Dinsdag, 10 April 2018

DIE EERSTE NAG TUIS


Ek en Denitia is hard aan die werk aan haar storie. Hier is nog 'n kykie in haar lewe as Parkinson's lyer.              
Daar ry hulle nou – my ouers en my kinders. Dit voel opeens vreemd stil rondom my. Die bank voel koestersag onder my. Wat ‘n dag! Dit is dalk goed dat die kinders nie nou hier is nie, ek moet net so ‘n bietjie rus. Ek weet dat ek netnou beter sal voel; ek moet net eers ‘n bietjie rus.
            “Waar kom jy nou vandaan?” Ek weet ek klink nie baie vriendelik nie, maar sowaar, ek voel ook nie baie vriendelik nie. Die hele middag lank soek al wat leef en beef na hom, maar hy is weg soos ‘n groot speld. Weg!
            “Ek het geslaap.”
Regtig? Terwyl ek deur die krisis van my lewe gaan, lê en slaap hy. Al die tyd dink ek hy is te besig met werk dat hy die foon kan antwoord, en nou moet ek sien Meneer het lê en slaap. Hy slaap terwyl my hele lewe inmekaar tuimel. Hy slaap terwyl ek veg vir oorlewing. Hy slaap terwyl ek in ‘n vreemde liggaam sit en wonder wat het van Denitia geword. Hy slaap! My dapper held het geslaap.
As hy net iets wil doen of sê, maar hy sit en staar my aan. Nou kyk tog maar, liewe Meneer selftevrede, kyk tot jy klaar gekyk het. Hy wonder seker nou of die aarde dan vergaan het terwyl hy geslaap het. Dit kan nogal snaaks wees, ha? Gaan slaap en my vrou makeer niks  nie, staan op en my vrou lyk soos...! Soos wat?
               “My vrou is stukkend, sy is ‘n koolkop.” Hy lyk nie eens skaam om dit te sê nie. Hy sê dit so half terloops, so asof hy oor die weer of oor vleispryse praat.
               Ek gee ‘n kekkellaggie. Hy lag. Ons sit en kyk vir mekaar en lag. Daar is niks anders om te doen as om te lag nie. Ek weet ek moet dalk iets sê om hom gerus te stel, maar ek is nie in staat om aan enigiets te dink nie. Hoe ironies is dit nie – ek sit in die grootste gemors, maar ek probeer om aan iets te dink om hom te troos. Wat ‘n gemors! Wat ‘n verskriklike, ellendige gemors! Gelukkig kan ek nog lag. Die Here is goed vir my. Ek kan nog lag.
            Ek is honger. Ek is, om die waarheid te sê, rasend honger. Ek moet iets eet, en gou ook. Aahhh! Pizza. Hoe kry ‘n mens hierdie stuk kos by jou mond? Hoe het ek dit altyd daar gekry? Dink, Denitia, dink hoe jy dit gedoen het en doen dit presies net so. Nee dankie, ek is nie lus vir tee of sop of ‘n stukkie roosterbrood nie, man. Ek wil hierdie pizza eet, want dit is presies waarna my honger maag nou skree. Pizza! Ek hoor jy kerm dat ek siek is en dat pizza nie die ding is vir ‘n siek mens om te eet nie. Nou wil ek asseblief by jou weet waarom jy so dink? My liggaam het ‘n probleempie, maar dit beteken mos glad nie dat my maag ook moet siek wees nie.
      As my tande net nie so wil klap nie, sal dit seker makliker wees om te hap. Ek moet net konsentreer om te hap. Aahh! Dit is sowaar baie lekker, hoor. Ek sukkel redelik, want my gesig voel skeef en ek weet nie mooi waar om te hap nie. Ek hap en hap en hap en kou aan die heerlike pizza. My gesig wil nie lekker saamspeel nie, maar ek dink ek kom redelik goed oor die weg. Nee, sies man, kyk hoe mors jy, Denitia. A nee a, jong, jy is mos ‘n groot meisie. Eet mooi, toe? Here, baie dankie vir iets wat so lekker is. Baie dankie vir pizza.
Ek het op hierdie stadium nie geweet dat die frase “Ek is honger” my slagspreuk sal word nie. Ek het dit so gereeld gesê, dat dit ‘n grappie begin word het tussen my geliefdes en my vriende. Maar, verstaan my mooi, die meeste van die tyd bedoel ek dit regtig. Ek is ewig en altyd honger. Miskien is dit omdat ek so baie bewe dat my liggaam alles vinniger verbrand? Ek weet nie, dit is maar spekulasie. Ander kere, is dit ‘n maklike, spontane antwoord wanneer iemand iets vir my vra. As my ma byvoorbeeld vir my vra of ek nie dink ek moet ‘n bietjie gaan le nie, sal ek antwoord: “Ja, maar ek is honger.” My vriende vra vir my of ek ‘n goeie dag gehad het en ek antwoord: “Ja, dankie, maar ek is honger.” Iemand vra of ek dorp toe wil gaan en ek antwoord: “Nee, ek is te honger.” Of, as ek wel wil dorp toe gaan en hulle vra vir my na watter winkel toe wil ek gaan, is ek sommer woedend. “Ek gee nie om nie, onthou ek is net baie honger.”
Ek weet dit is ‘n baie dom antwoord om altyd te gee en ek wens ek kon aan iets anders dink sulke tyd. Ek weet, maar ek doen dit oor en oor. En wanneer ek dit sê, is dit soos om ‘n klokkie te lui sodat almal aan die lag kan gaan. Maar nou wil ek vir jou vra, was jy al ooit so honger dat jou brein aan niks anders wil dink nie?
Die meeste van ons steek mos maar ons begeertes weg. Ons praat nie sommer oor iets wat so ‘n allesoorheersende begeerte is nie. Nee, dit is net nie reg om al jou diepste dinge so voor almal uit te blaker nie, is dit? Maar daar is ‘n paar dinge waarna ons almal smag, hoewel ons die meeste van die tyd die hele mensdom probeer oortuig dat ons daarsonder kan klaarkom. Ons almal smag na liefde, aanvaarding, troos, samehorigheid. Dalk verskil jou lysie van myne, maar feit bly dat ons dit meestal ontken omdat ons nie swak en ellendig wil lyk vir ander nie. Vandag weet ek een ding vir seker: Vir die eerste ses en dertig jaar van my lewe het ek ook geglo ek het niemand nodig nie en ek kan alles self doen. Wat ‘n skok! Die groot P kom leer vir my dat geen mens alleen kan lewe nie. Ek dank God dat ek honger is, ek dank Hom dat ander vir my kan voorsien.
            Ek wil nie gaan slaap nie, maar ek is so bitter moeg. Dit was ‘n baie lang dag. So baie dinge het gebeur vandag. Hoe kan ‘n mens se lewe so ewe skielik verander in een onsinnige oomblik? Nee, moenie slaap nie, asseblief. As ek slaap sal ek dood gaan. Ek weet ek sal dood gaan die oomblik wat ek aan die slaap raak. Die TV was nog nooit my grootste vriend nie, maar vanaand is dit ‘n uitkoms. Ag genugtig, rugby? Ek haat rugby, maar ten minste hou dit my wakker. Namibië is besig om te speel en hulle sal my ondersteuning waardeer. Ek is so moeg, asseblief!
            Ek moet wakker bly. Daar is so baie dinge wat ek nog moet doen, so baie dinge wat ek nog vir my geliefdes wil sê. Ek wil so graag nog vir my kinders sê hulle moenie bekommerd wees nie, hulle mamma sal okay wees. Ek wil hulle styf teen my vasdruk en my gesig teen hulle druk en hulle lyfies ruik. Ek wil ruik hoe ruik hulle. Ek wil voel hoe voel hulle. Ek wil daar wees as my liefies grootword. Ek wil sien dat hulle die lewe geniet en volwassenes word. Ek wil daar wees as hulle in die nag wakker word en dors is. Of bang is. Of siek is. Ek wil by my kindertjies wees, Here. Ek mag nie slaap nie, want ek gaan dan nie weer wakker word nie. Here, net U kan my help daarmee. Asseblief, Here, U moet my help om wakker te bly.
            Iewers moes ek aan die slaap geraak het, want skielik skyn die son. Die son skyn en ek is nie dood nie. Dankie, Here, vir die lewe. Dankie vir die nuwe dag!


2 opmerkings:

  1. Liefste Letitia
    Dis met groot hartseer binne my wat ek hier lees. Ek besef maar net weer hoe aanvaar ons maar net alles as gegewe. My gedagtes aan jou sal altyd terug fladder na Karasburg AGS Kerk. Daar waar jy en Marietjie Adriaanse vir ons gesing het. Ek was so verstom om die mooiste melodieë ooit oor jul lippe te kon hoor. Vandag net n vae herinnering. So gehoop dat jy dit sou onwikkel. Met my werk het ek P ontmoet en kan ek nie my indink dat jy nou daardeur moet gaan. My hart gaan uit na jou en jou familie my Skat. Julle is in my gebede en daar sal ek jou omvou met n lappies kombers van liefde. Sal hierdie dophou en ek weet hierdie sal baie mense help verstaan wat binne die kop aangaan van iemand wat vir P moes huisves. Lief julle

    AntwoordVee uit
  2. Liefste Letitia
    Dis met groot hartseer binne my wat ek hier lees. Ek besef maar net weer hoe aanvaar ons maar net alles as gegewe. My gedagtes aan jou sal altyd terug fladder na Karasburg AGS Kerk. Daar waar jy en Marietjie Adriaanse vir ons gesing het. Ek was so verstom om die mooiste melodieë ooit oor jul lippe te kon hoor. Vandag net n vae herinnering. So gehoop dat jy dit sou onwikkel. Met my werk het ek P ontmoet en kan ek nie my indink dat jy nou daardeur moet gaan. My hart gaan uit na jou en jou familie my Skat. Julle is in my gebede en daar sal ek jou omvou met n lappies kombers van liefde. Sal hierdie dophou en ek weet hierdie sal baie mense help verstaan wat binne die kop aangaan van iemand wat vir P moes huisves. Lief julle

    AntwoordVee uit

GERED ONDER DIE WASBAK UIT (2)

Ek wil jou net herinner dat hierdie 'n stuk seer uit my verlede is. Ek is, deur genade, genees van depressie! ALLEEN [Een aand by...