
Presies waarom, weet
ek nie, maar opeens is daardie een dag helder voor my. Ek, hoogswanger, en my
oudste is op straat. Sy moet, sy wil, sy sal ‘n visbak hê en ek het so pas vir
haar een gekoop. Jy ken mos daardie ronde visbakke van plastiek? Ek glo dat daar nie ‘n mens
op hierdie aardbodem is wat nog nooit een van hulle op ‘n tafel iewers in die
huis gehad het nie. Maar nou gaan dit nie oor
die visbak nie, dit is ‘n storie vir ‘n ander dag.
Ek en sussa is op straat en ons hou
hande. Kry nou die prentjie mooi: Hoogswanger. Kind aan die een linkerhand. Visbak
in ‘n plastieksak in die regterhand. Die skoene is so hoog dat jy ‘n leer nodig
het om op hulle te kom. (Waarom doen ‘n mens dit aan jouself?) Ons tweetjies is
op pad straat af. Maar nou moet jy weet, sussa is nie ‘n gewone kind nie, hoor.
Sy sien alles en wil van alles alles
weet.
Ons het ‘n lekker spoed opgebou en drafstap
deur ‘n arkade. Die hele plek sit vol mense in die buitelugkafee. Links van ons
sit die mense en regs van ons is winkelvensters. Sal hierdie kind mos nou iets in ‘n
winkelvenster sien wat sy onmiddellik vir Ma moet wys! Sy loop voor my in om by
die winkelvenster te kom. In die proses ruk sy my van balans af ...!
Ag, jimmele
behoed my tog! Ek wonder vandag nog oor al daardie baie mense wat links van ons
sit en eet het – hoe moes die prentjie vir hulle gelyk het? Om dinge nog erger te maak en die aandag lekker op my te vestig, het ek natuurlik sulke lang gille ook nog gegee terwyl ek die riel so grondlangs doen.
Wat my nou laat onthou van die ouma
wat die dag so geval het. Hoor hier, daardie ouma kon ‘n storie vertel dat jy
sowaar saam met haar op die grond neerslaan.
Ouma moet ‘n vroutjie gaan sien om een
of ander rede. Sy stap by die hekkie in en sien die vroutjie staan reeds vir
haar en wag op die stoep. Sal ons ouma nou sowaar struikel toe sy die trappie
moet op en sy slaan in haar volle lengte voor die vrou op die stoep neer.
Konsternasie! Vroutjie help vir Ouma
op en vra ewe besorg of sy nie seergekry het nie. Ouma stel haar gerus: “Nee
wat, alles is reg,” maar intussen het die bril met die valslag 45 grade skeef
gedraai. Ouma praat nog so, toe vra die vroutjie: “Kan ons nie maar die bril
eers reg skuif nie?”

So het elkeen ‘n storie van die dag
wat jy op die grond neergeslet het, nie waar nie? Net anderdag het ‘n vriendin
van my ook vieslik seer geval. Toe sy dit die aand vir my vertel is ek eers
baie ontsteld, maar later skree ek soos ek lag vir haar beskrywing daarvan. Wie
sal nou nie lag as jy hoor hoe jou maat in die donker oor die hond val en in die proses die
arme hond skop dat hy vir ure iewers gaan skuil nie?
Haar antwoord toe ek so
lag? "Jy is nie ‘n vriendin se gat werd nie, man!” Gelukkig het sy
intussen darem weer besluit dat ek nie so heeltemal onbruikbaar as vriendin is
nie.
prettig. 'n Stewige (lees lywige) vriendin van my het die aarde met so 'n donderslag getref en vir haar doktersvriend vertel sy het 'n 7 op die Rigterskaal gemeet
AntwoordVee uit