Die dag toe ek besluit het om my gedagtes neer te skryf en te deel met ander, daardie dag het my hele lewe verander. Ek skryf omdat ek nie anders kan nie - atlete oefen, ander hardloop, ens. Ek skryf en geniet elke oomblik daarvan. Dankie dat jy dit met my deel.
Donderdag 08 Februarie 2018
BETTIE EN DIE VRYLEKKERS
Bettie
hou van vrylekkers. Van haar kleintyd af was sy verlief op elke lekkertjie wat
sy uit die papierkardoesie haal. Hulle praat met haar. Hulle vertel vir haar
die mooiste liefdesverhale van helde en heldinne in kastele en paleise. Eendag,
weet sy, sal sy ook een van daardie heldinne wees.
Sy
vergeet skoon dat sy by die werk is. Sy sit en sorteer hulle in hopies – pienk,
geel, oranje, wit, en ligpers. Die pienk harte kom spesiaal op een hopie apart
van die res. Hulle is die heel, heel mooiste. En hulle woorde is ook die heel,
heel mooiste. Sy mag nog nie een van hulle eet nie, want eers moet hulle
sorteer word en apart van mekaar gebêre word. Eers dan mag sy een van die
oranjes eet.
“Juffrou
Smit, hoe lank nog voordat ek die brief kry wat jy vir my moet tik? As dit te
moeilik is vir jou, praat net. Daar is baie ander mense in die straat wat soek
na werk.”
Sy
skrik haar lam, want as die baas se stem klink soos hy nou daar klink, is haar
moeilikheid geboek. Sy weet, want sy was al daar. Baie maal. Sy is net benoud
vir die dag wat hy nie meer gaan waarsku nie, maar haar sommer in die pad gaan
steek. Sowaar, mag daardie dag asseblief tog nooit kom nie.
Sy
oortree haar eie reel en sit ‘n geel lekker in haar mond. Waarom, o waarom moet
hulle sulke lekker lekkers maak? Haar ma is bekommerd oor haar figuur, maar
wanneer sy vrylekkers kry, gee sy nie ‘n snars om vir wie ookal se figuur nie. Lekker
is mos lekker!
Sy
tik die brief gou klaar en skuif reg agter haar lessenaar. Solank dit lyk of sy
besig is, sal die baas nie kla nie. Sy begin die vrylekkers sorteer. Geel,
oranje, ligpers, wit, en laaste die pienkes. Nou word hulle weer ‘n keer
sorteer, want die hartjies mag nie saam met die ander gebere word nie.
Sy
pak al die hartjies in ‘n ry. Is dit nie lieflik nie! Kyk hier, hier is glad
een wat sê ‘Trou met my’.
Sy
giggel by haarself. Wie sal nou ooit vir haar so ‘n lekker met daardie
toorwoorde gee? Wie wil in elk geval met Bettie Bos trou? Sy het Bettie Bos
geword toe sy nog klein was en haar hare elkeen hulle eie rigting gestaan het. En
vandag is sy nog altyd Bettie Bos. Nie Bossie of Bossietjie nie, sommer net
Bos. Lelik.
Dis
toe sy die hartjies begin sorteer, wat sy iets baie vreemd opmerk. Dit lyk
kompleet of die letters op die lekkertjies al herderder word wanneer sy daaraan
vat. Nee, sy verbeel haar dit. Dit kan nie wees nie, sy raak nou lekker laf. Sy
giggel saggies vir haar eie lawwe gedagtes.
Kom
kuier by my. Ek droom van jou. Jy is pragtig. Soen my. Ek het jou lief. Trou met
my.
Haar
asem jaag. Haar ore gloei van opgewondenheid. Dis kompleet of hierdie
lekkertjies met haar praat. Nee, dit kan nie wees nie. Sy vee die lekkers van
die tafel af in haar ander hand en gooi dit sonder seremonie in die sakkie. Sy moet
sowaar haar kop laat lees, hoor. As Ma moet weet van die lekkers wat nou met
haar praat, koop sy sowaar nooit weer vir haar vrylekkers nie. Ma stuur altyd
vir haar vrylekkers van die dorp af, want hier in die stad kry ‘n mens dit glad
nie meer te koop nie.
Vir die res van die namiddag probeer
Bettie Bos nie na die lekkers kyk nie. Sy is baie lus vir een of twee, maar sy
het besluit om hulle eers uit te los. Nee, sy kan nie dat iets soos ‘n
vrylekker haar kop vir haar kom omkrap nie.
Die baas is baie in sy noppies toe
sy sommer nog drie ander briewe ook klaar tik en vir hom vat om te teken. “Haai,
en toe? Wat het vandag met onse Bettie gebeur? Jy is regtig ‘n voorslag as jy
die slag lus voel. Baie dankie, Juffrou Smit.”
Ai, net toe sy dink die baas gaan
uiteindelik vergeet van ‘Juffrou Smit’, toe is hy weer terug daar. Hy is regtig
soms ‘n pyn in die arm. Hy is vir haar so bitter mooi, maar ai, hy is so dom
met vroumense! Kan hy nie sien hoe lief sy vir hom is nie?
Toe sy die volgende oggend by die
werk kom, wag die baas reeds vir haar in sy kantoor. Hulle moet praat, sê hy.
Sy bewe so groot soos sy is. Is dit
vandag die dag dag hy haar gaan wegjaag? O hemeltjie tog, wat sê sy vir haar
ma? Haar pa sal haar sowaar dwing om terug huis toe te trek en dit sal die
einde van haar lewe beteken.
“Meneer, gee my asseblief nog net
een kans. Ek belowe ek sal van nou af harder werk. Asseblief, Meneer,” prewel sy
saggies.
Hy kyk verbaas na haar. Wat gaan in
die vroumens se kop aan? Wie het nou ooit gedink om haar weg te jaag? Wat sal
van hom en sy kantoor word sonder Bettie?
“Ai, Bettie, waarom moet jy so dom
wees?” vra hy laggend. Hy gaan sit op die rand van die lessenaar, heeltemal te
na aan Bettie. Sy skuif ongemaklik ‘n klein endjie terug.
“Bettie, kyk vir my,” sê hy
dringend.
Sy kyk op en sy kan sweer sy oë
praat die woorde wat die lekkers gister met haar gepraat het. Sy skud haar kop
en knip haar oë ‘n paar maal om net mooi helder te kan kyk. Nee, sy moenie nou
aan die lekkers en hulle stories dink nie, sy moet luister na wat die baas met
haar wil praat.
Hy steek sy hand in sy sak en haal sowaar
‘n vrylekker uit. Hy hou dit uit na haar toe. “Kyk, jy het gister hierdie een
laat val en ek wil dit graag vir jou gee.
‘Trou met my,’ skree die lekker vir
haar.
Skaam-skaam vat sy die lekker uit sy
hand. Sy lees die woorde oor en oor voordat sy dit in haar mond druk. Toe sy
opkyk na hom toe, sit hy met nog ‘n lekker in die hand.
‘Ek is lief vir jou.’
Dinsdag 06 Februarie 2018
HASIE, DIE BEHEERVRAAT, LOOP HAAR VAS
Wat is 'n beheervraat? Ek het gaan naslaan en die volgende antwoord gekry:

'n Beheervraat is 'n neerhalende term vir 'n persoon wat poog om te dikteer hoe alles rondom hom gedoen moet word.[1] Die woord is vir die eerste keer in die laat 1960's geformuleer[2] — 'n era toe spanning met beheergevegte geassosieer is by persone wat poog om ander mense se optrede te beïnvloed.[3]
Beheervrate wil tot elke prys in beheer van ’n situasie wees. Hulle is meestal perfeksioniste wat wil hê dat alles nét reg moet wees. Hulle stel gewoonlik nie belang in ander se menings nie, behalwe as daar met die beheervraat saamgestem word. So 'n persoon kan byvoorbeeld vergaderings oorneem, die heel tyd in werknemers se nekke afblaas, of konstant sy lewensgenoot kritiseer en afbreek.
Persone wat hieraan lei voel normaalweg onderliggend angstig en onseker van hulleself. Dit manifesteer as die persoon voel dat hy nie in beheer van sy lewe is nie, en dan oorkompenseer deur alles rondom hom te probeer beheer.

Hasie is ‘n bekommerde wese. Koning
Leeu het ‘n boodskap gestuur dat al die diere van die veld namiddag bymekaar
moet kom onder die groot boom langs die waterkuil. Niemand weet presies waaroor
die gaan nie, maar Hasie weet dit het met haar te doen.
Die ding het ‘n tydjie terug
gebeur. Almal was tevrede en rustig, maar skielik het almal na Hasie begin
staar. Eers het sy gemaak of sy dit nie sien nie, maar later, toe dinge te erg
begin raak, het sy op ‘n dag met Meerkat gaan gesels.
“Meerkat, kom sit hier voor my.
Nee, sit plat en luister na my.” Meerkat vervies haar bloedig, want dis ‘n ou
ding van Meerkat om so baasspelerig te wees teenoor almal.
“Wat is dit met julle almal?
Dit voel kompleet vir my julle skinder agterlangs van my.”
Meerkat het ge-hierdiekant en
ge-daardiekant, maar later moes sy maar uitkom met die waarheid.
“Jy sien, Meerkat, ons het gehoor
dat Boer se vrou ons almal gaan doodmaak.”
Hasie sit ‘n tydjie en dink voordat
sy antwoord. “Nou wat het dit met my te doen? Waarom laat julle my skuldig voel
oor iets waarvan ek tot nou toe niks geweet het nie?”
Meerkat is nou baie versigtig, want
sy het al te doen gekry met Hasie se vurige humeur.
“Hasie, dit is nie dat ons dink jy
het ietsie verkeerd gedoen nie, hoor. Dis net...”
Hasie wag nog dat Meerkat klaar
praat, toe is Meerkat weg. Daar hang nie eens ‘n stoffie in die lug nie, so
vinnig is sy daar weg.
Hasie skud haar kop en stap aan.
Daardie Meerkat sal maniere geleer moet word, besluit sy. Sy gaan huis toe en,
soos haar gewoonte is, gaan staan sy eers voor die spieël en bewonder haar
spierwit stertjie. Sy waai hom so effentjies deur die lug en gooi nog ‘n
bietjie wit poeier op. Haar stertjie is haar trots!
Nou skree sy op die kinders omdat
die huis so deurmekaar is. Haar man kom ook verby, want sy het hom mos
uitdruklik gevra (of gesê?) om die ingang na hulle huisie weer ‘n slag op te
vul nie? Genugtig, moet sy altyd met almal sukkel? Waarom het niemand ore nie?
Is dit dan net sy wat hou van orde?
Opeens weerklink Leeu se brul deur
die bos. Almal weet hulle moet nou vergadering toe gaan, maar Hasie ignoreer
die oproep. Sy laat haar nie hiet en gebied nie, selfs ook nie deur Leeu nie.
Hy het gesê namiddag, en nou is dit nog nie namiddag nie. Besef hy nie dat al
is jy die koning van die diere, jy moet hou by jou tye nie? Sy is besig en het
nie nou tyd vir onsinnige vergaderings nie.
Meneer Haas het mooi gepraat en
gedreig, maar Hasie gee nie bes nie. Toe Leeu die derde brul gee, gryp Meneer
Haas vir vroutjie aan haar pragtige stertjie en sleep haar vergadering toe.
Leeu het nie lus vir baie praat
nie. “Hasie, Meneer Boer se vrou soek ‘n poeierkwassie. Jy moet jou stertjie
gee dat ons ander veilig kan wees.”
Sy spring regop en vertel vir Leeu
presies wat sy van hom en al die ander onopgevoede diere dink. So nooit as te
nimmer sal sy haar stertjie afstaan nie. Oor haar dooie liggaam!
Leeu verduidelik mooi vir haar dat
hulle almal se lewens in gevaar is. Boer is van plan om almal dood te skiet uit
pure frustrasie. Sy vrou kerm dag en nag oor ‘n poeierkwassie en Hasie se
stertjie is perfek – so skoon en spierwit! Dit behoort vir haar ‘n groot
kompliment te wees, dan nie?
“Nee! Ek sal dit nie doen nie. My
stert is my stert en ek deel dit met niemand nie. Net soos my huis my huis is.
Die wortelbedding in Boer se tuin is ook myne, julle dink verniet ek het nog
nooit gesien hoe steel julle my wortels daar nie. As julle dit net netjies sal
los agterna, maar moenie glo nie! Sowat van chaos... Ek hou van orde en
dissipline, maar dit lyk my iemand van julle kan dit in julle koppe kry nie.”
Nou val sy sommer vir Koning Leeu
ook aan. “Wat het geword van jou beplanning? Waarom moet ons op die hitte van
die dag hier kom staan en vergadering hou? Geen dier met selfrespek laat hom so
mors nie! Kry ‘n slag jou dinge reg, dan sal dit ook beter met ons almal gaan.”
Die hele skare is doodstil. Leeu is
woedend. Hierdie beheervraat van ‘n Haas het nou een te ver gegaan.
Met een wink van sy poot staan twee
vlakvarke weerskante van Hasie. Sy wil haar nog vervies vir die twee se stank,
toe is alles oor. Met ‘n vinnige kap van die groot voortande lê Hasie se
stertjie eenkant.
Almal juig en skree, want hulle is
nou veilig.
En Hasie? Sy is verwond – die ego
meer as die lyfie waar die stertjie afgekap is. Om te dink dat niemand kan sien
sy is ver beter as hulle almal nie. Wat ‘n vernedering!
------------------------------------------------------------------------------------------------------------
KYK GERUS OF JY OOK ‘N BEHEERVRAAT SOOS ONSE
HASIE IS.
Beantwoord hierdie vrae om te kyk hoe oop jy vir oorgee is:
1. Ek erken dat ek nie alles kan beheer nie.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
2. Nadat ek my bes gedoen het om iets te laat
gebeur aanvaar ek die uitkoms sonder ’n stryd.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
3. Ek is in staat om liefde te gee en te ontvang.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
4. Ek voel suksesvol afgesien van my werk of bankrekening.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
5. Ek is fisiek aktief, want dit voel goed en ek wil gesond bly.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
6. Ek gebruik my intuïsie om my moeilike besluite te help neem.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
7. Ek laat myself pyn en hartseer ervaar sonder om my gevoelens te
onderdruk.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
8. Ek kan erken wanneer ek verkeerd is.
MEESTAL WAAR |
MEESTAL ONWAAR
Wat jou antwoorde beteken:
Om jou telling te kry, tel die kere wat jy “meestal waar”
geantwoord het bymekaar.
7-8 = Jy het algehele vertroue in jou intuïsie.
4-6 = Jy vertrou oor die algemeen dat dinge uiteindelik sal
uitwerk.
3 of minder = Jy sukkel om beheer van situasies oor te gee.
0 = Jy vind dit baie moeilik om beheer op te gee.
Sondag 04 Februarie 2018
KLEIN BRIEFIES
Ek wil vir
jou ‘n briefie skryf. Nie ‘n lang, uitgerekte brief nie, hoor. Sommer net ‘n
briefie wat ek vir jou wil skryf. Hoekom dan, wil jy weet. Ag, sommer net oor
‘n briefie ‘n briefie is.
Onthou jy
die tye toe ons nog briewe geskryf het vir mekaar? Sommer elke dag – jy vir my
en ek vir jou. Dit was die hoogtepunt van die dag, hierdie oor en weer skrywery
van ons. As ons mekaar raakloop, ruil ons briewe uit. Jy gee jou briefie vir my
en my hart klop in my keel. Ek gee my briefie vir jou en ek sien hoe bly is jou
oë.
Die brief
brand in jou sak, maar jy gaan dit nie lees waar ander naby is nie. Niemand mag
dit sien nie en niemand mag dit lees nie. Dit is net joune en joune alleen. Dit
is soos jou eie, eie heiligdom wat jy in jou hempsak (op jou hart, of IN jou
hart) bewaar teen almal daar buite. Jy loop met hierdie brandende skat in jou
sak totdat jy dit nie meer kan uithou nie. Eers dan gaan jy alleen iewers sit
en skeur dit stadig oop. Het jy my naam op die koevert geskryf? Het jy, soos
gister, ‘n hartjie bo in die hoek geteken?
Dit is soos
‘n lekker soet toffie wat jy in jou hand hou. Selfs die proses om die papier af
te haal is ‘n kosbare reis tot daar waar jy uiteindelik die kosbare soet goud
in jou mond kan sit. Net so was dit met jou briefies. Elke keer. Elke kosbare
keer wat ek jou briefie kon oopmaak en lees. En weer lees. Totdat ek dan môre
weer een kry.
Onthou jy
nog die heel eerste brief wat jy vir my geskryf het?
Nou wonder
ek mos – onthou jy nog ooit vir my? Weet jy nog van die skaam kind wat jy
raakgesien het tussen al die ander nuwelinge in die skool? Of het jy al hoeka
se hoeka se hoeka van haar vergeet? Nou hoe is dit dan dat ek nog van jou
onthou?
Jou eerste
brief was kort en so half formeel. Jy wou weet of ek met jou sal kys. Die
kinders van vandag weet mos nie meer wat is dit om te kys nie. Hulle glo in
‘gryp en kry klaar’. Of dalkies is daar nog kinders wat glo in kys? Ek sal dit
moet sien voordat ek dit glo, hoor.
Maar ons het gekys omdat ons wou kys, nie ‘gryp en kry klaar’ nie.
Natuurlik
het ek dadelik ja gesê. Nie omdat ek juis met jou gekys wou wees nie, maar
sommer net omdat almal graag ‘n boyfriend wil hê. Ek dink nie jy het dit geweet
nie, maar ek dink ook nie dit sou jou baie gepla het nie. Baie min dinge het
jou eintlik ontstel, ha? Jy was so half in jouself gekeer – glad nie ‘n ‘oeee
die lewe is ‘n lied’ soort van mens nie. Vreemd, eintlik. Baie vreemd by tye.
Maar dit is juis daardie gesindheid van jou wat my tot die einde toe gefassineer
het – eintlik nou nog altyd.
Toe gaan jy
weg en word ‘n man en ek bly agter en bly ‘n kind. Die briewe word langer, meer
intens. Die alledaagse dingetjies het van minder belang begin geraak. Jy wou
meer en meer weet van my. Jy wou meer vertel oor jouself. Jy wou, in die
afstand tussen ons, eintlik baie nader aan my kom. Jy was by tye desperaat in
jou soeke na wie ek is.
Ek was nie
gereed nie. Kind wat ek was, het ek vir jou gelag. Ek het so half
wegkruipertjie met jou gespeel. Het jy geweet dat dit ‘n speletjie was of het
jy gedink ek is maar so ‘n klein bietjie baie dom? In my onsekerheid het ek
gevaarlike speletjies begin speel. Ek het jou uitgelok om meer en meer te sê.
En jy het.
Ek het
presies geweet wat in jou volgende brief geskryf sou staan. Ek het dit fyn
uitgewerk en jy het geval daarvoor.
Jy het nie my aanval sien kom nie, want jy het dit nie verwag nie. Sien, jy het
nie van die bose heks in die hart van die vaal dogtertjie geweet nie. Die kind
het ‘n slinkse hart ontwikkel en jy moes dit ontgeld.
Ek het jou
lief, het jy geskryf.
Waarom, o
waarom het Eva vir die lis van die slang geval? Of was dit juis haar listigheid
wat die slang vatkans gegee het? Wie sal weet, want wie was daar?
My antwoord
hierop was kort kragtig en ontsettend wreed. “Lief? Vir my? Ag, jy speel seker
net, man.”
Dit was die
laaste brief tussen ons twee. Ek het angstig gewag vir nog ‘n brief, maar jy
het nie weer geskryf nie. Hoekom sou jy? Ek het my hand oorspeel. Ek was die
wrede heks in die mooie feëverhaal. Die nare heks het van haar eie medisyne
gekry en sy sou eensaam wees vir die volgende veertig jaar of langer.
Haai, dit
klink amper soos die rympie wat ons op skool geleer het:
Martha het haar spieël gebreek en
Martha voel so naar.
Want nou gaan sy ongelukkig wees vir
bykans veertig jaar.
Net,
hierdie is nie ‘n rympie nie en dit gaan nie oor ‘n spieël nie. Hierdie was ‘n
man se hart wat versplinter gelê het. Sommer net so met ‘n enkele klein
sinnetjie...in ‘n simpel klein briefie.
Het sy haar
straf verdien? Ja, sekerlik.
Hoe dan nou anders?
Was sy
jammer oor haar bose daad? Ja. Die posbus het dan nou leeg gebly.
Sou sy dit
kon regstel as sy hard genoeg sou probeer? Nee, nooit nie.
En nou, na
alles, wil ek weer vir jou ‘n klein briefie skryf.
Ek wonder
waar sal ek jou kry om dit vir jou te gee? Sal ek, soos jare terug, by die hoek
van die klas vir jou wag tot jy kom en dit dan half ongemerk in jou hand druk?
Of sal ek dit onder die groot klip onder die doringboom sit?
Onthou jy
die dag toe die boom water gekry het en my briefie onleesbaar nat was? Ek het
op ‘n afstand gestaan en kyk hoe jy sukkel om die velletjie papier oopgevou te
kry, maar jy kon nie. Jy moes wag vir die volgende dag vir ‘n klein, klein
briefie van my.
Iewers moet
ek ‘n manier kry om dit by jou te kry, want sien, ‘n mens skryf tog nie ‘n
briefie net sodat niemand dit kan lees nie. Gelees moet hy gelees word!
Wat presies
wil ek dan nou, na soveel baie jare, vir jou skryf?
Ek wil vir
jou skryf dat ek na jou verlang. En nou kyk jy skuins op na my toe en vra
verwonderd: “Verlang? Na my? Ag, jy speel seker, man.”
Ek sal die
briefie vir jou gee en aanstap, sonder dat ek een maal omkyk. Ek sal wegstap sonder
‘n briefie van jou af, mos.
En wanneer
ek dan alleen is, sal ek weet ek het weereens vir jou gelieg. Hoe kan ek na jou
verlang as ek nie eens weet wie jy is nie? Ek ken jou nie eens nie, mensekind.
Maar, jy
sien, vir wie anders moet ek dan nou eintlik skryf as ek verlang na ‘n verlore
kindwees?
Vrydag 02 Februarie 2018
DIE DING MET MAANDAG
Wat is dit met ‘n
Maandag dat ‘n mens nooit lus is vir hom nie? Ons het mos al gesê dat dit al
hier teen Sondagnamiddag se kant begin en dat hy dan sommer nou aanhou en
aanhou in al sy glorie.
Sondagaand gaan
jy sit en beplan. So wraggies, dat ‘n mens in jou eie huis ‘n program moet
optrek om deur ‘n dag te kan kom. Dit grens mos aan moord, man!
Jou man is lus
vir buite op die stoep sit en ‘n ietsie saam met jou drink. Jy is kortgeblaker
en pleinweg ongeskik, want jy moet beplan vir die dag van môre. Kan hy nie
verstaan wat jy vir hom se nie? Maar dan, mans is mos maar mans! Maar moet nou
net nie vir hom vra om jou te help met iets as hy die slag besig is nie, hoor! O
nee, dan kry jy dit gou-gou in oorvloed – dit is nou die preek van ‘kan jy nie
sien ek is besig nie’.
Jy worstel deur
die Sondagnag. Hoeveel maal het jy al besluit om nie Sondag na ete te gaan lê
nie, maar nee, hoor is min. Elke Sondag is dit dieselfde storie van ek gaan net
so ‘n klein bietjie skuins lê, ek belowe ek gaan nie slaap nie. Hmmm, famous
last words, suster.
Vroegoggend is
jy op en aan die gang. Die ontbyt is maar skrapserig, want jy het regtig nie
vanoggend tyd vir goedjies nie. Manlief kyk jou skeef aan toe jy die bord met ‘frensh
toast’ en worsies voor hom neersit. Sy oë vra wragtag vir jou waar is die pap,
maar uit sy mond uit kom nie ‘n geluid nie. Hy weet! Hy is nog besig om te eet,
maar die skottelgoed wag vir niemand nie. Jy was dat die skuimbolle staan, want
jy is haastig, sien.
Liewe genugtig!
Waar kom al hierdie wasgoed vandaan? Dink die mense van hierdie huis hulle bly
in ‘n gastehuis? Wie dink hulle moet al hierdie goed gewas en gestryk kry voordat
die son vanaand sak? Dis tyd dat hier beurte gemaak word met die wasgoed. Net vanaand
nog gaan daar gepraat word oor hierdie sakie. Sowaar, so kan dit nie aangaan
nie.
Namiddag se
damestee lê soos ‘n berg voor jou. Toe jy die dag belowe het om eetgoedjies te
maak het jy mos nie geweet dit sou vandag gaan soos dit gaan in hierdie huis
nie. Meel, botter, eiersss... Ag nee, man. Die laaste eiers het vanoggend saam
met die brood ontbyt geraak. Waarom kon jy nie onthou dat jy moes eiers koop nie?
Nou sal jy sowaar moet aantrek en dorp toe gaan.
Hang die wasgoed
op die draad. Vee die kombuisvloer uit. Maak die bed op. Was die bad. Wat nog?
Nee, eers dorp toe vir die eetgoed. Blerrie spulletjie kan hulle eie eetgoed
maak as hulle so graag wil eet!
Terwyl jy in
die dorp is, gaan jy gou by die kwekery aan vir die plantjies wat jy bestel
het. Jy vergeet skoon van die tyd, want by ‘n mooi plant kan jy nie verbyloop
nie.
Dis toe jy in
die motor klim, dat die foon lui. ‘Haai, vrou, het jy van jou afspraak vergeet?
Ons moet mos sny en perm vandag, ha?’ As dit nie was vir jou goeie opvoeding
nie, het jy die haarkapster sowaar nou ‘n ding of twee vertel. Kan sy nie weet
dat jy sowaar nie vandag tyd het nie?
Toe jy
uiteindelik by die huis kom, is manlief al terug van die werk af. Die kombuis
lyk nog net soos hy vanoggend gelyk het. Die bestanddele vir die eetgoed is op
die toonbank uitgepak, maar nooit gebruik nie. Die wasgoed wapper geduldig op
die draad. Gelukkig het die winkel lekker goedjies gehad wat jy gekoop het vir
die damestee.
Die damestee? Goeie
genugtig, hulle het al ‘n halfuur gelede begin en jy het dit gemis.
Jy voel asof jy
deur ‘n storm is vandag. Waarom dan? Jy het jou mos nou regtig nie dood gewerk
nie, ha? Of is dit bloot maar net omdat sy naam Maandag is?
Opeens ontspan
jy en ‘n stoute liggie gaan iewers in jou kop aan. ‘Liefie, kyk wat het ek vir
ons twee gekoop vir koffie na die ete. Lyk dit nie ook vir jou baie lekker nie?’
South African Airways Flight 228 val in Windhoek
Petro
verskuif in haar rolstoel en leun oor die tafel om die kersies op die koek dood
te blaas. Gelukkig het die kinders nie besluit om sewentig kersies op te sit
nie. Kyk, dan moes hulle vandag die brandweer laat kom het! Almal juig en klap
hande toe sy uiteindelik die sewe kersies dood het.
Almal is
nou vuur en vlam om, soos hulle sê, die huis se dak rooi te verf, maar sy is
stil. Sy sit en geniet die manewales van die kleinkinders en gesels so hier en
daar saam.
Sy is
stil. Almal weet dat haar verjaardag nie goeie herinneringe inhou nie, daarom
sukkel hulle nie te veel met haar nie. So gaan dit nou al vir die afgelope
vyftig jaar al. Hierdie dag, haar verjaardag, bly vir haar ‘n seer dag.
Sy
verskoon haarself en gaan kamer toe. Die herinneringe is opeens heeltemal te
veel vir haar. Met ‘n sug gaan sy op die bed sit...
“Hallo!
Is iemand tuis?” bulder Adriaan van die deur af. Hy lyk soos ‘n klein seuntjie
wat so pas sy eerste fiets gekry het.
“Maak toe
jou oë, my blom,” sê hy terwyl hy haar na die naaste stoel toe lei.
“Wat het
jy nou weer aangevang, my man?” wil sy laggend weet.
Onder
groot gelag kry hy haar darem dat sy op die stoel sit met toe oë.
Toe sy
uiteindelik haar oë mag oopmaak, staan hy op sy knieë voor haar met twee
vliegtuigkaartjies Duitsland toe. Oor twee maande gaan hulle Duitsland toe vir
die vakansie waarna hulle albei so baie uitgesien het.
As hulle
maar nooit gegaan het nie. Sy sit en staar in die niet. Hoe anders sou haar
lewe nie gewees het as daardie dag, Dinsdag 30.4.68 nooit aangebreek het nie.
Die
lughawe is ‘n warboel van mense. Dit laat haar dink aan die basaar in hulle
dorp toe sy klein was. Almal lag en gesels en kinders hardloop rond. Van
wanneer af klink dit so op ‘n lughawe, wonder sy by haarself. Maar sy troos
haar daaraan dat almal uitsien na die vlug en daarom maak dit seker nie so baie
saak nie.
Die
passasiers wat van Johannesburg af kom lyk almal nog fris en vars. Dit is mos
net ‘n uur of wat tot in Windhoek. Maar die vlug wat voorlê is ‘n lang vlug,
dit weet sy. Hiervandaan is dit tot in London, dan Luanda en Las Palmas en dan,
uiteindelik! Frankfurt.
Toe hulle
vlug aangekondig word, is sy so opgewonde soos ‘n klein dogtertjie. Dit bly nog
vir haar ‘n droom dat hulle regtig op pad Duitsland toe is. Adriaan ken nie
haar oom en tannie wat daar bly nie, maar sy weet hulle sal goed oor die weg
kom.
“Adriaan,
dankie vir hierdie ontsettende groot verjaardaggeskenk, my man.” Sy leun teen
hom aan toe die vliegtuig opstyg. Vir ‘n oomblik is sy jammer dat hulle so voor
in die vliegtuig sit, maar dan besluit sy dat dit tog ook nie regtig saak maak
nie.
En toe
gebeur dit!
Het hulle
gegil? Sy weet nie. Het iemand ooit besef wat gebeur het voordat dit te laat
was? Sy kan vandag nog altyd nie daarop antwoord nie.
Dit is
nagdonker toe sy tot haar sinne kom. Die pyn in haar liggaam is oorweldigend,
maar sy besef sy moet wegkom van die helse vlamme hier teen haar. Sy probeer
beweeg, maar kan nie. Sy wil om hulp roep, maar kan nie.
Die vuur.
Die pyn. Die vrees.
Adriaan!
Adriaan, hoor jy my? Waar is jy, my lief?
Van ver
af hoor sy sirenes, maar dit voel soos eeue voordat die ligte uiteindelik oor
haar val. Eers sien hulle haar nie. Sy probeer om haar hand op te lig sodat
iemand haar kan raaksien, maar dit is nie fisies moontlik vir haar nie. Die
vlamme. Here, die vlamme gaan my verteer!
Iewers
hoor sy mense praat. Iemand huil verskriklik. Sy weet nie of dit dalk sy is wat
so huil nie. Die donkerte sak genadiglik oor haar toe en sy weet nie toe hulle
haar op die draagbaar sit en na die ambulans toe dra nie.
Drie weke
later kom sy die eerste keer by. Haar ma buk oor haar en vryf oor haar hare.
“Welkom terug, Ma se kind.”
“Mamma.
Adriaan?” kom dit saggies uit haar droë mond.
“Ag, my
kindjie, ek is so jammer. Adriaan het hier op die bed langs jou gelê vir drie
dae. Hy het hard probeer, maar hy kon nie langer uithou nie. Adriaan is weg, my
kindjie.”
Dit is
vyftig jaar gelede, maar voel soos gister. Toe sy en Deon ‘n paar jaar later
getroud is, was Adriaan se ouers die eregaste op die onthaal.
Liewe
Adriaan wat haar so graag Duitsland toe wou gevat het.
South African Airways
Flight 228
From Wikipedia, the free
encyclopedia
Fifty seconds after
take-off, it flew into the ground in flight
configuration at a speed of approximately 271
knots (502 km/h). The four engines, which were the first parts of the
aircraft to derby touch the ground, created four gouges in the soil before the
rest of the aircraft also hit the ground and broke up. Two fires immediately
broke out when fuel in the wings ignited. Although the crash site was only
5,327 metres (17,477 ft) from the end of the runway, emergency services
took 40 minutes to reach the scene because of rugged terrain. Nine passengers
who were seated in the forward section of the fuselage initially survived, but
two died soon after the accident, and another two a few days later, leaving a
final death toll of 123 passengers and crew.
The investigation was
complicated by the fact that the aircraft did not have a flight data
recorder or cockpit
voice recorder; the devices became mandatory from 1 January 1968, but
the airline's inability to procure recorders meant that several SAA aircraft,
including ZS-EUW, did not yet have the equipment fitted. Captain Smith had
4,608 flying hours on the Boeing 707, but only one hour on the new type
344C, which furthermore had been under instruction. The official
investigation concluded that the aircraft and its four engines were in
working order—primary fault lay with the captain and first officer, in that
they "failed to maintain a safe airspeed and altitude and a positive climb
by not observing flight instruments during take-off"; no blame was
attributed to the third pilot, whose responsibility it was to monitor the
radio, and who was unable to monitor the flight instruments from his position
in the cockpit.
Teken in op:
Plasings (Atom)
“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie!"
“Nou sê ek vandag vir julle, moenie by my kom huil as jy jou nek gebreek het nie! Jy wil nie weet wat gaan ek met jou aanvang nie!” kom ...







