Die dag toe ek besluit het om my gedagtes neer te skryf en te deel met ander, daardie dag het my hele lewe verander. Ek skryf omdat ek nie anders kan nie - atlete oefen, ander hardloop, ens. Ek skryf en geniet elke oomblik daarvan. Dankie dat jy dit met my deel.
Vrydag 29 Junie 2018
DIT IS (GLO EK) WAAROM GOD EGSKEIDING HAAT!
Ek sien hoe frons jy. Ja, jy dink by jouself: “Martha Poller,
wat weet jy van hoe swaar ek gekry het en wie gee jou die reg om jou mond uit
te spoel oor iets waarvan jy niks weet nie?” Kom ek stel jou gerus. Hoe lui die
spreekwoord nou weer in die Engelse taal? Been there,
done that, got the T-shirt. Ja, ek is ook deel van die klub, jong,
jy kan maar ontspan! Ek het die pad geloop, my lam, en kyk hoe lyk ek nou.
Maandag 25 Junie 2018
SOOS WARM 'JOSTERS' IN DIE WINTER
Ek loop
met ‘n opgewondenheid in my hart wat ek in geen woorde kan beskryf nie. Ek
sien een van die dae weer een van my kleinkinders (aldrie van hulle bly te
ver om gereeld te kan kuier) en die vooruitsig het my hart heel omgekeer.
Skielik wil ek oor als tjank – nugter weet hoekom!
Nou wil jy ook weet hoekom loop en tjank ek, ha? Sommer net, omdat ek kan,
man! Is dit nie genoeg rede nie?
![]() |
My liefiekind wat ek een van die dae gaan sien. |
Kom ek
vertel jou eers ‘n storietjie. Dis sommer ‘n klein, niksseggende storietjie,
maar jy sal verstaan as jy hom eers gehoor het.
Dis
winter. Dis in die middel van die nag. Dis vrek, vrek koud. Jy is van iewers af op pad huis toe. Jy is koud
tot in jou gebeente toe. Niks, maar niks gaan jou nou warm kry nie, dit weet
jy. Die kar se ligte boor gate in die ysige nag-koue. Dit voel vir jou die nag
is selfs donkerder as gewoonlik, want die koue het alle lig huis toe gejaag. Nêrens
is selfs ‘n hasie of ander diertjies op die pad in sig nie – alles skuil teen
die diepnag se koue.
Jy weet dat jy nou iets moet doen aan hierdie koue gebeentes van jou. Dis nie meer ver huis toe nie. Jy is moeg. Jy wil slaap. Maar jy is koud!
Jy weet dat jy nou iets moet doen aan hierdie koue gebeentes van jou. Dis nie meer ver huis toe nie. Jy is moeg. Jy wil slaap. Maar jy is koud!
Uiteindelik is jy tuis. Jy stop en klim stram uit om die hek oop te maak. Jy sluit oop en strompel styf-styf binne toe. Sit die ketel aan. Draai die
bad se krane oop. Wanneer jy jou kasdeur oopmaak, sien jy hulle: jou warm flennie nagklere. Nee man, mens praat nie van nagklere nie, ha? Dis jou
josters, of jou jamies, of PJs, of wat ookal. Maar eintlik is dit jou beste,
este vrinne. Dis hierdie oorgroot, flennie jamies wat jou lyf omhels en troetel
en snoesig toemaak. Jy weet presies hoe hulle voel om jou lyf. En jy weet alles
sal reg wees as jy hulle eers aangetrek het. Ja, jy hoef nie eers aan te pas of
te wurg om dit aan te trek nie. Ha-a, jy weet! Want jy ken!
Jy haal hulle uit die kas uit en druk dit voor jou gesig. Jy asem die bekende reuk van jou beste maters behaaglik in. So ja, amper daar. Jou warm bad laat die ys in jou bloed smelt. Die frons tussen jou oë ontspan. En dan... die saligheid van jou eie, eie warm jamies.
Jy haal hulle uit die kas uit en druk dit voor jou gesig. Jy asem die bekende reuk van jou beste maters behaaglik in. So ja, amper daar. Jou warm bad laat die ys in jou bloed smelt. Die frons tussen jou oë ontspan. En dan... die saligheid van jou eie, eie warm jamies.
Wanneer
jy dan met jou vrinne aan die lyf sit met die beker warmgoed, voel jy
welbehaaglik tevrede. Alles is reg. Alles is goed. Die lewe is ‘n warm, salige
lied. Jy gaan lê en weet jy gaan slaap soos ‘n kind – sonder sorge en intens
tevrede.
Nou
kom ons terug by die weersiens van die kindjielief een van die dae. Dit is
presies hoe my hart daaroor voel vandag: soos met my lekker warm jamies op ‘n ysige koue
nag.
![]() |
Liefste Vivi-kind van my |
Ek vra my maters om hierdie vooruitsig om ‘n geliefde een van
die dae te sien vir my te beskryf en hulle laat waai met die antwoorde. Ek deel ‘n paar van hulle met jou.
Marsofine Krynauw:
...water na ‘n tog deur die woestyn
Criselda Adams: Die
hemel in jou hart te ervaar.
Tanya Rentzke:
Daai eerste lek van ‘n roomys op ‘n hittige somersdag
Marikie Faul Kotze:
...die vlinders te ervaar van ‘n eerste afspraak.
Maryna Gous Schlierkamp: Reën
te ruik op die plaasvlaktes
Herien Ward:
...om dankbaar te wees... vir daai voorreg...
Ansie Le Grange Mare:
...my hart buite my lyf te voel dans!
Jeanette Le Hanie: Om
te weet jou hart en die ander persoon se hart is steeds in harmonie. ‘n Hemelse
gevoel!
Marie Szewzyk:
...jou hart ‘n tonic inspuiting te gee!
Denitia Bosshoff:
...om wakker te word.
Annatjie Sandrock: om
weer te lewe
Donderdag 21 Junie 2018
IS VRIENDSKAP DIT (ALTYD) WERD?
Nou die anderdag hoor ek twee vriendinne met mekaar gesels. Nee man,
ek het nie afgeluister nie, regtig nie. Kan ek nou help as ek so naby hulle sit dat
ek alles kan hoor? Ja, dit is so, ek kon opstaan en loop, maar ek het nie. Mmm,
dalk het ek dan mos afgeluister? Besluit maar self.
In elk geval, jy weet mos, ‘n mens kan soms
wonder en dink en redeneer oor die mense in jou lewe – moet ek hierdie
vriendskap nog ‘n kans gee of moet ek maar links kyk en die pad vat? Nouja, dit
was so ‘n gesprek. Kom ons noem hierdie twee sommer Sussie en Sannie, dan
vertel ek jou.
Sussie sê vir Sannie: “Ag nee aarde, jy het nou
regtig nie vir Loeloe in jou lewe nodig nie, ha? Wil jy vir my sê dat jy
toelaat dat sy ‘so en dit en dat’ met jou? Ek sweer ek sal dit nooit aan my laat doen nie.
Wragtag is wragtag, ek het haar al hoeka gesus en geso as sy dit die dag met my
probeer.” Sussie staan sommer regop soos sy vuiste swaai en beduie.
Sannie antwoord bedees: “Ja, sy maak maar altyd
so met my, maar ek weet nie eintlik wat om te maak nie. Jy sien, dis nou glad nie asof ek so baie vriendinne het nie en...” Die stemmetjie is nou glad nie meer so stewig soos toe die
gesprek begin het nie en ek moet mooi luister om haar te hoor. (Het ek regtig
gesê ek het hulle nie afgeluister nie?)
Sussie antwoord saggies met haar hand op Sannie se skouer: "Dink mooi daaraan, is dit regtig die pyn werd om so 'n vriendskap aan die gang te (probeer) hou?"
Sannie sit net daar. Sy praat nie. Sy weet nie hoe of wat om te antwoord nie. Sussie verstaan baie duidelik nie hoe dit werk nie, ha? As sy nou vir Loeloe afskryf...? Nee, dit kan sy mos nooit, ooit doen nie... of kan sy?
Sussie antwoord saggies met haar hand op Sannie se skouer: "Dink mooi daaraan, is dit regtig die pyn werd om so 'n vriendskap aan die gang te (probeer) hou?"
Sannie sit net daar. Sy praat nie. Sy weet nie hoe of wat om te antwoord nie. Sussie verstaan baie duidelik nie hoe dit werk nie, ha? As sy nou vir Loeloe afskryf...? Nee, dit kan sy mos nooit, ooit doen nie... of kan sy?
Ek sit en beluister hulle, want ek wonder toe
self oor hoe of wanneer jy nou eintlik moet besluit ‘Maar hierdie een het ek
nie verder nodig in my lewe nie’. Hoe doen ‘n mens dit? Hoe los jy en laat gaan? Ek het daardie dag
daaroor gewonder en ek wonder nog immer daaroor. Ek het nie navraag gedoen om
te hoor hoe ver die storie gevorder het nie. Want, jy sien, dit was mos nie my
storie nie.
En dit slaan my soos ‘n voorhamer: Sout!
“Wanneer die sout dan laf geword het...!”
Matteus
5:13 –
Sout-van-die-aarde mense
Waar presies kom die storie van ‘as die
sout laf geword het’ van Jesus vandaan? Sout kan mos nie minder of meer sout
smaak nie, al wil dit ook. Los dit op in water en laat die water weer verdamp.
Wat bly agter? Sout. Sout kan nie verslaan nie. Sout kan nie meer of minder na
sout smaak nie, want sout bly sout. Toe moet ek mos gaan soek na ‘n antwoord,
man. En toe kry ek my antwoord...!
In Palestina het hulle buite-oonde
gehad. Die oond is op ‘n laag teëls gesit. Maar, en dit is nou waar die storie
van die sout in kom, onder hierdie teëls is ‘n dik laag sout gegooi. Die sout
het gedien as isolasie en die hitte het dus behoue gebly om die oond lekker
warm te kry en te hou. Mettertyd, as gevolg van die hoë hitte, het die chemiese
samestalling van die sout verander en was dit dan nie meer sout nie. Dit was
nou net ‘n grys massa wat niks meer werd was nie. Dit moes vervang word met
(ja!) sout. Hulle het hierdie grys massa op die paaie gegooi om daar vasgetrap
te word. Lees nou weer die versie van die sout. Maak dit bietjie meer sin vir
jou?
Dan is daar ‘n ander dinge wat ek weet,
maar weer raakgelees het:
·
Daardie
growwe, gelerige sout met die sand in is goed genoeg om ‘n beesvel mee te sout,
maar as jy die mooi soutpotjie op jou tafel wil sit, gebruik jy fyn tafelsout,
nie waar nie?
·
Daar
is kulture waar mense sout saam met mekaar eet as teken van hulle vriendskap.
·
Ons
weet ook dat sout ontsmet en preserveer.
Nou kom ek terug by Sannie en haar
vriendskap met Loeloe... As ek die storie van die sout lees en ek sit twee en
twee bymekaar, kry ek vier. Dit smaak dan nou vir my dat, al klou Sannie met alles wat sy het aan die vriendskap met Loeloe, dit haar niks gaan baat nie, is dit nie so nie? Dit lyk nou asof dit meer van 'n illusie as die ware Jacob is? So, waarom klou die stomme vrou nog aan iets wat nie meer bestaan nie?
Ek dink jy moet my nou eers verskoon, 'seblief. Ek kan nie verder gesels nie. Ek wil vir Sannie gaan soek en vir haar die
storietjie van die sout vertel... of hoe reken jy?
Woensdag 13 Junie 2018
WINTER IN DIE NAMIB
Toe ek in die skool was, was veral twee vakansies vir ons
as kinders baie belangrik. Die ses-weke vakansie in Desember en die drie-weke
vakansie in Junie/Julie. Ja, ons het hulle regtig so genoem, want dit is hoe
lank hulle was.
Die somervakansies was die lekkerste. Iewers het ons (soos
byna almal in die Namib) Lüderitz toe gegaan vir ‘n week of twee. Ogg, fees der
feeste se lekker kuierplek met goiingsakke vol kreef en soveel roomys by die Strand
Kafee as wat jy moontlik kan verorber. En dan, natuurlik, was Kersfees ook nog
daar.
Die Junie-vakansies was ‘n totaal ander saak. Was jy al in
die woestyn in die winter? As jy was, sal jy nou kopknik en saamstem. Koud. Nee,
ysig koud. En ‘n wind wat net nooit einde kry nie. Sleg? Nee, glad nie. Ongemaklik?
Ja, gewis!
My vroegste herinnering aan wintervakansies, is soggens se
warm kombuisie met die koolstoof. Ma jaag aan: “Dek gou die tafel klaar, Pa is
al terug van die veld af.” Pa kom van buite af in. Toe die deur oopgaan, hoor
jy iewers buite lammers blêr. Hy soen jou. Sy gesig is yskoud. Sy blonde kop is
windverwaaid. Sy swart leerbaadjie ruik na veld en buitekant. Ma sit sy koffie
voor hom neer. “Hoeveel lammers is daar vandag, ouding?” Ek hoor nie sy
antwoord nie. Die pap en worsie is stomend warm. Pa murmureer oor ek suiker en
sous oor die pap gooi. “Jou Engelse Jood!” (Dit beteken jy is dommer as dom!) Halfpad
deur die ete vra Ma ek moet solank die tee maak. My tee is nog warm in my
koppie as Pa die Bybel vat en lees. Hy bid. Ons hou almal hande. Pa is haastig.
Dis lamtyd. Hy trek die pelsies self oop, niemand durf hom ooit daarmee help
nie. Sy werk is sy werk is sy trots!
Waarom sou dit wees dat daar soveel begrafnisse in daardie
vakansies was? Oumense, jongmense, kinders, de lot. Of is dit dalk net ek wat
dit so onthou? Die yskoue wind wat om die verwese mense waai by die graf. Stof.
Blare. Nog stof. Yskoue smart. Na die tyd het Ma skons en broodjies en lekker
warm sop. Opeens is almal hartlik en gesellig in die eetkamer; eintlik die hele
huis vol. Iewers het iemand nog ‘n hand of twee gebring om die massas
skottelgoed te was na die tyd. En dan, vanaand, die ontsettende stilte in die
huis. En my gedagtes wat nie tot rus wil kom oor die mens wat daar buite in die
wind en ysige eensaamheid lê nie. Wanneer raak ‘n mens daaraan gewoond dat ‘n
dooie ‘n dooie is en dat wind en weer nie meer saak maak nie?
Wintertyd is jagtyd. Ons plaas lê langs die uitgestrekte
bittereindes van die Namib met geen grensdrade tussenin nie. Ou Tilla gaan jag
daar waar ons nie mag jag nie. Die gras is hoog en die grassade maak hopie
onder die motor op die spaarwiel. Toe hy vir hom kom kry, is die veld aan die
brand. Daardie dag sien ek hoe gee mens vir mens om, hoor. Almal jaag met
dromme water en sakke en ekstra hande, want die vuur moet dood. Ek en Ma en
ousus moet die springbokke aan die hake onder die boom ophang. Ons is nog
klein, man, en die arms wil nie saamspeel nie. Ma draai die springbok se stertjie
om haar hand om ‘n lekker stewige greep te kry vir die optelslag. Maar ai! As ons
so optel, peul die bokdrolletjies so uit en ek en ousus laat val die bok – ons lag
te veel, sien. Ma raas, maar dit help nie, ‘n drolletjie is ‘n drolletjie en
dis vrek snaaks!
Kinders word nie in die badkamer gebad nie. Dis ‘n baie ou
plaashuis en die badkamer is op ‘n stoepie amper so half buite die huis. Saans word
die sink badjie ingedra kamer toe. Warm water in die badjie. Kindjie word gebad
en (onthou om die gaatjie toe te maak!) warm aangetrek voordat ons by Pa en Ma
in die kombuis gaan sit.
As die wind waai soos hy vandag gewaai het, dan is ek weer
kind op die plaas. Ek sit in die kombuis en ek hoor hoe huil die wind om die
huis se hoeke. Ek wil tee gaan maak en vir Pa gaan gee daar waar hy die
velletjies staan en ooptrek. Ek wil hoor hoe hy “Dankie, Mart-Marie.” Ek wil binne-toe
loop en vir Ma tee vat en kyk hoe sy die een rok na die ander vir ons sit en
maak. Ek wil, al was dit koud en soms onsmaaklik, so graag net eenmaal weer
kind wees in die winter. Seblief tog, toe?
Vrydag 08 Junie 2018
ONS S'N (GELEEN) VIR ALTYD
Ons ken almal so ‘n gesin. Of, dalk IS julle so ‘n gesin? Ek sal
verduidelik, dan besluit jy maar self. Ek ken meer as een so ‘n gesin, maar om
nie seer te maak of aanstoot te gee nie, is hierdie storie suiwer fiksie.
Hulle troudag is ‘n feestelike affêre en die hele kontrei is genooi. Wie
sal dan nou nie Danie en Krummeltjie se troue wil bywoon nie? Hulle is
alombekend en twee lieflike jongmense. Danie het die plaashuisie mooi opgeknap
en alles is reg dat Krummeltjie kan kom intrek na die troue. Krummeltjie hou
skool, maar sy maak net hierdie semester klaar, en dan word sy boervrou. Wat ‘n
vreugde! Wat ‘n mooi verhaal. Almal slaan die hande saam oor hierdie lieflike
twee jongmense.
Uiteindelik is Krummeltjie ook op die plaas. Danie boer heeldag en
Krummeltjie het haar hoenders en tuin wat haar besig hou. Saans kuier die
tweetjies op die stoep tot laat. Hulle is so ontsettend ief vir mekaar!
Na die eerste goeie lamer-oes begin die tweetjies praat van ‘n
pienkvoet. Ja, dit is wat nog kort in hulle huisie – ‘n babatjie! Krummetjie
bel haar ma en deel die goeie nuus: Ons het ‘n bestelling ingesit vir ‘n klein
Danie. Ag, as dit ‘n klein Krummeltjie is, sal hulle net so bly wees, hoor.
Maar die maande, en later jare, sleep verby en die bestelling word
nooit afgelewer nie. Danie se twee jonger boeties is al lankal pa van hulle eie
broedseltjies en Krummeltjie se sussie het ook al ‘n kleintjie. Elke keer as
Danie en Krummeltjie by die nagmaal kom, vra almal by die kerk of hulle dan nie
ook vorentoe wil boer nie. Krummeltjie het elke keer ‘n ander antwoord, maar
die mense glo haar lankal nie meer nie...dalk wil sy net eenvoudig nie vorentoe
boer nie, ha?
Op ‘n dag wil Krummeltjie nie dorp toe gaan vir die nagmaal nie. Danie
is ontsteld! “Skaam vir jou, Krummeltjie, jy kan mos nie so kom staan en maak
nie. Natuurlik gaan ons nagmaal toe.” Maar Krummeltjie het klaar besluit, sy
gaan nooit weer nagmaal toe voor sy nie ‘n baba het nie. Want sien, die mense se
vrae maak haar tog so bitterlik hartseer. Sy weet lankal nie meer hoe om dit te
beantwoord nie, nou sal sy liewer maar by die huis bly. En net daar besluit
Danie dat hy dan maar saam met Krummeltjie by die huis sal bly.
Die dominee en die kerkraad en die voorsitter van die skoolraad
(Krummeltjie was mos ‘n juffrou!) en wie almal kom plaas toe en kom praat mooi,
maar die tweetjies het klaar besluit. Hulle bly by die huis totdat...!
Drie jaar later is Danie en Krummeltjie weer by die nagmaal. Danie dra
die mooiste ou babatjie die kerk binne. Almal oe en aa, want dit is dan ‘n
yslike groot kind en hulle het nie geweet dat Krummeltjie in die ander tyd was
nie. Hoe het dit nou gebeur? Maar Danie en Krummeltjie se monde is gesnoer. Hulle
het hulle eie ou broedseltjie en dit is al wat belangrik is. Waar hulle vir
KleinDaan gekry het? Wat maak dit saak, ha? Hulle glimlag van oor tot oor, want
nou kan niemand meer ongemaklike vrae vir Krummeltjie vra nie.

Danie is ‘n flukse boer en sy boerdery brei mooi uit. Hy bou vir
Krummeltjie haar droomhuis en sy lê ‘n groot tuin aan. KleinDaan word nou groot
en moet skool toe gaan. Krummeltjie se ogies raak hartseerder by die dag, want
waarom is daar nog nie ‘n klein Krummeltjie nie? Die huis met die baie
slaapkamers raak doodstil toe KleinDaan koshuis toe gaan.
Krummeltjie se suster kom kuier op die plaas. Sy huil. Haar man het
haar gelos en die baba is maar nog net tien maande oud. Hoe moet sy vir Santjie
sorg? Sy kan nie eens vir haarself sorg nie, man. Toe sy huis toe gaan, bly
Trientjie by Krummeltjie en Danie agter. Krummeltjie kan weer lag!
So word die groot, stil huis vol met ander mense se kinders. Die dorp
se posmeester verongeluk en die vrou sit met drie orrelpypies. Danie bring een
van hulle plaas toe om ‘vir eers’ by hulle te bly. Die een na die ander kom
trek hulle in om ‘net eers ‘n rukkie ‘ te bly. Die plaashuis lyk soos ‘n
koshuis as dit vakansie is, maar dit is die gelukkigste ‘koshuis’ wat nog ooit
bestaan het. Hulle is nie altyd almal daar nie, want hulle gaan (soms) na hulle
eie ouers toe vir ‘n vakansie.
Op ‘n dag is daar ‘n rusie tussen die meisiekinders. Die een skree vir
die ander: “My ma het gesê ‘n mens mag dit nie doen nie!” Die ander een skree
terug: “Maar my ma het gesê ‘n mens mag dit doen, jy moet net jou perke ken.”
Janneman gryp die meisiekinders elkeen aan ‘n arm. “Jou ma het DIT gesê, nê?” sê
hy vir die een. “En jou ma het DAT gesê, ha?” sê hy vir die ander een. “Nou kom
ek vra nou vir julle net een vraag. Net een! En julle hoef my nie te antwoord
nie, julle moet net daaroor dink voordat julle verder rusie maak. Reg?” Hy wag
totdat hy albei se aandag het voordat hy vra: “En wat, liewe susters, sê Ma
Krummeltjie daaroor?” Hulle kyk hom groot-oog aan, want hulle besef, eintlik
het hulle maar net vir Pa Daan en Ma Krummeltjie.
Die kinders word groot. Hulle eie ouers kan nog altyd nie help nie, maar hulle weet dat Pa Daan sal sorg...soos altyd maar. KleinDaan word ‘n predikant. Santjie het geleer
vir ‘n rekenmeester. Trientjie het nie gaan leer nie, sy werk in die bank.
Janneman het gevra Danie moet hom help om sy eie stukkie grond te koop sodat hy
ook so ‘n goeie boer soos Pa Daan kan word. Driekie is nou ‘n verpleegster en
Petrus het ‘n natuurbewaarder geword.
Die groot huis is weer stil, maar Krummeltjie en Danie is tevrede. Die lotjie
het nou byna elkeen sy of haar eie gebroedsel en as hulle kom kuier is dit ‘n
aardigheid hoe oupa en ouma koer oor die ou kleintjies.
En toe tref die groot hartseer hulle. Pa Danie se hart was nog altyd ‘n
probleem, jy weet. En een oggend word hy toe maar net nie weer wakker nie. Krummeltjie
se hart is gebreek. Wat moet nou van haar word? Wie sal na haar kyk? KleinDaan
(die enigste eie kind) het dit ook maar nie breed nie en hy sal nie vir haar
kan sorg nie.
Die dag met die begrafnis is die huis te vol vir al die
begrafnisgangers. KleinDaan lei die diens. Toe hy die bedankings namens die
familie wil doen, staan Santjie, Trientjie, Janneman, Driekie en Petrus soos
een man op en kom staan by hom. Janneman het iets op die hart: “Ma Krummeltjie,
ons het vir Pa Daan kom groet vandag. Maar weet jy, Ma Krummeltjie, nou is dit
ons beurt om terug te gee – ons wat hier saam met KleinDaan staan, ons belowe
vandag dat ons na jou sal kyk.”
Maandag 04 Junie 2018
WANNEER MY LUISTER OPGERAAK HET
Was jy ook al daar? Jy
weet, daardie oomblik wanneer jy voel maar nou het jy genoeg geluister vir
vandag – jou luister het so pas opgeraak.
Nog nooit? Nee man, ek glo
dit nie. Dit gebeur gereeld met my dat ek in ‘n geselskap sit en besef ek moet
nou onmiddellik vlug vir ‘n paar oomblikke se stilte, of anders...! Of anders
wat? Ek weet nie, want ek het nog nooit probeer uitvind nie.
Ons kuier en gesels dat
die spoeg spat en almal is tog so gesellig en gelukkig, maar iewers in my
binneste begin ietsie (iemand?) in opstand kom. Nee, kom nou Martha, dis nou
genoeg vir vandag. Jy kan môre of anderdag verder kuier. Om vredesnaam, kom nou
net asseblief weg uit hierdie geselskap (lees: geraas)
uit.
Ek dink dit is sulke tyd
helder en duidelik op my gesig geskryf dat my ore intussen albei bottoe geslaan
het. Of dalk is dit nie noodwendig my ore nie, hoor. Dalk is dit die kop wat
nou so vol van die ‘geraas’ is dat hy niks meer kan of wil inneem nie. Die
opstand kom staan in hoofletters tussen my en die res van die geselskap en doen
wat ek wil, ek kan nie verder luister nie.
Ek kom dit deesdae al meer
en meer oor. Dit maak my erg verleë, maar ek het nie beheer daaroor nie. Ek
meen te sê, as my ore nie hoor nie, dan hoor hulle nie! Wat is daar om te doen
daaraan?
Selfs sosiale media raak (by tye) vir my te veel en dan vlug ek so 'n bietjie. Almal verstaan dit nie en baie neem hewiglik aanstoot, ek weet. Maar hoe moet ek maak as ek nie nog net een woord (prentjie/grappie/mooi versie) kan inneem nie? Dalk moet jy net so 'n klein bietjie briek en net nou en dan vir my 'hallo' of 'howzit'? Ek weet nie, hoor. Ek dink maar net aan my ore wat so ongeskik raak by tye.
Nee, dit het nie te doen
met jou of met wie ookal nie, dis my luister-ore wat nie meer wil luister nie.
Jy weet mos dat ‘hoor’ nie altyd ‘luister’ is nie, ha? Jy hoor, maar jy luister
lankal nie meer nie. Dis seker hoekom die oumense
die sêding gehad het: Daar is niemand so doof soos hy wat nie wil hoor nie.
Dit begin my toe pla dat
ek so totaal en al ongeskik is wat die luister aan betref en ek begin soek om
te sien (hoor?) of daar meer van hierdie ongeskikte spesies op aarde is wat
soos ek is. En sowaar, ek is toe nie alleen nie. Daar is regtig ‘n hele kamer
vol mense wie se luister ook redelik gereeld by die venster uit vlieg.
Sulke tye wil jy asseblief
alleen wees. Dit is goed om alleen te wees, man. Nee, nou nie vir altyd en
altyd nie, maar dikwels genoeg sodat jy net weer by jouself kan uitkom. Sodat
jy jou binnekant so ‘n bietjie buitekant toe kan uitdop en bekyk en, waar
nodig, ‘n bietjie salfies kan smeer of dan net ‘n bietjie aandag kan gee. Ons
het nodig om lief te wees vir onsself en ons moet, soos ons graag met ander
mense doen, na onsself kyk en ‘luister’ na die pyne en seerplekke wat soms
ontstaan. Net so moet ons ook hoor as al ons sintuie opeens in opstand kom
teen, in hierdie geval, ‘n te woelige geselskap.
Iemand was gaaf genoeg om ‘n
bietjie raad te gee oor hierdie dowe ore wat nie wil luister nie: Dit is goed
om doelbewus jou alleentyd te beplan en te geniet – tye waarin jy jouself, soos
die Engelse so mooi sê, kan ‘pamper’ en lief kan hê. Tye waarin jy kan leegmaak
van die gejaag, en weer kan volmaak met die mooi en die goed van die lewe. Ek
praat nie van op die bed lê en lees (soos wat ek ook graag doen nie), ek praat
van doelbewus sit en binnetoe kyk...en dankbaar wees SONDER om te kerm en kla.
Jy kan selfs, as jy sukkel met alleentyd, ‘n joernaal hou en gedurende jou
‘self’tydjies, jou skatte neerskryf. Dit help jou om te fokus, maar dit is ook
goed vir wanneer jy dalk anderjaar weer daarin lees.
Saterdag 02 Junie 2018
ONS PAK HARTE UIT
Ek dink jy
versinnebeeld baie van jou lesers se eie drome. EN met baie van jou skryfsels
sien ek (en ek dink baie ander lesers) hoe jy my eie hart omdop en uitskud op
die tafel (soos jou handsak op soek na karsleutels of 'n lipstiffie). Dis
hoekom ons lees. Wat jy skryf is nie hoogdrawende letterkunde, filosofie
of teologie nie. Dis mensgoete. Jy praat in ons harte, gedagtes en siele in en
dis goed. Dankie. Hou aan. Ons sal lees so lank jy skryf. Vader, hou asb aan om
vir Martha te seën. U weet beter as ons dat sy dit verdien.
Ek kry hierdie boodskap
van lief-Petro en daar gaat die gedagtes! Jong, dis mos vreemd hoe die een ding
kan lei tot die ander. Mense vra my soms waar kry ek alles waaroor ek skryf, dan
antwoord ek (gewoonlik): Jy moet oppas, as jy ‘n ding sê, raak jy later ‘n
storie. En dis nou net so, hierdie een maak toe ‘n ding hier bo in die grysstof
los en ek besluit ons moet harte uitpak.
Ons is ses vriende
rondom die tafel met die spierwit tafeldoek. Elkeen sit met wit handskoene –
alles is skoon en kiemvry. Want sien, ons moet harte uitpak en dis ‘n ernstige
storie. Daar mag nie kieme en goggas en goete rondloop nie. Hierdie moet ‘n
silwerskoon ding wees – ons wil nie besoedel word nie, regtig nie.
Eers is almal huiwerig,
maar dan doen ons dit. Elkeen haal daardie kosbare hart uit en sit dit op die
spierwit tafel neer. En daar lê die ses mooi harte voor ons. Ons kyk met ontsag
na die harte...is my hart dalk swarter as die ander s’n? Lyk myne dalk meer
misbruik as die ander harte? Dis vreemd en ongemaklik, jong. ‘n Mens wil nie
jou hart so blootstel aan ander mense nie. Nee man, netnou net sien hulle
daardie goed wat ek so hard probeer om weg te steek. Sê nou maar hulle sien...?
Ek is sidderend van spanning, want ek was nog nooit so blootgestel voor my
vriende nie. Sowaar, dis nie ‘n grap hierdie nie!
En dan! In die middel
van die tafel lê die ses dissekteermessies. Ons steek ons hande gelyk daarna
toe uit en elkeen vat ‘n blink, nuwe messie. Ons weet presies waar ons die
eerste sny moet maak. Jy sien, ons wil sien! Ons wil oopmaak en kyk of ons
regtig, egtig so oulik is soos wat ons dink ons is. Dis mos maklik om ander
mense om die bos te lei en jy lieg lekker vir jouself. Dit het ek al baie
gesien – ek lieg so erg vir myself dat ek dit vir evangelie verkondig. Wragtag,
dis nie ‘n grap hoe ‘n mens kan lieg vir jou eie, eie hart nie.
Voordat ons aan die
sny gaan, moet jy weet hoe dit gaan werk. Elkeen sny haar eie hart en elkeen se
hart het sy eie (probleem)kamertjies. Ons sny net daar waar daar probleme is
vandag. Die gesonde kamertjies kan wag vir anderdag.
Iemand gee die opdrag: Sny!
Ek hoor dat een van my
vriendinne kla oor die swart kolletjies wat sy sien in haar eerste kamertjie. Mmm,
dit werk maar so, jong. Ons weet nie altyd hoe lyk ons vir ander mense nie, ha?
Ek is hier in my
vriendelikheid kamertjie. Ek is regtig geskok wat ek hier sien. Ons dink ons
loop altyd met hierdie groot smaail, maar intussen sit die frons van frustrasie
so heel dwars-oor ons mooi gesiggies. Ek vat die wit lappie en vryf-vryf aan
die kolletjies. Dit lyk my hulle sit asof hulle nie wil afgevee word nie. Ai! Gelukkig
is ek nie die enigste een wat sit en vryf met die lappie nie.
Die tweede sny maak so
‘n bietjie seerder. Ons gaan nou ‘n bietjie dieper in hierdie mooi harte van
ons. Daar is ‘n effense teken van bloed ook. Eina, man, dis seer om so gedwing
te word om die binnekant te bekyk. Waar is ons nou? Hierdie een se naam is ‘Agterdog’.
Nou hoekom moet daar so ‘n kamertjie wees, vra ek. Dit gaan jou mos nie aan as ek jou nie vertrou nie, of
wat?
Ek sit en kyk geskok
na my hart. Hier is ‘n pikswart besigheid aan die gang. Is ek regtig so
agterdogtig teenoor almal? Is dit nou regtig so dat ek niemand vertrou nie? Nee,
man, dis nie waar nie. Ek vat vir wit lappie en skrop dat dit bars, maar dit
lyk nie of dit werk nie. Die swart kolle raak ligter, maar hulle sit vasgebrand
in my hart.
Ek kyk ‘n oomblik op
na my vriendinne. Niemand traak meer oor niemand nie. Elkeen sit en staar in
afgryse na haar eie besoedelde hart. Ek is dus nie die enigste een wat probleme
het nie. Dankie tog vir hierdie stukkie genade.
Ons hoor weer die
opdrag dat ons moet sny. Ek sny. Dis baie, baie seer. Die bloed loop nou. Ek sien
nie my hart nie. Daar is net een swart massa. Liefdeloosheid. Jy lieg vir my!
Ek sweer ek het almal rondom my lief. Sowaar soos vet, man. Ek kyk mooi om te
sien of dit regtig my hart is, want dit kan nie waar wees nie.
Ek probeer nie eens
skoonvryf nie. Ek sit net en staar in afgryse na hierdie gemors hier voor my. Iewers
huil iemand. Dis toe my vriendin haar hand op my skouer sit dat ek besef dat
dit ek is wat so huil.
Sny!
Nee, ek kan nie verder
gaan nie. Ek weier om die messie op te tel. Iemand sit dit in my hand en ek
sny.
Nee, ek weier om
verder te gaan met hierdie speletjie. Dis lankal nie meer ‘n speletjie nie. Dit
was nog nooit ‘n speletjie nie.
Ek kyk op. My vriendinne
sit verstar. Elkeen het haar eie wroeging oor dit was sy so pas moes aanskou.
Ons tel ons verwonde
harte op en sit hulle terug waar hulle hoort. Ons praat nie oor dit wat ons so
pas gesien het nie. Want jy sien, dis seer. Dis dodelik seer. Onbeskryflik seer.
Toe alles opgeruim is
kyk ons na mekaar met ontsag en liefde. Opeens het jy hierdie geweldige liefde
en respek vir jou susters in die lewe. Jy het gesien...en nou kan jy verstaan.
Vrydag 01 Junie 2018
MY DROOMBOEK
Het jy ook ‘n droomboek? Nee, ek bedoel nie ‘n
boek waarin jy soggens skryf oor alles wat jy vannag gedroom het nie. So ‘n
boek sou ek liewer ‘n droomjoernaal noem, ha? Ek praat van ‘n boek waarin jy
alles skryf waarvan jy nog net droom, maar wat jy hoop eendag waar gaan word. Nee,
ek moet myself korrigeer: Dit is die boek waarin jy daardie dinge skryf wat jy
GLO almal waar gaan word. Mmm, iemand noem die begrip die ‘bucket list’. Ja,
dis dalk meer so iets, maar ook nie heeltemal nie.
Nou het ek jou verwar, sien ek. Kom ek verduidelik vir jou waarvan ek praat. Gaan lees ‘n bietjie die volgende vers en dan dink jy daaroor vir ‘n oomblik of twee.
Hebreërs 11:1 (Afr83)
Goed. Nou kan
ons verder gesels. Ek vertel jou sommer van my boek, dan weet jy waarvan ek
praat.
Ek het baie
lank gelede by iemand die idee gekry om hierdie boek te begin. Ongelukkig, soos
dit met baie ander dinge gaan, vergeet ek soms sommer vir ‘n baie lang tyd dat
die boek in die rak staan.
In hierdie
boek is ‘n hele paar blaaie wat ek al kon afmerk en met ‘n groot glimlag terugdink
aan die dag wat ek die spesifieke ding daar geskryf het.
Daar is
byvoorbeeld die muur rondom ons huis. Ek het iewers in 2009 ‘n prentjie in die
boek geplak van ‘n groot erf met ‘n baie hoë muur rondom. Sien, ons het net ‘n
draadheining gehad en dit was ‘n groot ellende. Al wat ‘n hond is het óf
binnetoe (dis nou hulle wat buite was) óf buitetoe (hulle wat binne was)
onderdeur die draad gegrawe. Ons was elke hoe lank met klein hondjies opgesaal.
Niks, maar niks kon hulle keer nie. Die dag toe ek daar langs die prentjie
geskryf het: Ons het ‘n baie hoë muur rondom ons erf, kon ek behoorlik die muur
sien met my ‘binneste’ ogies. Ek kon voel hoe bly ek is dat die muur
uiteindelik gebou is. Ja, ek het ook sommer dankie gesê dat die muur daar is.
En toe, so twee jaar gelede, kon ek uiteindelik my regmerkie langs daardie een
maak.
Daar is ‘n
bladsy met die prentjie van die lugverkoeling in ons kamer. O aardetjie tog! In
Keetmanshoop kan jy mos nie lewe sonder ‘n lugverkoeling nie. En tog het ons
meer as dertig jaar lank net met waterverkoelertjies oor die weg gekom. Toe ek
die inskrywing gemaak het, het ek gevoel hoe lê ek in die koelte in my kamer. Ek
het gevoel hoe trek ek later die komberse oor my, want dit raak te koud. En dan,
wanneer ek weer op ‘n dag deur die boek blaai, het ek elke keer die koelte
gevoel rondom my en elke keer het ek opreg dankie gesê vir die voorreg om lugverkoeling
in die huis te hê.
Jy frons? Jy
moet mooi verstaan dat ek nie ‘n soort van ‘n feëverhaal vir myself geskep het
en dan elke nou en dan daarin verdwyn het nie. Dit is glad nie die geval nie. Gaan
lees gerus weer die vers in Hebreërs 11. “Dit is om oortuig te wees van die
dinge wat ons nie sien nie.” Feëverhaal? Nee, glad en geheel nie. Ek noem dit
vertroue.
Dan is daar
die gesegde wat vir my net lekkerder in Engels as in Afrikaans klink en sê: What
you say is what you get. Ons almal weet mos dat ons skep met ons woorde.
Staan nou
maar in die oggend op en jy besef jy het verslaap. Jy vlieg uit die bed uit en
niks loop reg nie. Jou bloes is nie gestryk nie en nou het die yster skielik ‘n
skeet en dit weier om warm te word. Jy wil jou skoene aantrek, maar die hond
het een gevat en wie weet wat daarmee gemaak dat jy dit nêrens kan kry nie. Jou
eerste woorde is dan gewoonlik: Vandag is weer een van dáárdie dae. Nou kan ek
maar net vir jou sê, dit sal vir seker een van DAARDIE dae wees want jy het dit
so pas vir jouself toegeëien.
Nou, as bogenoemde
waar is, waarom kan die positiewe sy daaraan nie ook waar wees nie? Waarom kan
ons toelaat dat woorde ons dag of selfs ons lewe bederf, maar ons wil nie erken
dat woorde ons ook positief kan beïnvloed nie?
Jy vra my
wat alles is nog in die boek wat nog nie waar geword het nie? Jong, ek het so ‘n
lang lys dat ek seker vir altyd en altyd en nog ‘n hele rukkie langer sal moet
lewe. Daar is die bottelgroen BMW. (Ek klim in hom en ek ruik daardie
leersitplekke!) Die bootreis. Die kuier in Duitsland. Die African Grey het ek
twee jaar terug by my kind gekry, dankie tog. Daar is ‘n hele klompie wat reeds
afgemerk is, maar nog meer wat nog wag om te gebeur.
Nou moet jy
ook weet dat, wanneer jy dit daar skryf en jou prentjie plak, moet jy asseblief
nie begin redeneer oor hoe en waar en wanneer nie. Jy hoef nie al die planne in
plek te hê nie, hoor. Dit is mos in elk geval nie jou ‘worries’ nie, is dit? Ek
gesels vandag met ‘n vriendin. Sy wil so graag nog verder studeer, maar...! Sy
wil baie graag haar eie besigheid begin, maar...! Los jy maar die ‘maars’ en
die ‘hoe’s’ en die ‘wanneers’. Hulle sal self uitwerk op hulle eie tyd.
En so met
die blaai deur my boek vandag, kom ek op ‘n inskrywing af wat ek in 2010 gemaak
het. Dit is min of meer die volgende: My boek is gepubliseer en dit is ‘n weghol
sukses. In 2012 het ek weer ‘n inskrywing gemaak: Ek het my boek voorgelê aan ‘n
uitgewer, maar dit is afgekeur. Daar skryf ek toe die volgende: Vraag aan self –
Wanneer gaan jy die stories wat in jou kop is begin neerskryf?
Nou hoef ek
nie verder te verduidelik nie, hoef ek? Ongelukkig het dit my tot 2016 gevat
voordat ek die stories in my kop begin neerskryf het. Uiteindelik! Waarom ek so lank
gewag het kan ek jou sowaar nie antwoord nie, jong. My boek met kort
blog-inskrywings is gepubliseer en my roman is intussen ook publiseer. Van die weghol
sukses is daar nog nie ‘n teken nie, maar intussen gaan dit voorgelees word op
Kanaal 7, die christelike radiostasie in Namibië. Dit is vir my so 'n groot opgewondenheid dat ek jubel en juig daaroor. Ek kan net die Vader dank vir sy goedheid en guns oor my lewe, wat meer?
En nou het
ek jou van my boek vertel en hoe ek die regmerkies die een na die ander kan
maak. Ek skryf steeds nuwe dinge ook by, want wie wil nou stagneer en nie nuwe
drome en wense hê nie?
En nou vra
ek maar net weer: Het jy ‘n droomboek?
Teken in op:
Plasings (Atom)
OUJAAR EN SY DINGE
Die ure Nuwejaar toe stap nou vinnig aan. As Kersfees verby is, is dit asof die hele mensdom en die natuur skielik asem ophou … waarvoor? ...
