So vra iemand my anderdag ‘n
vraag wat my aan die dink sit dat jy net rook sien trek! Jy sien, ons as gesin
het hierdie lieflike gesin geken en die voorreg gehad om menige vakansie met
hulle te deel. In die wintervakansie was hulle by ons op die plaas in die Namib
en iewers in Desember het ons by hulle in Suid-Afrika gaan kuier.
Hoe dit presies gebeur het kan
ek nie onthou nie, maar ons het byname gekry wat tot vandag toe nog gebruik
word. Hulle is vandag nog die “Knopgatte” en ons die “Duinebolle”.
Intussen het baie jare verby
gegaan en, hoewel ek nie meer tussen die duine bly nie, was ek maar altyd nog Duinebol.
In April trek ek en my liefde see toe en daar raak ek toe mos nou Seeskulp. En
dit is presies waar die vraag toe anderdag op my skerm verskyn: "Wanneer
kry ek iets filosofies om te lees oor die metamorfose van Duinebol na Seeskulp?"
My eerste gedagte was: As jy
dink ek is sommer so ‘n ou skulpie, maak jy ‘n groot fout, my maat. Ek is ‘n
seeskulp van formaat!
Maar kom ons begin by die begin
van hierdie metamorfose. Iewers in Mei 2022 oorval ‘n probleem met my rug my.
Eers probeer ek wag tot die pyn oorgaan, maar daarvan kom niks nie. Toe besoek
ek ‘n plaaslike dokter en ons probeer pilletjies en goed, maar dit werk toe ook
nie. Hierdie rug soek na aandag, en glad nie net ‘n bietjie nie! Jy moet
verstaan, ek is in ‘n oomblik van my voete af gehelp. Ek sit letterlik my dag
om. Van koek bak en ander dinge is daar opeens toe niks oor nie.
My liefde het al jare lank ‘n
probleem met sy knie en ons weet almal dat daar net een oplossing voor is – ‘n
knievervanging. Maar as jy nou ‘n man ken soos ek myne ken, sal jy weet dat
dinge nie sommer skielik gebeur nie. O nee, daar moet nog eers baie water in
die see loop voordat daardie knie vervang sal word!
Op ‘n dag sit ons twee (soos al
baie male vantevore) in ons kombuis in Keetmanshoop en bespiegel oor wat ons
vorentoe te doen staan. Ons albei besef die huis is te groot vir ons en iewers
sal iets nou moet begin gebeur. Dit is wanneer my liefde my daaraan herinner
dat daar ‘n woonstel by die kus is – ‘n woonstel wat my seun lankal aangebied
het. En net daar het die dinge stadig maar seker begin roer.
Ons ry Walvisbaai toe en praat
met ons kinders. Ja, dan sal dit nou so wees. Ons sal moet wortels uittrek en
verplant.
Maar hoe doen ‘n mens dit? Hoe trek
jy uit ‘n huis uit waarin jy jou kinders gesien grootword het? ‘n Huis wat vir
jare der jare jou toevlug en veilige skuilplek was? Hoe los jy dit sommer net
agter jou? My gedagtes is deurmekaar en ek kan nie lekker sit en logies beplan
en besluit nie.
Een aand (waarom moet dit altyd
wees as die son onder is?) besluit ek om die olifant happie vir happie te eet. Selfs
Rome is steen vir steen gebou, nie waar nie?
Ons adverteer die huis. Die stories
oor hoekom ons nie die huis verkoop sal kry nie is byna soveel soos wat daar
mense in die dorp is. Ek en my liefde is egter rustig. Niks jaag ons mos nie. Ons
vat hom maar soos hy kom.
Ek begin my kaste die een na die
ander opruim. Dit gee weg, verkoop en gooi weg dat dit ‘n aardigheid is. Die
heel eerste rak – my handdoeke – het my hart gebreek. Elke handdoek is spesiaal
en elkeen het sy eie storie. Om te dink dat ‘n ander dit nou gaan gebruik en
later weggooi ...! Gelukkig het dit later baie makliker geraak. Dis selfs
lekker om iets sommer net te vat en in die asdrom te gooi.
Waarom gaar ‘n mens so baie op?
Waarom dink jy dat jy dit dalk volgende jaar of die jaar daarna nodig gaan kry?
Dis ‘n ingebore vraatsigheid wat jou laat vasklou aan die aardse dinge, niks
anders nie.
In November sien ek ‘n spesialis
in Windhoek. Ons spandeer ‘n dag om al die toetse en plate te kry. Ons ry die
volgende oggend terug Keetmanshoop toe, want die dokter sal nie daardie dag in
sy spreekkamer wees nie. Ons kom by die huis en probeer so gou as moontlik uit
te pak en in die bad te kom – Windhoek toe ry en terug is nie vir sissies nie,
hoor.
Toe ek dit die minste verwag
daardie aand, bel die dokter. Die woorde is soos stormwater bo-oor my kop. Ek
is te verslae om hom te antwoord of dalk ‘n vraag of twee te vra.
“Vyf werwels sonder kussinkies.”
“Erge skoliose.”
“Gebreekte werwel.”
Ek sluk-sluk ‘n slag om asem te
kry. “Maar Dokter ... operasie?”
Hy antwoord my net so vinnig
soos wat hy die probleme opgenoem het: “Ons kan dit sommer iewers inpas.”
Gelukkig het ek die
teenwoordigheid van gees om hom eers te stop in sy planne. “Kom ons wag eers,
asseblief. Ek dink ons moet eers daaroor praat.”
Hy stem saam en groet. My
volgende afspraak is in Februarie volgende jaar. Ons sal dan die operasie
bespreek en sommer dalk laat doen ook.
Mense wil gereeld by my weet hoe
voel ek oor die trekkery Walvisbaai toe. Ek kan hulle eerlik antwoord dat ek
eintlik half nie dink aan die trek nie. Ja, jy’s reg, ek dink nie aan die oppak
en weggaan van Keetmanshoop af nie. Al waarop ek fokus, is die eerste oggend
wat ek in my nuwe tuiste wakker sal word en sal besef: “Hier is ons nou!”
Dom? Volstruispolitiek? Noem dit
wat jy wil, maar dit het nogal vir my gewerk. Ek het nie swarigheid gesien in
die inpak nie. Ek het nie swarigheid gesien in die groet van vriende nie. Ek
het, om die waarheid te sê, swarigheid in niks gesien nie. Ek het net op daardie
eerste oggend in my nuwe plekkie gekonsentreer.
Ek het met dankbaarheid begin
dink aan die voordele wat ons trek sou meebring: Naby mediese sorg, koeler
klimaat, die wye oseaan wat wag dat ek daar op die rotse kan gaan sit en die
vrede kan indrink. Vriende wat ek jare laas gesien het, sal ek nou weer kan
sien en mee kuier. Hmmm, dankbaarheid, beslis!
Kersfees kom en gaan en ons
begin beplan vir die besoek aan die dokter in Windhoek. Eers wil ek niks weet
van ‘n operasie nie. Ek was, om die waarheid te sê, vrekbang vir daardie
operasie. Ek wou nie dink aan die pyn daarna nie – die huidige pyn was dan vir
my meer aanvaarbaar.
My man laat my later besef dat
dit tog maar vir die beste is om te laat opereer. Natuurlik is dit! Dis mos net
my eiekoppigheid wat dit nie wou erken nie. Ek besluit om maar toe te gee. Ek
sal dit laat doen. Ek gaan koop vir my mooi nagklere en kry my gedagtes
agtermekaar – dit is net vir my eie beswil, nie waar nie?
Toe dit tyd raak, pak ek twee
tassies: een vir oornag in die gastehuis, en die ander vir die hospitaal. Ek is
reg. Ek is gemotiveerd. Ek wil hospitaal toe gaan en gesond huis toe gaan
later.
Wat ‘n skok! Die dokter vra dat
ek weer moet laat plate neem. Hy sit en kyk daarna en lees die verslag. Dan kyk
hy op.
“Mevrou, ek kan jou nie opereer
nie. Die osteoporose is net te veel. Ek sal jou breek as ek enigiets probeer
doen in jou rug.”
Mensdom! Die skok is baie groter
as die aand wat hy my gebel het. Ek voel of ek so pas deur ‘n groot hand van my
voete af geklap is. Ek is stom. Verward. Ek voel beroof van iets wat ek nog
glad nie gehad het nie. Wat nou verder?
Ons ry gastehuis toe en voor ons
ry ‘n motor met die nommerplaat Ps 91. Ek sien dit, maar steur my eers nie
daaraan nie. Dit bly egter voor ons van robot tot robot. Die dankbare wete kom
in my hart lê: Ek is veilig en Hy weet van my!
Ps. 91:1. HY wat in die skuilplek van die
Allerhoogste sit, sal vernag in die skaduwee van die Almagtige. 4. Hy
sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil; sy trou is 'n
skild en pantser.
Ons gaan huis toe en ek pak nog
steeds in. Nou moet ek erken, al het ek geweet dat ek nooit weer ‘n koek sal
kan bak nie, was ek glad nie bereid om my groot oond en al my toerusting weg te
maak nie. Ek het alles ingepak en myself belowe dat dit wel beter sal gaan
vorentoe en dan sal ek weer bak dat dit klap ... wat toe uiteindelik glad realiseer
het nie!
Wat is dan nou die geheim
daaraan om te trek en nie in ‘n diepe depressie te verval nie? Daar is soveel
wat jy verloor! Jou huis, jou vriende, jou sommer álles! Nommer een: aanvaar!
Jy het die besluit gemaak dat jy gaan trek. Niemand het jou gedwing om dit te
doen nie. En dan nou wat? Nou aanvaar jy dit wat na jou kant toe kom. Nee, jy
omhels die verandering en koester dit. Dit is die geleentheid om nuwe horisonne
te ondersoek. Daar waar die liggaam reeds beperkings stel aan jou vermoëns,
vind jy bloot iets anders wat jou siel kan voed en die toekoms dag vir dag
tegemoet mee kan gaan.
Ons lewe in ‘n verganklike wêreld,
in ‘n verganklike liggaam. Dit is nou my keuse om op die hier en die nou te fokus
en om elke dag te geniet. So deur die nuwe koue omgewing, die stof wat die
ooswind bring en die mistige oggende en aande, het die vrede in my hart plek
kom maak.
Ek fokus op die huidige oomblik.
Ek vind my vreugde in die klein dingetjies van elke dag ... en in die proses
sluit ek my hart vir dit wat dalk verlore gegaan het met ons trek hierheen.
Wat presies is metamorfose? Dit is die proses van
transformasie (in 'n insek of amfibie) van 'n onvolwasse vorm na 'n volwasse
vorm in twee of meer verskillende stadiums.
Daar het jy dit dan
nou! Die Seeskulp is nou mooi snoesig in haar plekkie en steeds aan’t ontwikkel
tot ons uiteindelik die eindstreep sal bereik.
Beautiful
AntwoordVee uitSo lief vir jou, dankie dat ek elke slag jou stem kan hoor as ek jou stories lees
AntwoordVee uit