Jy weet, soms kom daar tye in ‘n
mens se lewe wat so totaal en al onverwags en uit die bloute op jou afkom dat
jy skoon sonder woorde is vir ‘n tydjie. Ken jy daardie skrik wat jou sonder
woorde los? Daardie skrik wat jou eintlik sonder asem los, hoor ek een byvoeg. Ja,
dis nou hy daai!
Dit is presies wat met my
gebeur het. Ek dink ek skuld jou dit om te verduidelik waarom my pen skielik
sonder ink geraak het. Ja, ek het hulle al almal probeer, maar nie een wil
lekker loop op die papier nie.
Jy sien, ek het altyd, wanneer
iemand my vra tot wanneer gaan ek werk, gesĂȘ dit hang af tot wanneer die Here
my wil laat werk. En ja, ek moet nou aan jou erken, dit was baie makliker gesĂȘ
as gedaan. Die dag toe ek besef hierdie is nou die einde, was dit vir my soos ‘n
baie harde skop reg in my wind.
Ek het dadelik die pikswart
potlood uitgeruk en gedink ‘vandag is die dag!’. Ek was reg vir lekker raas en
baklei dat jy dit vir baie ver sou kon hoor, maar dit het nie gewerk nie. Ek het
vir hoe lank met hierdie dik swart potlood gesit en wag vir die woede-woorde om
te kom, maar helaas! Ek wag nog immer vir swart potlood om sy ding te doen,
maar potlood het die wyk geneem, lyk dit my.
Toe probeer ek die opgewekte
en vrolike pienk pen. ‘n Mens moet mos opgewek en vrolik wees, anders loop jy
die pad alleen, dan nie? Ek het redelik goed begin, maar hoor vir my, so na die
tweede of derde pienk sinnetjie loop my pen toe ook leeg.
Dalk die geel pen vir lekker
warm sonskyn? Ha-a, dolleeg!
Die witte vir vrede en liefde?
Nog altyd dolleeg.
Nou wat nou, hoor ek jou grom.
En ek kan jou ook maar net antwoord dat ek op pad is om hulle almal te vervang.
Hulle sal weer skryf, dit belowe ek jou. Op die oomblik is hulle droog en dor,
maar hou maar dop – skryf sal ek weer.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking