So laat ‘n mens jou deur jou gedagtes beheer, is dit nie? Anderdag
laat my seun, Nico, getroud met my oudste dogter, my weet hy is in Maltahöhe.
Hy wil weet waar presies het ons gebly. Die rede? Dit is waar sy liefievrou
haar eerste lewenslig aanskou het. Na ‘n paar foto’s en 'n oproep of twee weet hy presies waar dit
is. Hy is gewapen met genoeg foto’s om by die huis te gaan wys.
En ek? Ek beleef weer driekwart van my lewe. Want dit is wat
daardie klein dorpie vir my is – my wortels, my begin.
So baie het verander, maar eintlik ook maar so min. Al wat
regtig nie meer daar is nie, is die ou groot koshuis met sy buitetoilette. Dit voel
vir my al die Sub A’s was in dieselfde kamer. ‘n Paar ‘groot’ meisies het by
ons geslaap om die orde te hou. Siestog, hulle was ook maar nog klein, maar
hulle was die ja en die amen in daardie kamer.
Ek wonder wie onthou nog die aande na die ligte-uit klok
gelui het. Dan begin die eerste een en sê vir elkeen in die kamer nag. As jy
die aand kwaad is vir een, slaan jy eenvoudig haar naam oor. Sy (en al die
ander) weet dan baie goed hoe jou hart daardie aand klop. Elkeen kry ‘n beurt
om nag te sê.
Ek glo aan die einde van die sessie was die helfte seker al aan die slaap. En ja,
as jy vinnig genoeg was nadat die studie uitgekom het, kon jy ‘n piepiepot vir
jouself gaan haal. Dit staan onder jou bed en jy bepaal wie mag dit deur die
nag gebruik. Weereens, die een wat moeilikheid gemaak het, mag glad nie vannag
jou pot gebruik nie.
Saterdag gaan ons dorp toe. Die koshuistannie het ons geld
gehou en jy gaan ‘trek’ geld by haar. Almal stroom na oom Fanie se winkel toe
vir ‘n lekkertjie. Die lekkerste was mos maar die suurklontjies wat jy so in ‘n
gedraaide papiertjie gekry het. Hulle het lekker lank gehou as jy hulle nie kou
nie, net so suig-suig loop daarmee.
Oorkant die straat was tannie Drieka se kafee. As Pa
onverwags dorp toe gekom het, het hy altyd daar gaan koffie drink en ek het ‘n
koeldrank gekry. Hy het my nooit terug gevat koshuis toe sonder ‘n kardoesie
lekkers in die hand nie.
Ai, die een groot aanloklikheid was die bakkery. Oom Hottie se bakkery het die lekkerste varkore gebak! Dit was 'n baie groot versoeking, want as jy 'n varkoor gekoop het, is jou sakgeld amper alles op en jy weet daar gaan nie sommer weer sakgeld kom nie.
Die jare het aangestap en dinge het verander. Die groot
koshuis is afgebreek en ons trek in ‘n splinternuwe dubbelverdieping koshuis
in. Ons is tog so belangrik! So deftig!
Ek is weg uit my 'home town' hoërskool toe en kom weer jare later
daar bly as getroude vrou. Dit was vreemd, maar ook baie lekker om die ou dinge
te beleef. Ek hou skool in die skool waar ek leer lees en skryf het en beleef
weer die dinge van lank gelede. Ek gaan staan op die plek waar Lukas die dag van bo af afgespring het tot op die gras. Sy voetspore het twee dooie kolle gelos as getuie dat hy dit wel gedoen het. Ek staan in die klas waar ons in standerd 5 was en ek roep die gesigte een na die ander op.
En toe! Die groot mylpaal. Ek is swanger. Ag, was ek trots
om swanger te wees. Dit was al of ek geglo het ek is die eerste een in die lewe
wat dit reg kon kry om ‘n baba te verwag. Die ou dingetjie het ook haar tyd gevat
en my lekker lank laat wag vir haar geboorte.
Ouma was by ons en het die hele nag langs my bed gestaan. Hoe
moeg haar ou beentjies moes wees, weet ek sowaar nie. Sy het nie een maal
(waarvan ek kan onthou) selfs gou gaan koffie drink of gesig was nie. Troue moeder
van my, ‘n ware engel op aarde.
Dwarsdeur die nag het ons geveg en kindjie is net na tien
die oggend gebore. Ek wens jy kon my sien, man. Trots. Supertrots. Ek het die
mooiste baba wat nog ooit gebore is, jy kan nie stry nie!
Opeens is die kamer vol mense. Almal kom kyk na my mooiste
baba. En die dominee bid en ruk my terug aarde toe dat die stofwolke hang. “Dankie,
Here, vir hierdie baba wat vir hulle geleen is.”
Geleen? Ja, Martha, sy is nie joune nie. Sy behoort aan Hom
soos wat jy aan Hom behoort. Niks wat jy gedoen het of ooit nog gaan doen, kan
maak dat jy haar verdien het nie. Kyk om jou rond en sien dat jy toe glad nie
so ‘n prestasie bereik het soos wat jy gedink het nie.
Sjoe, dit was ‘n lae hou, maar dit het my nederig en
dankbaar gemaak.
En jou, baie jare later, sit ek en bestudeer die kaart op Google. Daar is die
hospitaal. Die skool. Ons huisie, so skuins-oor die hotel. Oom Weswin se
winkel. Die BSB-dorpskamers. Die kerk.
Daar lê my voetspore en daar lê my wortels. Dit voel vir my
dat as ek naby genoeg inzoom sal ek die mense kan hoor praat en lag in die
strate. Ek sal weer kan jonk wees en drome droom oor die toekoms. 'n Toekoms wat toe nie gelyk het soos wat ek in my jeugdige voortvarenheid verwag het nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking