Marthatjie was maar drie toe haar babasussie dood is. Die slim mense reken dat ‘n kind nie so ver terug kan onthou nie, maar Martha sal vandag ten sterkste met jou daarvan verskil.
Van die feit dat haar ma toe
reeds meer as ‘n week lank nie by die huis was nie, kan sy glad nie onthou nie.
Dat die sussie vir net so lank baie siek was, weet sy ook niks van nie. Toe
Mamma teruggekom het huis toe na ‘n dooie sussie toe, kan sy ook glad nie
onthou nie.
Wat sy wel onthou – dit is in
haar verstand gegraveer met letters van vuur – is die dag van die begrafnis. O
ja! Daarvan kan sy jou vandag, baie jare daarna, nog in detail vertel.
Weet jy dat sy in die hemel
was? Kom ek vertel jou daarvan ...
Toe die sussie dood is, het
almal vir haar vertel dat sussie hemel toe is na Liewe Jesus toe. Waar is die
hemel? En waar is Liewe Jesus? Sy het hierdie goed glad nie verstaan nie, maar
was te ... ek het nie die woord om haar gemoedstoestand van daardie dae te
beskryf nie ... om eens te probéér om te vra waar die hemel en Liewe Jesus is.
Al wat sy geweet het, is dat Sussie nou nie meer by hulle was nie en nooit weer
terug sou kom nie.
Op die dag van die begrafnis
het iemand haar kom haal en haar na hierdie plek toe gevat. Is dit hoe die
hemel lyk? Is dit regtig die hemel hierdie?
Die sussie was in haar klein
kissie op ‘n stoel in die oupa se kantoor wat buite op die voorstoep was.
Niemand was ooit toegelaat om in daardie kantoor te kom nie. Al sou die deur
ook oop staan, sou jy in jou lewe dit nie waag om daar in te gaan nie. Vandag
kan Martha dit nie probeer verduidelik van wanneer presies die kind begin glo
het dat sy in die hemel was nie. Dit was maar net al die jare so dat sy dit
geglo het.
Iemand het vir Marthatjie gesê
om haar sussie te groet. Sy het nader gestaan en moes so amper op haar tone
staan om by te kom ... of dalk het iemand haar dalk opgetel? Haar ma het vanuit
die bondel mense in die vertrek gesê: “Moet haar nie op haar mondjie soen nie.”
Marthatjie het gemik vir die sussie se wangetjie, maar iemand anders het
bygevoeg: “Ag, soen haar maar op haar mondjie!”
Wat sy toe ook gedoen het
daardie dag wat sy in die hemel was.
Baie, baie mense. Baie, baie
mense wat baie, baie huil. Die kind se pa en ma huil die meeste. Op ‘n manier
maak dit haar baie bang om naby hulle te wees. Hulle sien haar nie. Hulle hoor
haar nie. Hulle weet nie van haar nie. Hulle huil net die hele tyd.
Toe is dit dat daardie een
tannie, tannie Belia, haar oor hierdie verwilderde kind van drie ontferm.
Marthatjie was nie ‘n klein dogtertjie nie en dit moes seker baie swaar gewees
het om haar die hele tyd op die arm te hou, maar dit is presies wat hierdie
engelvrou gedoen het – sy het die kind nooit neergesit nie. Hoe lank die diens
daar by die graf was, weet ons mos nie nou meer nie, maar tannie Belia se arms
het geweier om moeg te word.
By tyd wou Marthatjie gaan
seker maak of Mamma en Pappa nie al ophou huil het nie. Dan het sy vol hoop tot
by hulle geloop daar waar hulle op stoele langs die graf gesit het. Hulle het
haar nie gesien nie. Hulle het haar nie gehoor nie. Hulle het nie van haar
geweet nie. Hulle het net die hele tyd gehuil. Dan het sy weer stil en
stokkerig omgedraai na die arms van die engelvrou wat haar styf vasgehou het.
Die arms van die vrou wat haar veilig laat voel het. Die arms van die vrou wat
gemaak het dat haar hartjie nie so erg in haar keel geklop het nie.
Dit is hierdie dag van die
begrafnis wat hierdie kind se lewe totaal en al verander het. ‘n Lewe waar sy
onder andere geglo het dat sy vir ‘n oomblik in die hemel was ...
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking