Vir dae aaneen is dit al wat jy sien op tv – Orkaan Irma. Jy
kyk daarna so half op ‘n afstand, is dit nie? Ja, natuurlik het jy meegevoel
met die slagoffers! Dit is tog wat van jou verwag word. Jy sien die verwoesting
en is in jou hart dankbaar dat jy veilig is, dat jy veilig en geborge is.
Ek kyk na die vreeslike werk van die natuur en die beelde raak
gemeng met vreemde emosies in my draadwerk. Wat as...? Ja, wat as!
Hoe moet dit voel om uit jou plek uit te hardloop en jy
weet dat jy nooit, ooit weer oor daardie trap in jou huis in sal loop nie? Jy sal
nooit weer op jou bed gaan sit na ‘n dag se harde werk en jou skoene uittrek en
klaarmaak vir ‘n lekker lang bad nie. Jy sal nooit weer hierdie kasdeur oopmaak
en klere uitsoek vir vanaand se geselligheid nie. Jy sal nooit weer kla oor die
gebarste muur of die verf-af plek langs die deur nie. Hierdie kas wat jy nog by
Ouma gekry het en waarvan die laai so sukkel om uit te trek, sal jy nooit
weer mee hoef te sukkel nie. Want, jy sien, alles gaan môre weg wees. Jy gaan
niks, niks meer hê om op trots te wees of om oor te kla nie. Ja, daar gaan niks
meer wees nie. Niks.
Nou sê ons ewe vroom vir mekaar dis aardse goed – hulle sal
wel weer opstaan.
Dit pla my die hele tyd – hoe moet dit voel om niks oor te
hê nie? Gelukkig het jy darem jou tekkies aangetrek voordat jy weg is daar by
die huis. Dit klink soos ‘n banale grap. Wat wil jy met jou duur tekkies maak
as jy nie eens ‘n teelepel het om daardie koppie koffie waarna jy so verlang te
maak nie? Niks.
En ek dink. Die gedagtes hinder my – hierdie argelose manier waarop ek
alles en almal aanvaar wat in my lewe is. Ek gaan slaap en ek staan op en alles is maar altyd nog daar.
Nee, nie aardse goed nie, hoor. Wat as ek môre alles
verloor waarvoor ek nie vandag dankbaar was nie? Wat as? Wat as ek opstaan en
daar is niemand met wie ek kan deel nie?
Los nou maar die huis en die kar en die boot en die
uitspanplekkie langs die see. Vergeet vir ‘n oomblik van die dinge wat jou geld
kan koop.
Ek kom van die werk af en my man wil graag vir my wys hoe
mooi dra die mangoboom, maar ek is nie lus om op te staan en te gaan kyk nie. Ek
weet ek moes my vriendin al weke terug gebel het, maar ag wat, sy kan mos ook ‘n
slag eerste bel. Ek was regtig lanklaas by my ouers, maar ek het nie lus om
perd op te saal en daarnatoe te ry nie, ek is naweke te moeg daarvoor. My buurvrou
se kind is al vir maande siek, maar ek het nog nie kans gekry om te gaan inloer
nie. Môre is mos nog ‘n dag. My kind bel gereeld en vra waarom is ek so skaars,
maar sy weet mos tog ek is besig, waarom kerm sy so? Regtig, die lewe is so ‘n
gejaag dat ‘n mens behoorlik moet sukkel om by te hou. As almal net nie so om
jou ore kerm vir ‘n bietjie aandag nie.
En ek staan een oggend op en niemand is oor nie. Ek het
alleen oorgebly. Ek is alleen in my eie genoeglike selfsugtigheid. Ek het so
lank en so intens gebou aan die mure rondom my siel dat ek niemand meer aan die
buitekant kan sien nie. Hoe hard ek ookal probeer, ek kan glad nie meer bo-oor sien nie. Ek is nou uiteindelik alleen soos wat ek die hele tyd probeer het.
Hoe moet dit voel om NIEMAND oor te hê nie? Is dit werklik
wat ek van die lewe verwag? Regtig?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking