Sondag 28 Julie 2019

SÊ NOU MAAR EK VAL?


My lewe lank het ek ‘n probleem met hoogtes ... o jimmeltjie tog! Moet my net nie vra om daar of daar op te klim nie, hoor. Ek is baie gewillig om baie dinge te doen, maar as ‘n ding ‘n bietjie hoër is as my kniekoppe, weier ek baie maklik; ordentlikheid en my goeie opvouding ten spyt.
Die dag wat ek saam met my suster en maatjies was en almal spring van die muurtjie af tot op die gras, was een van daardie dae. Almal spring, maar hierdie kind staan en beskou die spulletjie van ‘n afstand af.
Die muurtjie agter ons ... 
“Kom, spring jy ook. Dis nou jou beurt,” moedig een aan.
Ek weet ek is vas. Ek het nou geen keuse nie. Ek maak reg en spring. Ek weet ek moet uithaal om nie dalk myself teen die muur te pletter te val nie. Ek spring. Ek trek vir ewig deur die lug. En, o liewe genade, ek val myself in ‘n ander bloedgroep in. My wind is uit en ek lê en hyg na asem. Almal koer en kloek om my, want Ma mag nie sien wat nou hier gebeur het nie.
Ek staan daar op en ek weet: van daardie muurtjie af spring ek nooit, ooit weer nie.
Maar die lewe het ‘n manier om nie op te hou met ‘n bangbroek nie. Dit gebeur keer op keer. Weer spring ek. Weer val ek my des moers.
Die L.O.-klas in die skool was my nagmerrie. As ons die dag daar instap met ons blou outfits en die perd en die brug staan reg, dan weet ek hier kom moeilikheid. Flippit, kan dit dan nie ophou nie?
Die een dag, soos baie ander, moet ons in ‘n ry staan. Elkeen kry ‘n beurt en niemand mag oorgeslaan word nie. Sien nou asseblief hierdie prentjie en kry seblief tog ‘n klein bietjie meegevoel met die bang kind.
Jy moet hardloop, op die wipplank land, en in die hardloop kry jy dan hoogte om oor die perd te spring. So maklik soos roomys eet in die somer, nie waar nie?
Ek gaan staan heel voor. Ek reken as ek eerste is, doen ek dit gou en dan is dit oor en verby. Maar ai, toe juffrou Lilla roep, sien ek nie kans nie. Ek skuif een plek terug. En weer. En weer skuif ek terug. Op die ou einde staan almal eenkant en net die kind met die lam bene staan nog daar om te hol, wip en spring.
Almal moedig aan. Almal wag. Almal is haastig dat die bewende stuk jellie klaar moet kry sodat hulle iets anders kan doen wat ewe lekker is.
Ek hardloop. Ek land met ‘n slag op daardie wipplank. Ek trek hoog deur die lug. Iewers in die vaart kry ou Lilla my een arm in die hande. Ek swaai deur die lug, maar die arm bly hier by Lilla. Moet ‘n swaai tot by die maan land ek met ‘n slag voor haar voete.
Ek staan daar op en ek weet: oor hierdie ding spring ek nooit weer nie.
Mettertyd raak dit so ‘n bietjie makliker – jy kan self besluit of jy wil opklim of nie. jy kan self besluit of jy gaan spring of nie. Ja, reg geraai – ek het nooit weer iewers opgeklim nie en nooit weer iewers afgespring nie. Ek is vas en stewig op die aardkors geanker en niemand oortuig my anders nie. (Nee, ek gaan nie nou vertel hoeveel maal ek in my lewe bloot neergesloeg het op die grond nie!)
Vanaand, jare later, besef ek hoeveel ek in hierdie lewe gemis het. Ek kyk na ‘n program en die aanbieder vertel van ‘n omie van tagtig wat valskermspring ten bate van kinders met kanker. Hyself het ook kanker, maar hy glo dat hy te veel het om te doen om nou op ‘n hopie te gaan sit.
Die aanbieder bely: “Vandag het my hele lewe verander. Ek kan nie meer dink ‘Sê nou maar ek val’ nie. Van vandag af is my leuse: Sê nou maar ek vlieg?
Is dit nie ‘n openbarende gedagte nie? As ek nie waag nie, sal ek nooit wen nie. Die spreekwoordelike muurtjie waarvandaan jy moet spring, kan dalk jou lewensdroom wees wat jy nog altyd te bang was om mee te begin. Dink ‘n bietjie daaroor, dis uiters bevrydend.
So het ek twee jaar terug uiteindelik met bewende vingers my eerste sin begin tik aan my eerste boek. Vir my was dit baie hoër en baie erger as die hoogste muurtjie, maar ja, ek het gespring en ... toe vlieg ek!


Woensdag 10 Julie 2019

'n LEEFTYD WAT VOEL SOOS GISTER.


Sewe-en-dertig jaar gelede ...  
Dit voel soos gister, maar dit is ‘n leeftyd terug. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe vir altyd en altyd verander. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe, so kan jy maar sê, voor begin. Ja, die dag voor dit en die dag daarna kan jy nooit, ooit met mekaar vergelyk nie.
Die oggend het baie deurmekaar begin. Skielik was ek die taxi wat een en elk by die haarsalon moet besorg. Ha-a, vergeet van die bruid wat voete omhoog nog so ‘n bietjie laat kan lê in die kooi. Vergeet van die bruid wat rustig haar naels verf en sielsalig ‘n koppietjie tee met ‘n broodjie geniet. Nee jong, daar van niks van sulke dinge nie. Almal is besig en die bruid moet haar kant bring! Dalk was dit ‘n goeie ding, want daar was nie tyd om te dink en (dalk) koue voete te kry nie.

Sewe-en-dertig jaar gelede het ek aan die arm van my pappa kerk toe gestap. Dit was ‘n emosionele oomblik vir albei van ons. Hy, omdat hy nie sy kind wil sien seerkry nie, sy omdat sy sy hart gelees het. Hy het ‘n kort oomblik gaan staan en saggies gefluister: “Liewe Jesus, vat asseblief my kind se handjie.”

Ek het nie geantwoord nie, want my woorde was te min. Hy het dringend gevra: “Het jy gehoor?” Ek het net my kop geknik, want die trane het baie vlak gelê.
Sewe-en-dertig jaar terug het ek, my liefie kindjie en my pappa die paadjie kansel toe geloop. Ek onthou my moeder se groot, wyd-oop oë toe ons verby haar loop. Ek kon sien dat die trane glad nie ver is nie.
Sewe-en-dertig jaar terug het daardie dogtertjie, tot ontsteltenis van haar ouma, op die mat voor die preekstoel rondgekruip. Die dominee het sy preek onderbreek met ‘n “Los haar maar, sy pla nie.”
Sewe-en-dertig jaar gelede het ek die heel laaste keer my handtekening gemaak met ‘n ander van. Van daar af was ek trots op my nuwe van. Vandag nog teken ek dit met trots in my hart!

Sewe-en-dertig jaar gelede het daardie dogtertjie saam met my die kerktrappies afgestap. “Kan ek nou maar vir oom Duitser ‘Pappa’ sê?” wou sy opgewonde weet.
‘n Leeftyd terug het hy my daar op die kerktrappie gesoen. ‘n Leeftyd later soen hy my nog altyd met groot liefde en omgee en respek.

Sewe-en-dertig jaar wat voel soos vir altyd en altyd ...
En tog ...
Tog voel dit soos gister.

Maandag 08 Julie 2019

ONS BOU 'N HUIS


Ons is ‘n groepie wat woel en werskaf om gereed te kom vir die Radiothon van Kanaal 7. Hoe langer ons so saam is, hoe meer verstom dit my hoe ons as (in sommige gevalle) totale vreemdelinge vir mekaar, so maklik kan inskakel en saam werk. Die een is bedrewe met dit, die ander weer met dat. Die eindproduk is keer op keer verstommend suksesvol.
Hoe werk dit? Hoe gebeur dit dat almal byvoorbeeld nie goed is met broodbak en niemand kan biltong maak nie? Dit slaan my totaal en al dronk, hoor.
En toe hou ons ‘n heerlike tee. Die plek is gepak van die Keetmanshopers. Dit gesels en kuier dat die spreekwoordelike spoeg so spat. Almal voel tuis en almal is bly om daar te wees. In my hart het ek so ‘n klein bietjie twyfel oor dit wat moet gebeur – mense wat hulle ‘stories’ vir ons gaan vertel. Wat nou as daar een opstaan en volksvreemde goed staan en praat? Wat nou as een besluit dit is tyd dat die ou lotjie wakker geskud moet word met ‘n storie wat die bloed in jou are laat stol?
Maar nee. Een na die ander staan hulle op en deel hulle hartsdinge met ons en keer op keer voel dit vir my asof dit maar my eie storie ook kon gewees het. Al die stories het een doel voor oë – die Here is groot en Hy sorg vir sy kinders.
Skielik breek die lig vir my deur. Aardetjie, Martha, hoe kon jy dan so dom wees? Hoe kon jy dit vergeet wat die Woord vir ons uitspel? “Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis ...”
Ons is dus ‘n eenheid, maar elkeen het sy eie doel, nie waar nie? Ek wil so ver gaan deur te sê, geestelik of nie geestelik nie, waar mense in ‘n groep saam is, vorm dit noodwendig ‘n eenheid ... of dan ‘n huis in hierdie geval.

Dis toe wat ek die prentjie van die boumateriaal sien. Stene, sement, hout- en staalbalke, plafonne, bouklip, verf, gras vir die grasdak en wat nog alles. Ek loer by ‘n stoorkamer in en sien groot kartonne opmekaar gestapel. Die inhoud is duidelik op elke karton geskryf: snoesige lakens; groot, sagte handdoeke; luukse gordyne; satynkussings; vadoeke. Ek hou op met lees, want ek besef dit gaan my heeldag vat om alles in te neem.
Ek sug by myself. Sjoe, hierdie is ‘n grote, jong. Ons wil soms asseblief tog die grootste en die sterkste wees, nie waar nie? Ander kere wil ons die mooiste en die slimste wees. Jaloesie is baie maal ‘n mens se grootste vyand wat dit betref.
En tog! Wat as die bouklip wat in die fondasie gebruik moet word, nou skielik besluit dat hulle liewer op die kombuisvloer wil wees. Of as die sinkplaat wat op die dak moet kom besluit hy wil vanaand plekke ruil met die sagte wolkombers op baba se bed. Kan jy jou dit indink? Watter chaos sou dit veroorsaak as elkeen self kon kies waar en hoe hy gebruik wil word? Dink jou dit in as die vadoek besluit dit is sy beurt om vanaand op ouma se bed te wees en satynkussing moet kombuis toe trek. Mmmm, ‘n groot gemors, sou ek reken.
Nou hoekom is dit dan dat ek soms die sinkplaat en dan die vensterruit en dan daarna die wolkombers wil wees? Hoekom kan ek nie tevrede wees om bloot te wees dit waarvoor ek gemaak is nie? Hoekom gun ek nie die pikante teepot op die tafel haar fleur en skoonheid nie? Dit is tog waarom sy op die tafel is, ha? In elk geval, noudat ek daaraan dink, sy vat ook maar daagliks die hitte wat na haar kant toe kom, nie waar nie? Ek dink nie ek sou staan om vol kookwater gegooi te word nie, hoor.

Ek het, soos elke ander keer, afgedwaal van my storie af. Wat ek wou eintlik maar net wou sê is dat dit verstommend is hoe so ‘n klomp siele so ‘n mooi eenheid, of in hierdie geval, so ‘n mooi huis kan vorm ... sonder foute, sonder water wat deur die dak drup of mure wat gebars is.
Verstommend! Voorwaar verstommend.

Woensdag 26 Junie 2019

LIG NA DIE DONKER

"Jy kan die donker, swart hond van jou stoep af gooi ..."

Sjoe, ek moet dit met jou deel! Ek luister na 'n onderhoud met Valiant Swart en sit verstar! Dit is hy wat 'Sonvanger' geskryf het. Hoe kon ek dit nie weet nie? Dit slaan my dronk, want dit is presies wie hy is, nie waar nie?

Die lied is sprekend van sy hart nadat hy gehoor het dat 'n jongman selfdood gepleeg het. Ralph Rabie, beter bekend as Johannes Kerkorrel, was 'n vriend van hom en hy was bewus van die stryd met depressie wat die jongman gevoer het.

Op daardie oomblik gaan sy hart uit na Ralph se ma. Hy wonder hoe sy ooit weer 'die lig' sal sien en ervaar in haar donkerste nag.

Ek is verstom deur soveel rou emosie in so 'n eenvoudige bewoorde liedjie. Hoewel ek nie voorheen die storie agter die liedjie geken het nie, het dit nog altyd iewers 'n snaar in my hart geraak. Dit is asof ek nog maar altyd geweet het dat hierdie lied nie sommer toevallig gebeur het nie.

Dis een van daardie songs wat almal wat Afrikaans sing, al gesing het. Laurika, Theuns, Reventse, Karen Zoid, ek, jy ... wie nog almal? Dit spreek tot so diep in jou hart dat jy onwillekeurig saam moet sing en saam moet soek of jy die son nog kan sien skyn. Jy voel, nee, jy SIEN die pyn wat die verpletterde ma van daardie jongman ervaar het by die verlies aan haar kind.

En tog besef hy dat daar altyd 'n ligkolletjie iewers is. As jy mooi kyk en (waarskynlik) 'n bietjie soek, sal jy die son weer sien skyn.

Sy uiteindelike uitspraak is dan ook: "Jy KAN die donker, swart hond van depressie van jou stoep af gooi en aangaan met jou lewe."

Wow!


Kyk of jy vir my die son kan vang
Daar's 'n kamer in die huis waar ons die son kan hang
Dit is donker by die venster in die middel van die dag
Onthou jy nog hoe helder die kamer kon lag
Kyk of jy vir my die son kan bring
Daar's 'n liedjie in die gange waar die son kan sing
Want dis stil in die hoekie hierdie koue seisoen
Kan jy sien wat die wind en die reën aan my doen

Sonvanger ek vra jou mooi
Laat hom weer vir my kom skyn
Sonvanger laat my verstaan
Hoe 'n somer sommer so in die niet kan verdwyn
En laat hom skyn
Kyk of jy vir my die son kan kry
Daar's 'n huisie in my hart waar die son kan bly
Kyk of jy die son vir my kan steel
Daar's 'n plekkie in die tuin waar die son kan speel
Koor

Bring 'n bietjie lig vir die draaie op my pad
En 'n handjie vol strale vir die donker in my hart

Koor

Woorde & Musiek: Valiant Swart

Sondag 23 Junie 2019

DIE VERHAAL VAN DIE BAIE KOPPIES EN DIE EEN BEKERTJIE


Ek sit vanoggend rys op die stoof en skielik tref dit my: Hierdie koppie waarmee ek so pas die rys afgemeet het, het ‘n storie wat vertel moet word. En toe kom die klein stemmetjie mos: “En wat van al jou ander koppies? Het hulle nie ook die reg om hulle stories te vertel nie?”
As jy hier lees en jy het nie koppies in jou huis nie, weet ek min of meer hoe oud jy is. Want, jy sien, toe ek mens geword het, was die enigste bekers in die huis die blikbekers waarmee my pa vir die werkers op die plaas bruinsuiker geskep het in die rantsoenkamer. ‘n Beker het nie deel uitgemaak van Ma se skottelgoed nie, o nee! Hoewel, later jare het Ma ‘n blou bekertjie gebruik om Pa se moerkoffie in te maak.

Wanneer jy moes gaan tee maak, het jy geweet – teekoppies op die skinkbord met almal se ore in dieselfde rigting en die teelepel regs van die oor. Ja? Net so. Die melkbeker en suikerpot het gepas by die koppies (totdat stainless steel uitgevind is, natuurlik.)
Om terug te kom by die ryskoppie. Ek kan nie onthou dat ons uit sulke koppies gedrink het nie, maar dit was seker op ‘n tyd so. Die koppie was (van my geboorte af al?) in Ma se rysblik. Vandag is hy in my rysbak. Hoe anders? Ek wonder net wat van koppie gaan word die dag as ek my amen bereik.

Kom ek vertel jou eers van die amen. Dis die antie wat wou verduidelik vir hoe lank sy nog in dieselfde huisie gaan bly. Uit respek vir die dood het sy baie ernstig gesê: “Ja, hier sal ek bly tot ... amen kom.”
‘n Koppie wat vir my eindelose waarde het, maar vir die volgende een op straat niks gaan beteken nie, is ‘n koppie van die Administrasie van Suidwes Afrika. Ja, ek kan maar erken dat ek dit gesteel het. Ek kon regtig nie anders nie, ek belowe. Ek vertel jou sy storie, dan sal jy verstaan.
Dit was met die geboorte van my oususkind wat dit gebeur het. Die proses was nogal uitmergelend en het ‘n nag en nog ‘n paar ure geduur. Die hele tyd het Ma langs my bed gestaan met daardie koppie in die een hand en ‘n stukkie watte in die ander hand. Oor en oor het sy die stukkie watte in die water gedoop en voor my mond gehou om te suig daaraan. Jy kan maar sê die ouma het my aan die lewe gehou met daardie kosbare voggies in die kosbare koppie. Nou vra ek jou: Wie sou hom nie agterna steel nie?

Dan het ek Ma se teestel met die rose. Og heigenthert! Is dit vir jou ‘n mooi stel! Ma het dit uitgehaal as die dominee en Mevrou Dominee kom huisbesoek doen het. Ja, en natuurlik ook as daar biduur op die plaas was, want dan moes sy elke beskikbare koppie op die tafel dek. Pa het hierdie stel vir Ma gekoop met ‘n spesiale geleentheid en ek is so jammer dat ek nie die storie kan onthou nie. Ek het amper die idee dit was met die geboorte van een van ons, maar slaan my dood as ek dit kan onthou! Waarom is dit so dat ‘n mens altyd te laat besef daar is nog so baie wat jy moes vra?

Jy weet wat? Terwyl ek nou oor hulle praat, besef ek dit is eintlik hoe Ma vir my gelyk het – kosbaar en so mooi soos die mooiste koppie met rose. Kosbaarder as edelstene en alle skatte op aarde. As ek haar ook maar iewers op ‘n rakkie kon sit om te bewaar vir altyd en altyd, sou ek dit gewis doen. Maar dan ... wanneer is ‘altyd en altyd’? Seker dan maar net tot amen kom, dink ek.
‘n Ander stel kom van Ouma af. Dit laat ‘n mens nogal baie aan die Duitse Sammeltassen dink. Weereens, as jy weet wat Sammeltassen is, kan ek jou ouderdom vir jou sê. Die verskil is dat hierdie koppies almal dieselfde lyk, dis net hulle kleur wat verskil. Die een is geel, met ‘n goue randjie om. Die ander een pienk, en so aan. Kosbaar en fyn. Ek weet nie waarom nie, maar om een of ander rede was ek nog nooit werklik lus om my tee uit een van hulle te drink nie. Nie dat hulle nie vir my mooi is nie, hoor. Inteendeel! Dis net of hulle nie so diep in my hart in is soos die koppies met die rose nie.

Ag, en dan is daar die bruin pottery stel. Ek wou bitter graag so ‘n stel hê en het dit toe ook as trougeskenk gekry. Maar weet jy wat? Ek gebruik dit nooit nie. So mooi soos hulle vir my is, so onbruikbaar is hulle. By die tyd wat jy die koffie in die ketel en dan in die koppies gegooi het, is die koffie yskoud. Nou wat is dan die doel daarvan? Koue koffie uit mooi koppies? Ha-a, dit werk net nie vir my nie. Nou staan hulle doer bo in die kas en vergaar stof.
Nou vra jy my nou waaruit drink ek dan nou my koffie? Mmmmm, my beker, my skat, my beker.
So glo ek mos die manier waarop jy koffie en tee aan ander mense bedien, vertel boekdele van wie jy is. Is! Moenie stry nie, jy weet dit is waar.
Ek is een van die skuldiges wat vir ‘n vriendin sommer die melkboks sal gee om melk in haar koffie te gooi. My ma sou die horries kry as sy dit sien. Sjoe, ‘n mens maak mos nie so nie, jong. Jy dek die skinkbord en dan, eenkant in die skinkbord, is altyd nog die bakkie koekies. En ek? Ek het nie eens koekies in die huis nie, wat nog van koekies saam met jou tee. Sies, ek behoort my te skaam, sowaar.
... maar nee, ek doen toe nie. Ek is tuis in my vel en gelukkig met wie ek is, baie dankie.


Donderdag 06 Junie 2019

EK GROET JOU, MY BEMINDE


My liefste Winter Liewe Winter
Ek dreig al so lank om vir jou te skryf, maar elke keer bedink ek myself. Elke keer dink ek dat ek jou nog net een kans gee – een kans om te bewys dat jy my nie verraai het nie. En toe, uiteindelik, besef ek dat dit nooit weer soos voorheen kan wees nie. Uiteindelik moes ek dit aan myself erken: Jy het my verraai!
Ai, man, hoe kon jy dit aan my doen? Het ons twee se liefdes-pad dan vir jou niks beteken nie? Het jy dit doelbewus gedoen om my te verlei, of is dit maar in jou aard om speel-speel van die een verkluimde wese na die volgende te dartel? Was dit dan nooit by jou ‘n saak van hartstog en passie soos vir my nie?
Ek was elke keer so opgewonde, net by die gedagte dat jy op pad was. My hart klop nou nog vinniger as ek dit onthou – mooi, warm truie en wolmussies; warm lakens en verekomberse; lekker dik sop en ‘n broodjie met regte plaasbotter. Ja, jy weet mos, die liggaamlike behoeftes is altyd maar daar by ons vroumense.
Wanneer ek deesdae gaan slaap, smag my hart na hoe jy was, jare gelede. Jy was liefdevol en geheimsinnig. Ek wou jou indrink en net vir myself hou. Ek onthou hoe ek soggens uitgestorm het om jou te gaan ontmoet. Jy het my nooit teleurgestel nie; nooit nie. Met jou ysige hande het jy my gesig kom liefkoos ... passievolle soene op my wange en mond. Die bloed het deur my are gebruis en my jong liggaam het gedy onder jou aanraking. Onthou jy? Wanneer ander murmureer het oor jou, het ek stil geglimlag. Ek het jou bemin, my geliefde. Ek het jou bemin.
Wanneer die tyd dan gekom het dat jy my moet verlaat, het ‘n diepe heimwee in my hart kom lê. Ek wou jou nie groet nie, my beminde. Ek wou jou by my hou, maar jy het stil-stil weggegaan elke keer.
Maar iewers op ons pad (ek weet nie wanneer presies nie) het jy venynig begin raak, my geliefde. Dit was asof jy my nie meer so liefgehad het soos voorheen nie. My gesig het begin skrynerig voel wanneer jy my liefkoos. My liggaam het rebelleer teen jou vrypostige aanraking. Ek het begin wegskram wanneer ek jou gewaar.
Wat het dan skeefgeloop? Waarom het jy my nie meer so lief soos voorheen nie? My geliefde, antwoord my, toe?
My rumatiek-lyf smag na die bruising van krag en energie met jou eerste verskyning. Maar, helaas, jy het my verraai.
Dan groet ek maar met innige verlange
Jou liefde van sewentig jaar gelede.



Vrydag 31 Mei 2019

EK VREET G'N 'N VY NIE!


Nee, ek het jou nie geblok op Facebook nie, hoor. En nee, ek het ook nie na ‘n ander planeet verhuis nie. Ek is maar nog altyd hier in my plekkie. Hoe sê hulle altyd? ‘Ek gaan nêrens heen nie, dankie.’

Die navrae kom onverwags en uit vreemde oorde. Op ‘n dag bel my seun my: “Het Ma my geblok?”

“Hoekom?” wil ek verbaas weet. “Wat laat jou dink dat ek ooit so iets sal doen?”
“Ek vra maar net. Ek het so lanklaas iets van Ma gelees ...”

Ek stel hom gerus: “Ek is maar net ‘n bietjie besig met ander dinge op die oomblik. Jou ma sal mos nooit so lelik met jou wees nie, jy weet dit mos.”

So ‘n dag of drie terug raak dit toe nou ernstig. Iewers doen ek iets verkeerd, want die mense soek regtig nou na my. En ek verstaan nie, ek is mos hier!

Een persoon vra heel diplomaties waarom ek so stil is. Is daar dalk fout? Die tweede een is blatant eerlik: “Dis kommerwekkend ! Die laaste Kleur van jou pen was 14/4/ en daarna niks.”

Ek probeer skerm oor dingetjies wat my besig hou, maar laasgenoemde gee nie bes nie. Waarom is ek so stil? “Praat tog maar as daar fout is. Jy sien, ek leer jou nou eers regtig ken deur dit wat jy skryf.”

En dis presies wat my weer stuur op paaie waar niemand ooit loop nie: Wanneer ken jy ‘n mens regtig? Wat maak dat jy van die een meer as van die ander hou en altyd meer en meer van hom/haar wil weet? Wat is dit wat jou in die eerste plek aantrek na ‘n mens toe, maar die volgende mens wek ‘n soort weersin in jou wat jy glad nie kan verklaar nie.

Ek dink as ‘n mens die antwoord daarvoor kry ontdek, sal die lewe darem regtig waar baie makliker wees. Ek meen nou maar, as ek weet dit en dat is in my mondering waarvan die en daai nie hou nie, dan bly ek mos doodeenvoudig uit sy pad uit, nie waar nie? Gestel nou maar ek moet vir ‘n werkonderhoud gaan en ek weet die baas van die plek hou nie van ou vrouens met grys hare nie, dan sal ek mos in die eerste plek nie gaan nie, ha? So spaar ek vir hom en vir my ‘n klomp moeite en verdriet.

Maar eers iets anders. Jy weet, soos Pietman gesê het: Die lewe is soos ‘n swembad – soms is jy aan die vlak kant, soms is jy aan die diep kant. (Toe wonder ek mos wie op hierdie aardbodem kies ‘n verhoognaam soos ‘Pietman’? Ha? Regtig? Jy’s nie ernstig nie, is jy?

My fout! Toe ek die man hoor praat, maak dit glad nie meer vir my saak of hy Pietman of Koosman of waffer -man ookal is nie. Die man het ‘n binnekant wat menige van ons maar net kan begeer. En om die cherry op die koek te sit, kan hy nog sing ook! Meer later oor hierdie soort van fout wat ‘n mens kan maak met wat jy op die oppervlak sien of hoor.

In elk geval, die storie van die swembad ...

As jy mos so half aan die diep kant van die lewe ingegooi was en vir ‘n geruime tyd moes water trap, dan is dit mos so half of jy jarre en jarre daarna nog altyd so half sonder asem is en sukkel om net weer genoeg suurstof in jou longe te kry. Jy bewe en hyg nog na asem, al is jy lankal op droë grond. Nouja, ek dink dit is waar ek nou is ... hoeka weer veilig en geborge, maar mens! Die adrenalien pomp nog immer asof ek aan die veg vir my behoud is. (Weet jy hoe stupid is dit om op droë grond te probeer water trap?)

Nou moet ek myself eers in die rede val. Ek sien ek spring nou so rond tussen my stories dat dit my laat dink aan jare gelede toe ek, ewe kontant en baie braaf, ‘n storie vir ‘Sarie’ gestuur het. Ek was vrekkens seker dat dit die beste storie is wat nog ooit ingestuur is. Ja, ek weet! Blatant arrogant is nie die woord nie. Toe ek uiteindelik ‘n antwoord kry, was ek nie baie bly nie, hoor.

Beste Martha
Baie dankie vir jou verhaal. Hoewel die inhoud baie interessant is, sal ons dit nie kan gebruik nie. Dit lyk vir my jy sit so half op twee stoele.

En was ek in die bek geruk! Demmit, man, ken hulle dan nie ‘n goeie storie as hulle een sien nie? Vandag weet ek dit was nie ‘n kortverhaal nie en dit was ook nie ‘n skets nie, vandaar die ‘twee stoele’. Maar dit nou daar gelaat ...

Hoe eet jy jou lemoen? Skil jy hom geduldig af en breek die skyfies los en byt-suig elkeen so op sy eie of sny jy ronde skywe en gooi so ‘n bietjie sout op vir die lekkerte? ‘n Kleiner groepie mense byt hom so in sy lyf soos jy met ‘n appel maak. Of, as die skilletjie al so ‘n bietjie uitgedroog het, maak jy jou lemoen sag. As kinders het ons hom so met die voet op die vloer gerol. Kry ek nou so ‘n giggeltjie ... menigmaal het daardie lemoen onder jou voet gebars en alles was nat en taai. Kan jy jou indink hoe ‘n honger koshuiskind voel as jou kosbare lemoensap oral is behalwe dat jy dit kon uitsuig? Een ding wat ek nog nooit gedoen het nie, is om lemoenkonfyt te maak. Ek glo nog my lewe lank dat ek nie konfyt kan kook nie. Dalk moet ek eendag probeer?

Dalk hang dit af van jou bui hoe jy hom vandag gaan eet. Feit van die saak is dat daardie selfde lemoen elke keer anders smaak, afhangende van hoe jy hom bydam en verorber.

Jare terug hoor ek die een ou op die radio reken hy vreet (sy eie woorde!) liewer ‘n kakkerlak as ‘n vy. Kan jy nou meer! Hy moes met die gatkant van vye te doen gehad het om so lelik van hierdie hemelse vrug kan praat. Ek kan my indink dat hy dalk op ‘n dag skelm in Oupa se tuin gaan vye eet het. Dit was versmagtend warm en die warm vye en sy jong magie was nie beste vrinne nie. Die hele nag lank was dit hy en die vye en teen die vroeë oggend-ure het hy gesweer hy vreet nooit weer ‘n vy nie. Wat anders kan jou maak dat jy ‘n vy so haat?

Nou sê my, hoe eet jy ‘n vy? Skil jy hom haastig af en druk hom heel in jou mond, of breek jy hom oop en ervaar die diep, soet smaak wanneer jy hom met die tande bykom? Dan is daar nog die uitgelese groepie wat hom stukkend sny en op ‘n broodjie sit en so ‘n effentjie met sout bykom. Probeer dit gerus, hoor.

Wat maak dit saak hoe jy hom eet? Het my broer altyd mos gesê: Elke man soen sy vrou op sy eie manier. Net so! Maar hoor vir my, daai ou soen sy vrou wraggies ook nie elke dag op dieselfde manier nie. Sowaar, dit sal darem ‘n vervelige spulletjie afgee, ha? Ag nee, aardetjie tog!

Ek hoor jy vra my: Nou wat nou? Waarop stuur jy af?

Ek weet ek maak nie sin nie, maar dit is juis die punt. Hoe kan jy verkondig jy ken ‘n vy as jy hom nog nooit op elke denkbare manier geëet het nie? Erken dit nou maar, jy weet g’n hoe smaak ‘n vy met sout op en lekker dik op ‘n broodjie gepak nie. Nou hoe kan jy dan sê jy hou nie van vye nie?

Is dit nie maar ook hoe ons mekaar oordeel op dit wat ons sien en/of hoor van mekaar nie? Ek hou nie van mense wat baie hard en aanhoudend praat nie en daarom hou ek sommer nie van jou nie nog voor ek jou ontmoet het. Dit, my maat, is wat ek onregverdig in die hoogste graad noem. Ek gee jou nie ‘n kans nie, ek skryf jou af die oomblik wat jy raas-raas om die hoek kom ... en op die ou einde is dit ek wat uitmis op jou vrolike geaardheid en mooi hart.

So kan ons jare saam met ‘n mens lewe, maar aan die einde van die lewe ken ek jou glad nie, bloot omdat ek jou nooit ‘n kans gegee het nie. Want sien, ek het aangeneem die vy gaan my weer siek maak, dus eet ek hom nie tot die dag van my dood toe.

Erken dit nou maar aan jouself, ons is almal skuldig daaraan. Hoeveel maal het jy al gesê dat jy nooit besef het die of daai is so ‘n aangename persoon nie ... dat jy jammer is jy het dit nie lankal agtergekom nie.

Ai, en dan is dit mos nou maar so dat spyt altyd te laat kom!





“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"

  “Nou sê ek vandag vir julle, moenie by   my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...