Om saam met my pa op
die plaas te ry, was ‘n belewenis. Onthou nou net, ‘plaas’ beteken binne-in die
Namib met sy mooi, rooi duine.
Geen duin, geen
opdraand of afdraand was vir Pa te veel nie. Ek moet byvoeg dat as ‘n mens
daardie paadjies wat jy (die meeste van hulle) self uitgery het en pad gemaak
het, dan sal dit seker nie ‘n probleem wees nie, sal dit? Pa het hulle gery met
die selfversekering wat dit ‘n meester van alle paaie betaam. Dit het soms vir my gevoel of hy nooit gerem of
stadiger gery het nie – met die spoed wat hy wegtrek, jaag hy voort tot waar
ookal en weer terug.
‘n Dag wat ek nooit,
ooit sal vergeet nie, was die dag wat ons op pad was na ‘n ander plaas toe waar die
dag biduur gehou sou word. Maar kyk, daardie dag was ons so ‘n effentjies laat
en moes ou Adderjan so ‘n klein bietjie ekstra natgooi.
Die paadjie is
klipperig en vol slote, maar ons storm voort. Hy swaai en swenk ... om die
klippe ... oor die klippe ... deur die rivierlopie ...oor die bulte en deur die
laagtes. Soms is die bosse gevaarlik na aan die pad en moet hy mooi mik om nie
sy kar te krap nie.
Ma was nie daardie dag
in ‘n baie goeie bui nie. Wat gepla het, maak seker nou ook nie meer saak nie.
Sy sit voor langs Pa –
stokstyf en gespanne met die onderlip vasgebyt. Ek het haar dopgehou en het
geweet dit gaan een of ander tyd te veel raak vir haar.
Opeens bars die bom: “Moenie
so jaag nie!”
Hy vra doodluiters,
sonder om stadiger te ry, natuurlik: “Nou hoeveel jaag ek?”
Hy het baie goed geweet
dat sy nie daar waar sy sit die spoedmeter kon sien nie! Daarom dat hy so ‘n
vermakerige vraag kon vra.
Al wat Ma kon sien, was
die aantal revolusies van die motor en sonder huiwering antwoord sy: “Twee
duisend!”
“Ek het so gedink, ja,”
antwoord Pa doodluiters.
Lol ons kwaai Generaal, liefde xxx
AntwoordVee uit