Dinsdag 31 Julie 2018

MAAK LOS JOU BOLLA, MAN


Word ek mos anderdag konfronteer met die vraag: Hoe voel jy oor jou werk?

O jinnetjie tog, dink ek, hoe voel ‘n mens oor jou werk? Jy moet mos werk, of jy nou wil of nie. So? Hoe voel ek daaroor? Ek sien myself by die kombuistafel sit so vroeg in die môre, kop in die hand. “Ek het g’n lus nie!” En daarmee bedoel ek sommer ‘n hele klomp dinge: nie lus vir opstaan en klaarmaak nie, nie lus vir asemhaal nie, nie lus vir werk toe gaan nie sommer nog ‘n hele reeks ‘nie lus vir dinge’ nie.

Dit beteken dus ... jip, dit beteken ek is nie altyd so positief oor en so lief vir my werk soos wat ek myself wil wysmaak nie. En dit, broers en susters van die gemeente, is ‘n slegte ding, hoor! Hoe kan jy die grootste deel van jou dag spandeer by ‘n plek waaroor jy nie honderd persent positief is nie? En meer nog, waarvoor jy nie hartstogtelik lief is nie! My ma het ‘n sê gehad wat ek nie hier durf herhaal nie. Dit het te doen gehad met dat dit ‘n sonde vir een of ander kerk is.

Nou hoekom voel ons so oor ons werk? Hoekom is dit nie vir jan alleman lekker om te werk nie? Wat is dit wat ons koppie so laat werk? Nou dink net ‘n bietjie so daaraan – ons is omring met mense wat so voel oor werk toe gaan, ha? Dan is daar nog soveel moets en moenies by die werk ook nog. Baie maal is jy nie eens bewus daarvan nie, want jy trap in elk geval maar in jou spore. Want, wat nou as ek so of so of so? Jy ken mos daardie gevoelentheidjie op die krop van jou maag. Nee, dit en dat sal ek liewer nie waag nie, want wat nou as...! Baie keer is my eie reëls vir die werk nie eens nodig nie, maar dis nou maar eenmaal soos ‘ek grootgemaak is’. Jy ken mos daai een ook, ha?

Nou hoe dan nou verder, vra jy my? Ek hoor hoe jy snork – wat het ek met jou en jou werk te doen. Nee man, dit gaan hier eintlik oor my en my werk en die verpestelike gevoel wat veral op ‘n Sondagaand kom nesmaak op my maag.

Ek’t gesê ons word groot met sekere dinge rondom ons idees oor werk. Nou wat van hierdie een: Jy kry ‘n werk en jy hou vir hom, maak nie saak wat nie. Veral ons ouens met die witter hare het so grootgeword. Jy verander g’n van job as daar nie ten minste elke tweede dag ‘n moord gepleeg word of iemand kopaf gesny word nie. Reg? Nou hoekom sou dit so moet wees? Ek vra maar net... Hoekom moet jy met 'n maagseer sit en skelmpies gaan kots gedurende teetyd, net omdat jy die spanning in die kantoor nie kan hou nie? Hoekom kan jy nie maar net los en laat gaan nie?

‘Werk is nooit speletjies nie, dis waarom dit WERK genoem word.’ Mmmm, nou het ek jou aandag, sien ek.

Vertel net asseblief vir my, as dit MOET voel soos werk, wat dan van onse Nataniel? Dink jy dit voel vir hom soos werk as hy vertel van die antie wat verslaaf was aan hoesstroop. Na ‘n paar jaar het sy ‘n stem soos ‘n nagtegaal – sou sy  nugter genoeg wees om dit te gebruik, natuurlik. Die storie gaan verder hoe hulle vyf keer in die kerk geoefen het en elke keer was sy so dronk soos ‘n rivier. Dink jy dit voel vir hom soos werk? Sowaar, ek dink nogal nie so nie.

Meer nog, as jy dit nie hoef lief te hê nie, waarom is dit dat Neil Diamond reeds sy vyftigste jaar op die verhoog gevier het? Ek meen te sê, die ou is doodseker nie nog besig om te spaar vir sy oudag nie! Ons reken ons ‘lewe’ is saans en naweke, maar hy het $130 miljoen saans en naweke in sy sak gesit. Hoe werk dit dan nou? Was dit sy werk of sy plesier? Ek vra maar net.

‘Hulle’ reken ook dit maak nie saak wat jy doen nie, solank jy net goeie geld maak. Regtig? En wat dan nou van, kom ons noem liewer nie name nie, wat redelik beskeie in sy karavaan vir baie jare gewoon het omdat dit is waarvan hy hou? Intussen was sy musiek volksbesit en het almal selfs heimlik daarna gestrewe om tog ook soos K te kan wees.

Daar is een groot, groot eina waaraan ek te bang is om te raak. Jy sien, daardie outjie (dalk was dit ek, dalk was dit jy) wat van skooltyd af as 'dom' afgemaak is. Te dom om asem te haal, man! hoor ek jou kners tussen die tande. Nie goeie punte ooit nie. Nie enige maatjies nie, want niemand wil met die domste in die klas speel nie. Nie 'n goeie cv nie. En daarom nooit 'n goeie werk nie. Goeie dôner man, besef jy dat daardie 'dommie' tussen leeus en olifante kan loop en met hulle kan gesels? En jy noem hom dom? Regtig? Wie het wanneer die standaarde so opgestel dat jy moet kan mooi skryf en moet kan somme maak om slim te kan wees? Stop 'n bietjie die lorrie, my ou! Dit werk nie vir my so nie, hoor.https://www.facebook.com/SustainableMan/videos/10155864292192909/

Nou is dit seker ook hoogtyd dat ek vir jou van myself vertel. Ek was ook een van die 'minder slimmes' in die klas. Ja, lag maar, dis okei met my. Ek is lankal nie meer skaam daaroor nie. Dis hoe dit toe gekom het dat my voorligteronderwyser my ouers aangeraai het dat ek 'n juffrou moet word by die laerskool. Nee, nie soos my susters op universiteit 'n graad nie, ha-a! Nee, sy moet maar liewer kollege toe gaan, dis beter vir haar. En weet jy wat? Ja, die wat my ken weet wat ek toe later in die skool gegee het en julle sal ook weet waar ek nou is. Die domme? Nee, ek dink nie so nie. Die een wat nie verstaan is nie? Gewis en seker!

Nou wat moet ek nou met al hierdie inligting maak? Weet jy, ek moet nou sit en besluit watter van hierdie 'wette' is regtig nodig in my lewe. As hulle nie nodig is nie, vee hulle by die agterdeur uit. So maklik soos dit! Klim uit daardie mensgemaakte kassie uit, my maat. Kom net asseblief vry van jou eie wrede wette, toe?

En dan is dit nou die tyd om jou bolla los te maak en die lewe te begin geniet. Nou vra jy my nou wat dan nou van jou werk? Ai, het jy nie gelees nie? Maak los, man! Kry vir jou daardie joppie wat jou passie is, die ene wat jy selfs saans en naweke ook wil doen. 

Net in my drome? Ag ja, dan droom ek maar voort.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...