Vrydag 01 Oktober 2021

VREEMDELING. HOOFSTUK 1

 


Hy sit wydsbeen op die man se borskas. Sy vingers boor in die ou man se strot. Hy wag al so lank vir hierdie kans ... “Vrek, bliksem, vrek!”

Die man onder hom hyg na sy asem en spartel onbeheers om los te kom, maar hy kan sien dit gaan nie meer lank wees nie. Eintlik moet hy ‘n stadige dood sterf, maar daarvoor is Petrus te ongeduldig. Hy wil die man dood hê, en die tyd daarvoor het uiteindelik aangebreek.

“Jy het gedink jy gaan loskom, ha?” grom hy bloeddorstig in Andries Lambert se beangste gesig ... ‘n gesig wat nou blouerig begin skyn. “Jy het gedink jy sal vir altyd kan hardloop, ha?” smaal hy terwyl hy sy greep om sy slagoffer se nek verstewig. Hy grinnik toe hy sien hoe die gesig onder hom van blou na byna swart verander.

Mettertyd raak die spasmas minder en die liggaam verslap onder hom. Hy lig die ou man se kop, maar verslap nie sy greep op sy strot nie. Hy kap en kap en kap die kop op die teer totdat die bloederige pappery uit sy hande glip. Nou is hy tevrede dat hy gedoen het waarvoor hy gekom het. Hy staan van die dooie man af op en stap argeloos af met die straat.

Petrus skrik natgesweet en verward wakker. Hemel, hoeveel keer moet hy nóg sy pa vermoor? Hoeveel maal moet hy nóg die satisfaksie daarvan smaak voordat dit genoeg is? As die drome net wil ophou ...!

Hy kyk op sy horlosie en besef dat dit byna opstaantyd is. Daar is geen nut in om weer te probeer slaap nie – hy sal dit in elk geval nie regkry nie. Hy kon nog nooit gewoond raak daaraan dat dit nooit regtig stil is in ‘n hotel nie. Hy staan dus op en maak vir homself ‘n koppie koffie.

Hy sit bedremmeld met sy kop in sy hande. Goeie genade tog, vandag is ‘n groot dag met belangrike onderhandelinge, hy durf nie voel soos hy voel nie. Hy skud sy kop driftig in ‘n poging om die mislikheid af te skud, maar dit het geen effek op hom nie.

Fokkit tog! Kom net reg, Petrus Lambert! Die lewe skuld jou niks.

Na ‘n derde koppie koffie sien hy min of meer kans vir die dag. Daar is ‘n ligte kloppie aan die deur. “Room service.”

Hy strompel deur toe en maak dit oop. “Baie dankie vir die ontbyt, maar ek sal dit nie vanoggend eet nie.”

But you ordered it last night,” keer die kelner.

Hy stuur hom met ‘n fooitjie in die hand weg. Hy weet hy gaan later jammer wees omdat hy ontbyt gemis het, maar die naar gevoel op sy maag laat hom gril as hy dink hy moet nou ‘n eier in sy keel afwurg. As hy net kan ophou droom! Hy gaan was sy hande oor en oor, want hy is seker daardie bloederigheid is nog steeds daar.

Toe die straler uiteindelik laat die namiddag vanaf die O R Tambo Lughawe sy neus in die lug steek, stuur hy vir Ina ‘n sms: Sien jou netnou, my lief. Ons is op pad.

Hy leun terug teen die weelderige sitplek en trek sy das los. Ina se beeld verskyn voor hom – die vrou van sy lewe! Hy kan hom nie ‘n lewe sonder haar voorstel nie. As daar een konstante faktor in sy lewe is, is dit Ina. Hy weet dat hy nêrens sou kom sonder Ina in sy lewe nie. Die lewe is inderdaad baie goed vir hom.

Hy voel in sy sak na die klein pakkie en knik tevrede dat dit nog daar is. Sowaar, sy sal hom dit nie vergewe as sy die idee moet kry dat hy vergeet het nie. Die ring het ‘n redelike gat in sy beursie gemaak, maar hy gee nie om om geld op sy vrou te spandeer nie.

Ina is nie ‘n vrou vir fieterjasies nie, maar sy het ‘n oog vir ‘n goeie ding. Hy kan hom telkens verbaas wanneer sy met ‘n stokou meubelstuk by die huis kom. Hy het al geleer om nie te vra wat sy daarmee wil maak nie, want hy weet dan is hy in die moeilikheid. By al haar dinge, het sy die vermoë om ou meubels te restoureer dat dit lyk soos nuut. Waar sou sy dit geleer het?

Petrus glimlag wrang. Ina het haar hande vol met hom gehad aan die begin. Hy wou alles koop wat sy oë sien. Hy en sy ma moes met so min oor die weg kom, dat selfs ‘n lekker groot kombuistafel en -stoele vir hom ‘n luukse was. Ina het hom ‘n slag terug winkel toe gestuur om ‘n sitkamerbank wat hy gekoop het, terug te gaan gee. Hemel! Dat hy hom nie dood geskaam het daardie dag nie!

Toe hulle in Kaapstad land, kan hy nie gou genoeg buite die lughawegebou kom en motor toe draf nie. Dit was ‘n lang week sonder Ina. Hy glimlag as hy dink dat die besigheid in Johannesburg een van die dae verkoop sal word. Hm, dit sal dinge darem baie makliker maak, sowaar. As hy nie so gereeld tussen Kaapstad en Johannesburg hoef te pendel nie, sal dit hom soveel meer tyd by die huis en saam met Ina gee.

Soos gewoonlik verwag Petrus die getroue Cassie by die motor. Hy frons liggies toe Cassie nie uitklim om hom te help met sy bagasie nie, maar hy maak nie ‘n bohaai daaroor nie. Cassie sal wel ‘n rede hê waarom hy nie op sy pos langs die motor is nie. As dit net nie weer die ou se rumatiek is nie! Laas keer het die dokter hom mos sommer ‘n maand afgeboek ...

Hy sit sy tas in die kattebak. “Ou Cas-man ...” begin hy terwyl hy inklim.

“Meneer wou gesê het?” vra Ina glimlaggend.

“My lief! Wat ‘n verrassing! Jy is die mooiste ding wat nog vandag met my gebeur het. Waaraan het ek die eer te danke ... en waar is Cassie?”

Sy leun oor om ‘n soentjie te bedel. “Ek het geweet jy sou vergeet watter dag dit is, daarom het ek Cassie vanaand afgegee. Ek het gekom om jou te herinner aan ons groot dag.”

Hy frons gemaak verward en krap sy kop. “Hmm, help my reg?”

Sy trek haar asem diep in om hom te antwoord en frons verontwaardig.

Petrus bars hy uit van die lag. “Dommies, natuurlik weet ek dat dit vandag ons troudag is. Hoe sal ek ooit kan vergeet?

Hy leun oor na haar toe en druk sy kop in haar hare. “Aah, jy ruik lekker,” sug hy in haar oor. “Nou weet ek hoekom ek so haastig was om by die huis te kom – jy bly maar my roos van die Namib, my lief,” sug hy behaaglik.

Sy druk hom speels weg. “Kom, ons tweetjies het ‘n afspraak, jong ... of is jy baie moeg?” voeg sy half huiwerig by. “Ons kan die ete altyd uitstel na môre of oormôre?”

“Natuurlik is ek moeg, maar nooit te moeg om saam met jou te kuier nie, my lief. Ek is so honger, ek kan ‘n bees verslind. Kom ons ry dat ons daar kom.”

Ina kyk bekommerd na Petrus. Hy lyk regtig moeg en glad nie homself nie. Sy oorweeg om hom daarna te vra, maar bedink haarself. Hy sal wel die een of ander tyd uitkom daarmee, sy weet. Sy brand ook om te hoor of die onderhandeling om die besigheid te verkoop, goed verloop het, maar dit kan ook maar wag tot môre. Vanaand wil sy net met haar liefde kuier, niks anders nie.

Petrus haal sy selfoon uit en skakel dit aan. Ina murmureer luidkeels daaroor: “Ag nee man tog, kan ons nie net vanaand sonder die foon kuier nie?”

Petrus wil haar antwoord, maar die selfoon maak hom stil. Die boodskappe wat deurkom, moet ten minste tien wees, besef hy. Verontwaardig probeer hy die foon weer afskakel, maar hy sien dat al die boodskappe van dieselfde nommer af is.

“Ai, nou wat dan tog nou?” kla hy.

Ina draai na hom toe: “Dit is presies waarom ek nie wou hê dat jy die foon aansit nie, Petrus. Dit is hoe dit altyd gaan – eers kom die werk en jou foon, dan ek en heel laaste dalk nog Junior ook.”

Hy weet hy is nou in die moeilikheid by sy vroutjie, maar maak in elk geval die boodskappe oop. Hy laat sy oë vlugtig oor die skerm gaan. Hy steek vas by die laaste een: Meneer Lambert, skakel ons asseblief dringend. Ouma Lambert is vanoggend vroeg oorlede.

“En?” vra Ina, die ongeduld hoorbaar in haar stem.

Hy sug swaar en vee deur sy hare. “Dis my ma ... sy vanoggend is oorlede.”

Sonder ‘n woord verder skakel Ina die motor aan en ry huis toe. Hy sit verwese langs haar. Hulle praat nie – wat is daar om nou te sê? Sy kan hom verwyt met “Ek het jou mos ‘n duisend maal gesê kom ons ry na haar toe,” maar sy doen dit nie. Nou is nie die regte tyd daarvoor nie, dit weet sy.

By die huis klim hy woordeloos uit die motor en strompel die donker tuin in. Ina parkeer die motor en gaan staan in die voordeur. Sy krimp ineen toe sy hom hoor gil van ingehoue emosie.

Nee, los hom dat hy homself uitwoed, dit is die beste, besluit sy. Maar opeens ruk sy regop: Wat nou as hy weer aan die suip gaan? Hoe gaan hulle dit oorleef as hy net weer aangaan waar hy ‘n paar jaar gelede opgehou het?

Sy storm op die drankkabinet af en soek naarstigtelik na die sleutel. Ja, sluit die ding, dan kan jy gerus wees. Of? Wat was dit nou weer wat hy daardie laaste dag, glas in die hand, vir haar gesê het? Sy versteen voor die drankkabinet toe sy daardie dag onthou.

Sy het laat geslaap en eers by tienuur uit die kamer uit gekom. Tot haar skok het hy op die sonstoep gesit met ‘n glas drank.

“En dit nou, Petrus?” wou sy, so kalm as wat sy die woorde kon uitkry, by hom weet.

“Nou mag ‘n man nie meer by sy eie huis doen soos wat hy lus is nie? Van wanneer af is jy toe die polisie om my dop te hou?”

Ina het gestol in haar spore. Petrus was nog altyd lief vir sy drankie, maar by tye het dit buite beheer geraak. As hy hierdie tyd van die dag reeds met ‘n sleeptong praat, kan jy nou maar net weet die moeilikheid is op pad.

Vandag weet sy dat sy dit nie moes doen nie, maar op daardie oomblik het sy alle beheer verloor. Sy het op hom af gestorm en die drankbottel probeer gryp.

“En dit nou?” het hy ysig gevra, terwyl hy haar aan haar arm beetkry. “Jou wou sê?” het hy uittartend gevra.

Sy het los geruk en, in plaas van om die bottel te gryp, het sy sy glas omgestamp. Hy was sopnat van die drank, maar dit het hom nie gepla nie.

“Luister nou mooi vir my, Ina’tjie, jy mag dit nooit weer doen nie. Het jy my gehoor? ‘n Mens mors nie so met drank nie,” het hy gedreig en vir hom nog ‘n glas geskink.

“Petrus, ek ken jou mos nie so nie!”

“Nou hoe ken jy my dan? Ek en jy het mos ontmoet toe ek op my beste was, dan nie? Onthou jy dan nie, my liewe vroutjie? Onthou jy nie meer die dae toe jy vir my en Goliat kom kuier het nie?”

Sy het stil omgedraai en uitgestap. Die Petrus wat sy nou gesien het, was nie die man met wie sy getroud is nie. Hierdie is ‘n vreemde skepsel wat saam met die brandewyn by haar huis ingekom het.

Hy het kamer toe gegaan en sy roes af gaan slaap. Sy was dwalend, maar het besef dat sy iets drasties sou moes doen as sy haar huwelik wou red. Sy wou toe ook die kabinet sluit en hy het haar daar betrap.

“Ina,” het hy met ‘n hartseer stem en geboë skouers gefluister, “as jy my nie kan vertrou nie, wat maak ons dan nog in dieselfde huis ... kamer ... bed? Jy sal saam met my moet glo dat ek die drankduiwel kan oorwin, anders veg ek ‘n verlore stryd.”

“Maar jy ...” het sy begin verweer.

“Nee, ek niks nie, my vrou. Ek vra jou dat jy my moet vertrou,” het hy oor sy skouer gesê toe hy reeds amper by die deur uit was.

Sy het hom in die kombuis voor die wasbak gekry. Die reuk van alkohol het swaar in die lug gehang. Sy was net betyds om te sien hoe hy die laaste bietjie van die brandewyn in die wasbak uitgooi. Hy het gemaak of hy haar nie sien nie ... dalk wou hy haar nie sien nie? Eers het hy die bottel buite in die asdrom gaan gooi en toe die glas tydsaam onder die kraan kom staan en was. Sy het die glas by hom gevat, dit afgedroog en in die kas gebêre.

Teenstrydig met wat in haar hart aan die gang was, het sy hom getroos: “My lief, my sterk man, my hero! Natuurlik vertrou ek jou. En ja, natuurlik sal ek hierdie pad saam met jou stap.”

Hoe lank gelede was dit? Ina skud haar kop en trek haar skouers vasberade regop. Ina Lambert, jy sal hierdie een ook kan oorwin. Niks was nog ooit groter en erger as die liefde tussen jou en Petrus nie. Kalmeer net en wees rustig ...

Buite, in die tuin, worstel Petrus met hewige selfverwyt en hartseer. As hy net asem kan kry! Hy wurg die das af en laat dit net daar op die grond val. Hy sukkel-sukkel met sy boonste knoop en in ‘n desperate poging om dit los te kry, pluk hy die hemp oop dat dit met ‘n skeurgeluid meegee onder die geweld waarmee hy dit doen.

Sy liggaam ruk vooroor in ‘n pynlike spasma. Hy word naar op die gras en val in sy eie braaksel neer.

Here! Hoe kon ek dit toelaat dat sy alleen sterf? Waarom moes dit so gebeur? Sy was tog immers my ma, Here!

Hy krul hom op in ‘n klein bondeltjie op sy sy en snik sy selfverwyt en magtelose hartseer uit.

Hy raak snikkend aan die slaap en skrik wakker met die voëls wat kwetter in die bome. Die son gooi ‘n sagte gloed oor die tuin. Vir ‘n oomblik is hy totaal en al gedisoriënteerd en probeer hy uitmaak waar hy is ... tot dit hom met ‘n hamerhou tref: Ma is dood! Hy bly eers so lê en luister na die voëls. Hoe wens hy nie vandag dat hy ook so vry in die bome kon sit en kwetter nie. Maar helaas, daardie soort vryheid was hom nog nooit gegun nie. Hy staan styf-styf op en stap stadig huis toe.

Ina wag in die kombuis. “Kom, hier is vir jou ‘n koffietjie, my man,” bied sy aan. Sy byt op haar tande om nie histeries aan die huil te gaan nie. Kyk hoe lyk haar groot, sterk man.

Sy het ophou tel hoeveel koppies koffie sy deur die nag gedrink het. Sy kon eenvoudig nie gaan slaap terwyl haar man daar buite in so ‘n toestand is nie. Sy wou hom gaan wakker maak vroeg vanoggend, maar het daarteen besluit – hy moet self opstaan en huis toe kom wanneer dit vir hom reg is.

Dit verstom hom dat sy so kalm kan wees terwyl sy kop so deurmekaar is. Het sy hom dan nie gehoor dat Ma dood is nie? Hoe kan sy so normaal optree op so ‘n dag?

“Jy het seker baie lekker geslaap, ha?” vra hy sarkasties.

Ina antwoord hom nie. Hy hoef nie te weet dat sy nie geslaap het nie. Hy sal ook nou nie verstaan dat sy baie jammer is vir hom en alles moontlik sou doen as sy hom net asseblief hierdie hartseer kon spaar. Sy gaan stilweg haar gang in die kombuis.

Opeens besef hy dat hy totaal en al onredelik is. Ina het Ma net skrams ontmoet voor die troue en daarna nooit weer gesien nie. Kan hy regtig van haar verwag om emosioneel betrokke te wees?

Hy leun met sy elmboë op die tafel. Hy kyk nie op toe hy met haar praat nie. “Ek sal begrafnis toe moet gaan ... of ek wil of nie ... ek wens dit was nie nodig nie.” Hy vryf ingedagte oor die litteken op sy wang.

Sy gaan staan langs hom en vryf sy rug soos ‘n mens ‘n baba tot kalmte sal probeer bring. “Liefde, ek sal saam met jou gaan. Jy hoef nie hierdie ding alleen aan te pak nie.”

Hy val haar hard in die rede: “Ina, jy moet asseblief mooi verstaan dat hierdie nie een of ander sosiale geleentheid gaan wees nie. Ek moet my ma gaan begrawe ... en ja, ek moet Keetmanshoop weer in die oë gaan kyk.”

“Petrus, jy is mos nou baie onredelik, dink jy nie so nie?”

Hy slaan hard op die tafel met sy oop hand. “Hemel, vroumens ...” sis hy, “los my liewer net uit, asseblief. Ek raak dalk dinge kwyt wat kon gebly het.”

Sy draai geraak weg van hom af. Sjoe, sy is mos nie so onnosel om te dink hy wil gaan ontspan op Keetmanshoop nie! Sy byt haar lip vas om die woorde wat dreig om uit te kom, te keer. As hy in hierdie bui is, los jy hom doodstil uit, dit weet sy uit dure ondervinding. Haar oupa het mos altyd gesê: “My kind, ‘n toe bek is ‘n heel bek.” As daar nou al ooit wyse woorde was, dan was dit hierdie sêding van daardie liewe ou korrelkop.

Sy maak die ontbyt in stilte. Af en toe hoor sy Petrus sug, maar hy praat ook nie. Sy geboë figuur is ‘n stil getuie van die wroeging in sy hart.

“Hier is jou ontbyt. Ek het omelet gemaak soos wat jy daarvan hou.”

Hy skud sy kop ‘n slag voordat hy opkyk. “Ek is nie honger nie, dankie.”

“Petrus?”

“Ek moet gaan inpak. Ek ry Keetmanshoop toe. Daar is baie wat gedoen moet word voordat die begrafnis kan plaasvind.”

Hy stap tot by die gangdeur en steek vas. “Ina ...”

Sy stap in sy arms in en klou soos ‘n drenkeling aan hom. “Petrus, moenie my uitsluit nie, my man. Ek het jou te lief om jou nou te verloor.”

“Ek is binne ‘n week weer terug, jy sal sien. Laat my net asseblief toe om hierdie pad nou op my eie te loop, Ina. Ek het jou lief en niks kan ooit daaraan verander nie.”

Sy hoor sy voetstappe met die gang af en dat hy met iemand op die foon praat. Opeens is haar geliefde Petrus ‘n vreemdeling vir haar.

‘n Halfuur later staan sy hom verslae agterna en kyk. Hy was so haastig, dit het kompleet gevoel hy weet nie eens dat hy haar groet nie. Sy strak gesig het darem ‘n oomblik versag toe hy haar skrams op die wang soen.

Sal hy ooit weer huis toe kom? Wat as hy weer ... Sê nou maar hy doen dit weer? Nee, asseblief tog, Here, net nie dit nie! Help asseblief my Petrus dat hy kop sal hou en huis toe kom as alles klaar is.

Ina stap tuin toe. As sy voel soos sy nou voel, moet sy haarself besig hou. Dit was nog altyd haar behoud – om besig te bly en nie te veel te top oor dinge nie. Petrus het vanoggend sonder sy skoene, baadjie en das huis toe gekom. Sy moet dit optel voordat die hond dit in die hande kry, weet sy. Sy tel die baadjie op en skud die dooie grassies af. Sy verbeel haar dat sy iets hoor val iewers, maar steur haar eers nie daaraan nie. Dis eers toe sy voel dat sy op iets trap, dat sy af kyk en die klein boksie op die gras sien lê.

En dit nou? wonder sy. Sy wil dit eers net weer terug in die baadjie se sak sit, maar besluit om tog te loer wat dit is. Die ring laat haar snak na haar asem. Sy maak die boksie toe en sit dit terug in die baadjie se sak. Petrus het nog altyd goeie smaak gehad, maar hierdie keer oortref hy homself, knik sy met ‘n teer glimlag.

Petrus kyk op sy horlosie toe hy die buitewyke van die stad bereik. Hy behoort teen laat vanaand reeds in Keetmanshoop te wees. Hy sit die radio aan, maar byna dadelik sit hy dit met ‘n ergerlike gebaar af. Hy het stilte nodig, nie die geklets van mense wat nie weet waaroor die lewe gaan nie.

Hy laat homself geen tyd toe om af te trek en ‘n bietjie te rus nie. Wanneer hy brandstof ingooi, koop hy ‘n koppie koffie en sigarette. Hy glimlag wrang by die gedagte oor hoe Ina sal reageer as sy moet weet dat hy sit en rook. Sy het hom jare terug oortuig om op te hou, maar vandag het hy ‘n bietjie meer nodig as net ‘n koppie sterk, swart koffie.

Toe hy Keetmanshoop se liggies in die verte sien, trek sy maag op ‘n knop. Sowaar, hy het die hele pad tyd gehad om homself voor te berei op hierdie ding, maar nou is dit opeens vir hom te erg.

Petrus Lambert, jy is mos nie ‘n sissie nie. Wat makeer jou nou? Ruk jou reg, man. Papbroek wat jy is ... kan nie eens ‘n ou plattelandse dorpie met plattelandse mense face nie. Sies, man, sies vir jou!

Sy voet is swaar op die rem as hy in ‘n stofwolk van die teer af trek. Hy gooi sy kop op sy hande wat krampagtig om die stuurwiel klou.

Ek het meer tyd nodig om te dink, ek kan nie hierdie ding doen nie. Ek kan nie die mense in die oë gaan kyk nie ... en dan is daar nog Ma in die lykshuis ook ...

Op langelaas besluit hy om in ‘n gastehuis net buite die dorp te oornag. Dit skep darem nog ‘n klein bietjie afstand tussen hom en die ... die wát? Ergerlik skud hy sy kop. Jy is eintlik niks beter as jou sleg pa nie, weet jy? Jy het drooggemaak en net soos hy, het jy die pad gevat en aanhou hol.

Petrus kry ‘n wrang trek op sy gesig. Hy slaan met sy handpalms op die stuurwiel en skree op homself: “Jy is ‘n man, Petrus Lambert, nie ‘n muis nie. Ruk jou reg en face jou verlede. Hier sit jy en grens en sanik oor stupid mense en wat hulle mag dink, maar wie sê vir jou dat hulle ooit nog in die dorp is? Vir al wat jy weet, het die hele ou spulletjie al lankal hulle goed gevat en getrek ... wie wil nou in elk geval lewenslank in so ‘n gehuggie bly?”

Maar slapenstyd is die spoke terug in sy kop. Ten spyte van die feit dat hy eintlik baie moeg behoort te wees, is daar geen sprake van slaap nie. Hy gaan sit buite op die kamer se trappie en staar die donker nag in. Dit is hier in hierdie dorp waar sy lewe vir altyd en altyd verander het. Dit is hier wat hy die wrede kant van die lewe leer ken het. Dit is hier wat hy geleer het dat liefde nie regtig deel van sy woordeskat is nie. Dit is hier wat hy geleer het dat jou vriende toe eintlik jou vyande is.

Hoeveel kan nou eintlik in dertig jaar verander? Dit is ongelooflik hoe kort dit voel, maar aan die anderkant voel dit ook soos eeue gelede ...


 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...