Ek het ‘n groot
probleem. Jy sien, wanneer ek kwaad word, raak my woorde weg. Hoeveel maal het
ek al by myself gedink: ‘Martha, jy kon mos dit en dat geantwoord het, man.
Maar toe staan jy met jou bek vol tande ...’
Klink dit vir
jou bekend?
As ek kwaad
word, is daar een van twee reaksies: Of
ek byt op my tande en gee voor dat dit my nie raak nie, of ek is so ontsteld dat ek liewer aan die tjank gaan en omdraai en
loop. Teen slapenstyd is ek so boos vir myself oor my papbroekigheid dat ek weereens
kook van woede.
Ken jy daardie
een? Jy weet, leer kan ek ook nie leer nie – dit is elke keer weer dieselfde
storie oor en oor. Hoe meer ek besluit ek sal volgende keer my man staan, hoe
minder kry ek dit reg. En wanneer ek jou weer sien, verkies ek gewoonlik om die
ding van gister as afgehandel te beskou en nie weer daaroor te praat nie. My ma
het altyd gepraat van die graffies wat agter haar lê. Hierdie graffies is waar
sy al die onregverdighede teenoor haar begrawe en (probeer) vergewe het.
Ek weet op
aarde is daar net twee soorte mense:
· * Die
eerste groep is hulle wat hulle man staan en onmiddellik reageer en nie ‘n duit
omgee vir die ander ou se gevoelens op daardie stadium nie. (Jy het my
seergemaak, nou moet jy vat wat jy kry!)
· * Die
tweede groep is hulle met die graffies agter hulle.
Ek glo jy ken
die storie van die slang en die saag, maar ter wille van hulle wat dit nog nie
gehoor het nie, vertel ek dit.
Op ‘n dag is Slang
op soek na kos. Hy gaan by ‘n timmerman se werkswinkel in op soek na muise. ‘n
Vorige keer het hy hom lekker dik geëet aan hulle en vanaand is hy ekstra
honger. Hy storm vervaard die werkswinkel binne.
Ongelukkig kyk
hy nie mooi waar hy seil nie en hy skuur teen ‘n saag verby. Die saag maak hom
baie seer en hy is onmiddellik woedend! Hy laat nie met hom mors nie, hoor. As jy
met Slang sukkel, moet jy weet jy kry dit dubbeld en dwars terug. Ja, dis nou
maar Slang, daai.
Hy draai om en byt
die saag met mening. Natuurlik kry hy weer ‘n keer seer en nou is hy opgecharge vir ‘n lekker oorlog met die
saag. Hy reken dat as die saag so onredelik wil wees en hom sommer so uit die
bloute wil kom staan en aanval, sal hy vandag vir hom wys wie’s baas.
Slang draai
homself om Saag en druk vir al wat hy werd is. Ja, vandag is dit die einde van
Saag. Hy wat Slang is gaan die lewe uit hom uit druk ...
Nodeloos om te
sê dat Slang die stryd teen Saag verloor het. Slang het te laat besef dat dit
nie die moeite werd is om so te oorreageer nie.
Toe ek nou so
sit en lees van die ontydige heengaan van oorlede Slang, besef ek dat alles ook nie
regtig altyd lyk soos wat ons glo ons sien nie. Ek het hierdie storietjie al weke
terug gelees, maar hy wil my nie los nie.
Dus! Ek loop
die pad vorentoe, my lam. Wat netnou en gister en voor dit gebeur het, gaan my
regtig nie (meer) aan nie. Ek besluit om nooit terug te kyk of daar (dalk) ‘n graffie
of twee is wat ek kan gaan oopmaak en lykskouing hou nie. Ha-a, ons los dit vir
die ander ouens wat hou van derms ryg.
Nou vra jy my
nou wat as ek weer teen Saag vasloop en die velle waai? Weet jy, ek hoop ek sal
weereens my woorde verloor en maar net aanhou loop ... altyd vorentoe!
Om te kan vergewe en die wit graffies agter te laat is een van die wonderlikste lesse wat ons in hierdie lewe kan leer.
AntwoordVee uit