Liewe kind met die seer hart
Ek wil vanaand vir jou ‘n brief skryf
omdat ek weet jou hart is seer. Ek wil my hart met jou deel, my kind. Gaan sit ‘n
bietjie eenkant en lees my brief, seblief? Moenie halfpad op hou lees nie, groot seblief.
Jy was by die prysuitdeling van jou
skool. Ja, jy moes jou skooldrag aantrek en jou skoene polish en alles. Jy wou nie gaan nie, maar jy moes – die skool verwag
dit van jou. Jy het gemaak of als lekker en goed en gaaf is, maar jou hart was
opstandig en eintlik was jou bek lekker dik. Reg?
Jy wou al ‘n duisend maal weet waarom
presies jy sulke geleenthede moet bywoon, maar niemand kon jou nog tot nou toe
die antwoord daarvoor gee nie ... of wou hulle bloot net nie ‘jou gevoelens
seermaak nie’? Kom ek sê vanaand vir jou waarom jy gedwing word om daar te
wees: Die ding staan nou so, sien ... Die kinders wat pryse kry moet mos
ondersteun word en hulle moet presies hoor hoe hard hulle gewerk het en die
applous moet oorverdowend wees as hulle van die verhoog af stap.
Ek hoor jou hart, my kind. Elke
eksamen sit jy en leer wanneer die ander kinders eers ‘n break vat. Jy leer en leer en leer, want jy wil so graag net een
keertjie ook op die verhoog staan en hoor hoe hard het jy gewerk en hoe
wonderlik is jy, nie waar nie? Jy wil net een keertjie ook voel hoe dit is om
daar met die trappe op te sweef en ewe windgat jou sertifikaat en/of trofee
ontvang. Maar verdomp of jou kans ooit kom! Daar is altyd iemand wat beter is
en beter punte kry as jy.
Nou moet jy die hele aand in die saal
sit en die lofliedere sit en aanhoor van hoe wonderlik hierdie skare is wat so
op en af met die verhoog. Jy wil nie, maar jy moet.
Ek weet hoe jy voel wanneer jou hele
vriendekring môre breed glimlag oor al die toekennings wat hulle ontvang het
terwyl jy maar anderpad staan en staar. Ek weet, my kind, want ek was daar op
meer as een manier. By die tyd wat die dux-leerling aangewys word, voel jy al
of jy liewer maar onder die stoel as op dit kan sit. reg?
Ek weet jou hart is opstandig. Ek weet
hoe jy voel vir weke en weke voor daardie prysuitdeling en nog weke daarna ook. Ek weet,
want ek was ook daar.
Het dit van my ‘n slegter mens gemaak?
Nee, ek glo nogal nie so nie, hoor. Het ek ook gesukkel om my kop hoog te hou
soos jy nou daarmee sukkel? Ja, vir seker het ek! Was ek dom? Nooit nie, hoor. Vandag
weet ek dat ek eintlik heel goed gedoen het op skool, terwyl ek ook soveel issues soos jy daaroor gehad het. Die verskil is net dat ek
nooit ‘n prys gekry het daarvoor nie.
Nou brom jy vir my ‘Ja, ja, ja! En wat
het dit nou met my te doen?’
Hoor wat ek vir jou sê en onthou dit,
asseblief. Niemand weet van die mooi sketse wat jy kan maak nie, want dit is
nie ‘n vak wat in die skool aangebied word nie, reg? Niemand weet van jou
liefde vir jou medemens en dit wat jy vir ander doen nie, reg? Jy sien, jou
hart is so mooi, maar selfs jy glo self nie aan jouself nie. Reg?
Weet maar net, daar sal ‘n dag kom wat
al daardie pryse wat die ander vanaand ontvang het, geen waarde meer het nie. Regtig
waar! Niemand gaan meer onthou hoe hulle met dik pakke sertifikate huis toe
gesweef het nie. Niemand nie! Al voel dit nou vir jou daardie toekennings is so
belangrik, weet maar net dat dit nie vir jou ‘n toekoms kan koop nie.
Wat is dan belangrik, vra jy my. JY is belangrik! Jou wese, wie jy is ... dit is wat tel in die lewe en wat nooit tot niet kan gaan nie. Jou mooi hart, jou liefde vir almal
rondom jou ... dit is wat die verskil tussen vandag en die toekoms maak. Daar sal
‘n dag kom wat jy (so bid ek) sal besef dat die dinge wat ons hier rondom ons
sien, verganklik is.
Hoe lees ons nou weer in die Woord? ‘En
nou bly geloof, hoop en liefde, maar die grootste van hierdie drie is die
liefde.
Hou vas aan wat jy het, my kind!