[My dogter is vir ‘n jaar oorsee en die verlies aan haar teenwoordigheid
was te seer om te verwerk. Dit het eers later tot my deurgedring dat ek die
Here daarvoor die skuld gegee het.]
Sy sit net daar. Vir dae lank al is dit al wat sy doen. Sy sien
niks. Hoor ook niks. ‘n Vriendin kom hoor hoe dit gaan. Sy
prewel ‘n paar woorde, maar die vrou se oë is genael op die baba wat saamgekom
het. Haar Josef was ook so groot. Hy kon al lag en kraaigeluidjies
maak. Hulle’t hom van haar bors af gegryp. Hy het nog nie klaar
gedrink gehad nie. Hulle wou nie wag nie. Haar man was by Herodus
se klipgroewe. Hy’t eers laataand kom hoor hulle seun is ook gevat.
Hy was mal van opstand. Toe vat hulle hom ook weg. Hy wou ‘n
soldaat versmoor in die sand. Hy’s ook nog nie terug nie. Sy sit
maar so en wag vir haar Josef en sy pa. Sy moet hier wees as hulle
kom. Hulle sê dis die Jesus-baba se skuld. Sy weet nie of dit so is
nie. Sy wag maar.
EINA
En skielik kom die hele wêreld tot stilstand. Skielik maak niks op
aarde meer saak nie. Niemand verwag iets van jou nie en dit vererger net
daardie gevoel van nutteloosheid. Dit staaf dan tog die
feit dat jy totaal sonder waarde is, dan nie? Jy word huis toe gestuur en
niemand gee om nie. Jy het dus geen doel of nut op hierdie aarde
nie. En dan wou almal gedurig met jou stry daaroor.
Hoe bitter hartseer is dit dat ‘n mens gedurende
hierdie tyd so ongeliefd, selfs deur God, voel. Jy glo in jou hart dat
God jou verlaat het en moed opgegee het met jou. Jy glo [maar sal dit nie
eens aan jouself erken nie] dat dit indirek God se skuld is dat jy is waar jy
is. Dit is omdat jy nie goed genoeg was nie dat God jou alles van jou
gevat het – jou lewe, jou liefde, jou vrede – ALLES.
Ek wil nie ‘n lang relaas lewer oor al die emosies
wat my oorval het nie. Ek sal dit egter kortliks noem omdat jy dalk
sommiges daarvan ervaar en mag dink jy is die enigste mens wat nog ooit so
gevoel het. Jy sit dalk met ‘n hoop selfverwyt en –kastyding omdat jy nie
kan glo dat nog ‘n mens op aarde soveel gemors met hom/haar kans saamdra
nie. Jy is so ‘n nikswerd, so ‘n mislukking. Waar gaan dit alles
eindig?
Baie dikwels hoor ‘n mens die aanmerking:
“Ek kan nie so goed soos ander mense werk/preek/skilder/kook/sing nie.”
Het jy ook as so gesê? Ek het hierdie stelling vervang met: “Wat
kan ek nou eintlik goed doen?” Dit het my gedagtegang begin oorheers – so
erg was dit later, dat ek dit weer vervang het met: “Ek kan niks en ek is
ook niks.”
Sien jy wat gebeur het? My sogenaamde
nederigheid het my verander in ‘n minderwaardige stuk jellie. Ek kon net
eenvoudig geen kompliment aanvaar nie, want ek het die gewer daarvan nie geglo
nie. Ek wou ook niks meer begin nie, want daar is mos die wêreld se mense
wat dit beter as ek kan doen.
En skielik was hierdie vrag vir my te swaar om
verder te sleep. Ek het ‘n punt bereik waar ek niemand meer geglo het
nie, hoe goed sy of haar bedoelings ookal was. Wanneer mense sien dat jy
nie lekker voel nie, troos hulle jou baie graag met: “Ek is lief vir jou,
man!” Kom kuier ‘n slag, dan drink ons tee en dan voel jy sommer weer
beter.”
Weet jy wat het ek sulke tye ervaar? Soms
het ek vies geword en gewonder wat die persoon behaal deur so te lieg.
Ander kere het ek dit nogal vermakerig gevind dat mense kon dink ek is so ‘n
groot gek om dit te moet glo.
My dag was vol vrees, wantroue, agterdog, opstand
en pyn. O, die pyn wat in jou liggaam broei soos ‘n fetus wat sy tyd
verloor het! Maar kan vrees jou dan laat pyn? En wantroue? Of
agterdog? Of opstand? Ja, dit kan! Die fisiese liggaamlike
pyn is so intens dat jy nie weet waar in jou liggaam dit seer is nie. Jy
weet net dat jy een groot stuk pyn is… en dat die dood baie soet en mooi vir
jou lyk.
Dit is in hierdie tyd dat selfmoord na ‘n
wonderlike uitkoms begin lyk het. Daar was die keer wat ‘n vragmotor so
verskriklik naby was en dit vir ‘n oomblik so maklik gelyk het om vinnig voor
hom in te stap. Agterna het my hart in my geruk en pluk van skok, want ek
het besef hoe vinnig so iets werklik kan gebeur. Die genade van dit alles
is dat God mens juis in tye soos hierdie beskerm en omring met sy genade.
Bogenoemde emosies het weereens ‘n woede in my
ontketen. Hierdie keer was dit nie teen mense nie, maar teen myself en
teen God gerig. Ek was woedend vir myself omdat ek “toegelaat” het dat ek
in so ‘n toestand was. [Het jy al aan jouself erken dat dit ‘n siekte is
wat jy het, of vertel jy gereeld vir ‘n ieder en ‘n elk dat jy mal is?]
ek wou myself vernietig, want “dan is ek tog uit almal se pad uit” en “dan hoef
ek nie met myself verder voort te leef en te sukkel nie.”
Ek was woedend kwaad vir God. Ek kon dit
byvoorbeeld op ‘n dag nie hanteer dat ‘n jong vroutjie [sy het ‘n ou klein
dogtertjie gehad] moes sterf in ‘n motorongeluk nie. Ek wou weet waarom
‘n seun van agt jaar kanker moes kry. Ek kon en wou nie verstaan waarom
daar soveel swaar in die lewe moet wees nie. Ek het gevoel of ek die
ganse aarde met al sy probleme op my skouers gedra het en het besef dat dit vir
my te veel was. Waar was God dan tog?
My eie toestand het ek ook voor God se deur gaan
plaas. Ek haal vir jou ‘n brief aan wat ek een aand vir God geskryf
het. Ek was op ‘n punt waar ek nie meer omgegee het wat van my word
nie. God het [na my mening] nie meer vir my omgegee nie, waarom sou ek
dus traak? En tog het ek ‘n noodkreet uitgegil tot Hom.
Hulle sê U maak nie flops nie. Ek sê vanaand
vir U dat ek ‘n flop is. Ek is ‘n flop!
As ek nie ‘n flop is nie, bewys dit dan aan my. Ek is kwaad omdat ek
so ‘n nikswerd is. Ek is vir almal ‘n aanstoot en ‘n verleentheid.
Ek is vir myself ‘n aanstoot. Here, ek pyn so, ek wens ek kon liewer sterf as
om dit te moet verduur. Verlos my van die boosheid binne my siel!
Klink dit vir jou soos laster? Ja, dit klink
nou vir my ook so. Maar weet jy, ons Hemelse Pappa se liefde is so
geweldig groot, Hy het my lankal reeds vergewe vir my opstand. Daardie
laaste hulpkreet was al wat nodig was vir Hom om in te gryp.
Ek glo vandag dat dit die keerpunt van alles
was. Loof die Here, my God. Groot en ewig is ons Heer.
OPENBARINGE
Ek weet nou dat God
deurentyd met my besig was en dinge aangaande myself aan my geopenbaar
het. Ek dank Hom daarvoor, want dit het die saailand gereed gemaak vir
die dag wanneer die reën sou kom.
Jy sal onthou dat ek
genoem het van die geweldige vrees in my vir alles en almal… Dit was by
tye so erg dat ek glad nie tussen mense kon kom nie want ek was eenvoudig te
bang vir hulle. Op ‘n dag was ek en my dogter in die winkel en daardie
vrees het my gepak daar tussen almal. Dit sou vir my makliker gewees het
om onder een van die winkelrakke in te klim as om voort te gaan met inkopies
doen. My arme, arme kind. Sy was sekerlik baie skaam vir haar ma,
maar tot vandag toe het sy nog geen woord van verwyt gehad nie. Sy het my
baie ferm aan die arm geneem en na ‘n stiller plek in die winkel gelei totdat
ek rustiger was.
Ek droom een nag dat een van ons skool se seuns my en my gesin
terroriseer. Ek was werklik angsbevange in die droom. Herman [nie
sy regte naam nie] het my selfs op ‘n stadium met ‘n mes gegooi en ons huis se
vensters met bakstene verwoes. Ek kon totaal en al niks aan hom doen
nie. Ek wou hom skiet, maar die pistool wou nie vuur nie. Dit was
werklik paniek in die ergste graad.
Toe ek die oggend opstaan, wou my man by my weet wat dan so erg kan wees
dat ek so praat en stoei in my drome. Ek het hom vertel van die droom,
maar ek het nie dadelik begryp dat die Here iets wou duidelik maak aan my
nie. Ek het dae lank loop en dink en wonder oor die droom, want jy sien,
Herman was ‘n ou liefkindjie wat nooit, ooit vir my enige bedreiging ingehou
het nie. Ek kon nie insien waarom ek so ‘n nagmerrie oor hom moes kry
nie.
En toe [loof die Here!] breek die lig deur vir my. Net so onsinnig
soos wat hierdie nagmerrie was, net so onsinnig was my vrees vir mense.
Ek lees daardie dag in Jesaja 33:16 “So ‘n mens sal sy
woonplek in die hoë berge hê, sy skuilplek sal ‘n rotsvesting wees.” Wat
het ek dus te vrees? Ek is veilig in my God.
Ek en jy is veilig, want ons behoort aan die Rots van alle
rotes. Ons dank U, Here, dat ons nou weet ons hoef niks en
niemand meer te vrees nie.
‘n Ander wonderlike, maar baie pynlike ervaring het oor my pad gekom.
Vandag kan ek my Heer dank daarvoor, maar dit was verskriklik seer om dit deur
te maak. Ken jy die liedjie oor die pottebakker? Dit lui min of
meer soos volg: “Soos die klei in die hand van die pottebakker, so is jy
in die hand van die Heer…” Ja, dit is soms seer om klei in Sy hande te
wees, maar Hy maak ons so verskriklik mooi.
My ou moeder was per bus op pad na my oudste suster toe. Ek sou haar
die aand net vir ‘n paar minute sien, want die bus staan nooit baie lank hier
nie. My sus was baie siek en moes ‘n operasie ondergaan, dus het ons ou
ma [soos altyd] gepak en die bus geklim.
Toe die bus na ‘n paar minute weer moes vertrek, kon ek dit glad nie
hanteer nie. Ek het haar gesmeek om asseblief nie te ry nie, terwyl ek
tog geweet het sy het geen ander keuse gehad nie. Ek is huis toe en het
die grootste gedeelte van die nag sit en huil en stoei met ‘n bondel onbekende
emosies en vrae. Die hartseer was oorweldigend.
Vir twee dae lank het ek vir almal vertel ek het gehuil soos toe ek in Sub.
A na ‘n skoolvakansie by die koshuis afgelaai is. Ek het dit gesê,
maar nie gehoor nie. Ewe skielik, toe ek hoor wat
ek sê, besef ek dat ek met ‘n groot suk verwerping te doen het.
Hoewel ek dit nooit bewustelik ervaar het nie, het ek my lewe lank verwerp
gevoel deur my ouers. Hulle het geen ander keuse gehad as om my in die koshuis
te sit in Sub. A nie, maar ek het in my agterkop geglo hulle gooi my weg.
Is dit hoekom ek myself ook nog nooit kon aanvaar nie?
Dink jy dit was belaglik van my om so te dink? Ek weet nou dit was
belaglik, want ek weet hulle het my baie lief. Loof die Here! Ek
het my lewe lank gesê ek wil ook voel ek hoort; nou weet ek dat ek hoort.
Op ‘n dag het iemand vir my die volgende vraag gevra: “Sê vir my, vir
wie lewe jy?” Ek kon hom nie antwoord nie, want ek het nie sy vraag
verstaan nie. Mettertyd het ek begin besef dat my hele doen en late gerig
was daarop om ander mense tevrede te stel.
Ek noem vir jou ‘n voorbeeld of twee. As ek ‘n les aanbied in die
klas, doen ek dit die hele tyd so dat die vakhoof my nie kan uitvang dat ek iets
verkeerds sê of doen nie. As ek koor sing, doen ek dit omdat ons net twee
is wat alt sing, daarom is ek nodig. As ek dorp toe gaan op ‘n Saterdag,
bly ek ekstra lank weg, want my man en seun speel graag hulle soort musiek as
ek nie daar is nie.
Jy sien dus, ek hou so skool dat ander mense daarmee tevrede kan
wees. Dit is dus nie ‘n natuurlike proses nie – ek bly voortdurend
gespanne. Ek sing graag koor, maar ek het nog altyd gevoel ek moet dit
doen; nie ek wil dit doen nie. Saterdae het ek soms niks in die dorp
nodig nie, maar ek voel so in die pad in my eie huis dat ek liewer ry.
Verstaan my mooi, my man en seun het nooit gesê dat ek in die pad was
nie. My seun het wel op ‘n dag gesê: “Ma, weet Ma, as ek en Pa
alleen is, raas ons darem baie lekker! Pa speel vir my al daai ou
goed. Dis darem lekkerrr!” Het ‘n mens meer as dit nodig? Vir
my was dit meer as genoeg rede om op die vlug te slaan.
My hele lewe was een groot moet. Ek wou altyd almal tevrede stel,
anders was ek nie goed genoeg nie. Ek moes ten alle koste presteer.
Foute was ontoelaatbaar want wat sou die mense van my dink?
Waarmee ek dus eintlik besig was, was om die guns van mense en God te
probeer koop. As ek dit tog maar geweet nie, dan sou ek ook besef het dat
dit nie moontlik is nie.
My predikant en sovele ander wou my gedurigdeur oortuig van hulle liefde
vir my, asook die liefde van God vir my. My verstand het dit aanvaar,
maar my gees het dit totaal en al ontken en verwerp.
Ek het die groot begeerte uitgespreek dat ek dit asseblief tog kon
sien. Ek wou sien hoe lief God my het, want ek kon dit nie glo nie.
Ek wou asseblief net sien, Here. Ek weet regtig nie hoe ek dit moes sien
nie [in ‘n droom dalk?], maar dit het ‘n uiterste smagting geword.
Op ‘n aand lees ek Lukas 18:35-43. Dit is die verhaal van die blinde
man by Jerigo. “Jesus het naby Jerigo gekom. Toe ‘n
blinde man wat daar langs die pad sit en bedel, die groot menigte mense hoor
verbyloop, vra hy wat aan die gang is. Hulle vertel hom toe:
‘Jesus, van Nasaret gaan hier verby.’ Toe roep hy uit: ‘Jesus, Seun
van Dawid, ontferm U oor my!’ Die mense wat voor geloop het, het hom
beveel om stil te bly, maar hy het al hoe harder uitgeroep: ‘Seun van
Dawid, ontferm U oor my!’”
En skielik is ek die blinde man! Ek sit daar langs die pad en almal
loop verby en hulle het nie ‘n saak met my nie. Die van hulle wat my wel
hoor, beveel my nog om stil te bly ook, want ek is lastig, ek is in die pad, ek
is nie die moeite werd nie. Waarom sou Jesus aandag aan my wou gee?
Ag Here, ek wil asseblief ook sien! Ek is blind, Here. Help my
om te sien. Jesus, help my! Stop asseblief net een kort oomblikkie
by my, ek het U nodig.
Terwyl ek so sit en bid en pleit by Jesus, kom die gedagte by my op om
Psalm 31 te lees. Ek skuif dit egter opsy, want ek was nie lus vir Psalms
nie, ek was besig met ‘n groot saak en ek was nie bereid om ‘n oomblik langer
te moes wag nie. Sien wou ek sien, nog daardie selfde aand.
Maar, getrou soos die Here is, herhaal Hy die gedagte oor en oor. Ek
vat toe maar die Bybel en lees. Ek was eintlik baie moedeloos, want ek
was nie bewus daarvan dat dit ‘n boodskap van God af was nie. Jesus het
gestop, maar ek het in my blindheid dit nie gesien nie en het aanhou skree
agter Hom aan.
Heilig is die Here, ons Koning. Ek haal die gedeelte vir jou
aan. Lees dit asseblief baie stadig en oordink dit in jou hart.
“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my
nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en
kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir
altyd.”
En ek sit daar – verslae en oorwonne. God kom sê vir my om stil te
wees. Hou op met roei en stoei, hou op met vrae vra, hou op om self te
wil. Jy gee nie vir God ruimte om te werk as jy nog altyd alles self
probeer doen nie.
Ek is daardie aand bed toe sonder ‘n verdere woord aan God. Ek kan
die ontsettende rus en kalmte nie beskryf nie. Ek het besef dat ek moet
los – God sal. Jesus sê vir my: “Goed, jy kan sien. Jou
geloof het jou gered.”
Twee aande later gee Hy vir my Jesaja 33:10-24. Ek haal net enkele
verse aan, maar jy moet asseblief die hele gedeelte gaan lees en oordink.
Vers 10: “Ek gaan nou ingryp, sê die Here, Ek gaan optree, Ek
gaan my mag laat geld.”
Vers 17: “Jou eie oë sal ‘n koning sien in al sy prag in ‘n
land wat wyd lê. Jy sal terugdink aan die vrees wat jy gehad het.”
Vers 20-22: “Kyk na Sion, die stad waar ons ons feeste
vier: jou eie oë sal Jerusalem sien, ‘n veilige woonplek waar jou tent
nie versit hoef toe word nie, sy tentpenne nooit uitgetrek hoef te word nie, sy
toue nooit weer breek nie. Daar sal die Here vir ons die magtige God
wees, daar waar die strome, die riviere breed vloei sonder dat die vyand se
roeibote daarop vaar, die oorlogskepe daar verbykom. Die Here is ons
Regter, die Here is ons Leidsman, die Here is ons Koning, Hy sal ons red.”
Vers 24: “Niemand in die stad sal meer sê: ‘Ek is siek’
nie; die sonde van die volk wat in Sion woon, is vergewe.”
Wat kan ‘n mens meer sê? Ek kan Hom net loof sonder einde. Daar
was nog verskeie bevestigings van hierdie wonderlike belofte van verlossing uit
my ellende, maar ek volstaan met hierdie gedeelte.
Waar staan jy op hierdie oomblik? Is jou riviere nog vol van die
vyand [satan] se roeibote? God wil jou laat woon daar waar alles vol
oneindige rus en vrede is. Laat Hom asseblief toe om beheer oor te
neem. Gee dit vir hom – nou!
DIE JAKOB IN MY
Jakob het baie, baie swaar in sy lewe beleef, maar ook net soveel seën uit
die hand van God ontvang. Hy was brutaal in sy soeke na dit wat hy
gereken het vir hom die beste sou wees. Dink maar aan die pot lensiesop,
die ete aan sy blinde ou pa, die veertien jaar se harde werk vir die vrou van
sy hart, die geveg by die rivier. [Gen. 32]
“Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en
julle volharding. Verder volhard julle ook; julle het baie vir My
Naam verduur, en julle het nie moeg gevord nie. Maar… julle het My nie
meer so lief soos in die begin nie.” [Openbaring 2:1-4]
Iewers het alles begin verander. Ek weet net nie waar en wanneer
nie. Ek wens eintlik ek kon dit naspoor. Dit sou alles dalk soveel
makliker maak.
Die eerste vreugde, my intense blydskap, onwrikbare geloof, my hoop op wat
ek nie kan sien nie, blydskap ten spyte van… Alles het verflou.
Alles is afgewater. O ja, ek weet. Satan het gekom om te roof en te
moor. Wanneer? Waar? Hoe?
Ek betrap myself dat ek vlug. Ek vlug vir my eie ek.
Hardloop. Stop nooit. Jakob vlug vir Esau!
“Red my tog uit die mag van my broer Esau, ek is bang vir hom. Hy kan
dalk kom en my doodmaak…”
Waarom hardloop jy, Jakob? Maak vrede en kom tot rus, Jakob.
Gaan lê met jou kop op die harde klip. Sien God se bemoeienis met
jou. Ervaar Hom eerstehands. Want, “My las is lig
en My juk is sag. Neem dit op. Volg My.”
By Bet-El sê God: “Ek sluit ‘n verbond met jou. Ek
bewaar jou. Ook seën ek jou, Jakob.”
Ek sien dit. Ek glo dit. Ek ervaar dit. Maar ek vat dit
nie. Ek staan op van die harde klip af en laat lê dit net daar. Ek
bly bang. Ek bly vlug. Hardloop. Van wat? Esau?
“Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel, want jy het teen God
en teen mense ‘n stryd gevoer en jy het dit end-uit volgehou.”
Sonder U seën laat ek U nie gaan nie, Here. Net met U alleen sien ek
kans, Here, al sou ek dan moet mank gaan vir die res van my lewe.
En tog kom daar tye wat jy twyfel. Twyfel oor die bestaan van jou
Bet-el en Pniël. Dit voel soos ‘n skoenlapper wat vlugtig op jou skouer
gesit het en toe weer vort is. Dit bly hamer in jou kop hoe jy jou pa met
‘n ete bedrieg het, hoe jy jou broer omgekoop het met ‘n pot lensiesop, hoe jy
die aardse dinge voorop gestel het vir jou eersgeboortereg. En jy gaan lê
maar weer op jou harde, ruwe klip. En jy onthou weer die seën van ‘n
Ragel, ‘n Lea en die dag by Pniël.
Jy gryp Jesus vas en skreeu dit uit: Sonder U kan en wil en sal ek
nie een tree verder gaan nie!
AS EK MAAR KON…
Ek sou so graag wou…
Na stukkende kinders omsien –
luister, vashou, sommer net wees
Opstaan, my Bybel vat en werk toe loop
Hemelkindertjies liefhê en versorg –
in daardie sonskynogies kyk en die liefde daarin lees
My seun se vriendin en vertroueling wees – saam ernstig of
verspot gesels en geheime deel
Jesus se liefde uitleef sonder om te bodder met skoolwerk
‘n Minnares vir my man wees
En ‘n rêrige-êrige ma vir my kinders wees
Of daglank by Jesus se voete sit en luister na sy stem
Tyd wou hê om te skryf tot my siel moeg is, en dan nog skryf
Ek sou so graag wou…
sommer net ekke wees.
KERSFEES
‘n Kind is vir ons gebore,
‘n Seun is vir ons gegee
Ag Here, hoekom? Sodat ons ons kinders kan verniel? Sodat ons hulle kan
laat verhonger en doodgaan?
Het U geweet wat ek met my kind sou doen toe U hom vesel vir vesel geweef
het in my skoot? Het U geweet van my ongeduld en selfsug; van my [soms] intense
begeerte na stilte en [selfsugtige] privaatheid?
Ja, U het.
En tog
‘n Kind is gebore
‘n Seun is gegee
sodat ek weer kind mag word.
DIE OU VROU EN DIE KIND
Vir baie jare het ek hierdie innerlike tweestryd in my gemoed ervaar.
Ek was bewus van twee persone in my lyf – die een ‘n jong kind, die ander ‘n ou
vrou wat verwoesting saai waar sy gaan. Haar mikpunt was telkens hierdie
jong, lewenslustige jong kind wat die lewe voluit wou leef en nie die swaar
saam met haar wou dra nie. Haar wapens was vernedering, teleurstelling,
onwaardigheid, selfhaat, verwerping en baie ander neerdrukkende emosies.
Ek het met ander woorde toegelaat dat my eie negatiewe gevoelens en selfhaat
van tyd tot tyd my hele menswees kom vernietig en ek het nie geweet hoe om
daardie negatiewe sy van my karakter uit die weg te ruim nie.
Die kind was vrolik en opgewonde oor die lewe. Sy het elke dag
lag-lag gegryp en dit voluit geleef. En tog…! Sy het saam met die
ou vrou in dieselfde huis gewoon en nooit werklik die kans gehad om dit te
vergeet nie.
Die ou vrou het haarself in ‘n kamer toegesluit en van tyd tot tyd haar
bose verskyning gemaak. Die kind het die dae gevrees wanneer die ou vrou
die sleutel in die slot sou draai en uitkom. Op hierdie dae het die ou
vrou die kind geslaan, haar aan haar hare rondgesleep, haar in die grond getrap
en teen die aand vir dood op die grond laat lê. Die ou vrou het dan
doodluiters weer na haar eie kamer toe gegaan, die deur gesluit en daar gebly
tot ‘n volgende keer.
Na so ‘n sessie het die kind vir dae lank op die grond bly lê – te moeg om
op te staan en voort te gaan met die lewe. Die slaan- en skopmerke het
oor haar hele lyf gelê en sy het nie die moed of krag gehad om dit te probeer
verberg vir die buitewêreld nie. Sy sou dan vir weke onttrek van die
samelewing en niemand naby haar toelaat nie. Sy kon niemand vertrou met
haar probleem nie en dus was daar ook niemand om haar wonde te verbind en te
versorg nie.
Deur die jare het sy sterker geword en vir lang tye kon sy die ou vrou uit
haar deel van die huis hou. As sy niks anders kon nie, het sy styf teen
die deur gaan staan en op so ‘n manier die ou vrou se koms vertraag. Natuurlik
het sy nou en dan haar waaksaamheid verloor en dan het die ou vrou net weer
ingekom en haar chaos gesaai.
Die kind het nooit daaraan gedink om hulp te kry nie. Sy het nie
besef dat iemand dalk vir haar kon help om die huis af te breek en ‘n nuwe huis
te bou waar daar geen plek vir die ou vrou sou wees nie. Sy het maar bly
glo haar enigste vorm van verdediging was om die deur so styf as moontlik toe
te hou en te bly hoop en bid dat die ou vrou dit nooit weer oop sou kry
nie. Kan ‘n mens so dom wees?
Deur die Here se groot genade het iemand op ‘n dag hierdie jong kind onder
hande geneem. Hulle het saam na God toe gegaan en die hele huis afgebreek
totdat daar nie meer een steen op die ander was nie. Ja, tot die
fondamente is uit die grond gegrawe en voor Jesus se kruis gaan neersit.
Die kind was vry om uit te gaan en die lewe voluit te lewe. Haar nuwe
huis is vry van die ou vrou en haar verwoesting. Daar is geen vrees vir
die verlede meer in hierdie nuwe huis nie.
Die kind sien nog die ou vrou in haar omswerwinge. Die verskil is dat
die ou vrou nou geen mag meer oor haar het nie. Sy is vry in die nuwe
huis wat opgerig is met Jesus Christus as hoeksteen.
REëNGOGGATJIES
‘n Kleinood wat ek voel ek moet met jou deel, is die storie oor die
reëngoggatjies.
As laerskooldogterjie het ons nie baie gehad om mee te speel in die koshuis
nie. Wanneer dit die slag gereën het, was ons almal op die uitkyk vir
daardie bloedrooi reëngoggatjies. Hulle het sulke gladde fluweellyfies en
was vir ons baie mooi.
Wanneer jy dan een van hierdie gediertejies gekry het, het jy dit in jou
hand gesit en saggies, baie saggies met die vinger daaroor gestreel. Jy
het jou hand so half toe gehou en met die ander hand gekeer dat niemand anders
dit kan sien of daaraan kan vat nie. Net jou beste maatjie is [soms] die
kans gegun om ook oor hom te streel, maar niemand mag hom in sy/haar hand gehou
het behalwe jyself nie. Jy was so skatryk dat niks anders saak gemaak het
nie, ook nie eens omdat die ander kinders vir jou dikbek is omdat jy nie wil
deel nie.
Ek kan nie onthou wat ons dan later met hierdie goedjies gedoen het nie,
want jy kon hom tog nie vir altyd hou nie. Ek neem aan jy het hom seker
later op ‘n bossie neergesit, of salk sommer iewers verloor, kind soos jy maar
was.
Ek weet net dat niks anders meer opwindend en spesiaal was as om so ‘n
reëngoggatjie te kon kry in die veld nie. Jy het so spesiaal en besonders
gevoel, want al die kinders het om jou gedraai en gesmeek om tog net een keer
bietjie te voel aan “jou” goggatjie.
Ek was al baie ver op die herstelpad, maar by tye nog glad nie baie seker
van God se allesoorheersende liefde vir my nie. Terwyl ek en ‘n vriendin
eendag oor hierdie saak bid, gee God vir my die volgende visie:
Ek is hierdie bloedrooi reëngoggatjie en God tel my versigtig in sy hand
op. Hy vertroetel my, Hy streel oor my en wil my met niemand anders deel
nie. Ja, God is jaloers oor my. Hy is so vreeslik opgewonde omdat
Hy my gevind het.
In plaas van om my weer na die eerste opwinding iewers op ‘n bos neer te
sit of te laat val, hou Hy my vas en beskerm my teen almal wat my wil deel met
Hom. Hy maak seker dat ek nie verloor nie. Hy sorg vir my en Hy wil
my nooit weer laat verlore gaan nie. Hy is gedurigdeur bewus van my en
laat my nooit onder sy oë uit nie.
Ek is mooi vir God! Dit is die een gedagte wat nog altyd baie moeilik
inslag kon vind in my gedagtes – dat ek beeldskoon is vir my Vader.
Dit bly vir my een van die kosbaarste openbarings van God aan my, want nou
weet ek dat ek baie, baie spesiaal is vir my Vader in die hemel.
Ek wil ‘n reëngoggatjie bly vir die res van my lewe. Ek wil nooit
vergeet hoe kosbaar ek vir God is nie. Hy het my duur gekoop en betaal
met die bloed van sy Seun, Jesus Christus.
WEGGOOI-LAMMERS
As ‘n mens hom so staan en betrag, kry jy amper begrip vir die ooi se
argelose houding teenoor hom – hy’s dan lelik, man! Hy lyk mos sommer of
niemand hom sal wil hê nie. Wie kan dan nou sy ma daarvoor verkwalik?
Sy ou haartjies is kroes en yl – so min, die vel skyn vaal-vaal deur.
En ai, die ou poeppensie wat nooit genoeg kry nie! Almal kry hom jammer,
maar niemand wil eintlik iets met hom te doen hê nie.
Ek het ook so ‘n lam geken. Net – haar ma het haar nie een gemaak nie
– sy was sommer een. Van haar soort sien jy baie: hulle is gewoonlik half
laf, lawaaierig, nooit baie [of selfs net ‘n ou bietjie] mooi nie, of
brandmaer, of oorgewig. Weggooilammers het gewoonlik nie baie vriende
nie. As hy ‘n vriend het, laat hy toe dat die persoon hom trap tot die
bloed loop – solank hy hom net nie weggooi nie, sien.
Maar, loof die Heer, ek het nie ‘n lammer gebly nie! Ek is
jubelend in Jesus. Hy’t my opgehef uit die nikswees van ‘n lammer en
my een van sy ewigekinders gemaak. Ek loof sy wonderlike Naam – Hy
het mos juis vir die lammers aarde toe gekom.
WARE VRYHEID
Met die opkykslag sien sy dit. Die son se blinkwit lig wat roep met
‘n magtige, oorweldigende skreeustem. So skoon. So wit. So
groots. Tekenend van Goddelike lewe.
Die vlerke sprei tot die uiterste. Sy span
elke spier en strek haar liggaam. Haar kop gerig na die son, vlap sy haar
vlerke een, twee maal. Nog strek. Nog verder reik na die son.
Sy word ligter … sy verloor grond onder haar voete. Die grond was tot nou
toe al wat sy geken het. Die wit vlerke werk haar ritmies op,
boontoe. Son toe. Sy sien niks nie. Nie dit wat agterbly
nie. Ook niks voor of langs haar nie. Dis net die duif, en die son
wat roep. Nog hoër. Nog nader. Die kop bly son toe
gerig. Sy word nie moeg nie. Sy word ‘n graniet-torpedo.
Verby die top van ‘n berg, deur ‘n wolk wat skaduwee wil maak. Die
skreeuende lig word verblindend. Sy moet haar oë daarteen sluit.
Nog hoër, altyd hoër, haar spiere is sterk, die vlug: ‘n storm na bo.
En dan… Stilte. Die lig word ‘n
heerlike sagte mat. Sy ontspan en dryf op die liggolwe. Die vlerke
is nou stil, hoewel nog wydoop. Sy baai in die heerlikheid van lig en
stilte. Sirkel ver en wyd. Die lig strek eindeloos ver.
Opeens sien sy hulle. Tien.
Twintig. Nog word hulle meer, tot die lig oortrek is van duisende ander
soos sy. Tog konsentreer hulle nie op mekaar nie. Elkeen is hom net
bewus van die oneindige Lig en Vrede. En sy weet – hier is sy tuis.
Hier wil sy bly.
WENKE WAT WERK
1. Erken dat jy siek is.
2. Vra
gebedsteun – ons kan nie alleen staande bly nie.
3. Gaan sien
‘n dokter. Soms word hierdie dinge veroorsaak deur wanbalanse in jou
liggaam. God seën ook medikasie.
4. Kom tot
stilstand. Om te maak of dit nie bestaan nie, gaan nie die toestand
verbeter of net eenvoudig laat verdwyn nie.
5. Leer
jouself ken. Dit help om met iemand te gesels oor dinge wat jou
pla. As jy iemand baie naby ons Koning ken, [as dit ‘n berader is, sal
dit baie help] gaan sien hierdie persoon gereeld en sorteer jou emosies en
gevoelens uit.
6. Skryf
die name van mense neer wat moeite doen om jou beter te laat voel, hetsy met ‘n
blommetjie, ‘n oproep of net ‘n mooi woord. Jy sal verbaas wees as jy
sien hoe daardie lys groei – en dit terwyl jy glo dat niemand omgee nie!
7. Moenie
jouself afsonder nie. Dwing jouself om ten minste een mal per dag uit die
huis uit te kom.
8. Doen
daardie dinge waarvoor jy nog altyd lus was en laat staan die res.
9. Moet
asseblief nooit ophou bid nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking