Sewe-en-dertig
jaar gelede ...
Dit
voel soos gister, maar dit is ‘n leeftyd terug. Sewe-en-dertig jaar gelede het
my lewe vir altyd en altyd verander. Sewe-en-dertig jaar gelede het my lewe, so
kan jy maar sê, voor begin. Ja, die dag voor dit en die dag daarna kan jy
nooit, ooit met mekaar vergelyk nie.
Die
oggend het baie deurmekaar begin. Skielik was ek die taxi wat een en elk by die
haarsalon moet besorg. Ha-a, vergeet van die bruid wat voete omhoog nog so ‘n
bietjie laat kan lê in die kooi. Vergeet van die bruid wat rustig haar naels
verf en sielsalig ‘n koppietjie tee met ‘n broodjie geniet. Nee jong, daar van
niks van sulke dinge nie. Almal is besig en die bruid moet haar kant bring! Dalk
was dit ‘n goeie ding, want daar was nie tyd om te dink en (dalk) koue voete te
kry nie.
Sewe-en-dertig
jaar gelede het ek aan die arm van my pappa kerk toe gestap. Dit was ‘n
emosionele oomblik vir albei van ons. Hy, omdat hy nie sy kind wil sien seerkry
nie, sy omdat sy sy hart gelees het. Hy het ‘n kort oomblik gaan staan en
saggies gefluister: “Liewe Jesus, vat asseblief my kind se handjie.”
Ek
het nie geantwoord nie, want my woorde was te min. Hy het dringend gevra: “Het
jy gehoor?” Ek het net my kop geknik, want die trane het baie vlak gelê.
Sewe-en-dertig
jaar terug het ek, my liefie kindjie en my pappa die paadjie kansel toe geloop.
Ek onthou my moeder se groot, wyd-oop oë toe ons verby haar loop. Ek kon sien
dat die trane glad nie ver is nie.
Sewe-en-dertig
jaar terug het daardie dogtertjie, tot ontsteltenis van haar ouma, op die mat
voor die preekstoel rondgekruip. Die dominee het sy preek onderbreek met ‘n “Los
haar maar, sy pla nie.”
Sewe-en-dertig
jaar gelede het ek die heel laaste keer my handtekening gemaak met ‘n ander
van. Van daar af was ek trots op my nuwe van. Vandag nog teken ek dit met trots
in my hart!
Sewe-en-dertig
jaar gelede het daardie dogtertjie saam met my die kerktrappies afgestap. “Kan
ek nou maar vir oom Duitser ‘Pappa’ sê?” wou sy opgewonde weet.
‘n
Leeftyd terug het hy my daar op die kerktrappie gesoen. ‘n Leeftyd later soen
hy my nog altyd met groot liefde en omgee en respek.
Sewe-en-dertig
jaar wat voel soos vir altyd en altyd ...
En
tog ...
Dit os n leeftyd Martha maar watter voorreg om na sewe en dertig jaar nog steeds soos gister voel. Baie geluk
AntwoordVee uit