Dis helder oordag, maar selfs die son het bang-bang gaan
skuiling soek. Die wolke hang donker en laag. ‘n Vreemde stilte hang in die lug.
Dis asof die hele natuur in ‘n swanger stilte is – in afwagting op dit wat kom.
Dis asof elke klank, elke reuk en elke sigbare beeld sterker raak by die
oomblik. Elkeen reageer anders daarop, maar jy probeer om die skrik in jou lyf
stil te hou. Wat klink so? Wat ruik so? Wat? Het? Nou? Gebeur? Wie het nou weer
wat gesê?
Wees stil, my hart, wees stil.
‘n Doodse stilte van oraloor. En jy weet! Enige oomblik gaan
die hel self losbars! Niemand hoef jou dit te sê nie, want jy weet dit, jy
voel dit, elke vesel in jou liggaam is bewus van dit wat kom. Maar wanneer? Nee,
dit weet jy nie. Jy wag saam met alles anders rondom jou.
Jy het dit self nog nooit ervaar nie, maar jy het al gehoor
daarvan. Geen slagoffer kom sonder letsels uit hierdie storm nie. Iewers slaan
die storm wel sy seermaak-hou wat lewenslank ‘n swartblou groef laat, dáár
waar hy getref het ... opgehewe en (soms) uiters pynlik ... ander loop net
later so half kruppel-kruppel met ‘n ‘askies tog’ houding oor die klein gebrek
wat oorgebly het.
En wanneer die eerste blitse aankondig “Die storm is hier!”
probeer jy jou lyf klein hou, maar jy weet hierdie keer is dit jou beurt. Of jy
hardloop en of jy stil bly staan, jou beurt is jou beurt!
Die enigste vraag is net: Sal ek kan opstaan wanneer die laaste
donderslag geslaan het?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking