Nee, ek het jou nie
geblok op Facebook nie, hoor. En nee,
ek het ook nie na ‘n ander planeet verhuis nie. Ek is maar nog altyd hier in my
plekkie. Hoe sê hulle altyd? ‘Ek gaan nêrens heen nie, dankie.’
Die navrae kom
onverwags en uit vreemde oorde. Op ‘n dag bel my seun my: “Het Ma my geblok?”
“Hoekom?” wil ek
verbaas weet. “Wat laat jou dink dat ek ooit so iets sal doen?”
“Ek vra maar net. Ek
het so lanklaas iets van Ma gelees ...”
Ek stel hom gerus: “Ek is
maar net ‘n bietjie besig met ander dinge op die oomblik. Jou ma sal mos nooit
so lelik met jou wees nie, jy weet dit mos.”
So ‘n dag of drie terug
raak dit toe nou ernstig. Iewers doen ek iets verkeerd, want die mense soek regtig
nou na my. En ek verstaan nie, ek is mos
hier!
Een persoon vra heel
diplomaties waarom ek so stil is. Is daar dalk fout? Die tweede een is blatant
eerlik: “Dis kommerwekkend ! Die
laaste Kleur van jou pen was 14/4/ en daarna niks.”
Ek probeer skerm oor dingetjies wat my besig hou, maar
laasgenoemde gee nie bes nie. Waarom is ek so stil? “Praat tog maar as daar
fout is. Jy sien, ek leer jou nou eers regtig ken deur dit wat jy skryf.”
En dis presies wat my weer stuur op paaie waar niemand ooit
loop nie: Wanneer ken jy ‘n mens regtig? Wat maak dat jy van die een meer as
van die ander hou en altyd meer en meer van hom/haar wil weet? Wat is dit wat
jou in die eerste plek aantrek na ‘n mens toe, maar die volgende mens wek ‘n
soort weersin in jou wat jy glad nie kan verklaar nie.
Ek dink as ‘n mens die antwoord daarvoor kry ontdek, sal die
lewe darem regtig waar baie makliker wees. Ek meen nou maar, as ek weet dit en
dat is in my mondering waarvan die en daai nie hou nie, dan bly ek mos
doodeenvoudig uit sy pad uit, nie waar nie? Gestel nou maar ek moet vir ‘n werkonderhoud
gaan en ek weet die baas van die plek hou nie van ou vrouens met grys hare nie,
dan sal ek mos in die eerste plek nie gaan nie, ha? So spaar ek vir hom en vir
my ‘n klomp moeite en verdriet.
Maar eers iets anders. Jy weet, soos Pietman gesê het: Die
lewe is soos ‘n swembad – soms is jy aan die vlak kant, soms is jy aan die diep
kant. (Toe wonder ek mos wie op hierdie aardbodem kies ‘n verhoognaam soos ‘Pietman’?
Ha? Regtig? Jy’s nie ernstig nie, is jy?
My fout! Toe ek die man hoor praat, maak dit glad nie meer
vir my saak of hy Pietman of Koosman of waffer -man ookal is nie. Die man het ‘n
binnekant wat menige van ons maar net kan begeer. En om die cherry op die koek te sit, kan hy nog
sing ook! Meer later oor hierdie soort van fout wat ‘n mens kan maak met wat jy
op die oppervlak sien of hoor.
In elk geval, die storie van die swembad ...
As jy mos so half aan die diep kant van die lewe ingegooi was
en vir ‘n geruime tyd moes water trap, dan is dit mos so half of jy jarre en
jarre daarna nog altyd so half sonder asem is en sukkel om net weer genoeg suurstof
in jou longe te kry. Jy bewe en hyg nog na asem, al is jy lankal op droë grond.
Nouja, ek dink dit is waar ek nou is ... hoeka weer veilig en geborge, maar
mens! Die adrenalien pomp nog immer asof ek aan die veg vir my behoud is. (Weet
jy hoe stupid is dit om op droë grond
te probeer water trap?)
Nou moet ek myself eers in die rede val. Ek sien ek spring
nou so rond tussen my stories dat dit my laat dink aan jare gelede toe ek, ewe
kontant en baie braaf, ‘n storie vir ‘Sarie’ gestuur het. Ek was vrekkens seker
dat dit die beste storie is wat nog ooit ingestuur is. Ja, ek weet! Blatant
arrogant is nie die woord nie. Toe ek uiteindelik ‘n antwoord kry, was ek nie
baie bly nie, hoor.
Beste Martha
Baie dankie vir jou verhaal.
Hoewel die inhoud baie interessant is, sal ons dit nie kan gebruik nie. Dit lyk
vir my jy sit so half op twee stoele.
En was ek in die bek geruk! Demmit, man, ken hulle dan nie ‘n
goeie storie as hulle een sien nie? Vandag weet ek dit was nie ‘n kortverhaal
nie en dit was ook nie ‘n skets nie, vandaar die ‘twee stoele’. Maar dit nou
daar gelaat ...
Hoe eet jy jou lemoen? Skil jy hom geduldig af en breek die
skyfies los en byt-suig elkeen so op sy eie of sny jy ronde skywe en gooi so ‘n
bietjie sout op vir die lekkerte? ‘n Kleiner groepie mense byt hom so in sy lyf
soos jy met ‘n appel maak. Of, as die skilletjie al so ‘n bietjie uitgedroog
het, maak jy jou lemoen sag. As kinders het ons hom so met die voet op die
vloer gerol. Kry ek nou so ‘n giggeltjie ... menigmaal het daardie lemoen onder
jou voet gebars en alles was nat en taai. Kan jy jou indink hoe ‘n honger
koshuiskind voel as jou kosbare lemoensap oral is behalwe dat jy dit kon
uitsuig? Een ding wat ek nog nooit gedoen het nie, is om lemoenkonfyt te maak.
Ek glo nog my lewe lank dat ek nie konfyt kan kook nie. Dalk moet ek eendag
probeer?
Dalk hang dit af van jou bui hoe jy hom vandag gaan eet. Feit
van die saak is dat daardie selfde lemoen elke keer anders smaak, afhangende
van hoe jy hom bydam en verorber.
Jare terug hoor ek die een ou op die radio reken hy vreet (sy
eie woorde!) liewer ‘n kakkerlak as ‘n vy. Kan jy nou meer! Hy moes met die
gatkant van vye te doen gehad het om so lelik van hierdie hemelse vrug kan
praat. Ek kan my indink dat hy dalk op ‘n dag skelm in Oupa se tuin gaan vye
eet het. Dit was versmagtend warm en die warm vye en sy jong magie was nie
beste vrinne nie. Die hele nag lank was dit hy en die vye en teen die vroeë
oggend-ure het hy gesweer hy vreet nooit weer ‘n vy nie. Wat anders kan jou
maak dat jy ‘n vy so haat?
Nou sê my, hoe eet jy ‘n vy? Skil jy hom haastig af en druk
hom heel in jou mond, of breek jy hom oop en ervaar die diep, soet smaak wanneer
jy hom met die tande bykom? Dan is daar nog die uitgelese groepie wat hom
stukkend sny en op ‘n broodjie sit en so ‘n effentjie met sout bykom. Probeer
dit gerus, hoor.
Wat maak dit saak hoe jy hom eet? Het my broer altyd mos gesê:
Elke man soen sy vrou op sy eie manier. Net so! Maar hoor vir my, daai ou soen
sy vrou wraggies ook nie elke dag op dieselfde manier nie. Sowaar, dit sal
darem ‘n vervelige spulletjie afgee, ha? Ag nee, aardetjie tog!
Ek hoor jy vra my: Nou wat nou? Waarop stuur jy af?
Ek weet ek maak nie sin nie, maar dit is juis die punt. Hoe kan
jy verkondig jy ken ‘n vy as jy hom nog nooit op elke denkbare manier geëet het
nie? Erken dit nou maar, jy weet g’n hoe smaak ‘n vy met sout op en lekker dik
op ‘n broodjie gepak nie. Nou hoe kan jy dan sê jy hou nie van vye nie?
Is dit nie maar ook hoe ons mekaar oordeel op dit wat ons
sien en/of hoor van mekaar nie? Ek hou nie van mense wat baie hard en
aanhoudend praat nie en daarom hou ek sommer nie van jou nie nog voor ek jou
ontmoet het. Dit, my maat, is wat ek onregverdig in die hoogste graad noem. Ek gee
jou nie ‘n kans nie, ek skryf jou af die oomblik wat jy raas-raas om die hoek
kom ... en op die ou einde is dit ek wat uitmis op jou vrolike geaardheid en
mooi hart.
So kan ons jare saam met ‘n mens lewe, maar aan die einde van
die lewe ken ek jou glad nie, bloot omdat ek jou nooit ‘n kans gegee het nie. Want
sien, ek het aangeneem die vy gaan my weer siek maak, dus eet ek hom nie tot
die dag van my dood toe.
Erken dit nou maar aan jouself, ons is almal skuldig daaraan.
Hoeveel maal het jy al gesê dat jy nooit besef het die of daai is so ‘n
aangename persoon nie ... dat jy jammer is jy het dit nie lankal agtergekom
nie.
Ai, en dan is dit mos nou maar so dat spyt altyd te laat kom!
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking