Toe ek in die skool was, was veral twee vakansies vir ons
as kinders baie belangrik. Die ses-weke vakansie in Desember en die drie-weke
vakansie in Junie/Julie. Ja, ons het hulle regtig so genoem, want dit is hoe
lank hulle was.
Die somervakansies was die lekkerste. Iewers het ons (soos
byna almal in die Namib) Lüderitz toe gegaan vir ‘n week of twee. Ogg, fees der
feeste se lekker kuierplek met goiingsakke vol kreef en soveel roomys by die Strand
Kafee as wat jy moontlik kan verorber. En dan, natuurlik, was Kersfees ook nog
daar.
Die Junie-vakansies was ‘n totaal ander saak. Was jy al in
die woestyn in die winter? As jy was, sal jy nou kopknik en saamstem. Koud. Nee,
ysig koud. En ‘n wind wat net nooit einde kry nie. Sleg? Nee, glad nie. Ongemaklik?
Ja, gewis!
My vroegste herinnering aan wintervakansies, is soggens se
warm kombuisie met die koolstoof. Ma jaag aan: “Dek gou die tafel klaar, Pa is
al terug van die veld af.” Pa kom van buite af in. Toe die deur oopgaan, hoor
jy iewers buite lammers blêr. Hy soen jou. Sy gesig is yskoud. Sy blonde kop is
windverwaaid. Sy swart leerbaadjie ruik na veld en buitekant. Ma sit sy koffie
voor hom neer. “Hoeveel lammers is daar vandag, ouding?” Ek hoor nie sy
antwoord nie. Die pap en worsie is stomend warm. Pa murmureer oor ek suiker en
sous oor die pap gooi. “Jou Engelse Jood!” (Dit beteken jy is dommer as dom!) Halfpad
deur die ete vra Ma ek moet solank die tee maak. My tee is nog warm in my
koppie as Pa die Bybel vat en lees. Hy bid. Ons hou almal hande. Pa is haastig.
Dis lamtyd. Hy trek die pelsies self oop, niemand durf hom ooit daarmee help
nie. Sy werk is sy werk is sy trots!
Waarom sou dit wees dat daar soveel begrafnisse in daardie
vakansies was? Oumense, jongmense, kinders, de lot. Of is dit dalk net ek wat
dit so onthou? Die yskoue wind wat om die verwese mense waai by die graf. Stof.
Blare. Nog stof. Yskoue smart. Na die tyd het Ma skons en broodjies en lekker
warm sop. Opeens is almal hartlik en gesellig in die eetkamer; eintlik die hele
huis vol. Iewers het iemand nog ‘n hand of twee gebring om die massas
skottelgoed te was na die tyd. En dan, vanaand, die ontsettende stilte in die
huis. En my gedagtes wat nie tot rus wil kom oor die mens wat daar buite in die
wind en ysige eensaamheid lê nie. Wanneer raak ‘n mens daaraan gewoond dat ‘n
dooie ‘n dooie is en dat wind en weer nie meer saak maak nie?
Wintertyd is jagtyd. Ons plaas lê langs die uitgestrekte
bittereindes van die Namib met geen grensdrade tussenin nie. Ou Tilla gaan jag
daar waar ons nie mag jag nie. Die gras is hoog en die grassade maak hopie
onder die motor op die spaarwiel. Toe hy vir hom kom kry, is die veld aan die
brand. Daardie dag sien ek hoe gee mens vir mens om, hoor. Almal jaag met
dromme water en sakke en ekstra hande, want die vuur moet dood. Ek en Ma en
ousus moet die springbokke aan die hake onder die boom ophang. Ons is nog
klein, man, en die arms wil nie saamspeel nie. Ma draai die springbok se stertjie
om haar hand om ‘n lekker stewige greep te kry vir die optelslag. Maar ai! As ons
so optel, peul die bokdrolletjies so uit en ek en ousus laat val die bok – ons lag
te veel, sien. Ma raas, maar dit help nie, ‘n drolletjie is ‘n drolletjie en
dis vrek snaaks!
Kinders word nie in die badkamer gebad nie. Dis ‘n baie ou
plaashuis en die badkamer is op ‘n stoepie amper so half buite die huis. Saans word
die sink badjie ingedra kamer toe. Warm water in die badjie. Kindjie word gebad
en (onthou om die gaatjie toe te maak!) warm aangetrek voordat ons by Pa en Ma
in die kombuis gaan sit.
As die wind waai soos hy vandag gewaai het, dan is ek weer
kind op die plaas. Ek sit in die kombuis en ek hoor hoe huil die wind om die
huis se hoeke. Ek wil tee gaan maak en vir Pa gaan gee daar waar hy die
velletjies staan en ooptrek. Ek wil hoor hoe hy “Dankie, Mart-Marie.” Ek wil binne-toe
loop en vir Ma tee vat en kyk hoe sy die een rok na die ander vir ons sit en
maak. Ek wil, al was dit koud en soms onsmaaklik, so graag net eenmaal weer
kind wees in die winter. Seblief tog, toe?
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking