Ek dink jy
versinnebeeld baie van jou lesers se eie drome. EN met baie van jou skryfsels
sien ek (en ek dink baie ander lesers) hoe jy my eie hart omdop en uitskud op
die tafel (soos jou handsak op soek na karsleutels of 'n lipstiffie). Dis
hoekom ons lees. Wat jy skryf is nie hoogdrawende letterkunde, filosofie
of teologie nie. Dis mensgoete. Jy praat in ons harte, gedagtes en siele in en
dis goed. Dankie. Hou aan. Ons sal lees so lank jy skryf. Vader, hou asb aan om
vir Martha te seën. U weet beter as ons dat sy dit verdien.
Ek kry hierdie boodskap
van lief-Petro en daar gaat die gedagtes! Jong, dis mos vreemd hoe die een ding
kan lei tot die ander. Mense vra my soms waar kry ek alles waaroor ek skryf, dan
antwoord ek (gewoonlik): Jy moet oppas, as jy ‘n ding sê, raak jy later ‘n
storie. En dis nou net so, hierdie een maak toe ‘n ding hier bo in die grysstof
los en ek besluit ons moet harte uitpak.
Ons is ses vriende
rondom die tafel met die spierwit tafeldoek. Elkeen sit met wit handskoene –
alles is skoon en kiemvry. Want sien, ons moet harte uitpak en dis ‘n ernstige
storie. Daar mag nie kieme en goggas en goete rondloop nie. Hierdie moet ‘n
silwerskoon ding wees – ons wil nie besoedel word nie, regtig nie.
Eers is almal huiwerig,
maar dan doen ons dit. Elkeen haal daardie kosbare hart uit en sit dit op die
spierwit tafel neer. En daar lê die ses mooi harte voor ons. Ons kyk met ontsag
na die harte...is my hart dalk swarter as die ander s’n? Lyk myne dalk meer
misbruik as die ander harte? Dis vreemd en ongemaklik, jong. ‘n Mens wil nie
jou hart so blootstel aan ander mense nie. Nee man, netnou net sien hulle
daardie goed wat ek so hard probeer om weg te steek. Sê nou maar hulle sien...?
Ek is sidderend van spanning, want ek was nog nooit so blootgestel voor my
vriende nie. Sowaar, dis nie ‘n grap hierdie nie!
En dan! In die middel
van die tafel lê die ses dissekteermessies. Ons steek ons hande gelyk daarna
toe uit en elkeen vat ‘n blink, nuwe messie. Ons weet presies waar ons die
eerste sny moet maak. Jy sien, ons wil sien! Ons wil oopmaak en kyk of ons
regtig, egtig so oulik is soos wat ons dink ons is. Dis mos maklik om ander
mense om die bos te lei en jy lieg lekker vir jouself. Dit het ek al baie
gesien – ek lieg so erg vir myself dat ek dit vir evangelie verkondig. Wragtag,
dis nie ‘n grap hoe ‘n mens kan lieg vir jou eie, eie hart nie.
Voordat ons aan die
sny gaan, moet jy weet hoe dit gaan werk. Elkeen sny haar eie hart en elkeen se
hart het sy eie (probleem)kamertjies. Ons sny net daar waar daar probleme is
vandag. Die gesonde kamertjies kan wag vir anderdag.
Iemand gee die opdrag: Sny!
Ek hoor dat een van my
vriendinne kla oor die swart kolletjies wat sy sien in haar eerste kamertjie. Mmm,
dit werk maar so, jong. Ons weet nie altyd hoe lyk ons vir ander mense nie, ha?
Ek is hier in my
vriendelikheid kamertjie. Ek is regtig geskok wat ek hier sien. Ons dink ons
loop altyd met hierdie groot smaail, maar intussen sit die frons van frustrasie
so heel dwars-oor ons mooi gesiggies. Ek vat die wit lappie en vryf-vryf aan
die kolletjies. Dit lyk my hulle sit asof hulle nie wil afgevee word nie. Ai! Gelukkig
is ek nie die enigste een wat sit en vryf met die lappie nie.
Die tweede sny maak so
‘n bietjie seerder. Ons gaan nou ‘n bietjie dieper in hierdie mooi harte van
ons. Daar is ‘n effense teken van bloed ook. Eina, man, dis seer om so gedwing
te word om die binnekant te bekyk. Waar is ons nou? Hierdie een se naam is ‘Agterdog’.
Nou hoekom moet daar so ‘n kamertjie wees, vra ek. Dit gaan jou mos nie aan as ek jou nie vertrou nie, of
wat?
Ek sit en kyk geskok
na my hart. Hier is ‘n pikswart besigheid aan die gang. Is ek regtig so
agterdogtig teenoor almal? Is dit nou regtig so dat ek niemand vertrou nie? Nee,
man, dis nie waar nie. Ek vat vir wit lappie en skrop dat dit bars, maar dit
lyk nie of dit werk nie. Die swart kolle raak ligter, maar hulle sit vasgebrand
in my hart.
Ek kyk ‘n oomblik op
na my vriendinne. Niemand traak meer oor niemand nie. Elkeen sit en staar in
afgryse na haar eie besoedelde hart. Ek is dus nie die enigste een wat probleme
het nie. Dankie tog vir hierdie stukkie genade.
Ons hoor weer die
opdrag dat ons moet sny. Ek sny. Dis baie, baie seer. Die bloed loop nou. Ek sien
nie my hart nie. Daar is net een swart massa. Liefdeloosheid. Jy lieg vir my!
Ek sweer ek het almal rondom my lief. Sowaar soos vet, man. Ek kyk mooi om te
sien of dit regtig my hart is, want dit kan nie waar wees nie.
Ek probeer nie eens
skoonvryf nie. Ek sit net en staar in afgryse na hierdie gemors hier voor my. Iewers
huil iemand. Dis toe my vriendin haar hand op my skouer sit dat ek besef dat
dit ek is wat so huil.
Sny!
Nee, ek kan nie verder
gaan nie. Ek weier om die messie op te tel. Iemand sit dit in my hand en ek
sny.
Nee, ek weier om
verder te gaan met hierdie speletjie. Dis lankal nie meer ‘n speletjie nie. Dit
was nog nooit ‘n speletjie nie.
Ek kyk op. My vriendinne
sit verstar. Elkeen het haar eie wroeging oor dit was sy so pas moes aanskou.
Ons tel ons verwonde
harte op en sit hulle terug waar hulle hoort. Ons praat nie oor dit wat ons so
pas gesien het nie. Want jy sien, dis seer. Dis dodelik seer. Onbeskryflik seer.
Toe alles opgeruim is
kyk ons na mekaar met ontsag en liefde. Opeens het jy hierdie geweldige liefde
en respek vir jou susters in die lewe. Jy het gesien...en nou kan jy verstaan.
Greetings from California! I'm bored to tears
AntwoordVee uitat work so I decided to browse your blog on my iphone during lunch break.
I really like the information you provide here and can't wait to take a look when I get home.
I'm amazed at how quick your blog loaded on my mobile .. I'm not even using
WIFI, just 3G .. Anyhow, amazing site!