Dinsdag 30 Oktober 2018

EK DOEN DIE RIEL ... GRONDLANGS!

Fish, Tank, Aquarium, Water, Aquatic
Presies waarom, weet ek nie, maar opeens is daardie een dag helder voor my. Ek, hoogswanger, en my oudste is op straat. Sy moet, sy wil, sy sal ‘n visbak hĂȘ en ek het so pas vir haar een gekoop. Jy ken mos daardie ronde visbakke van plastiek? Ek glo dat daar nie ‘n mens op hierdie aardbodem is wat nog nooit een van hulle op ‘n tafel iewers in die huis gehad het nie. Maar nou gaan dit nie oor die visbak nie, dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.

Ek en sussa is op straat en ons hou hande. Kry nou die prentjie mooi: Hoogswanger. Kind aan die een linkerhand. Visbak in ‘n plastieksak in die regterhand. Die skoene is so hoog dat jy ‘n leer nodig het om op hulle te kom. (Waarom doen ‘n mens dit aan jouself?) Ons tweetjies is op pad straat af. Maar nou moet jy weet, sussa is nie ‘n gewone kind nie, hoor. Sy sien alles en wil van alles alles weet.

Ons het ‘n lekker spoed opgebou en drafstap deur ‘n arkade. Die hele plek sit vol mense in die buitelugkafee. Links van ons sit die mense en regs van ons is winkelvensters.  Sal hierdie kind mos nou iets in ‘n winkelvenster sien wat sy onmiddellik vir Ma moet wys! Sy loop voor my in om by die winkelvenster te kom. In die proses ruk sy my van balans af ...!

Die gevolg? Hierdie vrou hardloop handeviervoet vir die volgende tien meter. Maar nou moet jy nie die visbak in die plastieksak vergeet nie, asseblief. Dit slinger saam en met elke tree wat my hand die grond tref, klap hy soos ‘n geweerskoot hier langs my op die grond. 

Ag, jimmele behoed my tog! Ek wonder vandag nog oor al daardie baie mense wat links van ons sit en eet het – hoe moes die prentjie vir hulle gelyk het? Om dinge nog erger te maak en die aandag lekker op my te vestig, het ek natuurlik sulke lang gille ook nog gegee terwyl ek die riel so grondlangs doen.

Wat my nou laat onthou van die ouma wat die dag so geval het. Hoor hier, daardie ouma kon ‘n storie vertel dat jy sowaar saam met haar op die grond neerslaan.

Ouma moet ‘n vroutjie gaan sien om een of ander rede. Sy stap by die hekkie in en sien die vroutjie staan reeds vir haar en wag op die stoep. Sal ons ouma nou sowaar struikel toe sy die trappie moet op en sy slaan in haar volle lengte voor die vrou op die stoep neer.

Konsternasie! Vroutjie help vir Ouma op en vra ewe besorg of sy nie seergekry het nie. Ouma stel haar gerus: “Nee wat, alles is reg,” maar intussen het die bril met die valslag 45 grade skeef gedraai. Ouma praat nog so, toe vra die vroutjie: “Kan ons nie maar die bril eers reg skuif nie?”

So het elkeen ‘n storie van die dag wat jy op die grond neergeslet het, nie waar nie? Net anderdag het ‘n vriendin van my ook vieslik seer geval. Toe sy dit die aand vir my vertel is ek eers baie ontsteld, maar later skree ek soos ek lag vir haar beskrywing daarvan. Wie sal nou nie lag as jy hoor hoe jou maat in die donker oor die hond val en in die proses die arme hond skop dat hy vir ure iewers gaan skuil nie? 

Haar antwoord toe ek so lag? "Jy is nie ‘n vriendin se gat werd nie, man!” Gelukkig het sy intussen darem weer besluit dat ek nie so heeltemal onbruikbaar as vriendin is nie.

1 opmerking:

  1. prettig. 'n Stewige (lees lywige) vriendin van my het die aarde met so 'n donderslag getref en vir haar doktersvriend vertel sy het 'n 7 op die Rigterskaal gemeet

    AntwoordVee uit

OUJAAR EN SY DINGE

  Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...