Ek is seker elkeen gee 'n geskenk met die grootste liefde |
Wat is dit aan 'n geskenk dat jy so mal is daaroor? Of, vir die minderheid van die menslike spesie, wat jou nie interesseer nie?
Waarom kan (sommige) mense ‘n geskenk ontvang en dit doodluiters iewers neersit vir later? Hoe kry hulle dit reg? O ja, ek het iewers gelees dat dit glo baie goeie maniere is om dit so met (wat my betref) minagting te hanteer. Goeie maniere? Se voet!
Nee jong, gee vir my ‘n geskenk en sy papiere moet waai! Nou dadelik. Nie later nie. Nou! Ek kan dit eenvoudig nie verhelp nie, man. Ek moet dadelik sien en weet...
Waarom dan? Ja, die grootste rede is definitief my allesoorheersende nuuskierigheid. Ek kan nie daarmee stry nie. Almal wat my ken, weet dat ek so is oor ‘n geskenk.
Maar, en dit sê ek met groot versigtigheid, want dit kan dalk vorentoe teen my tel. ‘n Geskenk praat met my op verskillende maniere. O, het jy nie geweet hulle kan praat nie? Ai, dan het jy mos jou lewe lank groot uitgemis, jong!
Nommer een: die geskenkpapier. Ek is ook skuldig daaraan om sommer ‘n sakkie te koop en die geskenk daarin te sit. Dit is maklik, ekonomies en gewoonlik baie handig. Veral vir wesens soos hierdie ek wat nie ‘n pakkie netjies kan toedraai nie is die sakkie die ideale oplossing. En ja, ek fokus dan nie regtig daarop nie, want ek wil weet wat is binne-in. Maar, hoor vir my, as jy moeite gedoen het met die papier, het jy al klaar my hart in jou sak. Iets soos bruin papier met ‘n paar strepe verf is die mooiste wat met my kan gebeur. Hoekom dan? Omdat ek weet jy moes beplan, jy moes gaan sit en jou tyd opoffer om dit vir my te doen, dis hoekom. Ek is nie ‘n strikkie/blommetjie/goetertjies-mens nie, dus pla die afwesigheid van sulke goetertjies my glad nie.
En dan, nommer twee: die geskenk. Natuurlik is ek altyd baie bly oor enige geskenk, moet my asseblief nie verkeerd verstaan nie. Maar, het jy geweet dat hierdie geskenk ‘n storie vertel? Ja, as jy mooi genoeg luister, hoor jy ‘n storie. Hierdie geskenk vertel vir jou mooi goedjies of teleurstellende goedjies. Ek hou daarvan as die geskenk vir my vertel dat die gewer my regtig ken vir wie ek is. Sou jy byvoorbeeld vir my ‘n bottel duur parfuum gee, weet ek dat jy my glad nie ken nie. Aan die anderkant, sou jy vir my ietsie kleins gee wat jy self gemaak het, is ek in ekstase. Of, dalk gee jy vir my ietsie vir my kombuis en dit is iets waarna ek al jare soek – wow! Jy weet wat my hart begeer en ek weet jy lief my baie.
Hiermee wil ek dan verskoning vra vir die kere wat ek iets vir jou gegee het en die bal geheel en al misgeslaan het. Ek pleit skuldig, want dan ken ek jou sowaar nie so goed soos ek gedink het nie.