Ek wonder darem wat het van Meneer H en die
tannie geword? Sou hulle dalk nog lewe? Hy was darem regtig baie goed vir my,
dink ek met ‘n sug toe ek terug lê in die salige waters.
En toe tref die dag met die sonde my
mos!
As jy weet wie Suster Theresa, Mark
Condor en Ruiter in Swart is, weet ek hoe oud jy is. As dit nie ‘n
klokkie by jou lui nie, moenie te veel daaroor wroeg nie, hoor. Dit maak nie so
baie saak nie.
In elk geval, dit was in die jare voor TV,
selfone, rekenaars en alles wat die lewe beter en vinniger en makliker maak. Ons
het buite gespeel, heeldag fiets gery, skelm in die bure se dam gaan swem ...
en baie gelees! Hoe anders kry jy die tyd om? Jy lees alles wat jy jou oë op
kan sit.
Op ‘n dag kom een van die koshuismaatjies van
die huis af ná die uitnaweek. O, wat ‘n wonderlike, heerlike gebeurtenis was
dit nie. Sy haal hierdie boekie met groot fanfare uit haar koffer uit en wys
dit vir haar beste maatjie. Ons ander staan op ‘n afstand en begeer om ook te
kan sien ... ook die boekie in ons hande te kan hou ... ook net een woordjie
daarin te kan lees.
Dit was die begin van die era van die
fotoverhaal boekies.
Nou moet ek net eers vir jou vertel van hierdie
boekies. Om een of ander rede het die meeste van ons begeer om dit te lees,
maar sou dit nooit ruiterlik erken nie. Want, jy sien, hierdie boekies was so
half as ‘’n sonde’ gesien. Moenie vir my vra waarom nie, want ek sal jou nie
kan antwoord nie. Ek weet net dat ek so nooit as te nimmer vir my ma of pa sou
vra om vir my so ‘n boekie te koop nie! Dit was in die selfde kategorie gesien
as om te swem op Sondag of jou hare te was op Sondag – jy doen dit eenvoudig
net nie!
Mettertyd het hierdie sonde-boekies meer en
meer geword in die koshuis, maar die geleentheid om een van hulle te kon lees,
was baie, baie min. Tot op ‘n dag ...!
Daardie jare was dit glad nie snaaks dat twee
standerds in een klas is nie. Ek was in standerd 3 en ons was saam met standerd
4 in die klas. As Meneer met standerd 4 besig is, moet ons ons werk doen en
omgekeerd.
Op ‘n goeie dag kry ons weer werk om te doen
terwyl Meneer met die standerd 4 klas besig is. En wat gebeur? Die kind wat
langs my sit, het wonderbaarlik so ‘n sonde-boekie in haar tas en is so wragtag
bereid om dit vir my te leen.
Ek vergeet van die wêreld rondom my. Ek sit vir
sonde op my skoot en begin lees. So, so, so vreeslik mooi is hierdie Mark
Condor en nog mooier is die meisie in sy lewe. Ek vergeet van alles rondom my. Ek
vergeet om asem te haal. Ek vergeet om te luister wanneer Meneer weer met ons
groep praat. Ek vergeet van die hele mensdom rondom my.
En toe tref die ellende my!
“Martha!”
Meneer staan langs my bank met sy hand
uitgestrek na my om sonde vir hom te gee.
My hele wêreld gaan staan. My ore slaan toe. My
hart hou op met klop. My lewe het nie meer sin nie. Want sien, nou sal ek nooit,
ooit die einde van hierdie storie kan lees nie.
Meneer praat nie. Hy vat die boekie in die een
hand en wys vir my ek moet opstaan. Presies daar waar ek so pas gesit het, sit
hy sy een voet op die stoel. Hy tel my oor daardie been van hom en gee my drie ordentlike
houe op my sondige ‘behind’. Hy tel my weer af van sy been af, draai om en loop
na sy tafel toe.
En ek? Ek kan sowaar nie onthou hoe ek weer op
my plek gaan sit het en wat die res van die klas se reaksie was nie. My enigste
wete was dat ek nou vir altyd en ewig sou moes wonder of Mark Condor toe die slegte
ou uit die weg geruim het of nie.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking