Totius:
Repos ailleurs (Die rus is elders)
In die eensame veld staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring skuif die ligtende
trein;
ek sien in die tentjie, deur die oop gordyn,
’n tafel met bordjies en glasies fyn,
wat sag in die lig van die kersie skyn,
en ek dag: "Was ek net in die tentjie
klein,
ek sou tog so gelukkig syn."
Naas die eensame tent staan ’n meisie klein,
in stomme bewond’ring van die ligtende trein;
sy sien my geniet my glansende wyn
en kost’like maal by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte van die meisie klein:
"Ag, was ek maar net in die vrolike trein,
ek sou tog o so gelukkig syn".
Ek wonder of dit net ek is? Of ken
jy ook die gevoel van ‘As ek nou dáár of dáár kon wees... Of as ek nou dit of
dat kon doen, sou ek ... Ek kan glad nie na ‘n vliegtuig in die lug kyk sonder
om te wens dat ek daarin kan wees op pad waarheen ookal nie. Die heimwee spring
sommer so op in my hart en ek verlang na mense en plekke wat ek glad nie ken
nie. Man!
Ken jy dit? Voel jy ook (soms) so?
Of jy luister na ‘n liedjie en
iewers slaan ‘n snaar ‘n emosie raak en daar gaat jy! Jy raak weg in die onthou
en die ‘nou’ en die ‘hier’ is ver, ver weg. As iemand skielik met jou praat dan
hoor jy nie, sien jy nie, weet jy nie. Jy gaan draai ver. Jy gaan draai daar
waar daar niemand is vir wie jy kan sê ‘Onthou jy nog?’ nie. En jy beleef ‘n
ver verlang wat die res van die dag in jou hart huiwer soos ‘n sagte
donskombersie in die winter. Jy wil hom koester en vashou, want hy bring jou
naby aan die dinge en die mense wat naaste aan jou hart is.
So luister ek al vir twee weke elke
nou en dan na Dana Winner se Lied van Hoop. Ek sê vir my liefie hierdie lied
praat met my. Die lied wil iets vir my sê, maar ek hoor dit nie. Die hart
luister, maar die kop wil nie hoor nie. En van Dana af gaan dit net aan en aan
en aan en ek gaan draai by die songs van lank, lank gelede...elkeen met sy eie
storie.
Picking up Pebbles van Cornelia laat
my pa onmiddellik teenoor my sit, ons elkeen met ‘n koppie koffie. Ek sien hoe
knik-knik hy saam met die ritme van die liedjie en ek sien die blink in sy oë
as hy na my kyk. Want, jy sien, dis net hy wat onthou het hoe mal ek oor die
liedjie was toe ek nog klein was en so ampertjies nog op sy skoot kon pas.
Ek luister na Ivan Rebroff se Wolgalied
en ek is so bitter jammer dat ek nie my eie weergawe daarvan nog net een ou
keertjie vir my ou Gesie-mammatjie gespeel het nie. Sy het so graag daarna
geluister en aan die einde van elke keer het sy gesê: ‘Jy moet dit weer vir my
speel, dit is vir my baie mooi.’
En die gedagtes loop in vreemde
draaie en met ver paaie. Dan dink ek weer aan die vliegtuig daar hoog bo en ek
wonder – is hulle almal wat daar bo vlieg gelukkig? Is hulle tevrede dat hulle
op pad is waarheen en daarheen? Of is daar dalk, net dalk, een wat nou af grond
toe kyk en wens, Ag, as ek maar lekker daar onder kon wees en aangaan met die
dinge van die dag.
Dan kom die besef maar uiteindelik
weer dat ons, nee ek, moet dankbaar wees vir dit wat ek nou en hier het. Die nou
en die hier is wat tel, is dit nie? môre sal vir homself sorg, dit het ek mos
al baie lank terug geleer.
En ek sug... Dankie, Heer, vir die
genade van hierdie dag. Amen.
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking