Ek is al te skaam om dit met ‘n dokter te bespreek, man. Ja,
natuurlik kan ek hom vertel van die pyn, maar dat ek so moeg is? Jy is mos
lekker laf! Die eerste ding wat hy vir my gaan vra is of ek genoeg slaap. Nee,
ek slaap nie genoeg nie. Nou, waarom kom kerm jy dan by my oor moeg?
Waar pyn jy? Ag, dokter, eintlik mos maar oral, jy weet. Waar
voel jy sleg? Ag, dokter, eintlik mos maar oral, jy weet. Wanneer is jy so
moeg? Ag, dokter, eintlik mos maar altyd, jy weet.
Jy voel soos ‘n gek. Vir vyf of ses maande pyn jou arm en
skouer so erg dat jy nie jou klere oor jou kop kan kry nie. Opstaantyd. Maak klaar
vir werk. Roep jou man om te kom help aantrek. Vanaand roep jy jou man om te
kom help uittrek. Oor en oor dieselfde proses totdat jy dit nie meer kan
verduur nie.
Die dokter vind geen fout nie. Nee, ek het niks
buitengewoon swaar opgetel nie. Nee, ek het dit nie met oefening beseer nie.
Gmf, ek oefen nie eens nie! Ja, ek sal in die vervolg beter oplet na wat ek
doen. Ja, ek sal die pille getrou drink en terugkom as dit nie help nie.
Mettertyd kom jy tot jou vreugde agter dat aan- en uittrek nou
makliker is. Dankie tog! Die man is seker nog meer dankbaar as jy, want nou pla
jy nie so baie nie. Wat ‘n lieflike verligting!
Maar nee, nou maak die heup en laerrug seker dat jy weet
hulle is deel van jou lyf. Dit pyn. Jy smeer salfies. Dit pyn net meer. Jy drink
pille. Dit pyn en pyn.
Dokter, my heup en laerrug...! Nog pille. Nog salfies. Nog
baie ander dinge. Ons probeer alles op die mark. Ja, die botteltjie dagga-olie
was ook lank op my badkamerrakkie. Tevergeefs. Los alles. Wat help dit in elk
geval?
Buiten vir die pyn, het my lyf iewers die gier gekry om nie
meer te wil slaap nie. Ek is doodsmoeg, maar as dit slaaptyd is wil die lyf nie
slaap nie. Dit ontwikkel in ‘n aaklige wakker-slaap-wakker roetine. Wanneer ek
moet wakker wees, wil ek slaap. Wanneer ek moet slaap, wil my lyf nie lê nie. Ek
raak aan die slaap met die beste bedoelings, want jy sien, ek is so bitter
moeg! Iewers in die nag skrik ek wakker en my lyf is onmiddellik regop en uit
die bed uit. Die lyf wil nie lê nie – nooit weer nie, want dit maak te seer om
te lê. Die lyf is in opstand, want die pyn is net eenvoudig oral!
Jy sit en gesels en staan op om tee te maak. Die lyf wil
nie opstaan en loop nie. Dis kompleet asof die ou spulletjie eers so ‘n bietjie
moet opwarm voor jy lekker spoed kan vat en aanbeweeg. Stram. Pynlik.
Op ‘n dag lees ek ‘n woord raak en ek wonder wat dit
beteken. Natuurlik bestaan daar nie iets soos ‘toevallig’ nie, daarom besef ek
vandag dat dit eintlik maar vir my daar geskryf was. Ek raadpleeg ons goeie
vriend Google en, wat sal ek daar sien? Ou Google weet toe al baie lankal wat
ek makeer.
Maar voordat jy jou mond uitspoel oor mense wat hulself
diagnoseer, wees gerus, ek het dit nie gedoen nie. Met my volgende besoek aan
die (baie, baie geduldige dokter) vertel ek van die artikel wat ek gelees het. Sy
reaksie? ‘O, fibromialgie? Ja, ek is al lankal besig om te soek na die regte
medikasie wat jou daarvoor kan help.’
Hierdie onsigbare siekte/kwaal/hindernis (noem dit net wat
jy wil!) openbaar homself glad nie dieselfde aan al die ander (een uit elke
twintig mense) nie. Dank die Vader dat ek nie nodig het om in die bed te bly
daarvoor nie – ek is in elk geval te kwaai met myself dat ek dit eens sal
oorweeg om by die huis te bly daarvoor. Ek lees onlangs van mense wat moes
ophou werk as gevolg van hierdie goggading.
Dan is daar die wisselende grade van spanning. Dit word
nogal gereeld verwar met depressie, en wie wil nou depressie hê? Ruk jou tog
net reg, asseblief man! Anderdag het ek die dokter baie lekker laat lag vir my ‘formule’.
“Dokter, jy weet, stress = pyn.” Ek weet nie hoe dit werk nie, maar dit is
deesdae nogal seer om te stress. Grappie? Nee.
Nou raak jou kop ook soms steeks om saam te werk. Iemand vra
‘n vraag en wag vir my om te antwoord. Die antwoord is in my kop, maar die
woorde wil nie by my mond uitkom nie. En die mense dink jy luister nie. En jy
weet nie hoe om dit te verduidelik sonder om ‘n treurmare te skryf daaroor nie.
Die gevoeligheid vir temperatuurwisseling kan ook soms
nogal ‘n stremming op jou plaas. Niemand kry koud nie, dan is jy aan die bewe. Niemand
kry nog regtig warm nie, dan loop jou sweet. In my huis het ek die mandaat op
elke waterverkoeler in elke vertrek. Soms voel ek baie skuldig omdat ek so
selfsugtig is, maar as ek my kom kry het ek alweer die verkoeler direk op my
gedraai en die res van die gesin moet maar sien en kom klaar.
Klank. Praat asseblief tog net sagter! Draai net die musiek
asseblief sagter, toe? Waarom praat julle so aanhoudend? Hou net ‘n slag op,
want my ore is nou moeg geluister.
As ek dit so op papier sien, dink ek by myself: Sies, jy is
‘n regte klagat! Ruk jou assebief net reg en gaan aan met jou lewe. En ja, dalk
is ek maar net ‘n klagat, ek weet nie. Wat ek wel weet is dat dit nie aldag ewe
maklik is nie, maar ek is oneindig dankbaar vir die feit dat ek lewe en kan
werk en kan liefhê.
My motto is eenvoudig dit: Wees dankbaar en leef die lewe
wat jy gekry het voluit. Sing jou eie lied, want niemand anders gaan dit namens
jou sing nie.
Yup, pyn maak mens mal. Maar foeter net voort, niemand verstaan hoe dit voel nie. En dokters sit en kyk vir jou of jy aandag soek.
AntwoordVee uit