Ek
dreig al so lank om vir jou te skryf, maar elke keer bedink ek myself. Elke keer
dink ek dat ek jou nog net een kans gee – een kans om te bewys dat jy my nie
verraai het nie. En toe, uiteindelik, besef ek dat dit nooit weer soos voorheen
kan wees nie. Uiteindelik moes ek dit aan myself erken: Jy het my verraai!
Ai,
man, hoe kon jy dit aan my doen? Het ons twee se liefdes-pad dan vir jou niks
beteken nie? Het jy dit doelbewus gedoen om my te verlei, of is dit maar in jou
aard om speel-speel van die een verkluimde wese na die volgende te dartel? Was dit
dan nooit by jou ‘n saak van hartstog en passie soos vir my nie?
Ek
was elke keer so opgewonde, net by die gedagte dat jy op pad was. My hart klop
nou nog vinniger as ek dit onthou – mooi, warm truie en wolmussies; warm lakens
en verekomberse; lekker dik sop en ‘n broodjie met regte plaasbotter. Ja, jy
weet mos, die liggaamlike behoeftes is altyd maar daar by ons vroumense.
Wanneer
ek deesdae gaan slaap, smag my hart na hoe jy was, jare gelede. Jy was liefdevol
en geheimsinnig. Ek wou jou indrink en net vir myself hou. Ek onthou hoe ek soggens
uitgestorm het om jou te gaan ontmoet. Jy het my nooit teleurgestel nie; nooit
nie. Met jou ysige hande het jy my gesig kom liefkoos ... passievolle soene op
my wange en mond. Die bloed het deur my are gebruis en my jong liggaam het gedy
onder jou aanraking. Onthou jy? Wanneer ander murmureer het oor jou, het ek stil
geglimlag. Ek het jou bemin, my geliefde. Ek het jou bemin.
Wanneer
die tyd dan gekom het dat jy my moet verlaat, het ‘n diepe heimwee in my hart
kom lê. Ek wou jou nie groet nie, my beminde. Ek wou jou by my hou, maar jy het
stil-stil weggegaan elke keer.
Maar
iewers op ons pad (ek weet nie wanneer presies nie) het jy venynig begin raak,
my geliefde. Dit was asof jy my nie meer so liefgehad het soos voorheen nie. My
gesig het begin skrynerig voel wanneer jy my liefkoos. My liggaam het rebelleer
teen jou vrypostige aanraking. Ek het begin wegskram wanneer ek jou gewaar.
Wat
het dan skeefgeloop? Waarom het jy my nie meer so lief soos voorheen nie? My
geliefde, antwoord my, toe?
My
rumatiek-lyf smag na die bruising van krag en energie met jou eerste
verskyning. Maar, helaas, jy het my verraai.
Dan
groet ek maar met innige verlange
Jou
liefde van sewentig jaar gelede.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking