Petrus
storm by die klas in. Hy sopnat gesweet en moeg. Hy prewel ‘n verskoning in die
rigting van die onderwyser en gaan sit op die enigste oop stoel in die klas.
Moet dit nou wragtag heel voor die in die klas wees? Hy hoor vaagweg hoe die
kinders agter sy rug sit en giggel.
“As dit mý eerste dag in ‘n nuwe skool was, sou ek ten
minste betyds probeer wees het,” brom die onderwyser. “Maar, ja, ons is mos nie
almal dieselfde nie, is ons? Hier het jy so pas bewys dat jy nie soos ek dink
nie.”
Nou lag almal kliphard. Petrus smyt sy tas langs hom neer,
maar antwoord nie. Hy kyk nie op nie, anders sou hy sien dat die onderwyser
eintlik met hom ‘n grappie probeer maak het. Sowaar, as dit nie vir sy ma was
nie, het hy nou sy goed gegryp en geloop. Hy weet egter dat sy ma sommer die
polisie op hom sal sit as hy dit durf waag om weg te loop. Ja, sy ma is nie ‘n
antie om mee te sukkel nie, daarvan is hy deeglik bewus.
‘n Maand terug ... nee, hy wil tog net nie nou daaraan dink
nie. Kan dit regtig net ‘n maand wees? Daar het soveel intussen gebeur dat dit
liewer voel soos ‘n jaar of langer. Shit, as Pa net nie ...! Hy skud sy
kop verwoed en probeer fokus op die onderwyser wat intussen met sy les begin
het.
“Mense, Graad nege is nie ‘n grap nie. Die tweede kwartaal
is al fluks aan die gang en julle weet nog niks! Ek verwag van jou om jou
formules te leer en jou huiswerk daagliks te doen. En,” hy kyk die kinders
een-een in die oë, “vra tog maar as jy nie verstaan nie, man! Vra was nog nooit
‘n sonde nie.”
Die man se stem gaan aan en aan, maar Petrus hoor hom nie.
Sy kop het nou eenmaal ‘daardie’ pad gekies vanoggend en niks kan hom nou keer
nie. Hy skud sy kop en vryf sy oë in ‘n poging om op die onderwyser te probeer
fokus, maar dit is ‘n vrugtelose poging.
Dit was een van daardie aande wat almal gelag en gesels het.
Pa was in ‘n goeie bui en hulle het sit en bordspeletjies speel op die gras. Ma
het gaan koeldrank ingooi en Pa het nog lag-lag gekerm dat hy eerder ‘n bier
sou wou hê.
Skielik het Pa stilgebly en spierwit om die mond geword. Ma
wou nog vra wat’s fout, toe hoor hy dit ook: sirenes. Eers het niemand daaroor
getraak nie, want hulle hoor dit dag in en dag uit. Die sirenes het nader en
nader gekom en was vir ‘n oomblik oorverdowend. Ma het vies gekla dat dit darem
nou heeltemal te erg raak op straat, maar toe spring Pa op en hardloop die huis
in.
Eers dog hy Pa maak grappies en gaan aan die lag. “Pa,
moenie vir jou laf hou nie, man.”
“Hou jou bek, Petrus, hierdie is nie grappies nie. Kan jy
nie sien die cops staan in ons voorhek nie?” het Ma gesnou.
Hulle het nie baie gepraat nie. Hulle het Pa uit ‘n hangkas uit
gaan sleep. Hulle het alles in die kaste op die vloer gegooi. Dit was duidelik
dat hulle na iets soek, maar na wat?
“Los uit my goed, julle varke!” het Ma geskree.
Die grootste polisieman het haar aan die arm gegryp en
gedreig: “As jy nie nou ophou nie, is jy vanaand saam met hom in die tronk,
vroumens!”
Die wit sakkies poeier was in sy pa se kerkpak se sakke
weggesteek.
“Fok, Pa! Hoe kan jy dit aan ons doen?” het hy gegil. “Is jy
bedonnerd?”
Hy wou sy pa aan die keel gaan gryp, maar het homself
bedwing en op ‘n afstand bly staan.
O, liewe Here, hulle het hom met die knuppels geslaan en
geslaan en geslaan. Sonder einde het die houe geval. Die kasdeur wat heen en
weer swaai, het geklink soos geweerskote. Pa se gille. Pa se verskriklike
gille. Hulle wou nie ophou nie. Selfs toe hy wat Petrus is, bo-oor hom gaan
val, het hulle nie opgehou nie.
Toe sy pa stil word onder om, het hy eenkant toe gerol. Pa
se oë was toe. Die asem het geroggel uit sy bors uit. Hy wou hom help. Hy sou
so graag wou help, maar hulle het hom gesleep-dra tot by die van. Hy kon
nie self inklim nie. Hy wou nie kyk hoe hulle hom ingooi agterin nie. Hy kon
nie kyk nie. Hy was te veel van ‘n sissie.
Hy het staan en kyk hoe ry die motor met die blou ligte af
met die straat en om die draai. Hy sou so graag liewer dood wou wees. ‘n
Ellende, so groot en geweldig soos die hele aarde, het in hom kom nesmaak.
Pa. Is. In. Die. Tronk. Pa. Is. ‘n. Dwelmsmous.
Ma het verstar bly staan en Dorene het soos ‘n maer kat aan
die skree gegaan.
“Hou donnerswil net op met tjank!” was al wat hy vir haar
kon sê. Eintlik het hy begeer dat hy ook soos sy kon gil en skree en tekere
gaan.
Een of ander tyd moes die klok gelui het. Hy kyk op en sien
hy is alleen in die klas. Net hy en die onderwyser. Hy staan verleë op en maak
sy goed bymekaar om te loop.
“Net so ‘n oomblik,” keer die onderwyser hom. “Dit lyk mos
vir my iets pla jou. Wil jy met my daaroor praat?”
Petrus trek sy skouers regop en antwoord astrant: “Ek het
g’n probleme nie. Wat laat Meneer so dink?” Hy draai om deur toe en antwoord
oor sy skouer: “Ek is fine, Meneer. Ek is fine.”
Nee, Meneer, eintlik is ek nie fine nie, maar dit sal
ek nooit vir jou sê nie. Eintlik sal ek nooit weer fine wees nie, maar wat
traak dit jou hoe ek voel? Wie traak oor hoe dit voel om te weet jou pa, jou
held van alle helde, sit in die tronk? Nee, Meneer, uit my uit sal jy dit nooit
kry nie. Jy kan maar daarvan vergeet.
Die dag draal verby. In elke klas besef hy net meer en meer
dat dit byna onmoontlik is om op hierdie stadium van die jaar die verlore werk
te probeer inhaal. Dit sou soveel beter gewees het as hy daar in die Kaap kon
bly en eers die jaar voltooi, maar verdomp of sy ma wou toegee!
Die klok lui aan die einde van die laaste periode en ‘n seun
stamp liggies aan hom. “Kry jou buite by die hek.”
“Vir wat?” vra hy agter die seun aan. Die kind antwoord hom
nie.
Petrus is nie van plan om enigiemand by die hek te kry nie.
Hy is haastig om weg te kom van hierdie plek af. Vanaand is die aand wat hy en
sy ma sal moet praat. Waarom moet hy skool toe gaan as hy in elk geval weet hy
gaan druip? Die laaste rapport wat hy in die Kaap gekry het, was vol rooi
kringe. Wat verwag sy ma van hom? ‘n Wonderwerk? Gmf!
Hy sien die seun by die hek staan en wag vir hom, maar hy
ignoreer hom. Hy het nie lus vir geselskap nie.
“Hei, ek het mos gesê jy moet vir my wag,” kom hy agterna
gedraf.
“En ek het jou nie geantwoord nie, het ek?”
“Ek is Djoster[1]
Wat is jou naam?” vra die kind vriendelik. Dit is duidelik dat hy Petrus van
naderby wil leer ken.
Petrus gaan botstil staan en kyk die lastige seun in die oë.
“Ek is Petrus Lambert. So, nou weet jy wie ek is. Noudat jy weet, wat wil jy
daarmee maak?”
Afgehaal draai Djoster om en kies sy eie koers. Watter vlieg
sou oor hierdie ou se lewer geloop het? Stupid ding!
Petrus loop koponderstebo die straat af. Dis die mislikste
plek met die mislikste skool wat sy ma uitgekies het om in te kom bly. Liewe
hemel, kon sy nie aan ‘n ander plek gedink het om te gaan bly nie? Daar is
soveel plekke in Suid-Afrika waar hulle sou kon gaan bly, maar nee, ‘Keetmanshoop
is ons toekoms, my kind.’
Toekoms? Watter toekoms?
Petrus stap by hulle nuwe blyplek in. Hy is op die
oorlogspad. “As Ma net probeer werk kry het daar in die Kaap, maar nee! Nou
moet ons hier kom vergaan van ellende. Besef Ma hoe dit voel om hierdie tyd van
die jaar in ‘n nuwe skool te begin? Nee, natuurlik nie. En wie gee nou eintlik
om?”
Sy ma antwoord hom nie; dit sal tog nie help nie. Sy wonder
self waarom sy hom nie maar ook by die familie in die Kaap gelos het soos vir
Dorene nie. Maar sy weet hoekom nie: Dorene is die stil een; die harde werker.
Dit is baie meer as wat sy van Petrus kan sê.
“Hier is vir jou ‘n broodjie en koffie, my kind,” bied sy aan.
Hy ignoreer die skinkbord wat sy na hom toe uithou. “Is dit
hoe ons etes van nou af gaan lyk, Ma? In die oggend is dit koffie met brood en
in die middag is dit brood met koffie. Dis nou ‘n wonderlike spyskaart wat Ma
uitgedink het, sowaar. Wat is daar vir vanaand? Koffie of brood?”
Hy kan sien dat hy sy ma kwets met sy woorde, maar dis asof
hy homself nie kan keer nie. Hy is kwaad en hy wil hê dat almal dit moet weet.
Iemand moet betaal vir hierdie mislike gevoel wat hy saam met hom in sy hart
dra.
Toe sy ma uiteindelik die lig afsit, hoor hy dat sy huil. Al
wat hulle twee van mekaar skei, is ‘n bont gordyn. Die kamertjie is te klein
vir meer meubels – die twee beddens, ‘n klein kombuistafel met ‘n tweeplaatstofie
en ‘n paar stoele. Die stort en toilet is, dank Vader, apart. Dit is nou wel
buitekant op die stoep, maar dit is beter as niks.
Die plek ruik benoud. Sy ma is paranoïes oor rondlopers en
vreemdelinge, dus staan die deur nooit oop nie. Die enkele klein venstertjie
wat daar is, is te min om genoeg vars lug te voorsien. Jig! Hoe slaap ‘n mens
in so ‘n benoude plek?
“Ma, kan ons asseblief die deur oopmaak? Ek kan nie slaap nie,
dis te bedompig hier binne,” kla hy.
“Petrus, wat wil jy maak as jy vannag wakker word en hier
staan ‘n mens met ‘n mes voor jou bed? Nee, natuurlik gee jy nie om nie, ek
weet. Meer nog, wat wil jy maak as jy opstaan en ek lê dood hier?” antwoord sy
temerig.
Hy antwoord haar nie. As sy klink soos sy nou klink, kan sy
maklik aanhou kerm tot die son opkom. Hy staan saggies op en gaan sit ‘n rukkie
buite op die trappie. Die nag is warm en drukkend. Dit lyk of dit gaan reën.
Sy snork soos sy slaap toe hy terug in sy bed klim. Dankie
tog daarvoor. Hemel, hoe kon sy in ‘n paar weke so verander het? Hy het die
vriendelikste, mooiste ma in Kaapstad gehad en hy was intens trots op haar. En
nou? Al wat oorgebly het van haar, is hierdie kermende, klaende wese wat niks
goeds in die lewe sien nie.
Petrus staan vroeg op sorg dat hy meer as betyds by die
skool is. Hy is nie van plan om weer in elke klas heel voor te gaan sit nie.
Dit vol kompleet vir hom of al die onderwysers net vir hom raaksien en net op
hom pik so heel voor.
Hy wag nie tot die klok lui nie. Hy storm by die eerste klas
in en gaan sit by die heel agterste bank. So ja, dis nou baie beter.
“Dis my plek, staan asseblief op,” kom dit effens onseker
van die meisie langs sy bank.
“Is dit so?” vra hy smalend. “En wat gaan die vettie aan my
doen as ek nie haar bank vir haar gee nie?” Hy kyk Maria minagtend op en af
terwyl hy sy boeke doodluiters sit en uitpak.
“Sê askies!” Sy steek haar hand uit om hom aan die skouer te
vat, maar hy klap dit weg.
“Askies? En waarvoor nogal, Vettie?”
Sy bars in trane uit en gaan sit op ‘n ander plek. Die
volgende een gaan sit weer op die volgende een se bank, tot groot frustrasie
van die onderwyser. Die hele klas is in chaos, want skielik het niemand meer
die bank waar hulle gereeld op sit nie. Petrus hoor en sien niks, want hy het
sy bank agter in die klas gekry. Hy glimlag tevrede.
In elke klas is dit min of meer dieselfde gesprek: “Waar is
jou huiswerk, Petrus?”
“Ek het dit ongelukkig nie gedoen nie, Meneer. Ek het nog
nie boeke nie. Ek is mos nuut hier, onthou Meneer nie?”
“Sorg dat jou huiswerk môre alles gedoen is, of anders ...”
“Of anders wát, Meneer?”
Net een onderwyser het hom geantwoord: “Of anders bliksem ek
vir jou, mannetjie.” Die res van die onderwysers het verkies om hom liewer te
ignoreer.
Die klok lui vir pouse. Petrus is honger, maar hy het ‘n
plan. Hy staan net buite die deur en wag. Uiteindelik kom Maria uit. Hy vat hy
haar hardhandig aan die arm. “Nou hoe lyk dit, gaan die vettie vir my haar
broodjie gee? Jy het mos nie nodig om dit te eet nie, het jy?”
Sonder ‘n woord gee Maria haar brood vir hom. “Baie dankie,
Vettie, dit is nou baie vriendelik van jou.”
In die Afrikaanse klas gaan die onderwyser die boeke een-een
na. Hy loop nie die banke na nie. Elkeen word vorentoe geroep sodat hy hulle huiswerk
by die tafel kan merk. Dit is Petrus se beurt, maar hy staan nie dadelik op
nie. Hy is blykbaar onbewus van die onderwyser se vraende blik. Die kind agter
hom stamp hom in die ribbes. “Vat jou boek, jong.”
Hy wag totdat die onderwyser anderpad kyk en staan dan
stadig uit sy stoel uit op. Hy vat doodluiters die meisie oorkant hom se boek
en stap daarmee na die onderwyser se tafel toe.
“Meneer!” wil sy beswaar maak. Petrus gryns vir haar en trek
sy vinger stadig dwarsoor sy nek. Sy verstaan baie goed wat hy daarmee bedoel.
As sy een woord verder praat, sal hy haar keel afsny. Beangs hardloop sy uit
die klas uit terwyl Petrus met ‘sy’ boek by die onderwyser se tafel gaan staan.
Na skool stap Petrus stadig huis toe. Dit was nou ‘n lekker
dag! Die onnies wat hom uitgevang het, moet maar net geduldig wees totdat hy
lus voel om sy huiswerk te doen. Hy vertel vir sy ma van al die vriendelike
kinders en onderwysers. Daar is selfs ‘n meisie wat haar kosblik met hom gedeel
het, kan jy dit nou glo! Sy ma luister verlig na al sy stories. Dankie, Vader,
die kind het baie gouer aangepas as wat sy in haar wildste drome kon dink.
Slapenstyd sit Petrus op sy bed en blaai deur ‘n lêer met sy
musieksertifikate. Vies vee hy die trane van sy wange af. Sissie! Wil jy nou
tjank omdat jy na jou klavier verlang? Sissie! Watter seun speel in elk geval
klavier? Sissie! Sissie!
Wanneer hy uiteindelik aan die slaap raak, is sy drome
deurmekaar en onsamehangend. Sy pa is by die huis, maar hy het nog altyd sy
tronkklere aan. Hy weier om dit uit te trek, want die ander mense moet hom nie
sien nie. Sy ma het skielik in ‘n padda verander wat aanhou kwaak, kwaak,
kwaak. Hy speel nou selfs rugby en die hoofmeisie is verlief op hom.
Hy word moeg en gefrustreerd wakker. Watter snert om van te
droom! Alhoewel, Ma klink nogal baie soos ‘n padda met haar ewige gekwaak oor
sy skoolwerk en sy vuil klere wat op die vloer bly lê as hy klaar gestort het.
Hy grinnik by homself oor die padda en sy ma.
Sy groet hom by die deur: “Tatta, Petie. Jy moet soet wees
vandag.”
“Ma! Moet my asseblief nie alewig ‘Petie’ nie. Ek is g’n
blerrie ‘n baby nie. Kan Ma dit asseblief nou in Ma se kop kry? En as Ma
vir my ‘Petie’ voor ander mense, so wragtag sal ek Ma ignoreer, hoor. Ek is
Petrus, Ma.”
“Ma’ Petie ...” probeer sy verdedig, maar hy kyk nie links
of regs nie. Stywerug stap hy straat af.
Sy staan hom handewringend agterna en kyk. Wat het van haar Petie-kind
geword? Gister was hy nog Petie, vandag is hy ‘n hardegat kind wat glo Petrus
genoem moet word.
Gmf!
As die kind maar net met haar wil praat oor sy pa en al die
ander dinge wat hom pla, maar hy is stom. Sy bid soveel keer dat sy asseblief
in die oggend wakker moet word en dat alles net ‘n nare droom was.
Andries Lambert, weet jy wat jy aan my en die kinders gedoen
het?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking