Donderdag 29 Mei 2025

WANT IETS HET GEBEUR!

 

Nee, kyk, nou is dit tyd dat ek ‘n slag uitkom met die waarheid. My kop is so vol los drade en gedagtes ... gedagtes wat net meer en meer word en oral kleintjies kry.

Is jy ook soos ek? Dis nou veral deesdae wat die jare op die gesig en die lyf begin wys. Ek borsel my tande soggens en sien myself in die spieël. Die een dag kan ek nogal vir myself glimlag en opmerk dat ons darem nog nie só verweer lyk nie. Maar net die volgende dag! O genadetjie tog!

Maar kom ons los nou maar daardie gedeelte uit. Dit is glad nie my bedoeling of begeerte dat ons op mekaar se skouers ween oor die verganklikheid van die lewe nie. Daarvoor is daar nog altyd genoeg tyd, reken ek.

Die spreekwoord lui dat jou keuses jou toekoms bepaal. Of dan, overgesetsynde, dit bepaal die gang van jou lewe ... wie en wat jy is en gaan word.

Net nou die anderdag lees ek dat elkeen van ons geskape is met ‘n spesifieke doel. Jy is gebore met ‘n gawe wat jy moet uitleef. En, reken die persoon, as jy dit nie uitleef nie, sal daardie ding jou haunt tot aan die einde van jou dae.

Sjoe!

Ek kyk terug: Laerskool. Hoërskool. Kollege. Alles loop maar soos dit moet loop, sonder dat ek ooit iewers hierdie groot dringende klop aan my hart gekry het dat ek sonder twyfel dit of dat met my lewe moes maak. Trou. Begin ‘n gesin. Die lewe loop met ‘n mens en niks buitengewoons word gebore nie.

Wat my laat wonder: Is ek toe sonder so ‘n besondere gawe gebore of het ek dit bloot doodgeleef?

Maar hoe sê hulle nou weer? ‘n Mens mis nie ‘n ding voordat jy dit nie meer het nie. En sowaar, dit is nou een waarheid waaroor niemand kan redeneer nie. Ek het glad nie besef wat ek het voordat dit nou besig is om soos sand deur my vingers te glip nie.

Ek begin voor:

WANNEER GEHEUE BEGIN GLIP ...

My naam is Martha, en tot nie te lank gelede nie was ek ’n ywerige blogger. Ek was altyd opgewonde wanneer ek ‘n idee vir ‘n blog gekry het. Ek moes dit dadelik skryf en my gedagtes vaspen voordat hulle kans het om te verdamp. Dit voel soos om by ‘n bekende vriendin te sit en jy moet nou dadelik vir haar alles vertel.

Ek het vertel, geskryf, gedeel – soos ’n mens maar doen as jy die lewe wil verstaan en onthou deur dit op papier vas te lê.

Ek het my skrywery nie as iets besonders beskou nie. Want jy sien, jy hardloop dalk marathons, die ander een doen naaldwerk, en ek skryf ... geen verskil nie!

Twee jaar gelede het ek en my man, Wolfgang, aan die kus kom woon. Net ons twee, onafhanklik en vry, met die see wat in die verte sug soos 'n kalm ou vriendin. Ons dae en weke bestaan uit klein goedjies: ek doen soms decoupage, kleur in, hekel 'n spul onnodige nonsies goedjies (maar dis mos die geselskap wat tel), en ek probeer deesdae stadigaan om weer te skryf. (Hierdie stukkie skryfwerk het my ongeveer tien dae geneem, maar ek dink ons moet hom nou in die oopte daar op die muur gaan plak vir almal om te lees.)

WANT IETS HET GEBEUR ...

Twee kere ICU. Twee kere sepsis. Twee keer deur die skerp rand van die lewe gesny en tog teruggekeer. Dis nie iets wat mens net so agterlaat nie. En die nagevolge het bly klou soos ‘n haak-en-steek-bos se dorings aan jou mooi rok: veral die gevolge daarvan wat my my geheue en konsentrasie betref.

Ek begin dikwels iets doen – soos om my medisyne te neem – en 'n paar minute later gaan ek terug, hand op die pilhouer, en wonder: Het ek dit nou geneem, of dink ek ek het? Dis nou nie eintlik ‘n grap nie, want ‘n mens wil mos nie jouself bedwelm met te veel van ‘n ding nie. Ek stel die alarm, ek tel die pille uit, ek doen alles moontlik om dit reg te kry, maar telkens is daar saans nog ‘n ekstra pil of twee wat toe nooit gedrink is nie.

Dis snaaks en tragies tegelyk.

Ek sukkel ook met die klein goedjies: resepte is soos raaisels. Ek lees die instruksies, draai om om die meel te kry, en moet dan drie keer teruggaan om seker te maak ek het reg gelees. Gelukkig bak ek nie meer gereeld nie, anders weet ek nie hoeveel skade sou ek myself al aangedoen het nie.

Dis daardie klein sprongetjies van aandag wat my laat voel of ek in 'n ander ritme leef as die res van die wêreld.

Lees is ook ’n stryd. Ek sien die woorde, ek verstaan dit terwyl ek lees, en dan – tjoeps! – weg. Ek sal soms drie keer dieselfde paragraaf lees en tog bly dit soos 'n stukkie seep wat uit my hand glip. Ek het begin om hardop vir myself te lees – asof ek 'n storie vir ’n kind voorlees, net met ek as luisteraar en verteller gelyk.

My rug is nie meer wat dit was nie. Die kussinkies tussen my werwels daar onderlangs het lankal gegroet. Ek kan nie meer lank staan of loop nie. Ek moet lê, dan staan, dan weer sit ...

Maar hier’s die ding: ek’s nog hier. En ek’s nog ek, al voel dit soms of die “ek” bietjie los in my sit.

Ek het begin leer dat dit nie noodwendig die groot goed is wat jou menswees uitmaak nie, maar die klein aanhoudende gewoontetjies. ’n Gekleurde blommetjie op ’n gehekelde uil se kop. ’n Mooi bak slaai. Die geur van ‘n ribbetjie op die vuur. Ek en Wolfgang lag nog. Ons gesels nog. Ons geniet mekaar nog. Ons lewe nog!

Ons lewe is rustiger, stadiger, meer bewus. Ek skryf nie meer lang blogposts nie – maar ek hou my foon byderhand en daarop skryf ek gedagtes neer, een op ’n slag. Sommige is net sinnetjies, ander is flenters van herinneringe. Dit hoef nie perfek te wees nie. Dis myne.

Ek leer ook dat ek mág verander. Ek mág vergeet. Maar ek is steeds Martha. Ek is steeds lief vir woorde, vir mense, vir die see en vir my man. Ek is iemand wat geleef het, so effens suffer, en steeds leef.

En dalk, een van die dae, sal ek weer ’n storie skryf wat volledig is. Of dalk net een wat met liefde gebreek is – soos ’n stukkie porselein met goud in die krake.

Maandag 12 Mei 2025

Die pil is weg!

 


Ek is seker jy het dit ook al ervaar dat ten spyte van, of te midde van ‘n groot krisis, gebeur iets waaroor jy jou agterna dood kan lag. Op daardie oomblik is dit dalk glad nie snaaks nie, maar as die stof gaan lê het, sien jy die aardigheid daarin.

Augustus 2024 beland ek in Windhoek in die ICU met ‘n bug wat my deur ‘n tand binnegedring het en groot moeilikheid maak. En so wrintiewaar! Einde Februarie, begin Maart hierdie jaar, is daar weer ‘n skarminkel wat die longblasies aanval!

Ek is siek. Ek is ellendig siek, hoor. Hondsiek! Tot so ‘n mate dat ek heeltemal deurmekaar is by tye. (Ken jy vir delirium? Dis nou hy daai!) Die dokter glo dit is my kroniese medikasie wat my so deurmekaar maak en hulle cold turkey my -  nie ‘n enkele pil sal ek drink in hierdie plek nie, is die uitspraak.

Ek is baie deurmekaar, maar nie so erg dat ek nie dadelik besef dat ek ‘n groot probleem het nie. As jy weet van rustelose bene, sal jy ook weet dat jy daardie pilletjies saans moet sluk, anders slaap jy nooit daardie nag nie.

Maar moenie dink die dokter luister na my nie! Hy dreig my: “As ek dit vir jou gee en hier kom moeilikheid, is dit op jou, nie op my nie!”

Ek skrik vir die ou se houding en laat vaar my pleidooi ... met die besef dat daar ‘n paar slapelose nagte voor my lê, natuurlik.

My geliefde is eers huis toe met die belofte om later weer te kom kuier.

Opeens het ek ‘n pilletjie in my hand. Ja, jy het reg geraai! Dis een van dáárdie pilletjies! Opgewonde probeer ek dit in die ander hand sit, maar ek is so onhandig! My vingers bewe so dat ek dit laat val.

Nou besef ek, Martha, jy is in groot moeilikheid! As hulle vanaand vir jou vang met hierdie pil, is daar oorlog. Ek probeer versigtig so oor my borskas voel, maar ek kry hom nie. Die drip is in een arm en die monitor aan die ander hand – beweeg ek, gaan alles rondom my aan die skree.

Ek probeer langs die bed op die vloer kyk, maar kan nie daar sien nie. Dan voel-voel ek weer ooral op die bed rond ... sonder enige sukses. Oor en oor en oor voel ek en soek ek na daardie pil.

My man kom later en ek order hom om vir pilletjie te soek. Kan jy my glo, hy doen regtig nie eens ‘n ou bietjie moeite nie. Hy sit net daar en kyk vir my.

Opeens onthou ek waar die pilletjie is! Ek gryp my selfoon en kondig trots aan: “Ek weet waar hy is. Ek het hom hier agter by die foon gebêre.” Met groot bravade maak ek dit oop ... en daar’s niks!

Shit!

Toe Wolf weg is, ontdek ek by hernuwing ‘n plek waar die pil is. Om my een vinger is ‘n pleister met die rooi liggie van die monitor. Ek voel-voel so met my tong en ek besef die pil is sowaar binne-in hierdie pleister! Hoe kon ek dit nie geweet het nie?


Ek begin eers versigtig en toe harder en harder aan hierdie pleister byt en trek met my tande. As hulle daai pil hier kry vanaand ...!

Toe die verpleegster weer by my kom, hang die pleister nog aan so ‘n hoekie aan my vinger. Ek wys vir haar die pleister is stukkend, want ek het hom so gebyt.

“Hoe kan jy dit doen?” raas sy. “Jy weet mos dit is die hospitaal se eiendom!” En sy draai ‘n nuwe pleister om my vinger, sónder om die pil te kry!

Toe ek beter en terug by die huis is, wil ek by Wolf weet wat het daardie aand van my pil geword. Hy antwoord my nie. Hy kyk net so half afwesig na my kant toe.

‘n Paar oomblikke se stilte hang tussen ons.

“Pa, wás daar ooit ‘n pil?”

“Nee, my vrou, daar was nooit ‘n pil nie.”

Vrydag 09 Mei 2025

SONDAG IS 'N HEILIGE DAG, MY KIND


 So kuier ons by Oupa en Ouma vir die aand. Dis nou my ouers en ek en my twee susters en ‘n klomp tannies en ooms met hulle kinders. Dit gaan vrolik, al is dit Sondagaand. Die grootmense gesels en lag en kuier baie gesellig, terwyl ons klomp niggies in die sitkamer skinder en giggel (wat anders?)

Ons groot niggie is ook daar. Sy het in Suid Afrika studeer en is nou regtig wêreldwys. Sy sit ‘n seven single op die platespeler en vra ons moet almal in ‘n kring op die mat kom staan.  

“Ek wil vir julle leer BIRD,” verduidelik sy opgewonde.

(As jy so oud of ouer as ek is, het jy dalk ‘n vae idee wat hierdie Bird nou eintlik is. Jy staan teenoor jou dansmaat met elkeen een van julle voete voor julle. Daardie voet is gepunt en jy raak net so met die toon aan die vloer terwyl die hak ritmies op en af. Dis nou hierdie voetjie wat die ritme hou en die lyf wikkel saam. Met jou hande doen jy allerhande dinge – jy maak of jy visvang, of jy met ‘n verkyker vir wie ookal kyk ... ag, eintlik enige lawwe ding. Intussen wip die voetjie so op die toon en lyfie wikkel saam.)

“Wat is bird?” wil een weet.

“Man, dis ‘n soort dans. Kom net, dan wys ek julle. Dit is nogal maklik en dis baie lekker.”

Toe ek hoor dis dans, gaan sit ek weer op my stoel. Ek het nog nooit daarvan gehou om te dans dat ander mense vir my kyk nie. Ek glo ek kan nie dans nie en almal sal vir my lag. Maar nee! Hulle wil niks daarvan hoor dat ek nie ook kom bird nie.

Het ek maar liewer daar bly sit!

Hoe later, hoe kwater. Die platespeler word harder en harder gedraai en dieselfde lied word oor en oor gespeel. Ons bird dat hoor en sien vergaan. Die een wil snaakser wees as die ander.

Oupa sit al reg met die Bybel toe die grootmense ons kom roep. My pa vra onderlangs wat het ons gedoen en ek antwoord hom giggelend: “Ons het gebird, Pappa.”

Ons is terug plaas toe en het salig gaan slaap. Maandagoggend was ‘n ander oggend. Net na ontbyt roep my pa ons drie kamer toe.

Ek weet, hier kom nou groot moeilikheid. Sondag is nie ‘n dag vir goetertjies nie. Ons weet dit baie goed. Jy was nie jou hare nie ... jy swem nie ... jy brei nie ... jy werk nie ‘n af knoop aan nie ... jy polish nie jou skoene nie en so voor die wragtag sal jy ook nie dans nie!

Hy begin by die oudste: “Wat het julle gisteraand gedoen?”

Voor sy nog lekker kan antwoord, lê sy oor sy skoot en val die plathandhoue. Dieselfde gebeur met my. Die kleintjie het nie gedans nie, maar sy was saam met ons daar in die sitkamer.

“Wat het jou susters gisteraand gedoen?” vra hy streng.

“Ek weet nie, Pappa,” antwoord sy beangs.

“En dan jok jy ook nog vir my!” Hy trek haar oor sy skoot en die plathand doen sy werk.

Hierdie pak slae van my pa was een van net twee wat ek in my lewe by hom gekry het. Maar ek belowe jou, op ‘n Sondag dans ek nooit weer nie. Of dit nou bird, of twist of wals of die riel is, jy sal my nie weer daarmee betrap nie.

Woensdag 27 Desember 2023

OUJAAR EN SY DINGE

 

Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor?

Dalk in afwagting op die nuwe jaar? In afwagting en hóóp op die nuwe jaar? In afwagting, hoop en vásberadenheid op die nuwe jaar?

As kind op die plaas was Nuwejaarsdag regtig vir my ‘n baie lekker dag. Ons sou die vorige aand by familie langsaan gaan braai het. Tannie Leentjie was ‘n voorslag in die kombuis en die tafel het altyd gekreun onder die oorvloed kos wat daar was. Jy moes my tannie persoonlik geken het om die omvang daarvan te besef.

Ek het baie maal gewonder wat agterna van al die oorskietkos geword het. Dalk het hulle dit ook (soos ons) die dae daarna geëet ... of dalk ook nie? Ek weet nie, maar ons het nooit in al die tye iets op tafel gekry wat jou enigsins sou laat dink het dat dit iets van gister was wat sy weer opgedis het nie.

In elk geval, die oggend van Nuwejaarsdag het hulle dan by ons kom koek en tee. Dit was so buite die gewone handel en wandel op die plaas, dat dit my áltyd laat trippel het van opgewondenheid. Ma was ‘n uithaler bakster en die koek was altyd die lekkerste van alle lekker dinge. Ma kon eintlik (so glo ek) alles op aarde doen! Niks was ooit te veel of te moeilik vir haar nie.

Nog een van die lekker dinge was dat Pa en oom Andy het ook nie op Nuwejaarsdag gewerk nie. Hulle het saam gekuier en saam sommer net niks gedoen nie daardie dag. Die geselskap tussen die grootmense was ontspanne en vrolik. By tye was hulle sommer lekker verspot ook. Ek kon my verkyk aan my stil pa wat ewe skielik vol grappies was. As ek vandag dink aan daardie dae, voel dit vir my of hulle so half verlig was dat die jaar op sy einde was.

Nou sien ek jy frons omdat ek dink hulle was verlig? Hmm, ja, dit kan dalk vreemd klink, maar in my hart dink ek hulle was verlig omdat die moeilike, droë jaar op die plaas verby was en het, soos baie van ons, geglo (of gehoop?) dat die jaar wat voorlê dalk beter sou wees en meer vreugde sou verskaf. Hoe sal ek weet?

Dit was dan my ondervinding van wat Nuwejaar is – geen gewonder en gesoek na nuwe (onuitvoerbare) voornemens vir die jaar wat voorlê nie. Geen gesukkel om die bedrading in my kop stil en rustig te kry soos deesdae nie. Dit was vir ons genoeg om die dag met familie te deel. As kind het ek nooit meer as dit verwag nie.

Mettertyd het ek anders begin dink oor Nuwejaarsdag. Eers sou ek die jaar wat verby is tot in die fynste besonderhede ontleed – al die mooi dinge en dan al die swaarkry dinge. Waarom voel dit ewig of die swaarkry meer as die mooi in die lewe is?

Ek het begin wonder oor wat alles voorlê. Ek het begin vrees vir dinge wat dalk kón gebeur. Ek het halsreikend begin uitsien na dinge wat asseblief tog dalk móés gebeur.

Dis asof jy op daardie laaste oomblik van die jaar op ‘n mespunt balanseer – óf jy het iets om oor opgewonde te wees in die jaar wat voorlê, óf jy het niks nie, amper soos om in ‘n uitsiglose tonnel te wees. Jy het niks om na uit te sien nie, jy traak dus ook nie oor dit wat kom nie.

Ongelukkig is die lewe om ons mos nie net mooi en lekker en goed nie, ha? Dit is dus ‘n gegewe feit dat teleurstellings deel van die jaar wat voorlê sal wees. Maar seblief tog, laat ons nie nou al daaroor begin top en huil nie.

Op Oujaarsdag die oggend bel ek ‘n vriendin. “Gaan ek en jy netnou ‘n koffietjie iewers drink? Ons het so lank...” nooi ek uit.

Sy val my vervaard in die rede: “Nee, glad nie vandag nie, Vriendin. Hoe werk jou dinge dan? Ons maak mos skoon!”

Ek het my verbeel sy klink ‘n bietjie uitasem toe sy die telefoon antwoord en nou weet ek waarom! Hulle maak skoon!

“Nou hoe dan nou so?” vra ek verbaas.

In die agtergrond hoor ek iets val en sy skree op ‘n kind om dadelik die water daar op te droog.

Dis vir ‘n oomblik of twee stil voordat sy my antwoord: “Ons het ‘n bietjie laat begin vanoggend, jong. Ek weet nie of ons alles skoon gaan kry nie. Die lakens hang al op die draad en die laaste klere is nou in die masjien. Gelukkig is die goed deesdae mos nie meer alles katoen dat dit stryk nodig het nie.”

Ek trek my asem verbaas op. “Jy bedoel jy was en stryk op hierdie Sondag en die huis moet ook nog aan die kant en skoon kom? Ek verstaan glad nie hoekom nie.”

Sy lag. “’n Mens gaan mos nie Nuwejaar in met ‘n vuil huis nie! Dit bring net skade en skande oor jou huis in die jaar wat kom.”

Ek sluk ‘n slag as ek dink dat my skottelgoed nog op die droograk staan en my wasgoedmandjie loop oor. Met al die kuiermense bly die wasgoed mos opgaar – as hulle weg is, sal ons heeldag was, glo ek.

Voordat ek verder kan praat, sny sy die oproep kort: “Dankie vir die uitnodiging, my vriendin. Ons moet regtig iewers in die jaar wat kom weer ‘n slag lekker kuier.”

Ek kyk om my rond en besef dat ek darem regtig die onheil oor my huis bring met alles wat so half ... nie skoon is nie?

Natuurlik kuier ons toe die Sondagaand tot amper ligdag met die familie. Die kinders is later almal bed toe, maar ons grootmense sit om die vuur pas die honde op. Die hele dorp skiet klappers en ons honde is angsbevange ...

Ons sit en gesels oor die jaar wat verby is. Hier en daar pink een ‘n traan, maar net daarna skree ons weer soos ons lag. Ag, dis lekker om met jou hartsmense te kuier en weer ‘n keer sommer net jouself te kan wees.

Ons praat oor Nuwejaarsvoornemens. Ek vertel vir hulle dat ek voorheen so ver gegaan het om ‘n joernaal met al my voornemens te begin – twee jaar na mekaar – maar dit nooit gebruik het nie. Natuurlik dink die mans dat ek iewers ‘n klein skroefie los het om so oor “net nog ‘n dag op die almanak” te voel! Ek erken skaam dat ek nog altyd daarvan hou om dit te doen, maar dat ek besluit het ‘n joernaal is darem seker nie nodig nie.

Vra een spottend vir my: “Nou waar skryf jy dit deesdae neer ... teen die toiletmuur?”

Ek vervies my bloedig en antwoord hom nie. En dadelik weet ek: ek moet in die jaar wat kom beslis leer om my humeur te beteuel. (Ek mag seker?)

Vroeg op Nuwejaarsoggend is daar ‘n klop aan die deur. Die hele huis slaap nog, maar ek probeer nou orde in die kombuis kry voordat almal kom ontbyt soek. Die manne sou kamma gisteraand skottelgoed gewas het, maar daarvan het niks gekom nie.

Toe die klokkie ‘n tweede keer dringend skree, draf ek deur toe. Ek stryk my hare vinnig plat en knoop so in die loop my japon toe. Wie op aarde is so vroeg op straat? As daar so vroeg aan die deur geklop word, kan dit net siekte of dood wees. ‘n Yskoue gevoel kriewel met my ruggraat af.

Ek maak die deur oop ... regtig? Ek sukkel om nie te wys hoe verbaas is ek om te sien wie dit is nie.

Voor my staan die bure: Pa, Ma en vier orrelpypies. Almal is netjies uitgevat in, soos dit vir mý lyk, hul Sondagklere. Die seuntjies se wilde hare is nat gekam en die sussie se haartjies is styf in ‘n bokstert.

“Môre,” groet ek so half huiwerig. Hulle reageer glad nie. Ek frons liggies en vra: “Wil julle in kom?”

Buurman skud sy kop. “Nee, ons kom julle net ‘n heppie New Year toewens,” kondig hy aan en steek sy hand na my toe uit.

Ek skud verbaas hand met hom. “Mooi Nuwejaar vir julle ook, Buurman.” Ek wys na die kleintjies wat so netjies aangetrek is. “Gaan julle iewers heen? Julle is so deftig aangetrek,” wil ek nuuskierig weet.

Buurvrou kyk my verontwaardig aan. “Nee, hoekom sal jy nou so dink? Ons het nie geld vir uitgaan nie. Die nuwe klere het te veel gekos.”

Sy sien die verwarring in my oë en lag simpatiek. “Dit lyk vir my nie jy verstaan nie. ‘n Mens moet mos nuwe klere op Nuwejaarsdag aantrek. Jy gaan die jaar nuut in, sien. Dit bring voorspoed in jou huis.”

Sy kyk so in my sitkamer rond en ek is seker sy sien die skeur in die sitkamerbank se bekleedsel. “Julle kan dit gerus ook probeer, hoor. Dit werk regtig!”

Nadat hulle weg is, kyk ek met ander oë na die verweerde sitkamerstel. Ai, dink ek so by myself, dis jammer dat al die winkels vandag toe is. Waar kry ek nou skielik nuwe klere om aan te trek?

En net daar pak die ding my beet. Ek het gesweer ek maak nooit weer in my hele Nuwejaarsvoornemens nie, maar sowaar, ‘n mens moet mos darem beplan vir die toekoms, ha?

Ek tap water in om die skottelgoed te was, maar vergeet byna om die kraan weer toe te draai. My kop is by Oujaar ... en Nuwejaar ... en die verganklikheid van alles ... en dat ‘n mens ‘n keuse het met sommige dinge, maar nie altyd nie.

My gedagtegang word wreed onderbreek deur die gaste wat nou almal gelyk opgestaan het. Die mans vra vir koffie en die kinders kla hulle is honger. Ek besef ek het nog my slaapklere aan en verskoon myself om te gaan aantrek.

My man kry my waar ek op die hoek van die bed sit met my kop in my hande.

“Vroutjie, is daar fout iewers?” wil hy besorg weet.

Ek skud my kop. “Ha-a, ek sit maar net en wonder oor die jaar wat kom – watter versekering het ons dat ons volgende jaar hierdie tyd weer so saam met almal sal kan kuier?”

My man verstaan nie my skielike diepsinnige denke nie. “Nou hoe dan nou so, my liefde?”

“Ag nee wat, los maar, my man. Ek wonder mos maar so oor dinge. Jy weet mos, ha?”

Nou is dit jare later en alles het verander. Ek en manlief is op ons eie in ons klein nessie. Niks meer groot familiekuiers nie. Niks meer bure met stringe kindertjies nie. Net ek en hy en ons ‘onthou-jy-nogs’ van gister en eergister en lank gelede.

Ons wag ook nog vir die Oujaar om te kom en verby te gaan, ja. En ons dank Hom wat ons die genade gee om nog saam te kan wees. Ons bid van Hóm die genade om die jaar wat voorlê tot sy eer te kan gebruik.

 

Maandag 18 Desember 2023

DIE DAG TOE DIE KIND IN DIE HEMEL WAS

 


Marthatjie was maar drie toe haar babasussie dood is. Die slim mense reken dat ‘n kind nie so ver terug kan onthou nie, maar Martha sal vandag ten sterkste met jou daarvan verskil.

Van die feit dat haar ma toe reeds meer as ‘n week lank nie by die huis was nie, kan sy glad nie onthou nie. Dat die sussie vir net so lank baie siek was, weet sy ook niks van nie. Toe Mamma teruggekom het huis toe na ‘n dooie sussie toe, kan sy ook glad nie onthou nie.

Wat sy wel onthou – dit is in haar verstand gegraveer met letters van vuur – is die dag van die begrafnis. O ja! Daarvan kan sy jou vandag, baie jare daarna, nog in detail vertel.

Weet jy dat sy in die hemel was? Kom ek vertel jou daarvan ...

Toe die sussie dood is, het almal vir haar vertel dat sussie hemel toe is na Liewe Jesus toe. Waar is die hemel? En waar is Liewe Jesus? Sy het hierdie goed glad nie verstaan nie, maar was te ... ek het nie die woord om haar gemoedstoestand van daardie dae te beskryf nie ... om eens te probéér om te vra waar die hemel en Liewe Jesus is. Al wat sy geweet het, is dat Sussie nou nie meer by hulle was nie en nooit weer terug sou kom nie.

Op die dag van die begrafnis het iemand haar kom haal en haar na hierdie plek toe gevat. Is dit hoe die hemel lyk? Is dit regtig die hemel hierdie?

Die sussie was in haar klein kissie op ‘n stoel in die oupa se kantoor wat buite op die voorstoep was. Niemand was ooit toegelaat om in daardie kantoor te kom nie. Al sou die deur ook oop staan, sou jy in jou lewe dit nie waag om daar in te gaan nie. Vandag kan Martha dit nie probeer verduidelik van wanneer presies die kind begin glo het dat sy in die hemel was nie. Dit was maar net al die jare so dat sy dit geglo het.

Iemand het vir Marthatjie gesê om haar sussie te groet. Sy het nader gestaan en moes so amper op haar tone staan om by te kom ... of dalk het iemand haar dalk opgetel? Haar ma het vanuit die bondel mense in die vertrek gesê: “Moet haar nie op haar mondjie soen nie.” Marthatjie het gemik vir die sussie se wangetjie, maar iemand anders het bygevoeg: “Ag, soen haar maar op haar mondjie!”

Wat sy toe ook gedoen het daardie dag wat sy in die hemel was.

Baie, baie mense. Baie, baie mense wat baie, baie huil. Die kind se pa en ma huil die meeste. Op ‘n manier maak dit haar baie bang om naby hulle te wees. Hulle sien haar nie. Hulle hoor haar nie. Hulle weet nie van haar nie. Hulle huil net die hele tyd.

Toe is dit dat daardie een tannie, tannie Belia, haar oor hierdie verwilderde kind van drie ontferm. Marthatjie was nie ‘n klein dogtertjie nie en dit moes seker baie swaar gewees het om haar die hele tyd op die arm te hou, maar dit is presies wat hierdie engelvrou gedoen het – sy het die kind nooit neergesit nie. Hoe lank die diens daar by die graf was, weet ons mos nie nou meer nie, maar tannie Belia se arms het geweier om moeg te word.

By tyd wou Marthatjie gaan seker maak of Mamma en Pappa nie al ophou huil het nie. Dan het sy vol hoop tot by hulle geloop daar waar hulle op stoele langs die graf gesit het. Hulle het haar nie gesien nie. Hulle het haar nie gehoor nie. Hulle het nie van haar geweet nie. Hulle het net die hele tyd gehuil. Dan het sy weer stil en stokkerig omgedraai na die arms van die engelvrou wat haar styf vasgehou het. Die arms van die vrou wat haar veilig laat voel het. Die arms van die vrou wat gemaak het dat haar hartjie nie so erg in haar keel geklop het nie.

Dit is hierdie dag van die begrafnis wat hierdie kind se lewe totaal en al verander het. ‘n Lewe waar sy onder andere geglo het dat sy vir ‘n oomblik in die hemel was ...

Woensdag 08 November 2023

DIE OUMAN EN EK

foto geleen

Die ouman is stil ... soos in dóódstil! Om die waarheid te sê, hy praat nooit nie.

Nee, nee, dis nie dat hy afsydig of hoogmoedig is nie, dis net dat hy nie praat nie. En tóg weet hy van my ... van jou ... van ons almal. Dit maak nie saak of dit goed of sleg is nie, hy wéét! Maar praat daaroor? Nooit nie!

Hy weet van jonk wees en oud word. Hy het die kennis daarvan en, so glo ek, sou dit graag met onse sterflinge wou deel as ons ook maar net wou luister.

Gisteraand was een van daardie aande. Die ouman was baldadig met die lig wat hy uitgestraal het. Jy het amper die idee gekry dat as hy kon, hy nog helderder sou skyn! Wat ‘n fees was dit nie. Die kinders het in die strate gespeel tot ver verby slapenstyd. Hulle ma’s het nie gekla nie, want hulle het self ook hulle gebrek aan kuier aangevul en ‘n slag lekker met buurvrou gesels sommer so oor die draad. Verliefdes het ver ente langs die strand gaan stap en minnewoorde gefluister. Hy het glimlaggend toegekyk en (ek sweer!) goedkeurend geknipoog in hulle rigting.

Ander aand weer het hy sy wolmus oor sy kop getrek en sedig net gesit waar hy sit. Ons kon hom nie sien nie, maar hy was dáár! Dis nie dat die ou dikbek was nie, hoor. Hy kry maar net soms die gier om kop in te trek. Maar dan ... is ons nie maar almal so nie?

Ek hoor van mense wat dink die ouman is te geheimsinnig na hulle smaak. Hulle redeneer die ou is net ‘n bietjie té privaat. (Dan wil ek mos nou weet wát presies wil hulle van hom weet?) Ek verstaan dit nie heeltemal nie, maar ek hoor hulle voel so effens bedreig deur die ou.

Heheheee! Die ouman? Gevaarlik? Nee man, moet tog nou regtig nie iets probeer soek wat nie bestaan nie. Hy is regtig net ‘n liefdevolle, vriendelike ouman.

Het jy al agtergekom dat die mense immer kla oor die son? As dit te warm is, kerm hulle daaroor en as dit reën en hulle sien nie die son nie, kerm hulle daaroor óók! Son kan net eenvoudig nooit die regte ding doen nie.

Maar kla oor die maan? Nog nooit daarvan gehoor nie! Niemand brom as die maan skyn of nie skyn nie. Kinders kan heelaand in die maanlig speel. Ek kan my verluister aan kinders wat in die maanlig in die straat speel. Dis net of hulle so ‘n bietjie blyer is om te lewe ... so ‘n bietjie meer lief is vir mekaar ... so ‘n bietjie meer tevrede is met alles en almal.

As ek moet, sal ek vir jou boeke vol oor die maan kan skryf. Soos ek sê, net as ek moet. Jy sien, ek is ook baie lief vir maanskynaande, maar om wetenskaplik liries daaroor te raak, is glad nie vir my nie. Ek kan my verluister aan slimpraatjies oor waarom dit nie gaan reën nie en waarom daar nou ‘n storm op see is en waarom so of sus – alles die maan se skuld! Hulle sien die maan as ... as wát? Ek kry nie eens ‘n woord daarvoor nie, man. Vir my is hy net die liewe ouman wat hom totaal en al nie deur ons aardlinge laat ontstel nie.

Daar is so ‘n mooi storietjie van ‘n ou man wat sy hele lewe aan die maan gewy het. Dit was sy werk om die lig wat die maan snags ‘uitgooi’, weer vol te maak. Hy het nooit iewers heen gegaan nie en nooit ‘n dag oorgeslaan nie. Hy was eindeloos getrou in sy selfopgelegde taak.

Tot op ‘n dag toe sy vrou onverwags die huis verlaat! Die ou man het alles net so gelos en die wêreld in duisternis gedompel. Sy veelbewoë reis oor land, lug en see om haar te vind, herinner ons aan die onwrikbare krag van liefde. Die wêreld was in duisternis gehul, ja, maar het jy geweet dat die donkerte nie kan bestaan teen lig nie? Die donkerte moet eenvoudig wyk die oomblik wat daar lig is. Maan verskaf so ‘n lig ... en ek ... en jy ... en wie almal nog rondom ons.

En moet nou net nie begin verlang na geliefdes wat ver woon nie, hoor! Die ouman is baie gou jou partner in crime. Hy treur saam met jou oor jou ver mense. En dink nou net, jy sit buite en staar na die naghemel. Alleen. Soms hartseer. Soms moedverlore. Soms sommer net moedeloos. En iewers anders op aarde is jou geliefde wat ook na die maan lê en kyk.

En weet jy wat? Die ouman gooi sy lig op julle albei ... en weet van julle albei ... In ‘n sekere sin bring hy die twee van julle tóg bymekaar, nie waar nie? Wanneer jy dit eers verstaan, voel jy ook dan nie meer heeltemal so alleen nie.

Dit alles laat my mos nou wonder hoeveel songs in die maanlig hulle oorsprong het. Ek sien die man op die strand sit. Sy hart trek 'n punt na sy geliefde elders anders op die aardbodem. Die kitaar is half doelloos in sy hande. Mettertyd begin hy hier en daar 'n noot tokkel. Aanvanklink net een of twee note, totdat dit alles in plek val en hy sy hart uit sing aan sy geliefde. Met die maan as enigste toehoorder, speel hy sy hart uit. Wanneer hy dan uiteindelik huis toe stap, loop en neurie hy 'n minnelied aan haar wat so ver van hom af is.

Wanneer jy soms so (gewoonlik alleen) na die maan staar, kan ‘n mens nogal vreeslik nietig voel, is dit nie? Jy sien die sterrehemel, jy sien die maan, jy hoor die wind in die bome ... en jy voel klein! Klein en nietig teenoor die geweldige grootheid van die skepping – net ‘n klein stippeltjie! Dit is sulke tyd wat ‘n mens begin twyfel of daar wel íémand is wat weet van jou.

Dit moet nogal lekker wees om Maan te wees. Jy weet dat Maan glad nie lig uitstraal nie, ha? Maar ja, wanneer daar lig op hom val, weerkaats dit tot aan die eindes van die aarde. Moet ons nie ook so wees nie? Al die liefde, al die vrolikheid, al die mooi van die lewe moet ons kan opvang en weerkaats. Dink net wat ‘n plesier hierdie lewe sal wees as ons almal net die mooi en die goed kan terugkaats na wie ook al waar. Sjoe! Die lewe sal soveel makliker wees, dink jy nie ook so nie?

Die maan kan nie asemhaal nie, maar tog kan dit ons asem wegslaan met die skoonheid van daardie koue, dorre bol. Die maan is nét mooi wanneer jou verstand skoonheid soek en wanneer die hart liefdevol is.

Maar! Selfs die maan het ook ‘n donker kant, nie waar nie? So het ek en jy en almal ‘n donker kant wat ons vir niemand wil wys nie. Ek is so gesteld om net my beter kant aan die buitewêreld te wys, dat so ‘n ontbloting van die donker siel nogal traumaties kan wees. Dit kan my dryf om net nóg dieper weg te kruip en die mure rondom my net nóg hoër te bou.

En dan, wanneer jy alleen is en dit is net jy en die ouman, dit is dán wanneer jy begin wonder ...

Is daar ooit nog iemand wat weet van my bestaan? Iemand wat, soos ek, soek na die waarheid en die mooi van die lewe?

Is.

Daar.

Nog.

Iemand.

Wat.

Weet?

En verstaan?

Liewe Maan, sien jý my hartseer raak?!


Stick Figure – "Angels Above Me" 

Run run river, carry me home to the ocean
The river and the road, take me home to the ocean
The friends in my life like stars in the sky, leave the lights on
I'm trying to get back home, the river keeps on flowing to the ocean

The angels above me they sing that they love me, oh Lord
I'm traveling alone so far from home and love
Oh the angels, angels please don't leave
I'm trying to get to her with the love she deserves, Lord, please

I've been playing my guitar laying underneath the stars for you
In the light of the moon I'll be forever singing tunes for you
When the stars are aligned like the colors in your eyes, greens and blues
It's not when or whether, we'll always be together, it's true

And the angels above me they sing that they love me, oh Lord
I'm traveling alone so far from home and love
Oh the angels, angels please don't leave
I'm trying to get to her with the love she deserves, Lord, please

Ooh, ooh
Ooh, ooh

And sometimes I feel like my heart's gonna burst at the seams
And sometimes I think it's just love that we want or we need
And sometimes I feel like I'm living too much in my dreams
And sometimes, oh Lord, let me be
Let me be, oh

Are you feeling like I'm feeling?
Searching for the meaning of it all
I spend all my days trying to make some sense of it all
The ocean and the seas and the windblown trees are changing
And your love for me, is all I need to keep believing

And the angels above me they sing that they love me, oh Lord
I'm traveling alone so far from home and love
Oh the angels, angels please don't leave
I'm trying to get to her with the love she deserves, Lord, please

Oh, please
Don't leave me
Don't leave me








Maandag 02 Oktober 2023

TRANSFORMASIE

 

So vra iemand my anderdag ‘n vraag wat my aan die dink sit dat jy net rook sien trek! Jy sien, ons as gesin het hierdie lieflike gesin geken en die voorreg gehad om menige vakansie met hulle te deel. In die wintervakansie was hulle by ons op die plaas in die Namib en iewers in Desember het ons by hulle in Suid-Afrika gaan kuier.

Hoe dit presies gebeur het kan ek nie onthou nie, maar ons het byname gekry wat tot vandag toe nog gebruik word. Hulle is vandag nog die “Knopgatte” en ons die “Duinebolle”.

Intussen het baie jare verby gegaan en, hoewel ek nie meer tussen die duine bly nie, was ek maar altyd nog Duinebol. In April trek ek en my liefde see toe en daar raak ek toe mos nou Seeskulp. En dit is presies waar die vraag toe anderdag op my skerm verskyn: "Wanneer kry ek iets filosofies om te lees oor die metamorfose van Duinebol na Seeskulp?"

My eerste gedagte was: As jy dink ek is sommer so ‘n ou skulpie, maak jy ‘n groot fout, my maat. Ek is ‘n seeskulp van formaat!

Maar kom ons begin by die begin van hierdie metamorfose. Iewers in Mei 2022 oorval ‘n probleem met my rug my. Eers probeer ek wag tot die pyn oorgaan, maar daarvan kom niks nie. Toe besoek ek ‘n plaaslike dokter en ons probeer pilletjies en goed, maar dit werk toe ook nie. Hierdie rug soek na aandag, en glad nie net ‘n bietjie nie! Jy moet verstaan, ek is in ‘n oomblik van my voete af gehelp. Ek sit letterlik my dag om. Van koek bak en ander dinge is daar opeens toe niks oor nie.

My liefde het al jare lank ‘n probleem met sy knie en ons weet almal dat daar net een oplossing voor is – ‘n knievervanging. Maar as jy nou ‘n man ken soos ek myne ken, sal jy weet dat dinge nie sommer skielik gebeur nie. O nee, daar moet nog eers baie water in die see loop voordat daardie knie vervang sal word!

Op ‘n dag sit ons twee (soos al baie male vantevore) in ons kombuis in Keetmanshoop en bespiegel oor wat ons vorentoe te doen staan. Ons albei besef die huis is te groot vir ons en iewers sal iets nou moet begin gebeur. Dit is wanneer my liefde my daaraan herinner dat daar ‘n woonstel by die kus is – ‘n woonstel wat my seun lankal aangebied het. En net daar het die dinge stadig maar seker begin roer.

Ons ry Walvisbaai toe en praat met ons kinders. Ja, dan sal dit nou so wees. Ons sal moet wortels uittrek en verplant.

Maar hoe doen ‘n mens dit? Hoe trek jy uit ‘n huis uit waarin jy jou kinders gesien grootword het? ‘n Huis wat vir jare der jare jou toevlug en veilige skuilplek was? Hoe los jy dit sommer net agter jou? My gedagtes is deurmekaar en ek kan nie lekker sit en logies beplan en besluit nie.

Een aand (waarom moet dit altyd wees as die son onder is?) besluit ek om die olifant happie vir happie te eet. Selfs Rome is steen vir steen gebou, nie waar nie?

Ons adverteer die huis. Die stories oor hoekom ons nie die huis verkoop sal kry nie is byna soveel soos wat daar mense in die dorp is. Ek en my liefde is egter rustig. Niks jaag ons mos nie. Ons vat hom maar soos hy kom.

Ek begin my kaste die een na die ander opruim. Dit gee weg, verkoop en gooi weg dat dit ‘n aardigheid is. Die heel eerste rak – my handdoeke – het my hart gebreek. Elke handdoek is spesiaal en elkeen het sy eie storie. Om te dink dat ‘n ander dit nou gaan gebruik en later weggooi ...! Gelukkig het dit later baie makliker geraak. Dis selfs lekker om iets sommer net te vat en in die asdrom te gooi.

Waarom gaar ‘n mens so baie op? Waarom dink jy dat jy dit dalk volgende jaar of die jaar daarna nodig gaan kry? Dis ‘n ingebore vraatsigheid wat jou laat vasklou aan die aardse dinge, niks anders nie.

In November sien ek ‘n spesialis in Windhoek. Ons spandeer ‘n dag om al die toetse en plate te kry. Ons ry die volgende oggend terug Keetmanshoop toe, want die dokter sal nie daardie dag in sy spreekkamer wees nie. Ons kom by die huis en probeer so gou as moontlik uit te pak en in die bad te kom – Windhoek toe ry en terug is nie vir sissies nie, hoor.

Toe ek dit die minste verwag daardie aand, bel die dokter. Die woorde is soos stormwater bo-oor my kop. Ek is te verslae om hom te antwoord of dalk ‘n vraag of twee te vra.

“Vyf werwels sonder kussinkies.”

“Erge skoliose.”

“Gebreekte werwel.”

Ek sluk-sluk ‘n slag om asem te kry. “Maar Dokter ... operasie?”

Hy antwoord my net so vinnig soos wat hy die probleme opgenoem het: “Ons kan dit sommer iewers inpas.”

Gelukkig het ek die teenwoordigheid van gees om hom eers te stop in sy planne. “Kom ons wag eers, asseblief. Ek dink ons moet eers daaroor praat.”

Hy stem saam en groet. My volgende afspraak is in Februarie volgende jaar. Ons sal dan die operasie bespreek en sommer dalk laat doen ook.

Mense wil gereeld by my weet hoe voel ek oor die trekkery Walvisbaai toe. Ek kan hulle eerlik antwoord dat ek eintlik half nie dink aan die trek nie. Ja, jy’s reg, ek dink nie aan die oppak en weggaan van Keetmanshoop af nie. Al waarop ek fokus, is die eerste oggend wat ek in my nuwe tuiste wakker sal word en sal besef: “Hier is ons nou!”

Dom? Volstruispolitiek? Noem dit wat jy wil, maar dit het nogal vir my gewerk. Ek het nie swarigheid gesien in die inpak nie. Ek het nie swarigheid gesien in die groet van vriende nie. Ek het, om die waarheid te sê, swarigheid in niks gesien nie. Ek het net op daardie eerste oggend in my nuwe plekkie gekonsentreer.

Ek het met dankbaarheid begin dink aan die voordele wat ons trek sou meebring: Naby mediese sorg, koeler klimaat, die wye oseaan wat wag dat ek daar op die rotse kan gaan sit en die vrede kan indrink. Vriende wat ek jare laas gesien het, sal ek nou weer kan sien en mee kuier. Hmmm, dankbaarheid, beslis!

Kersfees kom en gaan en ons begin beplan vir die besoek aan die dokter in Windhoek. Eers wil ek niks weet van ‘n operasie nie. Ek was, om die waarheid te sê, vrekbang vir daardie operasie. Ek wou nie dink aan die pyn daarna nie – die huidige pyn was dan vir my meer aanvaarbaar.

My man laat my later besef dat dit tog maar vir die beste is om te laat opereer. Natuurlik is dit! Dis mos net my eiekoppigheid wat dit nie wou erken nie. Ek besluit om maar toe te gee. Ek sal dit laat doen. Ek gaan koop vir my mooi nagklere en kry my gedagtes agtermekaar – dit is net vir my eie beswil, nie waar nie?

Toe dit tyd raak, pak ek twee tassies: een vir oornag in die gastehuis, en die ander vir die hospitaal. Ek is reg. Ek is gemotiveerd. Ek wil hospitaal toe gaan en gesond huis toe gaan later.

Wat ‘n skok! Die dokter vra dat ek weer moet laat plate neem. Hy sit en kyk daarna en lees die verslag. Dan kyk hy op.

“Mevrou, ek kan jou nie opereer nie. Die osteoporose is net te veel. Ek sal jou breek as ek enigiets probeer doen in jou rug.”

Mensdom! Die skok is baie groter as die aand wat hy my gebel het. Ek voel of ek so pas deur ‘n groot hand van my voete af geklap is. Ek is stom. Verward. Ek voel beroof van iets wat ek nog glad nie gehad het nie. Wat nou verder?

Ons ry gastehuis toe en voor ons ry ‘n motor met die nommerplaat Ps 91. Ek sien dit, maar steur my eers nie daaraan nie. Dit bly egter voor ons van robot tot robot. Die dankbare wete kom in my hart lê: Ek is veilig en Hy weet van my!

Ps. 91:1. HY wat in die skuilplek van die Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. 4. Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n skild en pantser.

Ons gaan huis toe en ek pak nog steeds in. Nou moet ek erken, al het ek geweet dat ek nooit weer ‘n koek sal kan bak nie, was ek glad nie bereid om my groot oond en al my toerusting weg te maak nie. Ek het alles ingepak en myself belowe dat dit wel beter sal gaan vorentoe en dan sal ek weer bak dat dit klap ... wat toe uiteindelik glad realiseer het nie!

Wat is dan nou die geheim daaraan om te trek en nie in ‘n diepe depressie te verval nie? Daar is soveel wat jy verloor! Jou huis, jou vriende, jou sommer álles! Nommer een: aanvaar! Jy het die besluit gemaak dat jy gaan trek. Niemand het jou gedwing om dit te doen nie. En dan nou wat? Nou aanvaar jy dit wat na jou kant toe kom. Nee, jy omhels die verandering en koester dit. Dit is die geleentheid om nuwe horisonne te ondersoek. Daar waar die liggaam reeds beperkings stel aan jou vermoëns, vind jy bloot iets anders wat jou siel kan voed en die toekoms dag vir dag tegemoet mee kan gaan.

Ons lewe in ‘n verganklike wêreld, in ‘n verganklike liggaam. Dit is nou my keuse om op die hier en die nou te fokus en om elke dag te geniet. So deur die nuwe koue omgewing, die stof wat die ooswind bring en die mistige oggende en aande, het die vrede in my hart plek kom maak.

Ek fokus op die huidige oomblik. Ek vind my vreugde in die klein dingetjies van elke dag ... en in die proses sluit ek my hart vir dit wat dalk verlore gegaan het met ons trek hierheen.

Wat presies is metamorfose? Dit is die proses van transformasie (in 'n insek of amfibie) van 'n onvolwasse vorm na 'n volwasse vorm in twee of meer verskillende stadiums.

Daar het jy dit dan nou! Die Seeskulp is nou mooi snoesig in haar plekkie en steeds aan’t ontwikkel tot ons uiteindelik die eindstreep sal bereik.

 


“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...