oupa en Ouma kom van die plaas af. As hulle kom, is dit ‘n
aardigheid. Jy moet weet, hulle kan nie sommer in die kar klim en ry nie. O
nee, daar is dinge wat gedoen moet word voor hulle kan gaan kuier – baie dinge!
Belangrike dinge!
Oupa moet vir Ouma ten minste twee weke voor die tyd
waarsku as hy die gier kry om by die kinders te gaan kuier. En hy moet ook g’n
in die aand met slaaptyd daaroor praat nie, dit werk glad nie so nie. O nee,
daarvoor het hy te slim geword so met die jare.
Een aand met slaaptyd – hy’t al gelê en Ouma was nog aan
die klaarmaak, roer hy toe mos die onderwerp aan. “Vrou, ek wil na die kinders
toe gaan. ‘n Mens weet nooit wanneer is dit die laaste keer nie.”
Ouma ruk haar regop uit haar gebukkende houding uit.
Siestog, sy het staan en sukkel met die stywe goedjies wat sy dra om darem
respektabel te kan lyk. “Wat praat jy nou? Hermaans, wat is dit van gaan kuier
by die kinders?”
Oupa skrik hom heel wakker. Demmit, hy kan ook net leer om
sy mond te hou! “Nee, ek het maar net gedink daaraan. Ons kan môre daaroor
praat.” Maar dit het nie meer gehelp nie, want Ouma was terug in die stepping en die orders het gerol. Hulle
het glad nie daardie nag geslaap nie. Oupa moes opsluit opstaan en die mense
roep dat hulle ‘n slagding kan gaan kry en slag. Ouma het begin bak. Ouma bak
nie effentjies nie, hoor. Ouma bak om klaar te bak!
In elk geval, die storie gaan nie oor Oupa en Ouma en hulle
dinge nie. Die storie kry sy begin daar in die dorp by die kinders. Laat middag,
dis amper sononder, trek die bakkie by die werf in.
Oupa vra hulp om alles afgelaai te kry. Dit lyk kompleet of
die twee op pad is om uiteindelik in te boek by die ouetehuis. Soveel van
koffers en sakke en wat alles word afgelaai dat die kleinkinders later begin
kla omdat hulle nou moeg gedra is. Heel laaste laat klim Oupa die oudste
tweetjies op die bakkie om die groot kis af te laai. “Wat is dit, Oupa?” Oupa
antwoord met ‘n snork en beduie na Ouma toe.
Hulle sleep-sleep die kis kombuis toe op Ouma se orders. Koekies! Blikke en blikke vol koekies. Hulle ma en Ouma wil nog keer, maar hulle hoor nie. Elke blik word oopgemaak en van elke blik se koekies moet geproe word.
Die eerste blik is gemmerkoekies. Jakkie en Poenie, die tweeling, trek hulle neuse op. "Sies, Ouma, dit brand my mond, Ouma." Ouma het by hierdie tyd 'n koppie tee en steur haar nie aan die lotjie nie. Sy weet dat elkeen iewers iets sal kry wat na sy of haar smaak is. Sy roep die pa nader: "Kom, Seun, Ma het vir jou iets baie spesiaals gebring hierdie keer."



Die die opgewondenheid oor al die blikke en blikke koekies bedaar, sit Ouma met haar derde koppie tee en Oupa sit en kerf aan 'n stukkie biltong. In hierdie huis is nie vanaand enige kos gemaak nie. Oupa sug lank en hard. Hy is verbitterd oor die behandeling wat hy by die kinders kry. Dit het hy nou van lus voel om by die kinders te kom kuier. 'n Man sal ook nooit leer nie, sal hy?
Hy sit en more kliphard, maar niemand hoor hom nie. In die kamer kry Ouma hom beet: "Vir wat sit en kerm jy die hele aand so? Dis g'n meer 'n plesier om saam met jou iewers heen te gaan nie. Ek het my morsdood geskaam vir jou ... so onsgeskik ... en dit nog voor die kinders ook nog."
Oupa het genoeg gehad. Hy ontplof byna van onsteltenis. "Die kinders is uitgevreet in hierdie huis. Wat vir 'n ding is dit dat elkeen sy eie blik met koek kry? In ons dae was ons maar alte bly as daar 'n stuk brood was met jam, wat nog van koek! Nee, hierdie was die laaste keer wat jy met suffil blikke koek hier aangery gekom het."
Ouma wil nog antwoord, maar Oupa draai op sy ander sy en gee voor dat hy slaap.
En daar kan Ouma die nag toe nooit slaap nie! Die ouman is reg, ja. Die kinders is uitgevreet, ja. Maar dit is nie wat haar wakker hou nie. Die groot hindernis is waarom elkeen dan nou opsluit van 'n ander soort koekie moet hou? Kan hulle nie maar net van koekies hou en klaar nie?
Dis nog diep in die nag toe Ouma op en uit is. Nee, die ding met die koekies pla haar heeltemal te veel ... sy't glads gedroom van koekies wat soos mense lyk vannag. Kan jy jou dit indink! En het hierdie koekies nou vir jou baklei! G'n mens kon dit hou nie.
Ouma wag vir die lotjie in die kombuis. Almal is haastig skool toe, maar sy het haar mes in vir hulle. Sy het lank gedink oor die storie met die koekies. Hulle sal eers moet luister voordat hulle vandag uit hierdie huis uit loop skool toe.
"Julle weet, die koekies van gisteraand..." begin sy. Elkeen wil eerste vertel hoe lekker dit is, maar sy maak hulle stil. "Nee, nou luister julle 'n slaggie na my," kom dit amper met 'n dreigende stem. Ouma praat en praat en die kinders trippel rond van ongeduld. Sowaar, as hulle vandag laat is by die skool, moet Meneer maar met Ouma kom afreken. Niemand luister nie, want Ouma hou nie op met praat nie. Wat gaan vandag met hulle ouma aan? Nou klink dit of sy lankal nie meer van koekies praat nie, ha? Waar loop draai Ouma nou die storie?

Toe hulle uiteindelik by die deur uit is, vra Jakkie vir Poenie: "Nou wat is dit wat Ouma nou eintlik bedoel het met 'Aljander, aljander, die een is soos die ander, al lyk hulle ook verskillend'? Ek verstaan nou wragtie nie wat dit beteken nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking