So ‘n week of twee was dit weer dáárdie tyd van die jaar:
Rapporte kom van die skool af huis toe ...
My seun stuur sy dogtertjie se rapport vir Ouma en dit is te
mooi om te sien hoe sy deur die jaar gegroei en verbeter het. Ouma is opreg
trots op die kleine kind!
Toe badtyd kom, is my gedagtes oral behalwe by rapporte,
glo vir my. Ek meen te sê, ek is oud genoeg om nooit weer ‘n rapport te kry nie
en my kinders ook. So, waarom sou ek my verknies oor so ‘n bose ding soos ‘n
rapport?
Maar helaas, met die salige waters so rondom my, wil my kop
nie vanaand maak soos ‘n hom wil laat maak nie. Hy wil al weer skuins neuk
rapporte se kant toe ... en toe los ek hom maar dat hy gaan waar hy wil gaan.
Jy sien, Martha Maria was nooit die skerpste potlood in die
pakkie nie en géén onderwyser het ooit die kans verby laat gaan om my nie
daaraan te herinner nie. En hoor vir my, ek lieg nie nou vir jou nie.
My ma het ons rapporte getrou gebêre en aan die einde van
elke liewe kwartaal, skryf elke liewe onderwyser dieselfde ding: Martha doen
goed, maar sy kan baie beter doen.
So, daar het jy dit nou: Martha het haar lewe lank lyf
weggesteek ... of het sy?
Dit was in die jare toe die IK-toetse die begin en die
einde van alles was. Elkeen wat in daardie jare in die skool was, het geweet
dat jou hele menswees gemeet is aan die uitslae van hierdie toetse. Is daar ‘n klomp
vrae waarvan jy die antwoorde nie weet nie, gaan al die onderwysers glo jy is
dom.
Ek het op Mieliestronk.com gaan kyk wat presies die
intelligensie-kwosiënt nou rêrig is. Hier is hulle antwoord daarop:
IK of Intelligensie-kwosiënt
is ’n syfer wat die verhouding uitdruk tussen ’n persoon se verstandelike
vermoëns en dié van die normale, gemiddelde persoon. Dit word deur middel van
toetse met ’n reeks vrae vasgestel. Die eerste toetse is in 1905 deur Binet en
Simon ontwerp, en die doel was om kinders te identifiseer wat spesiale onderwys
sou kon nodig hê weens hul lae intelligensie.
Al die jare loop ek gebuk onder die las wat op my gelê is:
Martha is dom! Vreemd dat ek nooit besef het dat hulle my eintlik beskuldig dat
ek lui is nie, ha?
Mettertyd het ek egter die insig ontwikkel om te weet dat
dit nie regtig waar is nie. Ek weet dat ek weet dat ek weet dat ek altyd my bes
gedoen het. Die feit dat ek elke keer met die rapport langs Pa moes staan en
verduidelik waarom ek nie my beste gee nie, het ek al min of meer verwerk en
vergeet – Pa het nie geweet nie, daarom het hy nie deel daaraan gehad nie.
Dan lees jy die volgende stelling deur wie weet wat raak en
dit slaan jou teen die voorkop: Almal was verkeerd! Almal wat hulle vingers na
jou toe gewys het, kan maar los, want hulle was te dom om self te weet.
“Everybody is a genius. But if you judge a fish
by its ability to climb a tree, it will
live its whole life believing that it is stupid.”
Nou wonder jy seker waarom ek die tyd gemaak het om hierdie
seer storie vir jou te vertel?
Ek vertel dit vir jou sodat jy daardie las van jou skouers
af kan gooi soos ek dit gedoen het. Gooi hom af en leef jou lewe in vrede.
Nie goed genoeg nie? Nie mooi genoeg nie? Nie slim genoeg
nie? Nie maer genoeg nie? Nie ... nie ... nie ... nie! NIE!!!!!
Hei, my maat! Wie het die standaarde bepaal waarvolgens jy
jouself meet? Jy? Jou ma? Jou juffrou? Jou man?
Ek vra maar net.
Great website you have got here.www.streetwearcart.com Keep up the good work and thanks for sharing your blog site it really helps a lot.
AntwoordVee uit