Ek is besig met ‘Raaiselkind’ van Annelie Botes. Dit is die tragiese verhaal van ‘n ma se lewe met haar outistiese kind. Wat ‘n openbaring is dit nie! Annelie beeld dit so werklik uit dat jy nie anders kan as om saam met hierdie ma te ly nie. Elke aand lees ek net ‘n paar bladsye, want jy moet hierdie toffie stadig suig sodat jy hom intens kan proe en beleef.
Maar bedags loop my kop sy eie rigting. Ek dink. Ek wonder. Eers stry ek daarteen, maar dan weet ek dit sal nie help nie. Die waarheid bly die waarheid.
Ek kom tot die groot besef dat ons almal maar eintlik ‘n groot stuk stukkend in ons omdra. Hoe graag ons elkeen ookal wil glo ons is eintlik ‘n hele end beter as die volgende persoon, is dit toe glad nie die geval nie. Ons is stuk-stuk aanmekaar gelas en dis hoe dit nou maar eenmaal is. Soms bly die stukke klou, ander kere klou hulle nie genoeg nie en jy kom ‘n bietjie kaler aan die anderkant uit.
Boetakind hou van sy beiteltjie. Hy loop van muur tot muur en kap die sement af. Hy kap totdat die rou stene daar sit. Kap. Kap. Kap. Eindelose, onvervullende proses. Kap. Kap. Kap. Eers wanneer die stene rou voor hom lê, hou hy op. Hy gaan soek na die volgende plek waar hy kan kap, kap, kap. Sonder einde. Sonder rede. Sommer net omdat hy wil.
Waaraan loop en kap ek? En jy, kap jy ook sonder doel? As ek eers op ‘n onderwerp loop vassteek, kry jy my nie sommer gekeer nie. Vorige week was dit die dominee se onsinnige preek. Ure kon ek daaroor uitbrei. Wat het die mens besiel om oor daardie onderwerp te preek? Stiksienig, as jy my vra. Almal moet hoor. Almal moet kennis neem dat ek regtig nie tevrede is met die stand van sake in die kerk nie. Ek hou aan en aan en aan, sonder om op te merk dat niemand eintlik meer luister nie – hulle het eintlik van die begin af nie geluister nie. Hierdie week is dit die onregverdige bankbestuurder en volgende week is dit waarskynlik die skynheilige skoolhoof.
Of, as die gier hom pak, begin hy doelloos hardloop. Om die huis. Om die huis. Al om die huis. Hy word nie moeg nie. Hy het nie nodig om te rus nie, want hy weet nie dat hy (dalk) moeg is nie. Hulle los hom, want keer kan hulle hom nie keer nie.
Ek kry ‘n storie beet. My suster se skoonsuster se jongste boetie se meisie se ma het gesê... Regtig? Is dit moontlik dat dit kon gebeur het? Ek weier om dit te glo, man. Maar ek los dit nie daar nie, want sê nou maar net daar steek ‘n stukkie waarheid in. Sê nou maar net iemand weet presies wat gebeur het? Ek vra. Ek luister fyn na wat gesê of nie gesê word nie. Genugtig! Die waarheid moet mos uitkom, ha? Oor en oor en oor, totdat ek opeens belang verloor en verbaas om my rondkyk waarom almal so ontstig is.
Ander kere, wanneer dinge nie meer lekker is vir hom nie, hardloop hy van ligskakelaar tot ligskakelaar en sit dit aan en af, aan en af. Sonder einde. Sonder (oënskynlike) doel. Niemand gaan hom teë nie, hy doen dit sonder ophou. Lig. Donkerte. Lig. Donkerte.
Is dit nie maar soos ek ook maak nie? Soek die lig...of die Lig, net wanneer dit my pas. Soms verkies ek die donkerte, al is dit ook net vir daardie een oomblik wat ek weet ek wil dat niemand nou sien of hoor waarmee ek besig is nie. Netnou is ek weer ewe vroom die vriendelike vrou van die lig. Ha? Is dit hoe dit werk? Aan en af, aan en af. My lewe lank, aan en af.
Die ou stukkende seuntjie eet net pampoen of peanutbutter. Arme, arme kind lyk verhonger en maer. Hy eet sy pampoen of peanut tot daar niks oor is nie, maar moet net nie waag om vir hom iets anders te gee om te eet nie. Hy weet nie dat sy lyfie ander dinge ook nodig het nie. Hy is lief vir sy pampoen en peanut, en hy is tevrede wanneer dit voor hom neergesit word.
Ek dink ek en jy is ook maar so. Ek hou daarvan om dit of dat te doen en basta met die res. Waarom wil jy my nou kom staan en dwing om jou te ondersteun in jou poging om die gemeenskap te bou? Ek doen mos my ding, is dit nie? En buitendien, ek het nog nooit daarvan gehou dat iemand my moet voorskryf nie. Los my asseblief uit dat ek dit wat ek doen, goed kan doen. Doen jy maar jou deeltjie, toe?
Hallo! Is daar iemand daar buite wat my hoor? Is ons nie maar op die ou einde almal so ‘n bietjie stukkend nie?
Ek vra maar net.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking