Was jy ook al daar? Jy
weet, daardie oomblik wanneer jy voel maar nou het jy genoeg geluister vir
vandag – jou luister het so pas opgeraak.
Nog nooit? Nee man, ek glo
dit nie. Dit gebeur gereeld met my dat ek in ‘n geselskap sit en besef ek moet
nou onmiddellik vlug vir ‘n paar oomblikke se stilte, of anders...! Of anders
wat? Ek weet nie, want ek het nog nooit probeer uitvind nie.
Ons kuier en gesels dat
die spoeg spat en almal is tog so gesellig en gelukkig, maar iewers in my
binneste begin ietsie (iemand?) in opstand kom. Nee, kom nou Martha, dis nou
genoeg vir vandag. Jy kan môre of anderdag verder kuier. Om vredesnaam, kom nou
net asseblief weg uit hierdie geselskap (lees: geraas)
uit.
Ek dink dit is sulke tyd
helder en duidelik op my gesig geskryf dat my ore intussen albei bottoe geslaan
het. Of dalk is dit nie noodwendig my ore nie, hoor. Dalk is dit die kop wat
nou so vol van die ‘geraas’ is dat hy niks meer kan of wil inneem nie. Die
opstand kom staan in hoofletters tussen my en die res van die geselskap en doen
wat ek wil, ek kan nie verder luister nie.
Ek kom dit deesdae al meer
en meer oor. Dit maak my erg verleë, maar ek het nie beheer daaroor nie. Ek
meen te sê, as my ore nie hoor nie, dan hoor hulle nie! Wat is daar om te doen
daaraan?
Selfs sosiale media raak (by tye) vir my te veel en dan vlug ek so 'n bietjie. Almal verstaan dit nie en baie neem hewiglik aanstoot, ek weet. Maar hoe moet ek maak as ek nie nog net een woord (prentjie/grappie/mooi versie) kan inneem nie? Dalk moet jy net so 'n klein bietjie briek en net nou en dan vir my 'hallo' of 'howzit'? Ek weet nie, hoor. Ek dink maar net aan my ore wat so ongeskik raak by tye.
Nee, dit het nie te doen
met jou of met wie ookal nie, dis my luister-ore wat nie meer wil luister nie.
Jy weet mos dat ‘hoor’ nie altyd ‘luister’ is nie, ha? Jy hoor, maar jy luister
lankal nie meer nie. Dis seker hoekom die oumense
die sêding gehad het: Daar is niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie.
Dit begin my toe pla dat
ek so totaal en al ongeskik is wat die luister aan betref en ek begin soek om
te sien (hoor?) of daar meer van hierdie ongeskikte spesies op aarde is wat
soos ek is. En sowaar, ek is toe nie alleen nie. Daar is regtig ‘n hele kamer
vol mense wie se luister ook redelik gereeld by die venster uit vlieg.
Sulke tye wil jy asseblief
alleen wees. Dit is goed om alleen te wees, man. Nee, nou nie vir altyd en
altyd nie, maar dikwels genoeg sodat jy net weer by jouself kan uitkom. Sodat
jy jou binnekant so ‘n bietjie buitekant toe kan uitdop en bekyk en, waar
nodig, ‘n bietjie salfies kan smeer of dan net ‘n bietjie aandag kan gee. Ons
het nodig om lief te wees vir onsself en ons moet, soos ons graag met ander
mense doen, na onsself kyk en ‘luister’ na die pyne en seerplekke wat soms
ontstaan. Net so moet ons ook hoor as al ons sintuie opeens in opstand kom
teen, in hierdie geval, ‘n te woelige geselskap.
Iemand was gaaf genoeg om ‘n
bietjie raad te gee oor hierdie dowe ore wat nie wil luister nie: Dit is goed
om doelbewus jou alleentyd te beplan en te geniet – tye waarin jy jouself, soos
die Engelse so mooi sê, kan ‘pamper’ en lief kan hê. Tye waarin jy kan leegmaak
van die gejaag, en weer kan volmaak met die mooi en die goed van die lewe. Ek
praat nie van op die bed lê en lees (soos wat ek ook graag doen nie), ek praat
van doelbewus sit en binnetoe kyk...en dankbaar wees SONDER om te kerm en kla.
Jy kan selfs, as jy sukkel met alleentyd, ‘n joernaal hou en gedurende jou
‘self’tydjies, jou skatte neerskryf. Dit help jou om te fokus, maar dit is ook
goed vir wanneer jy dalk anderjaar weer daarin lees.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking