Vrydag 03 Desember 2021

OU AAND SE DINKDINGE

 


Jy kan met my saam praat oor daardie laatnag ure wat die gedagtes jou pak en net nie wil laat los nie. Wat jy ook al doen of nie doen nie, jou kop het sy eie pad wat hy wil loop en jy kan net sowel maar saam loop ...

Ek hou daarvan om te gaan bad net voordat ek bed toe gaan. Is dit twaalfuur of eenuur in die nag, dit maak nie saak nie. Ek kry net eenvoudig nie my lê in die kooi as ek nie eers deur die waters is nie.

Ek sien jy skud jou kop – jy bad in die oggend en voel vars en fris vir die dag. Maar ja, dit maak nie baie saak hoe ons dit doen nie, skoon kom ons mos darem skoon.

Dis nou as ek so terug gaan lê in die salige waters, dat die gedagtes mos soos wille perde op my af storm. Soms is dit mooi wille perde, ander kere is dit wille perde wat moeilikheid en trane soek.

Jy ken hom mos ook, man. Dis nou daai ding van die onthou van hoe jy jou kind amper verongeluk het omdat hy nie ore het nie. Neuk hom dat hy ore kry! het jy daai tyd geglo. Vandag glo ek so ‘n bietjie anders, maar helaas! Dit is nou te laat om te probeer verander daaraan.

Die bad en die salige waters en die lampie met die lavender kersie op die rand van die bad – niks help om die wille, moeilike onthou-perde weg te gejaag te kry nie. Jy lê stokstyf in daai waters en beleef en herleef en wat alles elke oomblik van daardie drag slae wat die kind (so dink jy nou!) nooit moes gekry het nie.

Klim jy more-aand in die waters, is dit perde van ‘n ander kleur. Jy onthou die mooi en die goed en die lekker en die waters raak sag om jou. Jy sweef in jou onthou-wêreld en lag later kliphard vir die lekkerte van die onthou.

Sulke tye wens ek dat daar nog ‘n siel saam met my wakker is sodat ek kan vra: Onthou jy dié en daai? Onthou jy hoe lekker dit was? Onthou jy die siel saligheid van daardie tyd?

Maar ja, naguile is alleen uile, my maat. Die onthou moet ek maar alleen onthou en (soms) alleen wroeg en (ander kere) alleen geniet.

Ek wil graag in die weke wat kom sommige van hierdie ounag se onthou met jou deel ... maar nét as jy belowe om dan jou ounag onthoue met ons ook te deel.

Laatnag groete

M

 

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...